Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uitgewers, skrywersorganisasies en die publikasieproses

Karen de Wet

Departement Inligtingkunde
Universiteit van Pretoria

Ek wonder oor een ding, en ek is bang vir ’n ander een. En verder het ek ’n hele boel ongemaklike vrae, en ook opinies.

Dit is hoe ek my reaksie kan opsom oor die gesprek wat aan die gang is tussen sommige skrywers en sommige uitgewers wat betref die publikasie van boeke in Afrikaans. ’n Gesprek wat, so lyk dit my, hoofsaaklik deur skrywers gevoer word. Vergun my dan, asseblief.

Eers die wonder: Ek wonder hoeveel hiervan gevoed word deur onkunde. Gewone nie-(genoeg?)-weet-nie van wat alles nodig is en deel uitmaak van die proses om ’n boek uit te gee.

Ek praat met ’n uitgewer en verwys na hierdie skrywer-uitgewer-debat en sy vat dit kort en kragtig saam: “Ag hoe onverkwiklik tog.” Waarmee sy nie besware, opinies of inisiatiewe van die tafel afvee nie, maar waardeur sy my wel laat wonder of een van die redes nie ’n mankolieke blik (weens gebrekkige inligting, oa dus) op mekaar (uitgewers en skrywers, dus) se werklikhede en werksaamhede is nie.

Nou die bang: Ek is bang vir daardie ou ding in die geskiedenis van ons wat hierdie taal praat — dat die oomblik wanneer daar energie loskom, ons almal penorent spring, voor op die wa wil ry, die wiel van heel voor af wil uitvind, en luidkeels verraad-verraad op ons eie mishoop kraai met baie praat en weinig luister.

So ek het baie wonder en bietjie bang, en daar is baie kante aan hierdie saak, en miskien kan al die bydraers tot hierdie gesprek op die ou end merkers maak waarlangs stapeltjies antwoorde bymekaargemaak kan word, soos klein mylpale langs die pad.

Herman Wasserman se omvattende artikel “Hoe haalbaar is ’n nuwe skrywersorganisasie?” wat die Boekindaba-ruimte ingewy het, haal ’n aantal kernkwessies op rondom die roeringe en uitsprake in die uitgewer-skrywer-debat wat waarskynlik aanvanklik formele uitlopers begin kry het met die gespreksdokument van George Weideman et al en die reaksies daarop op SeminaarKamer, en wat op die oomblik voortgedra word deur die response op die Boekebelange-forum, tans hoofsaaklik hoorbaar deur die stem van Charles Malan, wat ook optree as redakteur en verspreider van hul e-pos-verspreidingslys.

Wat die Boekebelange-lys betref, is daar duidelik twee sake ter sprake. Die een is ’n inisiatief vir ’n skrywersorganisasie, die ander die bekendstelling van ’n nuwe uitgewery, Hermes. Mens sou jou kon afvra welke een hiervan op die oomblik op die ander een se rug ry vir die publisiteit en aandag wat dit kry.

Wasserman en ander bydraers tot Boekindaba, veral Elias Nel en Jason Lloyd, het reeds aangedui dat ’n skrywersorganisasie waardeur skrywers bedingingsmag kan kry, wel nodig is, maar nie ’n probleemvrye paadjie ná stig en bestaan gaan hê nie — veral gegewe dit wat reeds bestaan, en wat die agendas met die bestaande en die beoogde is.

Aan die een kant word in die gesprek oor ’n skrywersorganisasie genoem dat dit inklusief moet wees (maw nie net vir skrywers van letterkunde nie), en aan die ander kant is baie van die stemme wat opklink, juis ten gunste van ’n organisasie wat die boek by die leser bring, skrywers wat hulself dus ook fisies beywer vir die bekendstelling van (hulle) tekste aan lesers, vir die vestig en uitbou van ’n leeskultuur.

Die opinies van ’n anonieme bydraer tot die Boekebelange-e-poslys wat dit het oor skrywers wat met skraal, indien enige, honoraria vergoed word wanneer hulle met lesers gaan praat, gee weer die ander (en ongelukkige, realistiese) kant van die prentjie. As skrywers van Afrikaanse tekste ’n vereniging wil stig ter bevordering van die Afrikaanse boek, ter beskerming van skrywers, en om ’n leeskultuur te vestig en te voed, en as dit boonop nie net ’n vereniging vir skrywers van ’n bepaalde genre wil wees nie, en nie net gerig op ’n verenigde front teen uitgewers nie, sou dit dalk baat om te kyk na wat in hierdie verband in ander tale gebeur.

’n Buitestaander sou sig kon afvra: Waarom het skrywers dan ’n forum/gilde nodig ter bemagtiging, en vir bemiddeling met uitgewers? Is hulle nie opgewasse genoeg om hulle eie onderhandelings, en dan ingerig volgens bepaalde en unieke omstandighede ens, te doen nie? En dan sou hierin bepaald wel ’n stuk waarheid steek. Maar dit is tog ook so dat dit ’n internasionale verskynsel is dat skrywersorganisasies bestaan. ’n Voorbeeld is International PEN wat in 1921 gestig is en tans sambreel is vir sowat 130 PEN-sentra wêreldwyd — ‘n

fellowship of writers working ... to advance literature, to promote a culture of reading, and to defend free expression. … A membership association of prominent literary writers and editors … a major voice of the literary community [working] to defend the freedom of expression wherever it may be threatened, and (to) promote and encourage the recognition and reading of contemporary literature. (www.pen.org)

Hier is nou ’n benadering waarmee skrywers wat bekommerd is oor boekverkope, en wat ’n belangrike rede hiervoor by ’n kwynende leeskultuur (en veral onder die jeug) soek, sekerlik kan en wil identifiseer.

Voorts is dit ook nie ondenkbaar dat skrywersorganisasies ’n koördinerende en informatiewe rol kan speel en verantwoordelikheid kan neem vir spesifieke inisiatiewe nie. Mens sou in hierdie geval kon dink aan ’n databasis (of inligtingskiosk, of webwerf, of gids — welke formaat dan ook al) waar inligting oor uitgewerye se aard, teikengroepe, sterk punte, personeel, ens beskikbaar kan wees, soos wat PASA (Publishing Association of South Africa, www.publishsa.co.za) reeds in Suid-Afrika doen. Ook aan meer kritiese funksies, soos byvoorbeeld om namens ’n hele groep skrywers te onderhandel vir die aard en omvang van, asook die vergoeding ter sprake by, sake soos intellektuele-eiendomsreg, die tameletjie wat tans heers rondom vergoeding vir Afrikaanse verhale/teks wat voorgelees word oor die radio, of iets soos omvattende lisensies (“blanket licences”) wat byvoorbeeld jaarliks aan groot instellings soos universiteite verkoop word en waaruit die betrokke skrywers dan vir die gebruik van hul tekste vergoed kan word. Natuurlik is spesialis- of nisverenigings moontlik en selfs noodsaaklik, en kan dit ’n belangrike rol speel. Maar soos oa Wasserman aandui, daar is heelwat faktore, afgesien van samewerking in (1) Afrikaanse (2) fiksieskrywende kringe, om in ag te neem.

So is dit nie asof pogings om skrywersbelange oorkoepelend en verteenwoordigend te bestuur, nie in Suid-Afrika bestaan nie, byvoorbeeld Monica Cromhout se inisiatief, die Academic and Non-Fiction Writers Association (writing@iafrica.com), wat aktief is wat selfpublikasie betref en ook die grondslae gelê het vir ’n generiese niefiksieskrywersvereniging. En dan is daar PASA se databasis wat gratis geraadpleeg kan word en wat uitgebreide gidse van uitgewerye in Suid-Afrika bied, sowel as van mense wat op ’n vryskutbasis werk doen wat noodsaaklik is tydens die publikasieproses (kopieredigeerders, taalversorgers, grafiese ontwerpers, vertalers, ens). Natuurlik is hierdie databasis ook net so volledig as wat die inligting is wat op PASA se versoek verskaf word. Mens frons oor die afwesigheid van ’n eie inskrywing vir Tafelberg, en dat Litera die enigste van die meer onlangse en onafhanklike uitgewerye is wat daarin opgeneem is.

Teen hierdie agtergrond, twee vrae: Is die (bestaande sowel as beoogde) organisasie vir skrywers van Afrikaanse (literêre) tekste bewus van ander skryforganisasies in Suid-Afrika? En hoe bewus is sowel skrywers as die (veral nuwe, onafhanklike) uitgewers van reeds bestaande gidse oor uitgewerye, hul personeel, spesialisterreine, en aantal publikasies per jaar; hoe bewus van die kundigheid van mense werksaam in die uitgewersbedryf wat op vryskutbasis ingekoop kan word?

Die ander saak is die sogenaamde skrywer-uitgewer-debat, en die uitsprake daarin — wat soms opval as hinderlike veralgemenings. Miskien kan mens die debatteerders dit nie kwalik neem dat hulle moontlik na die NB-groep uitgewerye verwys as hulle van “die uitgewer(s)” praat asof dit die enigste uitgewers in Suid-Afrika is nie. Immers het die hele debat ontstaan agv probleme wat skrywers in daardie stal met hul uitgewers had of het.

Dit lyk my egter nou ’n goeie tyd om klaar te kry met hierdie veralgemening. Daar is minstens 129 aktiewe uitgewers in Suid-Afrika (PASA-statistiek). Mens neem aan dat “uitgewers” in hierdie debat dan verwys na uitgewers wat “literêre” tekste (maw alles wat nie onder niefiksieboeke ressorteer nie) uitgee in Afrikaans, en “skrywers” hoofsaaklik na daardie mense wat boeke in literêre genres in Afrikaans produseer. (Want dit is hulle name wat ek sien opduik — en dit ten spyte daarvan dat groepe wat dit op die oomblik het oor ’n skrywersorganisasie vir Afrikaanse skrywers, inklusief wil wees, maw ook niefiksieskrywers wil betrek. Ek is net nie so seker hoe graag skrywers van resepte- of reisboeke ’n leeskultuur sal wil help skep nie?) In ieder geval, op PASA se databasis van Suid-Afrikaanse uitgewers is dit NB en hul drukname Kwela en Human & Rousseau, Lapa, Litera en Snail Press (ten minste dan vir die Afrikaanse gedigte wat in Carapace Poetry Magazine verskyn) wat hulself identifiseer as uitgewers van Afrikaanse letterkunde.

Maar dit is nie die enigste uitgewers wat tans aktief is nie. Dit lyk my dus ook asof dit ’n goeie ding sou wees (veral as jy ’n skrywer is) om te weet wie die rolspelers in die publiseerbedryf is wat Afrikaanse boeke betref, en wat hulle kan bied. Dit behoort tog heel eenvoudig te wees: as ’n uitgewer jou nie goed behandel nie, as die skrywer nie daar tuis voel nie, nie voel dat daar reg aan teks en/of persoon geskied nie, waarom dan nie na ’n ander uitgewer gaan nie?

In ’n sin is dit waarskynlik wat wel op die front van die publikasie van Afrikaanse letterkunde gebeur het. Waarom anders het Ronnie Belcher se Suider Kollege ontstaan? Waar anders het Nicol Stassen se relatief jong uitgewery Protea byvoorbeeld ’n stroom manuskripte vandaan gekry?

Mens sou ook kon vra: As jy nie weet watter uitgewerye bestaan nie, watter waarskynlik geskik sal wees vir die soort teks wat jy wil publiseer en die gehoor wat jy wil bereik nie, wie moet daarvoor verantwoordelik gehou word? Jou uitgewer wat jou nie gesê het nie? Jyself wat nie uitgevind het nie? Jou skywersorganisasie wat jou nie verteenwoordig en ingelig het nie? Of jou uitgewer wat nie die moeite doen om óf te behoort aan bestaande strukture (PASA se databasis, byvoorbeeld) óf die nodige inligting omtrent hulself te verskaf (op PASA se werf, op eie webwerwe, in die geel bladsye, via LitNet, waar ook al) nie?

As ons die kaarte tussen skrywers en/of skrywersorganisasies en uitgewers (in alle vorme) op die tafel wil kry, sal die onafhanklike, en waarskynlik wel “klein” uitgewers wat nou alreeds vir minstens drie jaar lank aktief publiseer, hulself asseblief bekend stel? Of ten minste dan deelneem aan die Boekindaba-ruimte? Dat die verwyte en verwagtinge omlyn kan word, en — veral — dat dit wat bestaan en wat reeds gedoen (kan) word, naam kan kry. Sê wie julle is, en wat julle bied — soos wat Theresa Papenfus in ’n bydrae tot die Boekebelange-forum gedoen het in haar reaksie op Hermes se beoogde inisiatiewe, wat ook Litera reeds bied. Sê wat julle kan doen en watter welslae julle behaal. , sodat die inligting beskikbaar raak. Sodat dit duidelik raak of die verwyte wat tans teen “uitgewers” gemaak word, moontlik waar is van sekere gevalle met sekere uitgewers uit waarskynlik die NB-groep, of dan van spesifieke voorvalle tussen spesifieke skrywers en spesifieke uitgewersredakteurs, maar waarskynlik nie noodwendig van al die ander rolspelers nie.

Sê dat daar minstens die volgende rolspelers tans aktief is in die literêre Afrikaanse uitgewerybedryf (hier mooi alfabeties opgenoem): Bent, Fenomeen, Lapa, Litera, Protea, Suider Kollege, en nou ook Hermes. Sê dit. Sodat skrywers met goeie tekste kan sien: ander opsies is beskikbaar as jy nie van jou uitgewer, sy benadering, ens hou nie. Of as jy agterkom miskien is selfpublikasie toe nie so maklik, so moeitevry, so lekker en so goedkoop as wat jy gedink het nie, of ook nie eintlik presies wat jy wil doen nie (jy wil boeke skryf) — overgesetsynde: as jy begin besef wat die aard en omvang van waardetoevoeging is wat uitgewers tot manuskripte maak voordat dit ’n boek word — ’n boek van die aanvaarbare hoë gehalte wat ons almal graag wil sien.

Maar selfs al sou dit gebeur, al sou die gebrek aan inligting aangespreek word, sou daar nog klippe vir hierdie bos wees. Immers: die “skrywers” wil ’n “organisasie” hê (vir verteenwoordiging en bemagtiging, en waarskynlik selfs diverse vorme van ontwikkeling en voorligting — dis nou so min of meer) en wat hopelik deur uitgewers ondersteun en waarskynlik gefinansier kan word (sien die verskillende uitsprake oor “samewerking” wat “nog altyd” bestaan het tussen uitgewers en skrywersorganisasies); en Hermes wil ’n uitgewery wees vir “skrywers” deur “skrywers” (weliswaar met ondervinding van/in die uitgewerybedryf, ens).

En waarom lyk dit dan skielik so asof die skrywers durend hef in die hand wil hê? En wie moet die gelag hiervoor betaal? En waarom lyk dit asof al die vingers heeltyd na die uitgewers wys? Boonop: Afrikaanse skrywers en Afrikaanse lesers is nie vry te spreke van die stigmatiserende persepsie dat “klein uitgewerye” (let op die byvoeglike naamwoord, die aanhalingstekens) “minder” is nie.

Daar heers onbetwisbaar ’n siening van: as jy goed is, publiseer (sê maar) Tafelberg of Human & Rousseau jou. As jy vroeër by Taurus of Hond uitgegee het (waarna, interessant genoeg, eerder as “alternatief” verwys is as “klein”), oorweeg jy deesdae Kwela. En eers as jou manuskrip daar (dws by al die NB-uitgewerye) die deur gewys word, sal jy na “klein” uitgewerye gaan. ’n Soort laaste, desperate uitweg. En is daar nie iemand wat dit onregverdig vind nie?

Natuurlik is hierdie “kleines” mede-aandadig aan die (aanvanklike?) huiwering om by hulle uit te gee, aan hierdie bevraagtekening, hierdie soort stigmatisering. In ’n resensie is Suider Kollege dit al verwyt dat die goeie sonnette van Ronnie Belcher in Van heidebos en klip somaar op papier met omkrulrande, met weinig tot geen grafiese ontwerp, en met ’n titel in ’n lettertipe wat soos Letraset lyk, uitgegee is. En mens kan sekerlik nog ander soortgelyke voorbeelde ophaal.

Maar dit is ook hierdie uitgewery wat die vorige Afrikaanse wenner van die Ingrid Jonker-prys gepubliseer het. En in elk geval sou daar veel te sê wees vir sommige van die grafiese ontwerp en versorging wat uit NB-uitgewerye gekom het die afgelope ruk. In die bewonderenswaardige boek Met woorde soos met kerse wat Antjie Krog onlangs saamgestel en vertaal het uit die tien ander inheemse tale van Suid-Afrika in Afrikaans in, is minstens ses setfoute — en dit van ’n NB-uitgewery, en dit vir so ’n vonds van ’n boek.

Die punt wat ek hiermee wil maak, is: om jou lyf uitgewer te hou vra verantwoordelikheid. En kundigheid. En tyd. En ’n hele hoop sakevernuf, belegging, en geld. En as die “klein uitgewerye” kan bewys dat hulle publikasies waarde toevoeg tot ’n teks wat selfpublikasie nie kan doen nie, en met versiendheid en waagmoed wat byvoorbeeld die NB-stal se gevestigdes nie kan of wil nie, goed so.

Die uitdaging bly sekerlik om te bewys (en hopelik sonder verlies aan geld of selfrespek en sonder om goeie boeke en goeie skrywers te benadeel) dat hulle kan. Veral aangesien daar reeds minstens drie groepe opsies beskikbaar is vir skrywers: die konglomeraat-uitgewers, die onafhanklike uitgewers, en selfpublikasie (met of sonder die hulp van kundiges wat op ’n vryskutbasis werk, en of hulle nou bereikbaar is via gidse, literêre agentskappe, of persoonlike kennisstrukture of nie). En hier moet mens verwys na die dapperes wat self publiseer, soos Floris A Brown se FAB-publikasies, of Carel van der Merwe se Boplaas, en al die ander outeurs wat sonder ’n uitgewersnaam publiseer. (En dis nog nie eers om al die publikasies te noem wat uit skryfklasse of poësievoorlesings spruit, of die “little magazines” soos byvoorbeeld Driepootpot of Cyber Vaseline, of die webwerwe vir jong skrywers soos Voortrekker Road of Kubergriffel nie.)

Wat skrywers dus tereg van jonger of nuwe uitgewers kan vra, is iets soos: Wat gaan julle anders doen as ander uitgewerye? Wat kan julle bied wat gaan werk, wat my boek mooi gaan laat lyk, perfek gaan laat lees, goed gaan laat verkoop? Afgesien van die belofte van ervare kundiges (wat alle uitgewerye immers aanbied), en afgesien van ’n bemoeienis met en sensitiwiteit vir jong en/of eksperimentele werk (wat reeds sedert 1999 duidelik is uit die publikasies van Fenomeen, en ook sedert 2000 dié van Suider Kollege en Protea, en nou ook deur Hermes onderneem word), en afgesien van spesialisering, soos die toegewyde soort marksensitiwiteit wat Lapa se uitgewer van kinderliteratuur, Miemie du Plessis, aan beide lesers en skrywers bied?

Wat die “kategorisering” van uitgewers tot “groot” en “klein” betref, sou dit waarskynlik meer funksioneel wees om te verwys na konglomeraat-uitgewerye, maw (media-) maatskappye wat op die beurs genoteer is, wat dus verantwoording moet doen aan aandeelhouers en dikwels boeke publiseer onder meer as een druknaam (“imprint”); en dan die sogenaamd onafhanklike uitgewerye.

Dit lyk my een van die stekels in die boekbedryfdebat te wees: dat daar ’n behoefte aan inligting is. En miskien is dit iets wat dan wel voor die uitgewers se deur gelê kan word: hoeveel moeite, sou mens kon vra, doen hulle om “hulle” skrywers op die hoogte te hou van faktore wat die verskillende aspekte van die immer likiede publikasieproses beïnvloed? Eweneens: wat doen hulle om die veld waar hulle manuskripte wil wen, te verken? Is die ore op die grond, of is die behoefte om hul tekste te publiseer by Afrikaanse skrywers wat nie deel is van die nonfiksiemark nie, so groot dat uitgewers gewoon kan bly sit en wag om oorval te word deur manuskripte? Dat nog en nog uitgewers kan ontstaan. Met nog en nog keurpanele en skryfskole en so.

Daar is beweging in die Afrikaanse letterkunde. En baie. (Later hieroor meer.) Die vraag is miskien gewoon: Wat doen ons met hierdie aktiwiteit? En neem almal wat so graag en so goed en so mooi en so eksperimenteel wil skryf en wil uitgee, in ag dat daar mense moet wees wat hulle wil lees? So goed so, as ’n skrywersvereniging hierdie soort vrae wil laat vra, dalk aktiwiteite daar rondom kan inisieer en koördineer.

In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt sê Corina van der Spoel van die Boekehuis:

Daar is ’n wanindruk dat uitgewers keiharde en arbitrêre besluite neem oor manuskripte en die publikasiemeriete daarvan. Maar die redakteurs en uitgewers wat ek ken, is hartstogtelik lief vir boeke en gee ’n groot deel van hul private lewe op om met deernis en fyn oorleg aan manuskripte te werk. As dié debat tot meer uitgewerye lei, sê ek hoera. Ons het ’n paar waaghalse nodig om die bedryf meer lewe te gee. Naweek-Beeld, 1 Junie, p 13.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.