Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

By die dood van ’n taal: beelde, metafore en metamorfoses teen die niet

Franci Phillips

“’n Mens kan nooit jou eie verhaal vertel nie,” sê die Portugees-Mosambiekse skrywer Mia Couto, “omdat ’n mens nooit ophou om gebore te word nie. Niemand lei een enkele lewe nie, ons almal word gedurig vermenigvuldig in verskillende, ewig-veranderende identiteite. Nou, terwyl ek my geheime ontrafel, is ek besig om my verskillende tale te leer, maar selfs daarin kan ek myself nie ken nie. Want soos wat ek myself ontdek, is dit asof my eie donkerte oor my toesak, asof daar dinge is wat net die blindes ten volle kan sien.”

En ook:

“My geheim is dat ek gesterf het, maar dis nie wat my die meeste pla nie. Wat my die meeste smart besorg, is dat niemand my glo behalwe die dooies nie.”

Onderliggend aan die poësie is daar die beeld, en onderliggend aan die beeld is daar die metafoor, wat op ’n argaïese vlak terugverwys na die metamorfose. Onderliggend aan die metamorfose is daar die dood van een identiteit om plek te maak vir ’n volgende. En onderliggend aan die dood van identiteit is daar die niet.

In ’n land waar daar soveel dooies begrawe lê dat die wat meer onlangs doodgegaan het, gedwing word om aan te hou lewe omdat daar nie plek is om hulle te begrawe nie, besorg dit die skrywer smart dat sy dood ontken moet word. Dat hy in ’n land waar oorlog en hongerte en armoede en natuurrampe niemand ’n lewe gegun het nie, ook nou nie sy eie dood gegun word nie.

In ’n ander van Couto se verhale, “Die openbaring van oom Gegue”, verander ’n weeskind se droom van sy ma uiteindelik in sy liefde vir ’n jong meisie, op die rand tussen fantasie en werklikheid, gebore uit die drome van sy eie nietigheid.

Ek is uit niemand gebore nie,

sê die weeskind,

dit was ek wat geboorte gegee het aan myself. My ouers het my die nalatenskap van hulle lewens ontsê. Hulle het my voordat die bloed van my afgewas was, verlaat. Die enigste mens wat ek gehad het, was my oom Gegue. Dit was hy wat my sien grootword het: so maer dat selfs my hoes ondervoed was. Hy was die enigste oppasser van die bodemlose put waarin ek in die stof die gebroke stukke van my kinderjare gesoek het. Nie dat hy my baie gegee het nie, en sy woorde was ook maar min: reën wat nie die grond kon natmaak nie, water wat jammer was dit het geval. Hy het maar op drome staatgemaak: “Môre, more …” Hoop in ’n tyd toe die paaie van die lewe reeds moeg was.

In sy hongerte en gebrek aan bestaan en sy ervaring van eie nietigheid, moet die weeskind homself ook op drome voed, en dis hierdie drome wat die metamorfose moontlik maak:

Eendag het oom Gegue vir my ’n weermagskoen gebring. Vir ’n ruk lank het ek na die eensame ou skoen gestaan en staar: met voete wat tussen die linker- en regtervoete huiwer. Pas ’n skoen sonder maat aan enige voet?

“Hou jy nie daarvan nie?” het hy gevra.

“Ja …”

“So? …”

“Die veter is weg,” het ek gelieg.

Gegue het sy humeur verloor: sy geduld was maar broos. Hy het my begin vloek: ek het geen respek nie, geen lojaliteit aan my vaderland nie. Ek is bestem om vir ewig te tjank: verneder en onderworpe. Of wag ek vir die paaie om sag te word, sodat ek sonder moeite kan loop?

Hy het die stewel opgetel en dit ver gegooi. Toe het daar ’n vreemde ding gebeur: terwyl dit deur die lug vlieg, was dit asof die stewel vlerke kry: dit het in vinnig opeenvolgende omwentelings deur die lug begin te vlieg.

En later in dieselfde verhaal is daar die beeld van die weeskind se ma wat uit die niet aan hom verskyn om uiteindelik, met die tweede verskyning, in ’n onbekende geliefde te verander.

Sy het haar gesig gedraai. Haar wange het vol in die lig verskyn. Toe sien ek dat sy nie ’n moeder is nie, net ’n meisie so oud soos ekself.

In “Rosa Karamella” word daar ’n parallel getrek tussen die verlies aan identiteit wat die poëtiese metamorfoses in Couto se werk onderlê, en die verlies aan nasionale identiteit, waar verskillende volke om verskillende redes, en op verskillende tye in die geskiedenis, bymekaar kom en deur ’n smeltkroes moet gaan om uiteindelik een te word.

Min, indien enige iets, het hulle van haar geweet,

sê hy van die boggelrug-baster.

Van kleins af het hulle haar as die kreupel boggelrug geken. Sy was een van die mense wat ’n ander naam gegee is. Die een wat sy gehad het, haar oorspronklike naam, het haar nie gepas nie. Herdoop was dit asof sy beter in die wêreld pas. En sy was nie bereid om enige ander name te aanvaar nie. Sy was Rosa. Subtitel: Karamella.

Die boggelrug was ’n mengsel van verskillende rasse, haar liggaam was uit baie kontinente saamgestel.

Ook in die liefde, soos in die poësie, die metamorfose, geweld en die dood, is daar ’n verlies aan identiteit. ’n Swart slaaf sê in die verhaal “Die Russiese Prinses” van die sterwende prinses:

Ek het gevoel of sy nie langer haar eie liggaam het nie: of sy myne gebruik. Sy het ’n wit vel gehad wat myne was, haar mond het aan my behoort, albei haar blou oë was myne. Dit was asof haar siel verdeel was tussen teenoorgestelde liggame: die een wit, die ander swart, die een man, die ander vrou. Betwyfel jy dit? As jy dit nie kan glo nie, kyk so daarna: Is ys en vuur nie die naaste aan mekaar nie? Hulle albei brand, en albei kan slegs deur iemand wat reeds dood is, gepenetreer word.

Die duidelike voorlopigheid en sterflikheid van een identiteit om geboorte te gee aan ’n ander, die voortdurende bewussyn van die niet, die vermoë om op die onbestaan te teer, is nie ’n eienskap wat ons uitsluitlik of by uitstek by Mia Couto aantref nie: net soos die beeld en die metafoor, onderlê dit alle poësie.

Nader aan ons, en in Afrikaans, is daar Breyten se voortdurende omgang met die metafoor wat huiwer op die rand van metamorfose:

Ek is ’n nagvoël op reis na jou
ek kom oor gisters en baie lande
gedra in die driftige draf van die honger roofdier
in die waaierende vlug van skugtere duiwe
as hulle wegskram voor die son
gesink in die blou kraainesoë van matrose
verweef in die skemer trein se bitter lyf
as die nag deur bene fluit
so kom ek na jou toe.

Die metamorfose is nie spesifiek ’n moderne of postmoderne verskynsel nie, en het nie veel te doen met invloede van óf die surrealisme óf die Boeddhisme óf die magiese realisme nie. Dit onderlê die logika van kunsskepping deur alle eeue en die oerverhale waaruit alle literêre werke uiteindelik gebore is. Deur die geskiedenis is kuns geskep uit ’n vloeibaarheid en onderlinge beïnvloeding tussen verskillende identiteite en nasionaliteite.

In ’n artikel “The Dome of Heaven” soek die kunshistorikus Karl Lehman die oorsprong van die vier gevleuelde Evangeliste wat die Christus-figuur omring in ’n dakskildery in die St Marcus-katedraal in Venesië. Die oorsprong van ’n tradisie van figure in dieselfde posisie as die van die vier Evangeliste, en spesifiek by uitbeeldings van die hemelgewelf, vind hy in ’n werk 1 700 jaar ouer as die in die St Marcus-katedraal, in ongeveer 600 vC in ’n Etruskiese grafkelder in die vorm van vier Sirenes wat die sentrale motief ondersteun. Hy wys hier op die betekenis van die Sirenes as wesens wat die siel verteenwoordig, en wys daarop dat die Sirenes na hierdie tyd dikwels in dieselfde posisie gebruik is in dakskilderye wat die hemelgewelf uitbeeld.

Hy verwys verder terug na ’n vroeëre uitbeelding van Sirenes waar ’n astrologiese uitbeelding van hemelliggame deur gevleuelde manlike demone van Mesopotamiese oorsprong ondersteun word, en wys daarop dat die Sirenes in Argaïese Etrurië bekend was as astrologiese hemelse demone. Hy wys verder op ’n uitbeelding in ’n tempel in Palmyra aan die begin van die tydperk net na Christus, dus tussen die begin van die vroeg-Christelike kuns en die uitbeelding in die Etruskiese grafkelder, waarin uitbeeldings van die hemelfigure ondersteun word deur Sirenes, en verwys in dié verband na ’n stelling van Plato oor die musiek van die hemele wat die Sirenes maak. Hy verwys ook na ’n werk wat in ongeveer 200 nC gedoen is en as direkte voorganger kan dien van die werk in Venesië, waarin groteske mitologiese monsters en onder andere uitbeeldings van Pan en ook uitbeeldings van agt dansende maagde, vermoedelik Horae, afgewissel deur uitbeeldings van die gode, oa Venus, Jupiter, Mars en Leda-Luna, die vier planete wat tyd en noodlot beheer, wat deur uitbeeldings van vier Sirenes ondersteun word.

Die vergelykings tussen werke uit monumente in kulture so ver verwyder as die Etruskiese en die van Mesopotamië, en in tyd die Vroeg-Imperiale, Laat Imperiale en Bisantynse tydperke, is volgens Lehman nodig om die heidense agtergrond en invloede op die uitbeeldings van die hemelgewelf in die kuns van die Middeleeue en ook die Renaissance te illustreer. Hy wys verder op die metamorfoses wat nie net die Sirenes nie, maar ook die Griekse oorwinningsgodinne, in vorm sowel as betekenis moes ondergaan om uiteindelik gebruik te word as voorgangers en modelle vir die Renaissance-uitbeeldings van engele, wat inderdaad baie meer ooreenkomste met Griekse voorgangers as met Bybelse beskrywings toon.

Die bloei van die Renaissance self, veral in die beeldende kuns, is paradoksaal afhanklik van haar eie onbestaan: Nadat die vrees dat Christus aan die einde van die tiende eeu terug aarde toe gaan kom, geleidelik begin afneem het, het daar ’n hernude belangstelling in uitbeeldings uit antieke Griekeland posgevat. Uiteindelik is die Renaissance-kuns ’n vermenging van alles wat dit voorafgaan: die antieke Griekse kuns sowel as dit wat die klassieke tye in Griekeland voorafgaan, vermeng met die Christelike kuns van die Middeleeue wat in sigself vermeng was met heidense Europese invloede sowel as invloede uit Bisantium en die Ooste. As voorbeeld kan hier genoem word die mistieke Oosterse formules wat gedurende die Bisantynse tydperk gebruik is om die verskillende dele van die menslike liggaam uit te beeld, veral in werke wat gedoen is in opdrag van die Kerk.

Die Renaissance is dus ’n verwysing na dinge buite sigself, dit is alles behalwe sigself, en bloei uit ’n gebrek aan eie identiteit. Net soos taal, verwys die Renaissance nie na sigself nie: want vir taal om taal te kan wees moet dit in sigself identiteitsloos en leeg wees, moet dit na iets buite sigself verwys: vasgevang in ’n eie identiteit, of in enige identiteit hoegenaamd, verloor die taal sy betekenis en die spesifieke aard of gebrek daaraan wat daarvan ’n taal maak, en hou dit op om ’n taal te wees.

Ons buurland Mosambiek, waar die poësie tussen die spoke in die strate loop, is ironies genoeg ’n land waar die taal uit Europa, die taal van die onderdrukker, Portugees, bly voortleef het. Dit leef op die lippe van koffiekleurige kinders met Klassieke gelaatstrekke, wat van vis uit die stil see en vrot mango’s onder die bome leef, en in treurige liedere wat in straatkafees en in die wind hang, en in verhale van basterkinders wat gesien het hoe hulle Portugese pa’s tydens die revolusie selfmoord moes pleeg om hulle gesinne te beskerm.

Dit sal my verbaas as die land van soveel armoede, waar soveel verminktes loop, waar die wit onderdrukker uit Europa tot so ’n mate sy identiteit verloor het, deur my mede-Afrikaners as rolmodel aanvaar sou word, te meer omdat dit uit die voorbeeld dalk mag blyk dat die oorlewing van ’n taal helaas nie noodwendig gekoppel kan word aan die politiese of ekonomiese oorlewing van die groep wat die taal praat of oorspronklik gepraat het nie. Dat ’n bemoeienis met die oorlewing van die taal helaas nie gebruik kan word as ’n rede vir die bemoeienis met die oorlewing van die identiteit van die groep wat die taal sou praat nie. Dat die beskerming van eie identiteit inderdaad eerder sou kon neerkom op ’n ontkenning van die metamorfose wat die metafoor en die poësie onderlê wat die mees onvertaalbare en dus die mees outentieke deel vorm van enige taal.

Tydens ’n onderhoud met Mia Couto gedurende ’n vakansie in 1996, het hy die mening uitgespreek dat die oorlewing van Portugees in Mosambiek waarskynlik saamhang met die manier waarop die Portugese nasie, wat Katoliek is, se ingesteldheid op rituele en beelde en die magiese belewenis van die werklikheid, ’n nuwe soort poësie vorm in kombinasie met die van die inheemse Mosambiekers, wat ’n sekere vernuwing bring in die taal. Hy vertel as voorbeeld van die gebrek aan identiteit van die Mosambiekse nasie, ’n verhaal van ’n man wat gesterf het wie se vader ’n Moslem was, en sy moeder ’n inboorling. Volgens die Moslem-geloof moes die man begrawe word dat hy na Mekka kyk, maar volgens die inboorling-geloof moes hy begrawe word in die rigting van die berg, wat die teenoorgestelde van Mekka is. Om die probleem op te los is hy uiteindelik in ’n sittende posisie begrawe in die rigting van die berg, maar sy nek is omgedraai om sy gesig na Mekka te laat kyk. Terwyl baie Mosambiekers die gebrek aan identiteit as ’n probleem ervaar, beskou die digter dit as ’n voorwaarde vir kreatiwiteit.

As dit waar sou wees dat die Katolieke se klem op beelde ’n soort verbintenis met Afrika vorm wat vir die vernuwing en uiteindelike oorlewing van die taal verantwoordelik is, verklaar dit dalk waarom die taal van die televisie, Engels, in ons land waar die beeld net soveel afwesig is in die gebrek aan poësie as in die religie, groter aanhang sal geniet as Afrikaans.

Die ongemaklike verhouding tussen die ekonomie en die poësie in ons land is ’n jaar of wat gelede in die koerante deur ’n uitgewer uitgelig in ’n artikel waarin hulle hulle prioriteite duidelik genoeg uitgespel het in ’n verklaring dat hulle eenvoudig nie kan bekostig om langer debuutdigbundels uit te gee nie. Die idee is verder beklemtoon tydens ’n byeenkoms waarheen ek vroeg in verlede jaar genooi is en waarin die samesteller van ’n blokraaiselwoordeboek aan my voorgehou is as ’n navolgenswaardige voorbeeld van ’n finansieel meer suksesvolle skrywer as ekself. Op ’n vraag of die uitgewer kans sou sien om met rekenaars byvoorbeeld vyftig boeke uit te gee van meer eksperimentele aard waaroor daar twyfel mag bestaan oor die finansiële sukses, het die uitgewer ook negatief gereageer.

Wat betref die verhouding tussen politiek en poësie is dit so dat die poësie dikwels gebruik is, veral in die struggle teen apartheid, om politieke doeleindes te bevorder. Voorbeelde van die politiek wat aan die poësie ondergeskik gestel word, is meer seldsaam. As die poësie volg op ’n verlies aan identiteit, is ’n oorlog wat gevoer word ter wille van die poësie in elk geval ’n oorlog wat verloor moet word, en wat dan net sowel nie gevoer hoef te word nie.

Die poësie is die ruimte waar die stilte ’n taal word wat sigself tussen die woorde voltrek. Dit gaan die taal nie red om die dood van die taal te verswyg met hygromans of resepteboekverkope of Leon Schuster-aanhangers of Afrikaans op die agterkant van parmalatdosies of epogmakende politieke toesprake op Brandfort nie. Waar die stilte verswyg word waardeur die dood en die niet op die naam genoem moet word, word die taal betekenisloos, en hou hy op om ’n taal te wees. Die poësie is die ruimte waar die niet, deur sigself hoorbaar te maak in die stiltes tussen woorde, sigself kan weerspreek en besweer.

As ek op grond van my jarelange bemoeienis met die beeld, die metafoor, die metamorfose, en op grond van my hunkering na ’n ruimte waarvandaan my taal opnuut gebore kan word uit die stiltes tussen woorde, myself sou kon veroorloof om myself ’n poëet van een of ander aard te noem, en as ek in dié hoedanigheid ter wille van my taal sou kon praat, sou ek hierdie bespreking wou afsluit met die aanhaling van Couto waarmee ek dit begin het:

Ek is dood, maar dis nie wat my die meeste pla nie. Wat my die meeste smart besorg, is dat niemand my wil glo behalwe die dooies nie.


Voordrag gelewer op 31 Mei 2002 te Filosofiekafee by die Café Riche op Kerkplein

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.