Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Behoort skrywers by die taalstryd betrokke te raak?

Peter Louw

Behoort skrywers by die taalstryd betrokke te raak? Hierdie kwessie het onregstreeks ter sprake gekom in ’n artikel deur Stephanie Nieuwoudt in Beeld van 13 Junie 2002.

Die hoofkwessie waaroor die artikel gaan, is die vraag of ’n nuwe skrywersorganisasie gestig behoort te word; maar daarby is daar ook geraak aan die houding van die skrywer teenoor die heersende diskoers oor die voortbestaan van Afrikaans.

Van die punte wat deur verskillende skrywers gemaak is, is dat dit nie nodig is om vir Afrikaans te “veg” nie, oa omdat dit mense sou polariseer; of anders omdat die blote “skryf in Afrikaans” reeds voldoende sou wees en dat ’n enkele goeie boek wat in Afrikaans geskryf word, meer regkry as petisies of betogings.

Ek wil nie hier ingaan op die magdom tersaaklike kwessies nie, soos die verhouding tussen die letterkunde en die politiek, die onafhanklikheid van die skrywer of die bagasie van die verlede. Ek wil eenvoudig die stelling maak dat die Afrikaanse skrywer wat hoop dat sy of haar werk oor ’n 100 jaar of so nog gelees sal word, uiteraard en noodgedwonge reeds as ’n party by die taalstryd betrokke is, al is dit as potensiële slagoffer — die slagoffer van ’n taalsosiologiese (en wat Afrikaans betref, ook taalpolitieke) dilemma waarin alle kleiner tale beland het.

Volgens die Instituut vir Bedreigde Tale in Brittanje (www.ogmios.org) word daar tans tussen 5 000 en 7 000 tale in die wêreld gepraat, waarvan sowat 2 500 sterwend is — tans gaan ongeveer een elke twee weke tot niet. Die skatting is dat tot 90 persent binne ’n verdere eeu dood sal wees, hoofsaaklik weens globalisering.

In die vakliteratuur oor die oorlewing van tale word gewoonlik vyf vlakke van taalgebruik onderskei. Om te oorleef, moet ’n taal liefs op al vyf vlakke ’n funksie hê, hoewel hy met vier dalk nog sal kan voortbestaan:

  1. (’n Taal moet tuis gepraat word — as daar nie meer taaloordrag vanaf ouer na kind plaasvind nie, is die taal gedoem. (In hierdie opsig staan Afrikaans nog redelik sterk, maar swakker as in die verlede; so is daar byvoorbeeld ’n opmerklike neiging onder die middelklas van die Kaapse Vlakte om hul kinders in Engels groot te maak.)

  2. ’n Taal moet ’n literêre, media- en letterkundige funksie hê, wat televisie, radio, koerante, tydskrifte en boeke insluit. (Ook in hierdie opsig staan Afrikaans nog redelik sterk, onder meer danksy die hoë gehalte en status van ons letterkunde; maar weer eens is die posisie swakker as in die verlede en wen Engels voortdurend veld ten koste van Afrikaans. Veral kommerwekkend is dat Afrikaanse tydskrifte, en die standaarde wat vir hulle geld, heeltemal gepopulariseer is, sodat ’n gehalte-tydskrif soos Standpunte vandag waarskynlik as “elitisties” gebrandmerk sou word.)

  3. ’n Taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê en moet op skool, kollege en universiteit as onderrigmedium gebruik kan word. (In hierdie opsig word Afrikaans ernstig bedreig as tersiêre sowel as skoolonderrigtaal, terwyl Afrikaanse studiehandboeke al hoe skaarser word.)

  4. ’n Taal moet ekonomiese nut hê, sodat daar ’n aansporing sal wees om die taal aan te leer of in stand te hou. (In hierdie opsig het Afrikaans in die laaste dekade enorme skade gely.)

  5. ’n Taal moet ’n owerheidstaal wees om te kan floreer. (Afrikaans het hierdie funksie in die praktyk byna heeltemal verloor.)

Die vraag is of Afrikaans — in ál sy rykdom van variante — die dubbele bedreiging van globalisering en ’n vyandige politieke bedeling sal kan weerstaan. As in ag geneem word dat selfs groot kultuurtale soos Duits en Frans die koue winde van globalisering en verengelsing merk en daardeur bedreig voel, is dit maklik om pessimisties te raak.

Blote pessimisme is egter die goedkoop uitweg, omdat dit jou onthef van alle verdere denke of verantwoordelikheid oor die kwessie; en dieselfde geld vir die soort neerdrukkende fatalisme wat hom berus in die idee dat “as Afrikaans moet sterf, niks dit sal kan keer nie”. So ’n houding ignoreer die feit dat verskeie taalgemeenskappe in die moderne tyd wél daarin slaag om hul tale téén die skynbaar oorweldigende bedreigings in, in stand te hou en selfs te laat floreer: Wallies, Kanadese Frans, Katalaans, Hongaars as minderheidstaal in Roemenië, en natuurlik Nederlands in België.

Vir al hierdie taalaktiviste was dit egter beslis nié genoeg om net goeie boeke te skryf nie. Daar moes daadwerklik opgetree word om die bedreigde tale in beskerming te neem. Ook moet daar nie illusies wees oor die aard van ’n taalstryd nie. Beskaafde en hoflike protes is sekerlik die ideaal, maar die ondervinding leer dat konflik, ook taalkonflik, “menslik-onsuiwer” is en dat hewige meningsverskille en polarisasie deel daarvan is. Ons eie taalbewegings van die verlede was ook nie ’n Sondag-piekniek nie.

Hoewel Van Wyk Louw in sy tyd van mening was dat goeie skryfwerk op sigself genoegsaam is om die taal te laat oorleef, kan die jare vyftig en sestig destyds — met ’n (blanke) Afrikaans-simpatieke regering en toe dit gelyk het of die stryd vir Afrikaans gewen is — nie vergelyk word met die situasie van ná 1994 nie. Vandag sit ons met akute globaliseringsfaktore en ’n Afrikaans-vyandige regering, wat eerder herinner aan die tyd ná die Anglo-Boereoorlog, toe skrywers ook taalstryders was. As blote goeie skryfwerk in Afrikaans voldoende was, moes Afrikaans nou al ’n magtige taal gewees het; ons weet egter almal dat die posisie van Afrikaans veral sedert 1994 drasties agteruitgegaan het.

Om demokraties en proaktief op te kom vir ’n klein, maar kosbare, kultuurskat wat bedreig word deur skynbaar onoorwinlike magte (wat egter op sigself óók waardevolle kultuurkomponente insluit, soos die Engelse letterkundige skat) — dit is die kulturele heroïsme van die moderne tyd, die soort heroïsme wat erken dat Engels óók ’n rol en waarde het, maar terselfdertyd die bestaansreg van alle kleiner tale, en dus ook Afrikaans, in stand hou.

Want om ’n kleiner taal in beskerming te neem teen groot, gelykmakende kragte, beteken om “nee” te sê vir die grysheid, vir die saai en sieldodende eenvormigheid van ’n nuwe hegemonie, en “ja” vir kleurrykheid, verskeidenheid en die reg om anders te wees.

Die paradigma van voor 1994 was een van gerustheid, selfs oorgerustheid, dat Afrikaans se toekoms veilig is, en die woorde taalstryd en taalstryders het beelde opgeroep van vervelige en irrelevante taalgeskiedenislesse en snaakse name soos Pannevis en Hoogenhout wat gememoriseer moes word. Vandag is dit natuurlik anders. Afrikaans is, soos in die tydperk van voor 1948, weer oorgelewer aan die onsekerheid van ’n klein en jong taal, gelaai met ’n kosbare vrag, te midde van onverskillige en vyandige magte.

Dit sou voorskriftelik, en in elk geval ’n contradictio in terminis, wees om van Afrikaans-skrywers te verwag om “aktief” aan die taalstryd deel te neem. As skeppers in ’n taal wat opnuut tussen die engtes beland het, is hulle noodgedwonge reeds deel van die stryd — al sou hulle dit ontken! — en lewer hulle ’n onskatbare bydrae daartoe.

Artistieke skryfwerk en taalaktivisme moet nie teenoor mekaar gestel word as botsend nie, maar eerder as aanvullend tot mekaar. Só was dit in die Tweede Taalbeweging, en só is dit vandag oral ter wêreld waar kleiner tale ’n legitieme en demokratiese stryd voer om te oorleef.

Wat natuurlik nie wil sê dat die skrywer sy/haar funksie as onafhanklike kritikus van foute moet of mag prysgee nie. As die skrywer meen dat die taalaktivis nie in belang van die taal optree nie, moet daardie kritiek uitgespreek word — maar altyd met die verstandhouding dat gemeenskaplike, oorkoepelende belange op die spel is.

Afrikaans-skrywers en taalaktiviste het in dieselfde bootjie beland, op ’n rivier wat ál sneller vloei, terwyl ’n reusagtige waterval stroom-af op hulle wag. Hoe gouer hulle hul gemeenskaplike lotsbestemming besef, hoe groter die kans dat hulle ’n veilige systroom sal bereik.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.