Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Annelie Botes se hart praat prontuit en universeel

Marelize van Taak

Suid-Afrika se sensasiebeluste bevolking ken seker vir Annelie Botes as die vrou wat sonde had met die bure se hond, maar die lesers onder ons sal weet dat sy lank vóór die onderonsie met ene Milo en sy nooi reeds as skrywer bekendheid verwerf het.

Die naam Raaiselkind lui deesdae oral ’n klokkie; of nee, laat ek eerder sê dit word aan die groot klok gehang, want wanneer laas het één boek (en dít nog boonop in Afrikaans) tot so baie dinge aanleiding gegee— tydskrifartikels, onderhoude, boekbesprekings, ’n radiovoorlesing, ’n toneelstuk op die KKNK, ’n honneursprojek aan die US en ’n totale opskudding in die pediatrie, sielkunde en sosiale verantwoordelikheid van ’n land?

Dit alles is die effek van één Botes-boek, en daar is nóg: Trippelsewe het in 1995 verskyn en daarna het Ribbokvoete, Klawervier, Die trousseaukis en ander stories (’n bundel kortverhale), Nawelstring en Raaiselkind gevolg. Laasgenoemde, wat handel oor die uitwerking van ’n outistiese kind op ’n plattelandse Afrikaner-gemeenskap, is reeds deur Arbeiderspers in Nederlands vertaal en sal eersdaags ook by Penguin SA in Engels verskyn.

Botes het met dié kontrak haar regte aan Penguin SA afgeteken, met die hoop dat die uitgewer Raaiselkind na ander Engelssprekende lande soos Kanada en Australië sal versprei.

Klawervier is ook in Nederlands en Duits vertaal en vir haar volgende roman het Botes al klaar ’n “gentleman's agreement” met die uitgewers. Dit behels dat hulle, mits die boek publiseerbaar is, eerstereg mag uitneem op beide die Afrikaanse en Engelse vertalings. Penguin SA klink gretig om dié projek aan te pak en beoog om, iewers in die toekoms, die boek op een dag in beide tale te laat verskyn. “Maar,” sê Botes, “voor dán moet daar nog baie waters onder baie brûe deurloop, én iewers in ’n oseaan beland.”

Hoe het dit gekom dat Botes, wat voorheen kortverhale in die destydse Brandwag gepubliseer en romanwerk vir Huisgenoot gedoen het, skielik met haar eg Afrikaanse verhale soveel aanklank in die buiteland vind?

“Ek weet self nie mooi nie,” sê sy. “Vir Klawervier het ek ’n literêre agent in Londen gehad. Maar vir Raaiselkind het ek self die soekwerk gedoen. Dit was eintlik baie makliker as wat ek gedink het. Alhoewel, miskien was ek net gelukkig …”

Met sulke talent het ’n mens nie geluk nodig nie. Annelie Botes slaag keer op keer daarin om ’n mens— enige mens, ongeag jou afkoms of geleerdheid— te raak. Haar werk is gestroop van dubbelsinnigheid en pretensieuse literêre juweeltjies. Daar word nie van die leser verwag om na ’n moontlik onderliggende postmodernistiese tema te gryp om sodoende die verhaal op ’n nóg dieper vlak te waardeer nie.

Sy praat oor doodgewone mensedinge, hartsgoed waarmee almal van ons spesie in ’n mindere of meerdere mate paaie (en swaarde) kruis. En dit is dalk juis hierdie vermoë om, alhoewel binne ’n eg-Afrikaanse konteks, universele temas op ’n deernisvolle wyse aan te spreek wat van haar boeke so ’n sukses maak.

Maar wat dink Botes van haar werk? Is dit die eenvoud wat maak dat lesers, hier én oorsee, so gaande is daaroor?

“Ek skryf maar net soos my hart vir my voorsê. My boeke word by technikons voorgeskryf, en tog, terselfdertyd kry ek dikwels jong kinders van 14 jaar wat vir my kom sê hoe mooi ’n boek vir hulle was. Letterlik, dit is leesbaar vir jonk tot oud. Ek soek altyd makliker woorde, korter sinne, eenvoudiger paragrafering. En ek skryf baie direk— wat daar staan, is wat daar staan. Geen dwarsstrome en vaaghede wat uitgepluis moet word nie. Dis sekerlik nie letterkunde nie, dis net skryf. Maar as dit die taal van my hart is, en die lesers vind daarby aanklank, dan is dit hoe ek my resep behoort aanmekaar te sit.”

Maar gaan daar nie maar iets van haar hart se taal in die vertalingsproses verlore nie?

“Ja,” sê sy, “maar vir elke verlore iets is daar ook iets te wen. Elke taal het sy eie raakhede.”

Een so ’n “vertaalbonus” is onlangs tydens ’n bespreking van Raaiselkind by die Protea Boekhuis op Stellenbosch uitgewys. Die gedeelte handel oor die bruin huishulp, Miriam, wat graag vir Ingrid wil troos oor die dood van haar seuntjie Alexander, omdat sy uit ervaring weet hoe dit voel om ’n kind te verloor. Op bladsy 184 van Raaiselkind lui dit:

Sal beterder is as sy heelnag by miss Ingrid bly. Jou tjint is jou tjint. Of jy middelnag opgebondel agter die hoenderhok sit met jou hart se droewenheid, en of jy middelnag op ’n breë kooi met ’n klaargekoopte deken loop lê en jou droewenheid op ’n sawwe kussing uithuil, is maar alles eenderster.

En in die Nederlandse Raadselkind:

Het is beter om de hele nacht bij miss Ingrid te blijven. Je kind is je kind. Of je nou midden in de nacht in elkaar gedoken achter het kippenhok zit met je hart vol verdriet, of op je buik ligt in een breed bed onder een kant-en-klaar gekochte deken en je verdriet in een zacht kussen uithuilt, maakt geen moer uit.

En vir my maak dit ook g'n moer uit waaroor Botes se volgende boek handel óf wanneer dit verskyn nie, solank as dié kraantjie van sielewater tog net nooit opdroog nie.

Maar, net so terloops, wat kan ons in die volgende boek te wagte wees?

“Die titel sal Tula-Tula wees,” verklap sy. “Ek is stadigaan besig met die navorsing en het reeds ’n damn goeie idee wat ek wil doen. Dit sal handel oor die effek van bloedskande op die enkeling. Miskien verskyn dit eers hier na 2006 se kant toe. Ek het ses boeke in agt jaar geskryf, waarvan ek twee self vertaal het. En nog omtrent 80 kortverhale ook. Maar die boek gaan nie ’n referaat wees nie, ook nie ’n ossewaverhaal of ’n politiekery nie. Dit gaan ’n storie wees. ’n Aangrypende storie.”

Hoe dan anders?

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.