Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Nuwe nasionale skrywersorganisasie

Hiermee saam die skrywe aan prof Andries Oliphant, koördineerder van die nuwe nasionale skrywersorganisasie waarop tydens die UP-kongres besluit is, asook tersaaklike gedeeltes van die antwoorde.

CHARLES MALAN SE SKRYWE

Beste Andries

Ek sien jy koördineer die stigting van die nuwe Suid-Afrikaanse skrywersorganisasie. Sterkte daarmee; dit sal goed wees as dit op dreef kan kom. Aangesien ek gevra is om skrywersbelange rondom ’n organisasie in “die noorde” te koördineer, iets wat heelwat mediadekking gekry en waarvan jy moontlik al gehoor het, sal ek dit waardeer as jy antwoorde op ’n paar vrae hieronder kan verstrek, sodat ek dit verder kan versprei. Voeg asb sommer jou antwoorde direk na die vrae in. Ek sal bly wees as ons dit as ’n ope briefwisseling kan hanteer, aangesien dit klaarblyklik in algemene belang is.

  1. Hoe verskil hierdie inisiatief van die baie duur en omvangryke beraad vir ’n nuwe nasionale skrywersorganisasie wat COSAW onder aanvoering van Raks Sekahoa min of meer 1995 in Johannesburg gereël het — en wat niks opgelewer het nie? Talle oorsese skrywers is ingevlieg en die onthale alleen was derduisende rande. As destydse voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde het ek baie ure op daardie poging vermors.

  2. Hoe en volgens watter rasionaal het julle verteenwoordigers van die verskillende skrywersgroeperings genooi, en hoe lank voor die tyd? Jy het bv ’n paar dae voor die tyd ’n uitnodiging aan Elias Nel van die Afrikaanse Skrywersvereniging via my gerig, hoewel ek niks met hulle te doen het nie. ’n Bekende “wit” Afrikaanse skrywer van wie ek weet, het die uitnodiging ’n dag voor die tyd ontvang en kon/wou nie daarop reageer nie. Wat my persoonlik betref: ek gaan bepaald nie meer as R300 betaal vir iets waaroor ek nooit meer as ’n paar sinne inligting ontvang het nie. Julle het my adres gebruik om Elias Nel te bereik, maar julle het nogtans nie eens vir my basiese inligting oor die kongres gestuur nie.

  3. Hoekom bring jy volgens die Beeld-berig die kwessie van ras pertinent ter sprake? Jy word aangehaal dat wit Afrikaanse (en Engelse!) skrywers nie vir die kongres opgedaag het nie, selfs nie geantwoord het nie. Waarom nie? ’n Skrywer wat uitgenooi is, skryf vir my: “En op ’n punt van orde: wat is ’n ‘swart’ skrywer en ’n ‘wit’ skrywer? Ek wil nie eens aan die moontlikhede dink nie. Ek dag nog al die jare ons skryf in Afrikaans of Zoeloe of Engels.”

    Is jy bereid om vir ons te verduidelik wat die verskil is tussen die volgende soorte skrywers wat ’n Afrikaanse verwysingsveld in hulle skryfwerk het (en ek vra om verskoning dat ek na velkleur en etnisiteit moet verwys — jy het dit ter sprake gebring; ek verfoei dit heeltemal): “spierwit” Afrikanerskrywers, bruin/Kleurlingskrywers, etnies-swart skrywers soos Phosa, normaalweg Engelssprekende skrywers wat hulle gedeelde Afrikaner-verwantskap beklemtoon (Fugard, JM Coetzee), gemarginaliseerde/benadeelde teenoor bevoorregte skrywers, groen skrywers soos ek, ens, ens?

  4. Is die gebruik van Afrikaans vir skryfwerk hoegenaamd belangrik vir die nuwe organisasie? Hoe gaan julle besluit wie skrywers wat in Afrikaans skryf, gaan verteenwoordig? Gaan die uitgangspunt wees: die ASV was daar, die “ander” (wittes) nie?

  5. Wie gaan die ander taalgroepe verteenwoordig, en gaan daar minstens elf taalgroepe verteenwoordig wees? Hoe gaan hulle erkenning in die bestuur van die organisasies kry? Is daar ooit ’n ander taal as Engels by die kongres gebruik — terwyl meer mense in die noorde Afrikaans as Engels verstaan? Toe Wally Serote by die loodskongres van die nuwe talebedeling daaroor gekonfronteer is dat hy Engels praat, het hy dadelik skuld bely en na sy moedertaal oorgeslaan. Daar was wel vertaalgeriewe, maar die punt is dat hy sy eie woorde ook agterna sou kon vertaal, en nogtans aan sy eie taal reg kon laat geskied. Die skrywers wat in Afrikaans skryf, het darem nog redelik wye mediadekking. Maar wat van die arme paar skrywers wat nog in Venda, Tsonga, ens probeer voortploeter? Dit is vir my persoonlik belangriker of julle na hulle belange eerder as dié van die goed gevestigde Afrikaans gaan omsien, en hoe.

  6. Wat is die politieke agenda agter hierdie projek? Sal die uitgangspunt wees: “Ons, die National Arts Council (wat nie ’n Afrikaans-vertaalde naam het nie) steek hiermee ’n hand na alle skrywers van alle taalgroepe uit — al vind hulle ’n dag voor die tyd daarvan uit? But sorry folks, die whiteys vat nie die hand nie, hulle maak dit ’n ras-ding, hulle bly weg en die wa moet ry. As julle orals ANC-magstrukture en -strategieë sien, is dit julle probleem. Ons eerste projek is gelukkig om ’n Venda-digter haar buitengewone Venda-gedigte in die Staatsteater te laat voorlees.”

  7. Hoe is julle bereid om die owerhede, beginnende by die ANC, oor minderheidsregte aan te vat? Alle taal- en kultuurregte in hierdie land, ook dié van Engels, behels minderheidsregte. Is julle bereid om ewe sterk vir Venda- as vir Engelse taalregte te veg? Gaan ons julle stem gereeld in die media hoor, gaan julle ’n aktiewe bongenoot van die magtelose Pansat word?

Ons wag in spanning om te hoor hoe julle hierdie nuwe organisasie deur hierdie politieke mynveld heen gaan stuur. Ek is nie in die posisie om namens enige ander skrywer te praat nie, maar as julle dit gaan regkry om namens alle skrywers ’n sterk stem van protes te laat hoor oor die huidige totale minagting van taal- en kultuurregte ten gunste van Engels, gee ek my onvoorwaardelike persoonlike steun aan die nuwe organisasie.

Groete

Charles

* * * *


GEDEELTES UIT ANDRIES OLIPHANT SE ANTWOORD

Hi Charles

[...]

Ek verwelkom jou steun vir die inisiatief. Tog, ek gaan nie op al die kwessies wat jy aanroer, antwoord nie, behalwe om dit absoluut duidelik te maak dat die verwysings na “ras” aan Beeldse “beriggewer” toegeskryf moet word. Ek het nie ’n onderhoud aan haar toegestaan nie en geen opmerking van die aard tydens die kongres gemaak nie. Ek het intussen die berig nagegaan. Die wyse waarop die berig geskryf is en hoe ek kwansuis “aangehaal” word, is genoeg bewys dat die “rasseverwysing” knoeiwerk is. Die opmerking wat aan my toegedig word, staan los van die groepe mense wat dit voorafgaan.

[...]

Al die ander sake: struktuur, beginsels, lidmaatskap, bondgenootskappe, projekte en lesse uit die verlede sal deur die skrywers in al die tale van Suid-Afrika bepaal word. Ek vertrou dat jy, met al jou vrae en hopelik ook ’n paar antwoorde, deel van dit sal wees.

Ten slotte, vind jy dit nie vreemd dat ’n vriendelike uitnodiging, laat of vroeg, na ’n kongres hierdie soort “kommunikasie” en verdagmakery genereer nie? Of is dit dalk nie so vreemd soos wat ek meen nie?

Vriendelike groete

Andries Oliphant

* * * *

DELE UIT CHARLES MALAN SE ANTWOORD

Hallo Andries

[...]

Ek is veral bly oor jou ontkenning dat jy vir die verwysing na ras verantwoordelik was. Dis die een ding wat ons sekerlik nie nou nodig het nie. Maar nou skryf jy iets wat wel vir my vreemd is: Jou vraag is of dit nie vir my vreemd is nie dat “...’n vriendelike uitnodiging, laat of vroeg, na ’n kongres hierdie soort ‘kommunikasie’ en verdagmakery genereer nie? Of is dit dalk nie so vreemd soos wat ek meen nie?” Elias Nel het presies hierdie verwysing na “onbekende faktore” gemaak en ek het geskryf dit is hoog tyd dat hierdie “duistere dinge” naam kry en uitgepraat word; ek het selfs ’n lys daaroor saamgestel. (Terloops, Elias en die ASV-bestuur het tot dusver my verskeie reaksies op hulle skrywe in Beeld — waarin ek hulle verseker het daar is geen sprake van “wedywering” met hulle nie — met dawerende stilswye begroet. Ek stuur nietemin hierdie skrywe ook weer aan hulle.)

Ek bly graag verder met jou in gesprek, al gaan dit nie “namens” die een of ander skrywersgroepering wees nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.