Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Onenigheid in die Afrikaanse letterkunde

Jason Lloyd

Die voorstel van die letterkundige en skrywer Charles Malan, dat skrywerstemme en -belange verenig moet word deur ’n nuwe skrywersvereniging te stig, het die sweer van onenigheid in die Afrikaanse letterkunde laat oopbars. Dit lê ongetwyfeld ook die verdelingslyne tussen wit en bruin skrywers bloot.

Malan se voorstel laat die vraag ontstaan hoekom daar nou ’n skrywersvereniging gestig moet word, terwyl die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) nog bestaan. Dit was dan reeds Malan, as destydse laaste voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, wat aangekondig het dat die Gilde sal moet ontbind om plek te maak vir die ASV. “Dit wil voorkom asof die nuwe, meer verteenwoordigende Afrikaanse Skrywersorganisasie vir die meeste Gilde-lede aanvaarbaar sal wees,” het Malan destyds gesê.

Maar nee, nou sing hy kwansuis ’n ander lied.

Dit wil voorkom asof Heindrich Wyngaard, voormalige politieke nuusredakteur van Die Burger en ’n prominente ASV-lid, destyds reg was toe hy gesê het “die Gilde se naam laat ’n mens nou onwillekeurig wonder of dit ooit heeltemal ontbind is — en of dit nie dalk in ’n soort Broederbondige vorm bly voortbestaan nie.”

Inderdaad, Malan se voorstelle is ’n duidelike bewys dat hy nooit getroud was met die idee van ’n verteenwoordigende skrywersvereniging nie. Wat ’n mens nog meer agterdogtig maak, is dat Malan nie, soos ’n Antjie Krog of ’n Elsa Joubert, betrokke geraak het by die ASV nie.

Maar nou is hy die een wat praat van ’n behoefte aan ’n ander skrywersorganisasie.

In ’n poging om die stigting van ’n nuwe skrywersvereniging te regverdig, ploeter Malan voort deur dinge te sê wat nie strook met die waarheid nie.

Volgens Malan was daar ’n algemene verwagting dat die ASV die rol van die Gilde sou oorneem. “Dit was egter gou duidelik dat die ASV hom nie as ’n nasionale liggaam sien nie,” het Malan aan die Die Burger (5 Junie 2002) gesê.

En uit die Kaap laat weet Wyngaard: “Dit is doodeenvoudig nie waar nie.”

Hy verduidelik verder: “Die gedagte was nooit-ooit dat die ASV die Gilde se rol moes oorneem nie. (Die Gilde was daar vir ’n groep wit skrywers met een of twee bruines by om geloofwaardigheid aan die organisasie te gee).”

Wat wel waar is, is dat die ASV ’n uitvloeisel is van die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium (September 1995) op Paternoster, waar die behoefte uitgespel is vir ’n organisasie wat ’n tuiste vir alle Afrikaanse skrywers moet wees en om die gemarginaliseerde beginnerskrywers te bemagtig en nie om afskeiding af te dwing nie.

Net na die stigting van die ASV het baie wit skrywers, Malan ingesluit, egter weggehardloop en sodoende moes voorheen benadeelde skrywers op hul eie voortgaan. Dit is dan gedeeltelik ’n rede hoekom die ASV nie daarin kon slaag om ’n nasionale organisasie te word nie.

Die algemene opvatting dat die ASV ’n “Kaapse” organisasie is, hou ook nie steek nie. Omdat die inisiatief egter uit die Kaap gekom het, was die gevaar van die begin daar dat die vereniging in ’n Kaapse organisasie kon ontaard. “Dit is egter die plig van skrywers uit ander dele van die land, as dit hul erns was om deel te wees, om te sorg dat dit nie gebeur nie. Nooit was daar ’n doelbewuste poging om die organisasie te verKaaps nie,” sê Wyngaard.

Ons moet eerlik wees en erken dat die ASV hoofsaaklik ’n bruin ledetal het — gedeeltelik ook as gevolg van die gevestigde wit skrywers se apatie om betrokke te raak by dié organisasie.

Nog ’n faktor wat aangevoer word as ’n rede vir die afwesigheid van wit skrywers, is dat die ASV Allan Boesak verlede jaar as spreker genooi het na hul jaarvergadering om te praat oor die rol van die Afrikaanse skrywer in postapartheid-Suid-Afrika. Dit het ook bygedra tot die onmin tussen wit en bruin Afrikaanse skrywers.

Wit skrywers was van mening dat Boesak nie ’n skrywer van formaat is nie en daarom ongekwalifiseerd is. Die kwessie dat hy geld gesteel het en nog nie sorry gesê het nie, het ook kamtig die wit skrywers omgekrap.

Maar om jou niebetrokkenheid by die ASV net oor ’n Boesak-toespraak te regverdig, klink kinderagtig. Dit is egter duidelik dat politiek en agterdog wat saamhang met die apartheidsverlede, ’n groot rol speel.

Die baas-klaas-houding is definitief hier te vinde. Volgens my beskeie mening sien sommige wit skrywers nie kans om by ’n oorwegend bruin organisasie soos die ASV aan te sluit nie. Vandaar dan die behoefte na ’n nuwe skrywersvereniging.

In so ’n nuwe organisasie sal wit mense dan weer, soos in die Gilde, die leiding neem. Hoekom? Omdat geld en kamtige ervaring dan weer die deurslaggewende rol sal speel as daar leiers vir so ’n nuwe organisasie gekies sou word. Wat dan sal gebeur, indien bruin skrywers besluit om by so ’n organisasie aan te sluit, is dat hul weer soos in die verlede aan die agterspeen gaan suig. Dit sal dan ’n tydperk inlui waar die apartheidsgeskiedenis hom weer sal herhaal, toe wit mense die Afrikaanse letterkundige toneel as gevolg van politieke bevoorregting alleen oorheers het.

Nog ’n faktor wat daartoe sal bydra dat bogenoemde hom weer sal afspeel, is die ideologiese tekens van Afrikaner-nasionalisme wat waarneembaar is in die pogings van sommige Afrikaner-letterkundiges om Afrikaans en die ontstaansgeskiedenis van dié taal blank te hou.

Dit, en ander kwessies, dra dan grootliks by tot die onmin tussen wit en bruin Afrikaanse skrywers. Dit verpolariseer die Afrikaanse letterkundetoneel. En die ergste: dit benadeel die saak van Afrikaans.

Die reaksie van Elias P Nel, ASV-voorsitter, dat hy teen die idee van ’n nuwe skrywersvereniging is, suggereer dat ’n botsing tussen wit en bruin skrywers onafwendbaar is.

Indien dialoog (tussen wit en bruin) nie gou gaan begin om verskille uit die weg te ruim nie, gaan die Afrikaanse letterkundetoneel ongetwyfeld in twee rasgebaseerde pole versplinter.

Jason Lloyd is ’n vryskutjoernalis en studeer joernalistiek aan die Port Elizabethse Technikon. Hy is ook gasredakteur van die elfde uitgawe van die Internetjoernaal Onse Angeltjie, wat spesiaal aan Saartjie Baartman opgedra gaan word. Sy e-adres is Jason@petech.ac.za /toeka22@yahoo.com.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.