Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van Niekerk wen gesogte prys, maar debuut-inskrywings stel teleur

Erns Grundling

Agaat se triomftog het begin.

Marlene van Niekerk se Agaat is pas aangewys as die beste skeppende skryfwerk wat in 2004 verskyn het. Daar is egter wel kommer omdat geen debuutwenner vanjaar aangewys is nie.

Die UJ-prys vir skeppende skryfwerk (voorheen bekend as die RAU-prys) tel onder die grootste pryse vir Afrikaanse letterkunde. Dié prys - tesame met 'n debuutprys - word sedert 2001 jaarliks toegeken. Die wentjek van R50 000 sal op Donderdag 12 Mei 2005 tydens 'n gala-geleentheid by die Universiteit van Johannesburg se Auckland Park Kingswaykampus aan Van Niekerk oorhandig word.

Verlede jaar se wenners was Abraham H de Vries (beste skeppende skryfwerk vir sy kortverhaalbundel Tot verhaal kom) en Marius Crous (debuutprys vir sy digbundel Brief uit die kolonies).

Van Niekerk was in haar skik toe sy van die prys ingelig is. Haar antwoord op die vraag "How does it feeeeeeeel?" (met erkenning aan Bob Dylan se nasale aanslag) was: "Ek is baie bly, wat kan ek sê? Ek kan feely-lyne skryf, maar ek kan nie feely-lyne sê nie!"

Volgens Willie Burger, professor in letterkunde aan die UJ, is dit die eerste keer sedert die instelling van hierdie prys in 2000 dat al nege die keurders op die paneel dieselfde werk as hulle eerste keuse aandui. Vanjaar se keurders was Willie Burger, Jac Conradie, Marthinus Beukes, Thys Human, Stephanie Nieuwoudt, Sonja Loots, Louis S Venter, Andries Visagie en Irma du Plessis.

Die finale drie boeke op die kortlys was Agaat, Jan van Tonder se Roepman en Hermann Giliomee se Die Afrikaners.

Die UJ-prys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.

Twee ander opspraakwekkende romans van verlede jaar, André P Brink se Voor ek vergeet en Dan Roodt se Moltrein - het nie onder die keurders se gunstelinge getel nie.

Hier volg meer inligting oor Agaat, uit 'n persvrystelling deur Willie Burger:

Die verhaalgebeure in Agaat fokus op die sterwe van Milla de Wet, haar voorbereiding vir die onvermydelike dood, en in die besonder die verhouding tussen haar en Agaat Lourier. In sowel die verhouding met Agaat as in die konfrontasie met die dood word 'n mens se verhouding met die dood en met ander mense ondersoek.

Sentraal in die roman is die ondersoek van die moontlikheid om 'n ander mens ooit te kan begryp; dit is 'n nadenke oor die moontlikheid wat taal bied om ander mense, sigself en die wêreld te verstaan. Die poëtiese taalgebruik in die roman is 'n viering van die moontlikhede van taal.

Hier volg 'n kort uittreksel uit Irma du Plessis se keurdersverslag:

Agaat is 'n meedoënlose kartering van die kompleksiteit, intensiteit, banaliteit en broosheid van intieme verhoudings. Die roman ontbloot die amper-deurskynende gare waarmee mag en liefde, intimiteit en verraad, skuld en begeerte, aandadigheid en verbondenheid, en afhanklikheid en geweld onlosmaakbaar verwikkel word soos wat die subjek haar/homself en haar/sy teenhanger deur intieme persoonlike verhoudings tot stand wil. Agaat handel oor die skade wat mense mekaar berokken, die tallose maniere waarop verraad gepleeg word, en die klein toegewings waardeur menslikheid behoue bly. Die roman voldoen aan al die vereistes vir bekroning: tematies is dit ryk en ruim, dit is vernuwend na vorm en na inhoud, taal word meesterlik beheer en gesmee, die kernverhaal boei en oortuig, en Agaat Lourier en Milla Redelinghuys word lewensgroot geteken.

Dit is vanjaar die tweede keer dat die prys vir die beste skeppende debuutwerk nie toegeken word nie. Die twee boeke wat vir hierdie prys oorweeg was, was Kasha Potgieter se Aan die oorkant en Elbie Lötter se Dis ek, Anna. Potgieter se roman is reeds in 2003 aangewys as die wenner van Sanlam en INSIG se Groot Romanwedstryd.

Volgens Burger het die beoordelaars gevoel dat daar te veel gebreke by beide romans is. "Hoewel 'n debuutprys sekerlik as aanmoediging moet dien, het die beoordelaars gevoel dit sal 'n verkeerde sein uitstuur deur een van dié betrokke inskrywings te bekroon," het Burger gesê.

Tydens die afgelope naweek se Brekfis met Vier-ontbyt by die Woordfees het die skrywer Daniel Hugo sy bekommernis uitgespreek oor die gebrek aan "nuwe stemme" in die Afrikaanse letterkunde.

Marlene van Niekerk meen jong skrywers moet meer lees en met groter inspanning skryf.

"As mens meer lees, word daar 'n standaard van wat goed is gevorm, 'n smaak word ontwikkel. Jongmense is vandag deel van 'n verbruikerskultuur waar die aantrekkingskrag van vermaak die oorhand kry. Die jeug lei 'n verpakte bestaan tussen selfone, die rekenaar, TV-speletjies, McDonalds en die kroeg, gemik op gemak.

"Om te skryf moet 'ongemaklik' voel, maar jongmense voel onveilig om buite daai comfort zone te gaan en voel hulle moet binne daai trajek bly. Daardie gaatjie waardeur jy moet glip na 'n oomblik van vertwyfeling word heeltemal toegestop ...," het Van Niekerk gesê.



LitNet: 15 Maart 2005

boontoe / to the top

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.