|
|
Die binnelandskap van Dalene Matthee se UitgespoeldesAmanda Botha
Tien dae voor Dalene Matthee se dood in Februarie vanjaar het sy in besonderhede met die joernalis Amanda Botha oor haar laaste roman, Die Uitgespoeldes, gesels. Hierin het sy 'n beeld geskep van haar karakters en hoe sy hul in die roman inklee.
Klik op boek om te koop!
Die
Uitgespoeldes Die storie wat in Dalene Matthee kom "vasmossel" het en wat haar agtste en laaste roman, Die Uitgespoeldes, geword het, omvat 'n wêreld van 'n handjievol mense in die Strandveld. Britse edelliede, eenvoudige vissers, plaaswerkers, bosmense en 'n Britse premier kry staanplek. Die storie word gehaal uit die geleefde lewens van mense wat hul voetspore daar gelaat het en op wie se lewens terug geloop kan word. Die hartklop is die egtheid daarvan. Dis die wêreld van die Strandveld tussen L'Agulhas, Bredasdorp en Struisbaai en spesifiek die plase Springfield, Renosterkop en Ratelrivier, in die dekade 1950 tot 1960. Die verhaal handel oor lord en lady De Saumerez – "twee vreemde siele wat hier op die suidste punt van Afrika kom uitspoel om suutjies klaar te leef. Eindpunt van Afrika waar honderde skepe met kapteins in misgisting nie ver genoeg verbygehou het nie, waar hoë branders jou tussen rotsriwwe kom induiwel en net die dood jou kan uithaal en laat begraaf. Of die son jou gebeentes kom wit bak." Dis veral Moses Swart se verhaal. Moses is "die een wat regtig in Rietfontein se baai uitgespoel het. Daar waar mirakel hom kom optel het en 'n flentertjie onthou diep in hom agtergelaat het. 'n Snaakse onthou wat nie weggegaan het nie, maar altyd in hom bly knaag het soos 'n droom wat hy nie kan onthou nie." Hierin word vervleg dertien vreemde grafte by Rietfontein se baai, 'n passiemoord wat 'n spookhand agterlaat, jakkals- en rooikatjagte, en 'n naweekuitstappie van 'n Britse premier wat 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse politiek gebring het. Soos net Dalene Matthee kan, skep sy 'n betowerende, ongerepte landskap waar jy "skoon kind word oor wildegoed" soos die ryk voëllewe en meegevoer kan word deur die seewind oor die duine as daar " 'n vrolikheid oor die aarde (is) van al die duisende en duisende sewejaartjies wat wieg en dans". Met die lees verkneukel jy jou in die sêgoed, die kontreistories, en sit jy betragtend en wonder oor die wyshede met hul raak woorde. Die skrywer skep 'n bewustheid van "'n stroom onsienbare dinge" wat oor hierdie aarde lê. Sy trek jou na haar storie met "ongebondelde spookgoed wat soms stukkies afsplits en jou onverwags kom tref". Soos sy in haar bosboeke gewys het, verstaan sy die kuns om die onthou diep binne haar karakters te aktiveer. Sy bou hul nie net rondom hul sêgoed en leefstyl nie, maar skep waardigheid omdat sy hul binnelandskap sensitief verken en erken. Aan die eenvoudige bosvrou, Katoeka, wat hou onder 'n skuiling van ineengestrengelde melkhoutbome, gee Matthee "die ander kyk ook – vorentoe en agtertoe" – sy "sien jou hele lewe deur" – "skerpkyk-glasoë wat jou kan bangmaak as jy nie keer nie". In Katoeka word Moses se geheim gebêre. Sy verstaan wat "tussen die drifsels uitspoel om opgetel te word". Sy's getuie van Moses wat uit die water gekom het en gewete van 'n minuskule wêreld wat weer gevoel aan mense terug gee. 'n Menswaardigheid wat die edelheid van eenvoudiges raak sien. Lord de Saumerez van Springfield is 'n man wat die mense rondom hom as "'n mens" beskryf – die hoogste agting wat in hierdie erkenning opgesluit word. "As die mense van hom praat, is dit of hulle hoed afhaal." Sy leef in hierdie kontrei, ver weg van sy Britse wortels waar hy konings met die hand gegroet het, laat hom deur die eenvoudiges van gees hier meevoer en bekoor. Hy hunker ook na anderland en wil 'n stukkie Engeland nog in die Strandveld onthou as hy sy tuin maak en fyntuin laat aanlê. Dis ook hy wat "die tronkdeure" van Moses se innerlike gevangenskap begin oopsluit. Lady de Saumerez word beskryf as "die ongelooflikste vrou wat nie in die Strandveld gepas het nie", maar wie jy maklik as jy haar daar sou raakloop, "misgis vir 'n engel wat verbyvlieg". Die besondere verhouding tussen haar en haar man word beskryf as "twee wesens wat iewers aan mekaar vas is, in 'n wêreld wat vir ander onsigbaar is". Onder die naaste vriende van lord en lady De Saumerez is gravin Blücher – eintlik prinses Louise Radziwill van Pole, weduwee van Lothair Blücher, wat met haar seun, graaf Alec, by Botrivier op pad na Hermanus gewoon het. Tussen hierdie mense trek die moord op Ratelrivier ook aandag – die stuk ongeregtigheid wat nie gestraf is nie. Vir hulle – en vir Moses – is die Strandveld "net 'n veilige spikkeltjie iewers op die aarde". Die verwantskap word sonder woorde aangevoel – Moses, die uitgespoelde tussen die uitgespoeldes van anderland wat dit so gekies het. As daaroor gepraat word, word die pratery "'n boekstorie" van geheimenisse wat diep in die verlede teruggaan. Moses Swart is die een wat "op die verkeerde plek uitgespoel en opgetel is". Maar dis hy, anders as al die ander Strandvelders, wat aanklank vind by die uitlanders. Sonder dat hy vergeet dat hy maar net Moses is, word hy tog die vertroueling van hulle – hy luister na hul binnegeheime, hy hoor hul verlanges en hy herken die hartstaal. Die kragpunt vir Moses lê in gravin Blücher, Loulou vir hom op haar aandrang. Sy is, soos lord De Saumerez haar beskryf, "'n Rotskrans waarteen die branders eeue al breek sonder om haar stukkend geslaan te kry. Krans met 'n vreemde krag in haar, 'n krag waarvan sy deeglik bewus is." Teenoor haar krag staan haar seun Alec, 'n man wat graag die bottel soen. "Daar is iets in die man wat 'n jammerte in jou wil laat roer.” Net Matthee kan dit só uitdruk: "Hy laat mens op 'n manier aan 'n rooikat dink: wild en waardig – terwyl jy wens hy was mak sodat jy sy kop kon krap." Graaf Alec "trap nie die aarde raak soos 'n gewone mens nie". Hy's 'n verdwaalde. Dit is eers nadat graaf Alec die bosse inloop en wegraak dat Moses, deur sy bemoeienis met die soektog, verder binnestap in die harte van die mense. Hy kry 'n blik op die sitkamer – later word hy ingenooi om saam met die Lord te wees vir 'n gesels wat onthoue losmaak om diep in hom te kom lê. Maar dis eers as hy die binneweelde ontdek, die oomblik toe hy in die sitkamerdeur staan, dat Moses “'n stukkie onthougoed" raak trap "wat diep in hom gebêre was en die vreemdste wrewel en verlange in hom losmaak". Hy herken dit as "dieselfde verlange wat hom vroeër jare so by Rietfontein se baai oorval het". "Hy staan daar in die deur van die mooiste, deftigste sitkamer soos op die rand van 'n ander wêreld. Waar jou oë nie net die swier raaksien nie, maar jou lyf 'n statigheid inasem van 'n reuk wat ook diep in jou lê." Hier by Lord in die sitkamer leer Moses van die "soms vreemde dubbelpaaie waarvan party vermoedelik reeds in jou bloed is as jy gebore word". 'n Vonds is die Britse eerste minister, Harold MacMillan, se besoek aan Springfield en spesifiek sy naweekverblyf in Lord de Saumerez se seehuis, Die Walle, op Renosterkop. MacMillan was op 'n Afrika-besoek en het Suid-Afrika in 1960 besoek om sy belangwekkende rede, “The winds of change”, hier te lewer. Hier, teen die Strandveldse see met Soetanys in sig, het MacMillan 'n storm trotseer waar die twee groot seestrome bymekaar kom en die plek bekend is vir sy grote branders – van die hoogtes in die wêreld. Dit is gepas dat hy hier vir so 'n belangrike toespraak sou voorberei – hier waar twee magtige oseane mekaar ontmoet. Dis veral in hierdie vertelling waar 'n besondere insig verkry word in die gesindhede wat verhoudings kweek. MacMillan kom aan die woord as hy praat van hoe 'n bevolking met groot verskille kan saamleef deur verby "uitgestrapte voetspore te wandel" ten einde die geleentheid gegun word om jouself op te hef. In hierdie storm wat L'Agulhas tref, het die premier kom praat van 'n saamleefmodel vorentoe. Hier maak MacMillan appèl op 'n waardering van wat bereik is, maar om veral na die moontlikhede vorentoe te kyk. 'n Sin wat resoneer met Moses, die uitgespoelde. Hier praat MacMillan van die "strength of the African national consciousness" en maak hy die gewraakte stelling: "The wind of change is blowing through the African Continent". Hy vra om verantwoording van hierdie politieke realiteit. Maar na die storm en sy opdrifsels – en hy vort is – gaan die lewe hier by Die Walle op Renosterkop ongestoord voort. Tog het die voetspore anders kom lê. Daar is oor die ongeregtigheid van die Van Breda-moord gepraat terwyl die hardertrekkers steeds kaalgat met 'n hoed op die kop see in is as 'n skadukol verklap waar die harders hou. Nog kom tobies om met rooibekkies rond te pink, nog roep die heuningvoël en kom die seemeeue swewend land toe. Na die storm kom "'n nuwe wêreld waaroor 'n nuwe vredigheid kom lê het". Dis vir Moses om in die geselskap van gravin Blücher oor die MacMillan-man te besin. Vir Moses is "hy 'n ratel wat loop en grom, hy soek iets om te bespring", maar hy word getroos dat 'n ratel slim en sku is. "Die lewe, liewe Moses, het soms ratels nodig om die aftakeling te begin wat deur die nuwe groei moet laat gebeur", is die gravin se troos aan hom. Hierop het hy nie taal nie, hy kan maar net sy "dieper dom" bely. Hy moet aanvaar dat "oral in ons lê sade wat op ontkieming wag, sade wat ons nie altyd verstaan nie. Goeie sade, slegte sade – hang af watter een ons die meeste water gee." Geleidelik het Moses die binnekring betree – op uitnodiging wel – maar so kon hy "'n kyk (kry) in die onderste laai" van hierdie vreemdes in die Strandveld. Hy kon slim dinge leer – dinge ver van hier, maar tog iewers naby hom. Soos om in die vreemde wêreld van konings in te kyk. Hy leer in gesprek met lady De Saumerez dat "elke mens kry deur die loop van sy lewe 'n paar spesiale dae" – dae wat nie ligtelik beleef moet word nie, want elkeen gebeur net een keer. Vir Moses is dit spesiale dae – wanneer herinneringe van eergister vir hom herroep word. Hy kan "voor sy oë" mense in 'n ander wêreld sien. Die sand op Ratelrivier word 'n verhoog van swierigheid – 'n wêreld sonder grense. Teenoor hierdie ervaring staan Moses telkemale teenoor Katoeka, die wyse vrou van die bos – die een wat sy geheim dra – die enigste een wat nog weet dat hy die een is wat onder 'n jas geroer het toe alles rondom hom vergaan het. Sy het met haar "diep-kyk" ook verstaan van eensaamheid – "eensaamheid wat nie brieke het nie, wat afdraand loop". Dis ook sy wat Moses geleer het om "fyn te kyk", want net só kan jy die geheime van die Strandveld weet. En hieroor leer Lord vir Moses: "Moet nooit jou denke by ander optel nie, vind jou eie waarheid in jou eie gemoed." Maar hy leer ook van die eenvoudige Koos Kok, die tuinier van Springfield: "As ongelukkigheid in jou intrek, druk dit jou asem uit. Sit gelukkigheid terug op sy plek, en jy kry sommer nuwe lug in jou pype." Dinge verander toe Lady haar gebruiklike noordelike vakansie neem en Lord, soos altyd goedversorg, agterbly op Springfield. Katoeka is die eerste om te verstaan dat Lord se "naam geroep is". Die waarheid word ook geleef dat daar meer as een soort dood is. Maar daar "val altyd 'n druppeltjie suiker uit die lug om jou lyding te versag", wat krag gee – ook vir Moses – om fyn genoeg te luister en te hoor. Om te weet dat "die lewe soms met dubbelpaaie" loop, raaiselpaaie, ten spyte daarvan dat daar 'n patroon wat loop is … In Moses se lewe soek hyself die patroon, maar vir hom is dit soos om verkeerde steke in lang rye te brei – dis wat hy ken. Hy weet hy hoort by Rietfontein se baai. Hy vra nie meer om verstaan te word nie, hy voel sy taak is voltooi by die skurfklip in die baai.
LitNet: 10 Oktober 2005
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |