Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uittreksel: Klippe en maaiers

Jeanne Goosen

is tans besig met die afronding van 'n nuwe roman, Klippe en maaiers. Sy het die onderstaande uittreksel as lusmaker vir lesers aan LitNet gestuur.

‘n Uitgedorde ou vrou in ‘n rusoord. Slof, slof kom sy deur die gange, af met die trappe, af. Sy hou aan die reling vas. As sy onder kom, huil sy: Help my, ek val! As niemand hulle aan haar steur nie, vra sy: Hoe laat is dit nou?

*

My ma kon mooi sing. Sy het al ‘n duet saam met Cecilia Wessels gesing.

My pa was een van die eerstes hier wat die kombinasie van klip, glas en hout in die boukuns aangemoedig het. Hy het ‘n gasdood gesterf, R600 in sy spaarrekening nagelaat en ‘n geroeste kar.

Duisende is in my musiekopleiding belê. Tot op datum het ek R300 aan kontant geïn, koek en tee en af en toe ‘n drienk – nou die dag ook ‘n pak hondebiscuits.

Miskien is ons losers. Sover ek weet was ons die enigste redelik intelligente mense wat nie ryk geword het nie.

My broer is in ‘n duiwehok dood met sy oë oop. Hy sluimer in ‘n albasterfles in Stikland. Deur die jare het ek sy klinkerlose preweltaal leer ontsyfer:

K s bstl lln.

Alles wat ‘n mens skryf, is ‘n stukkie afskeid van jouself. Dis beter om dit op te gee vir ‘n bad job.

Ek het ‘n suster ook. Wanneer sy alleen is, huil sy haar hare nat wat oor haar gesig hang. My ma het ook dikwels gehuil. Sy het in die kombuis tussen die panne, die potte, die broodbaksels en die lemoene gestaan en uitgeroep: God, kom uit daardie solder uit. Kom staan hier voor my en sê vir my: Wat ry my kinders!

*

Die leë ure rek uit in die vertrek. Buite is die lug leiklip. Die meeue krys. ‘n Trok sleep teen ‘n helling uit. My pa sit sy breiwerk neer en reik na sy asmapomp. Geleidelik verlaat die lughonger hom. Buite swiep sy angeliere in die wind: Essington Pink, Mrs Mc Phearson, Red King, Golden Glow … My pa begin The Song of Songs met sy sopraanstem sing. My ma gooi pannekoeke in die lug in op, sy vang hulle mis. Die honde hardloop jubelend met die stukke halfgaar deeg by die agterdeur uit. Ek sal dit óók opgee, sê my ma.

Eendag sal jy oorwin, sê my pa en hervat sy lied. Die arpeggio’s gly teen die plafon uit.

Ons sit ineengedoke by die kombuistafel. My broer speel met ‘n lepel. My suster, wat op die vloer lê, wriemel teen my pa se bene op. Hy help haar op sy regtervoet: Horsy, horsy, horsy, ry hy haar hemelhoog. Hy skiet haar so hoog in die lug in op dat ons bang word.

Die olie in die pan brand. Ons hoes, eien mekaar vaagweg in die rookdampe. Ek is ‘n boom, sê ek. ‘n Krismisboom. My broer lê op sy arms. Ek is honger, kerm hy. My ma sit haar arms om hom. Jy is my liefste, liefsteling, sê sy en dwing sy wang teen hare.

Ons kan nie so aangaan nie, sê my pa. Hy staan op en stap tuin toe. Hy draai die tuinslang oop en spuit sy angeliere nat. Vanjaar is al die pryse myne! skree hy in die wind.

Ek gaan staan by hom. Hy haal ‘n muntstuk uit sy broeksak en gee dit vir my. Gaan koop vir jou iets. Enigiets, net nie bubblegum nie. Asseblief Aaptrieks, net nie bubblegum nie. Belowe jy?

Ek knik. Pa, sê ek, ek wil so graag ‘n skilpad hê. ‘n Skilpad hê? swiemel hy. Jy ís dan ‘n skilpadjie. Wat moet ons met nog enetjie maak?

Hoekom is ons so otherwise, Pa? vra ek. Anders as ander mense.

My pa draai die kraan toe. Ek weet nie, sê hy. Dis seker maar omdat ons skilpaaie is. My pa vroetel met my hare. Skilpaaie kan lag ook, sê hy. As jy ‘n skilpad se dop kielie, gaan sy bek oop en begin hy lag. Sy pootjies kom uit en dan hol hy sommer die wye wêreld in.

Ek word bly en begin dans in die tuinpaadjie. Ek spring oor die tuinhek en hardloop by die agterste hek uit die straat in. Ek is ‘n skilpad, ‘n skilpad, ‘n skilpad, sing ek.

Mal meid! skree iemand.

Op die hoek van Watering- en Alexandrastrate begin ek dans: as jy kan jol soos ek kan jol dan jol ons in die city hall. Ek skud my boude. Ek hardloop tot by Kaatjie-op-die-hoek se huis agter sy kafee se deur in. Hy en sy kinders eet samoesas. Hulle praat ‘n mompeltaal. Pandelie? vra Kaatjie en gee vir my ook ‘n samoesa.

Amiena, wat my maat is, draai na my. Ons het dieselfde kleur bloed in ons are, al is jy wit en ek is Slams, sê sy ongelukkig. Ek volg Amiena deur die donker kafee by die deur uit tot voor in Voortrekkerweg. Kom ons speel hopscotch, sê Amiena en begin soek na ‘n plat klippie.

Ons speel en sê rympies op.

Dit word skemer. Die Roomse kerk se klokke begin lui.

Ek stap huis toe. My ma sing Sehnsacht. Sy begelei haarself op die klavier. My pa beduie sjuut met sy vinger voor sy mond as ek binnekom. My suster slaap op ‘n kombers op die vloer. Die twee pekinese lê op ‘n Chesterfieldstoel, hulle snoete op hulle heupe. My broer kniel met sy gesig tussen sy hande.

Ek kyk op. My pa kyk met soveel liefde na my dat ek angstig word. My ma sing met haar oë toe. Wanneer sy sing, verlaat sy ons.

Verlossing sal kom, sê my pa. O ja, dit sal kom. Dan sing hy saam met my ma: Kom dood, kom gou. Kom dood kom met jou soet lispeling.

Hulle stemme raak aan mekaar, ontwyk mekaar, troos mekaar, smelt ineen en ‘n oneindige droefheid sak neer op ons huis in Alexandrastraat.



LitNet: 23 Augustus 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.