Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot kongres oor Antjie Krog en die Afrikaanse literatuur sedert 1994

Van 30 September tot 3 Oktober vanjaar bied die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) ’n groot kongres aan rondom die werk van Antjie Krog en die Afrikaanse literatuur wat sedert 1994 verskyn het. Die kongres sal plaasvind in die Dikhololo-Natuurreservaat naby Brits. Tot dusver het sowat 41 akademici en boekliefhebbers van Suid-Afrika, Nederland, België en Tsjeggië aangedui dat hulle referate by die kongres sal lewer. Antjie Krog sal ook by die kongres teenwoordig wees en op 2 Oktober sal sy uit haar werk voorlees.

Die tiental referate wat oor Krog gelewer sal word, sal ’n verdere hoogtepunt by die kongres wees. Sy is sedert die sukses van Country of my Skull ’n internasionaal bekende skrywer en in Afrikaanse literêre kringe heers daar tans groot opgewondenheid oor haar bekroonde bundel, Kleur kom nooit alleen nie. By die kongres sal daar ook aan hierdie belangrike bundel baie aandag geskenk word. Prof Heilna du Plooy van die Potchefstroomse Universiteit sal byvoorbeeld praat oor die gebruik van die narratief in Kleur kom nooit alleen nie. Krog se digterlike gesprek met C Louis Leipoldt sal ook onder bespreking kom in die referate van prof Louise Viljoen (US) en mnr Jaco Jacobs (UVS).

By Dikhololo sal die kongresgangers ook ’n bestekopname maak van die Afrikaanse literatuur sedert die politieke omwenteling van 1994. In die jare negentig was 55 persent van al die literêre werke wat in Suid-Afrika verskyn het, Afrikaanse boeke. Hoe lyk die Afrikaanse literatuur op die oomblik? Watter skrywers gee sedert 1994 die toon aan?

Op die oog af lyk dit asof die kongresgangers heelwat belang heg aan Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden, ’n roman wat in 2000 verskyn het. Nie minder nie as drie referate sal aan Van Heerden se roman gewy word. Ook die onlangse romans van André P Brink sal druk bespreek word.

Tydens die Dikhololo-kongres sal die ALV ook die resultate bekend maak van hulle meningsopname oor die werke wat die beste beeld gee van die Afrikaanse prosa. Hierdie meningsopname onder kenners van die Afrikaanse literatuur volg kort op die bekendmaking van die lys van 100 beste boeke in Afrika, waarop slegs enkele Afrikaanse boeke voorkom (Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, Eugène N Marais se Die siel van die mier en André P Brink se ’n Droë wit seisoen). Watter boeke hoort volgens die Afrikaanse literatuurkenners op ’n lys van die mees verteenwoordigende prosawerke in Afrikaans? ’n Paneel van deskundiges sal tydens die kongres die resultate van die meningspeiling in oënskou neem en daar sal na verwagting ’n lewendige debat oor die lys boeke gevoer word.

Die uitgewersbedryf sal ook aandag geniet in ’n sessie waartydens mnr Nicol Stassen van Protea Boekehuis sal praat oor hoe hy die uitgewersbedryf en sy rol daarin sien. Na verwagting sal NB Boeke ook aan die gesprek deelneem.

Prof Heinrich Ohlhoff van die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria is verantwoordelik vir die organisasie van die kongres. Belangstellendes kan hom per e-pos kontak by cohlhoff@postino.up.ac.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.