Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.


Lees ook:
Nobel e-museum se tuisblad
Amptelike persverklaring
Lys van vorige wenners
JM Coetzee se volledige bibliografie

Kenners dit eens dat JM Coetzee Nobelprys verdien

Erns Grundling

“Dit bewys opnuut dat daar iets in hierdie land is wat kreatiwiteit prikkel ...”

So beskryf prof Ampie Coetzee van die Universiteit van Wes-Kaapland die opwinding wat heers in plaaslike literêre kringe nadat dit vroeër vandag bekend gemaak is dat JM Coetzee bekroon is met die Nobelprys vir Letterkunde.

JM Coetzee is nou, benewens Nadine Gordimer (1991), die enigste ander Suid-Afrikaanse skrywer wat hierdie gesogte prys gewen het. Die beoordelaars het hom in ’n persverklaring geprys vir die “menigte gedaantes waarmee hy die buitestaander (outsider) se betrokkenheid uitbeeld”. Coetzee ontvang $1,3 miljoen as prysgeld. Sy mees onlangse boek is Elizabeth Costello: Eight Lessons, wat vroeër vanjaar verskyn het.

Volgens Ampie Coetzee is dit fenomenaal dat twee Suid-Afrikaners in so ’n relatief kort tydperk die Nobelprys ontvang.

“Mens moet ook onthou dat daar met die verskyning van Disgrace baie kritiek uitgespreek is teen Coetzee, veral deur diegene wat polities-korrek is. Nou moet hulle maar die Nobel-komitee gaan kritiseer. Coetzee is ’n briljante skrywer en niemand kan sê dat hy nie die prys verdien het nie.”

Volgens dr Abner Nyamende van die Universiteit van Kaapstad word Coetzee nou volwaardig beloon vir sy diepsinnige bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde.

“Ek is baie bly vir hom. Hy skryf oor hedendaagse kwessies en takel komplekse probleme rondom geweld en misdaad met intensiteit en begrip.”

Elmari Rautenbach, redakteur van die tydskrif Insig, was baie opgewonde oor die goeie nuus.

“Met die toekenning van sy Booker-prys het JM Coetzee gesê Suid-Afrikaners maak net ’n ophef van ’n skrywer as hy ’n prys wen. Miskien is dit waar. Miskien nie. Al wat ek weet, is dat die gevoel van onverdunde vreugde by die aanhoor van die naam van die Booker-wenner destyds en Nobelpryswenner nou, niks te doene het met ophef al dan nie. Dit is plein trots, dat ’n Suid-Afrikaner deur fiksie ons waarheid só kan verwoord dat hy op ’n wêreldverhoog die hoogste erkenning kry, en ook dat dit ’n skrywer is wat só ’n eer te beurt val.”

Die literêre agent Isobel Dixon het uit Londen laat weet dat sy baie in haar skik is met Coetzee se prys.

“Daar was die laaste paar jaar gereeld gerugte in die wandelgange van die Frankfurt Boekeskou (waartydens die wenner normaalweg aangekondig word) dat Coetzee op die beoordelaars se lys is. Sy toekenning is welverdiend en beslis op die regte tyd. Met Damon Galgut op die kortlys vir die Booker-prys, is dit beslis ’n bloeitydperk vir Suid-Afrikaanse fiksie.”

Volgens Dan Roodt van PRAAG is Coetzee uniek onder Engelssprekende skrywers in Suid-Afrika, omdat hy “’n inheemse gevoel soortgelyk aan Afrikaanse romans” in sy werk na vore bring. Hy skryf met ’n verborgenheid oor ons landskap en die situasie hier. Sy meer onlangse boeke het natuurlik ’n toenemende pessimisme, waarvoor mens hom nie kan kwalik neem nie.”

Roodt beskou Coetzee as ’n Afrikaner. “Heelwat buitelandse koerante en publikasies het al na Coetzee as ’n Afrikaner verwys, en gegewe die feit dat hy deels in Afrikaans grootgeword het, Afrikaans praat en die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde goed ken, moet mens saamstem.”

Hoewel Roodt oortuig is dat Coetzee die prys beslis verdien, is dit vir hom jammer dat die prys nog nie tot dusver aan ’n Afrikaanse skrywer toegeken is nie.

“Gegewe ons uitmuntende skrywers in Afrikaans - veral wat poësie betref - is dit regtig jammer, amper ’n aanklag teen die Nobel-komitee.”

Roodt sal graag wil sien dat ’n roman soos Disgrace in Afrikaans vertaal word.

“Die boek kan Skande genoem word, en behoort baie goed te vaar. Dit sal ’n meer onmiddellike effek op die huidige situasie in Suid-Afrika hê, veral onder Afrikaners. Ek dink daar is baie Afrikaanssprekendes wat nog nie Coetzee se werk gelees het nie.”

Elizabeth Anderson van die Sentrum vir die Boek in Kaapstad is baie spyt dat Coetzee nie hier in Suid-Afrika is om sy prys te vier nie.

“Dis jammer dat ons hom aan Australië moes afstaan; ek is seker hy word baie gemis by die Universiteit van Kaapstad. Ek het baie respek vir die inwaartse blik van sy romans, en beskou Foe as een van sy mees onderskatte werke.”

Volgens prof Helize van Vuuren van die Universiteit van Port Elizabeth is die Nobelprys gepaste erkenning van Coetzee as ’n internasionale skrywer van die beste statuur.

“Hy is nie slegs ’n briljante romanskrywer nie, maar ook een van die beste literatuurkritici. ’n Meer teoretiese werk soos White Writing was destyds rigtinggewend vir die studie van letterkunde in Suid-Afrika. ’n Kollega, prof Michael Chapman van die Universiteit van Natal, sê altyd Coetzee is ‘eintlik ’n Afrikaanse skrywer wat in Engels skryf’. Sy intieme kennis van die Suid-Afrikaanse landskap sowel as die donker aspekte en die verband tussen geskiedenis en letterkunde herinner mens aan ’n Afrikaanse skrywer soos Karel Schoeman. Coetzee skryf min in vergelyking met ander skrywers, maar sy werk is beslis van die hoogste kwaliteit.”

Van Vuuren het ook verwys na ’n voorval na die verskyning van Disgrace, waar die ANC heftig gereageer het op ’n uittreksel waar ’n gang rape uitgebeeld is en dit as rassisties beskou het.

“Die voorval het die regering beslis verneder. Coetzee is kort na die verskyning van Disgrace na Australië. Die boek was minder verhuld as sy ander werk, meer eksplisiet en polities betrokke ... die hond moes doodgemaak word. Mens kan nou die vraag vra: Wie is die hond, en wie slaan die blikkitaar? Die kitaar word nou verder gespeel in Australië ...”

Volgens dr Philip John, ook van die Universiteit van Port Elizabeth, word Coetzee dikwels misken deur die politieke establishment.

“Ek het onlangs ’n artikel deur RW Johnson in die Prospect van Junie (www.prospect-magazine.co.uk) daaroor gelees. Dit is nou interessant dat hy die prys kry en dikwels nie deur sy eie mense waardeer word nie. Dan kan mens ook vra: Is Coetzee ’n Suid-Afrikaanse skrywer of ’n Australiese skrywer? Sy vorige werk maak hom beslis Suid-Afrikaans, maar sy onlangse boek se inkleding is beslis meer Australies en kosmopolities.”

Volgens Eugene Ashton van die uitgewershuis Jonathan Ball maak dit nie saak dat Coetzee nou in Australië sit nie. “Dit maak glad nie ’n verskil nie en verander nie sy oorsprong nie. Ons moet almal trots wees op hom, hy is een van die mees intelligente skrywers en moes eintlik al lankal die Nobelprys gewen het. Coetzee het onlangs heelwat onnodige kritiek in die media ontvang, maar hy het vir ons aanhou wys dat skryfwerk nie net altyd ‘mooi’ hoef te wees nie ... he stuck to his guns ...”

Die Nobelprys sal op 10 Desember 2003 tydens ’n formele seremonie in Stockholm deur Swede se koning Carl XVI Gustaf aan Coetzee oorhandig word.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.