Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoe haalbaar is ’n nuwe skrywersorganisasie?

Herman Wasserman

Dis ambisieuse planne wat gekoester word deur ’n groep Afrikaanse skrywers: ’n groot skrywersberaad, ’n nuwe skrywersvereniging, ’n Internet-boekwinkel en nuwe publikasies is van die moontlikhede wat bespreek word in e-pos-korrespondensie wat tans rondblits onder ’n groep skrywers en boekemense wat hulself Boekebelange (BB) noem, hoofsaaklik aangevoer deur die letterkundige en skrywer Charles Malan. Daar word gepraat van ’n byeenkoms reeds op Aardklop later vanjaar, waar ’n nuwe skrywersorganisasie moontlik gestig sal word of waar die ou Skrywersgilde dalk kan herrys.

Dit sal egter nie sonder slag of stoot kan gebeur nie. ’n Paar probleme sal eers opgelos moet word, en sluimerende konflikte besweer word.

’n Botsing met die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV), wat reeds by monde van sy voorsitter, Elias P Nel, sy teenkanting teen die idee van ’n nuwe vereniging te kenne gegee het, sal eerstens vermy moet word. So ’n botsing kan uit die staanspoor ’n politieke geur aan die nuwe vereniging gee, omdat dit persepsies van ’n kloof tussen gemarginaliseerde beginner- en gevestigde skrywers kan skep. En hoewel die ou Gilde juis op die gebied van letterkundige politiek ’n rol gespeel het, sal hierdie rol versigtig herdefinieer moet word binne die nuwe taal- en skrywersekologie.

Daar sal ook netjies getrap moet word wat betref die verskillende kommersiële-uitgewersbelange wat verstrengel is met die Afrikaanse letterkunde. Sal die nuwe vereniging lei tot konfrontasie met gevestigde uitgewerye, sal dit kleiner uitgewerye probeer bevorder, dalk die beperkte mark verder fragmenteer, of juis ’n verenigende rol kan speel?

Die roeringe in Afrikaanse skrywersgeledere kom al ’n tydjie aan — George Weideman, een van die groep skrywers wat tans onder mekaar idees uitruil oor die moontlike stigting van ’n nuwe skrywersvereniging, maar waarsku teen “oorhaastigheid”, het onlangs ’n konsepdokument opgestel om sommige skrywers se besware teen uitgewers te lug. Dié dokument, waarin onder meer skrywerskontrakte en vergoeding ter sprake kom, word na berig word ook binnekort aan Engelse uitgewers gestuur.

Malan meen hy kan nog “maklik so tien punte byvoeg” by dié dokument. “Ook ons BB-gespreksforum wys dat skrywers se belange in sommige gevalle gruwelik afgeskeep word. En dit geld vir gevestigde sowel as aspirantskrywers — beginners word byvoorbeeld maklik as ’n ‘irritasiefaktor’ eenkant toe gevee en ontvang deesdae al minder leiding van uitgewers. Die behoefte om iets nuuts te stig het bepaald te doen met die totstandkoming van verskeie klein uitgewerye.”

Verskeie funksies word in die vooruitsig gestel vir ’n nuwe vereniging. Daar is voorgestel dat die skrywersvereniging namens skrywers sal beding vir vergoeding, manuskripte sal kanaliseer na ervare skrywers vir kommentaar en hulp en — ietwat kommerwekkend — sekere riglyne sal daarstel vir boekredakteurs en boekresensente. Die hoofdoel van die organisasie, word in die vooruitsig gestel, sal die bevordering van skrywersbelange, samewerking tussen skrywers en uitgewers en boekbevordering wees. George Weideman hoop ook dat ’n nuwe vereniging weer, soos in die dae van die Gilde, berade kan hou waar skrywers referate kan lewer. In die Wes-Kaap is daar ook planne om ’n digtersvereniging te stig, waarvan Ronnie Belcher en Louis Esterhuizen die aanvoorders is.

Rekening sal egter gehou moet word met verskeie kwessies voordat so ’n nuwe vereniging op die been gebring kan word. Seker die belangrikste vraag is die een na hoe so ’n nuwe vereniging (of die heropstanding van die tans dormante Afrikaanse Skrywersgilde) naas ander skrywersorganisasies, veral die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) sal bestaan. Sal hulle verskillende funksies verrig, sal hulle in opposisie verkeer, of sal die stigting van ’n nuwe vereniging dalk tot verdere polarisasie in die reeds klein en soms onstuimige Afrikaanse letterkundetoneel lei?

Weideman wys daarop dat relatief min “gevestigde” Afrikaanse skrywers lid is van die ASV. “Ek weet nie waarom dit so is nie. Dalk lê dit in die (myns insiens onoorbrugbare) ‘kloof’ tussen gevestigde skrywers en aspirantskrywers; dis ’n uiters moeilike en sensitiewe saak wat dalk in die rigting van ’n oplossing begin beweeg — die idee van ’n tydskrif ‘net vir beginners’ (wat daarna uiteraard kan ‘promoveer’) is al geopper, maar ek weet nie hoe ver die bestuur daarmee gevorder het nie. Die kernprobleem is egter hoe (en OF) ’n ‘gilde’ naas die bestaande verenigings moet bestaan.”

Malan meen na berig word dat die ASV homself nie as ’n nasionale liggaam sien nie, en dat ’n nuwe vereniging daarom bestaansreg het naas die ASV.

Elias Nel, voorsitter van die ASV, stem egter nie saam nie. “Tydens die verkennende gesprekke op Paternoster en UWK wat die stigting van die ASV voorafgegaan het en waar Charles Malan teenwoordig was, is daar duidelik ooreengekom dat die ASV nie die rol van die Gilde moet oorneem nie,” sê hy. “Die rede hiervoor is dat die ASV op ’n gans ander basis sou opereer. Die ASV moet ’n tuiste vir die gevestigde skrywer, maar veral ook vir die beginnerskrywer uit die gemarginaliseerde Afrikaanse gemeenskap wees. Oor hierdie bepaling was daar van meet af ’n ongemak by die gevestigde skrywers te bespeur.”

Nel meen die ASV word misken deur gevestigde skrywers, en dat dit een van die hoofredes is waarom die ASV nog nie sy doelstelling as nasionale skrywersvereniging verwesenlik het nie. “Toegegee, daar was wel enkeles wat die ASV ondersteun het, maar die oorgrote meerderheid skitter in hul afwesigheid. Nadat Allan Boesak verlede jaar by die jaarvergadering opgetree het, het al die gevestigde skrywers ook verdwyn. Dit laat natuurlik die vraag: wat weeg belangriker, my eie vooroordele of die saak van die Afrikaanse skrywer? Van die skrywers wou ook die ASV gebruik as spreekbuis vir organisasies met twyfelagtige bestaansreg, soos die Groep van 63 en Praag.”

“Die ASV wil ’n tuiste vir alle skrywers wees,” sê Nel. “Ek is egter oortuig dat diegene wat hulle vir die nuwe, beter Afrikaanse skrywersorganisasie beywer, nie die eintlike rede vir hul onvergenoegdheid wil bekend maak nie. En dit is die probleem aan die Afrikaanse skrywersfront. Daar is te veel verdagmakery, miskenning en uit die hoogte neersien op ander. Die rede vir die nuwe skrywersorganisasie het hoegenaamd niks met die feit te doen dat die ASV nie ’n nasionale vereniging is nie. Dit lê veel dieper en hoe gouer dit openbaar gemaak word, hoe beter.”

Malan het wel aangedui dat daar met die ASV geskakel sal word, omdat verdubbeling uitgeskakel moet word. Dit lyk egter wel of ’n voorwaarde sal wees dat die nuwe vereniging — ook as dit ’n herlewing van die Gilde of in die formaat van die ASV is — “daadwerklik na die streke sal moet uitbrei”. Hy meen ook daar is ’n “sterk gevoel teen ’n politiekery in ’n vereniging — die storie van dr Boesak en die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) was maar onverkwiklik. Dit is ook ’n vraag of die ASV met sy sterk Wes-Kaapse groepsbelange hoegenaamd ‘nasionaal’ wil beweeg, al is daar blykbaar niks in sy grondwet wat dit verhoed nie. Ek het geen benul hoe hulle daaroor voel nie.”

Behalwe die kwessie oor of die nuwe vereniging naas die ASV kan of wil bestaan en waaroor daar kennelik nog heelwat konflik kan ontstaan, sal daar ook klarigheid oor ’n ander vraag gekry moet word: die onafhanklikheid van so ’n vereniging.

Malan, wat ’n leidende rol speel in verkennende samesprekings tussen skrywers, het self pas sy eie nuwe uitgewery, Hermes, bekend gestel. Dié uitgewery beloof in sy bekendstellingstuk ook om, naas onder meer teksversorging en skryfwenke, ook aan skrywers “toegang tot kollektiewe bedingingsmag” te bied en hul manuskripte op ’n webblad bekend te stel. Malan sal graag wil sien dat dié uitgewery aan ’n nuwe skrywersorganisasie gekoppel word. Weideman, daarenteen, is nie ten gunste van so ’n verband tussen ’n organisasie en bedryf nie.

Malan sê hy sal graag die projekte rondom die beplande organisasie skakel met sy uitgewery. “Daar is ’n geskiedenis van noue samewerking tussen uitgewerye en skrywersorganisasies. Uitgewerye het die Gilde administratief en andersins ‘gedra’, in die laaste fase veral HAUM-Literêr. Dit het nooit probleme veroorsaak nie. Daar was immers nie oorvleuelende kommersiële belange vir die twee groepe as groepe nie en hulle het mekaar se ‘soewereiniteit in eie kring’ gerespekteer. Hoe meer interaksie, hoe beter. Die Gilde het nooit geskroom om die uitgewerye in ’n goeie gees aan te vat nie. (…) Hermes (die nuwe uitgewery waarvan ek direkteur is) (…) is ’n uitgewery/produksiehuis wat deur en vir skrywers bestuur word, belange-oorvleueling is dus ingebou! Maar ons stel hoegenaamd nie belang om enige vereniging vir ons doeleindes te ‘misbruik’ nie en ek stel my trouens ook nie vir verenigingsbestuur beskikbaar nie. Ek het baie jare, en dus ook genoeg, daarvan gehad.”

Weideman verskil egter sterk: “’n Skrywersorganisasie verloor sy bestaansreg as hy ‘bande’ het met ’n uitgewery. Neutraliteit is essensieel. Hoe anders sou skrywer-uitgewers of skrywer-boekhandelaars (Kerneels Breytenbach, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert) dan geakkommodeer kan word? As skrywers verdien hulle tog lidmaatskap van ’n skryforganisasie!”

Weideman meen ook dit gaan moeilik wees om “noordelike” en “suidelike” skrywers op ’n gereelde basis bymekaar te kry. “My gevoel is dat ’n sambreelorganisasie dalk elke twee-drie jaar ‘sentraal’ sal moet bymekaar kom (die ou Gilde kon elke jaar OF elke twee jaar vergader). Streeksbyeenkomste is verder die aangewese manier om mense bymekaar te kry.” Hy hoop egter dat probleme uit die weg geruim sal kan word, sodat daar vanaf konfrontasie oorgegaan kan word na “ernstige en praktiese optrede oor Afrikaans, die Afrikaanse boek en die bevordering van ’n leeskultuur”.

Ook Malan wil dit duidelik maak dat dit nie om konfrontasie met groot uitgewerye gaan nie. “In die besprekingsdokument en alle boodskappe wat ons forum tot dusver ontvang het, word beklemtoon dat daar juis nie ’n konfrontasie en uitdaging moet wees nie. Daar moet saam na oplossings gesoek word. Dit beteken nogtans nie dat skrywers ’n vyeblaar voor die mond moet neem as hulle uitgewers oor probleme aanvat nie. Of skrywers aan ’n vereniging behoort of nie, bande met uitgewers en boekhandelaars is vanselfsprekend. Hulle sal bepaald almal na die beraad genooi word en gevestigde sowel as klein uitgewerye sal ’n spreekbeurt kry. Hermes (dws die uitgewery en sy skrywers) werk reeds ten nouste met Protea saam en NasBoek het hulle volle steun aan ons toegesê.”

Nicol Stassen van Protea het reeds aangedui dat dié uitgewery se vyf boekwinkels “kragte sal saamspan” met Hermes se beoogde Internet-diens om boekaankope en boekbekendstellings uit te brei. Ander vorme van samewerking waarop ooreengekom is, is die reëling van ’n skrywersberaad tydens die Aardklop-kunstefees en die ontvangs en kanalisering van manuskripte na keurders. Kerneels Breytenbach van NB-uitgewers het gesê dié uitgewersgroep sal later kommentaar lewer oor die voorstelle van die besprekingsgroep.

Die gespreksgroep is egter “totaal inklusief”, beklemtoon Malan, en hulle skakel met “enigiemand wat enige soort teks produseer”. “Dit is die ou Gilde dikwels verwyt dat ons te ‘eksklusief’ was. Enige vorm van geheimhouding of suutjies loop hoort boonop nie in skrywergeledere nie. Ons blaker alles uit, selfs al sou tydelike verswyging moontlik ‘strategies wensliker’ gewees het. Dit is ook geen geheim nie dat skrywers siek en sat is vir die afskeepbehandeling of misbruik wat hulle meermale van uitgewers ervaar. Aan die ander kant is dit dwaas om nie die uitgangspunt te hê dat skrywers en uitgewers bondgenote is nie. Daar is immers ook talle voorbeelde van voortreflike en toegewyde werk wat uitgewers vir skrywers doen. Vra my hoe dit voel om ’n manuskrip uit Koos Kombuis se versameling krapwerk op kafeeservette en pamflette vir ’n ‘punkroman’ saam te stel, soos ek jare gelede saam met die uitgewer gedoen het. Een van die ‘Kaapse uitgewersestablishment’ het onlangs na hier bo gevlieg om ’n week lank dag en nag saam met ’n skrywer aan die afronding van ’n lywige manuskrip te werk. Ek vra my medeskrywers dat julle (ook) genade vir ons as uitgewers moet hê! “

Malan wys egter daarop dat planne nog ver van finaal is. “Niemand weet presies wat beoog word nie, omdat dit nêrens behoorlik bespreek is nie. Daar is bloot ’n duidelike gevoel dat die Afrikaanse boek (nie slegs letterkunde nie) hom/haar net soos die taal in ’n toestand van vervreemding en selfs ’n krisis bevind. Ou vorme van bevoorregting het verdwyn en materialisme begin ook die uitgewerstoneel totaal oorheers. Dit is duidelik dat skrywers veel meer vir hulle eie heil moet sorg en maniere moet kry om saam te staan, soos sensuur hulle in die middel van die sewentigerjare gedwing het om teen sensuur en apartheidsverdrukking te verenig met die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde.”

Idees en voorstelle vir wat skeel met die Afrikaanse boekbedryf en hoe dit opgelos kan word, is daar dus klaarblyklik volop. Hoe wyd hierdie voorstelle onder ander Afrikaanse skrywers gaan inslag vind, hoe geredelik hulle hulself sal laat organiseer, hoeveel entoesiasme daar gaan wees en hoe die nuwe planne konfrontasie met bestaande belange gaan bring, sal gesien moet word. Die Afrikaanse letterkundige toneel is berug vir sy hewige politiek, en voorstelle soos dié wat tans die ronde doen, sal sekerlik nie polemiekloos aanvaar word nie. Dit kan opwindend raak. Solank daar net nog genoeg skrywers is wat naas e-posse, agendas en besigheidsplanne darem nou en dan nog goeie boeke ook sal skryf.


Mense wat wil deelneem aan die e-poslys van die Boekebelange- (BB-) gespreksforum kan Charles Malan kontak by charlesmalan@freemail.absa.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.