|
|
Beraad oor skrywers- en boekebelange lui n nuwe era inDie beraad wat op 22 September by Nooitgedacht gehou is, het verskeie belangrike besluite opgelewer. Dit spruit uit algemene kommer dat die Afrikaanse boek, en veral die letterkunde, in verskeie opsigte agteruitgaan, en dat skrywers se stemme nie in belangrike debatte gehoor word nie. Die ongeveer 50 deelnemers het skrywers, uitgewers, boekhandelaars en ander belangegroepe ingesluit, maar hulle het besluite in hulle persoonlike hoedanigheid geneem. Daar was eenstemmigheid dat n nuwe Afrikaanse skrywersorganisasie naas die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) nie nodig is nie. Die ASV sal wel versoek word om landwyd meer verteenwoordigend te wees, en veral gevestigde skrywers sal doelbewus as lede gewerf word. Daarbenewens sal daar n informele forum vir boekebelange by die ATKV-skryfskool gevestig word om die werk van die ASV met die van ander taalverwante groeperings te koördineer. Afrikaanse skrywers sal deur die ASV en met behulp van die forum by die nuwe Suid-Afrikaanse Skrywersorganisasie (SASO) affilieer ten einde n Afrikaanse verteenwoordiging in die nasionale liggaam te vestig. Twee werkkomitees is aangestel om moontlikhede rondom die ASV, SASO en n forum te ondersoek. n Beraadverslag sal binnekort aan al die lede van hierdie verspreidingslys gestuur word. Individuele bydraes tot die beraad sal ook so aangestuur word. Hier onder volg Charles Malan se inleiding tot die bespreking oor verenigingstrukture. Dit word geensins bedoel as n weerspieëling van die vergadering se sienings nie en ander inleidings sal ook aangestuur word.
Inleidende gedagtes oor die rol van afrikaanse skrywersorganisasiesCharles MalanDaar word tans bespiegel oor die moontlikheid van n oorkoepelende Afrikaanse skrywersorganisasie, maar dit is tog seker nodig om ook te besin oor die bestaansrede vir so n entiteit en sy verhouding met ander skryfverwante verenigings. Daar word altyd gesê slegs n komitee kon n kameel ontwerp het. Selfs Koos Kombuis gee nie vir God die skuld nie. Geen komitee kan n skrywer egter lelik genoeg maak om na n verenigingsdier te lyk nie. Skrywer-wees beteken per definisie individualis-wees. Aan die ander kant word die skrywer in hierdie land byna gedwing om n politieke dier te wees, al is dit bloot vanweë sy of haar rebelse instelling. Soos die Iere dit verwoord: You name it, Im gainst it. Die eerste vraag is of dit hoegenaamd vir Afrikaanse skrywers nodig is om in organisasieverband te verenig. Politiek impliseer ongelukkig mag, en in die skrywer se geval beteken dit gelukkig veral die mag om doeltreffend verset uit te oefen. Maar te dikwels is dit verset juis namens diegene wat geen mag het nie, the wretched of the earth, in Frantz Fanon se woorde. Die euforie van n nuwe Suid-Afrika het baie van ons byna n dekade lank laat glo dat daar geen noemenswaardige verset meer nodig is nie. Maar, om Van Wyk Louw aan te pas: as daar n geslag skrywers is wat sonder verset verbygaan, is dit n aanduiding dat die dood vir daardie taalgemeenskap in die pot is. Verset waarteen? Die antwoorde op die vraag sou wel as n agenda vir enige organisasie kon dien. Slegs n lysie moontlikhede is hier nodig. 1. Die bedreiging vir Afrikaans in die nuwe bedeling, op regerings-, kommersiële, opvoedkundige en ander vlakke. Dit behoort bepaald die hoofpunt op die agenda te bly, met die voorwaarde dat n gekerm in dade omgeskep moet word veral skryfverwante dade. Daar word baie geskryf oor die manier waarop Afrikaans in die nuwe bedeling geminag word, maar juis skrywers skryf te min daaroor. 2. Die negatiewe invloed van globalisering. Dit is kortsigtig om net op die gelokaliseerde prentjie te konsentreer. Die Afrikaanse skrywer en ander boekeprodusente het oornag enorme mededinging gekry, in die vorm van kulturele imperialisme en kommersialisering, die Internet met Engels as voertaal, populêre en massakultuur, noem maar op. Die uitdaging is om hierdie terreine, waar moontlik, van n bedreiging in n uitdaging te omskep. n Nasionale boekebeleid is byvoorbeeld dringend nodig. 3. Die verdringing van die Afrikaanse skrywers se stemme uit nasionale debatte. Naas die Dakar-beraad was die groep wat die ANC in 1989 vir n beraad by die Victoria-waterval uitgesonder het, juis Afrikaanse skrywers. Wie praat deesdae namens skrywers en ander intellektuele wat op taalvlak beweeg? Kan die Groep van 63 en Praag met hulle enorme mediadekking namens hierdie groep praat? Of die South African Writers Association met sy Engelse naam en ongedefinieerde Afrikaanse verteenwoordiging? Waar hoor n mens op nasionale vlak die stemme van die Afrikaanse Letterkundevereniging, of op n breër front, die kultuurorganisasies? Selfs die ATKV, wat bewonderenswaardig baie vir praktiese kultuurbevordering doen, is redelik swygsaam as dit by die openbare debatte oor taal- en kultuurbelange kom. Belangrike debatte lê voor: oor kultuur- en taalregte binne die konteks van n parlementêre kommissie, grondwetlike verskansing van groepregte, regeringsbeleid en -praktyk op kultuurvlak, die rol van n taalwaghond wat klaarblyklik nie tande het nie, n publikasiebeleid, noem maar op. Wie gaan in hierdie beraadslagings namens Afrikaanse skrywers opstaan, of gaan daar, soos tans, n dawerende stilswye wees? 4. Die kreeftegang van die Afrikaanse letterkunde wat publikasies betref. Bewyse dat letterkunde, en veral poësie, agteruitgaan, is in die media en op LitNet gepubliseer. Dit is te maklik om slegs die magtige suidelike uitgewers die sondebok te maak, maar hulle moet wel ook ongemaklike vrae beantwoord. Wat is die posisie van poësie en debute van allerlei aard op hulle agenda? Wat word van kruissubsidiëring waarvolgens populêre publikasies letterkunde help dra? Hoekom bestaan die indruk dat hulle letterkunde verpulp in n land vol leë skoolbiblioteke in die townships? 5. Die verwaarlosing van skrywersbelange op n mikrovlak. Brood-en-botter-sake soos outersgeld, kopiereg, bemarking en wat meer raak alles skrywers se sakke en iemand moet daarna omsien. Daar is talle klagtes oor beginnerskrywers wat nie behoorlike keurdersverslae of begeleiding kry nie. Klein uitgewerye werk in isolasie en het nie n gedeelde ondersteuningstelsel nie. Om na protes terug te keer: n voortgesette rassisme en omgekeerde rassisme moet met hand en tand beveg word. Dit weet die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) maar te goed. Wat die meerderheid van hulle lede betref, is dit ironies genoeg juis wit rassisme wat tot n jare lange verset gelei het. Die resultate van hulle protes is daar vir almal om te sien, in die vorm van talle belangrike boeke van bruin skrywers wat onlangs verskyn het. Die verset op persoonlike vlak moet nooit onderskat word nie. As n by steek, vrek hy. Maar as bye nie gesteek het nie, was daar waarskynlik vandag nie meer bye nie. No pun intended. Diegene wat skepties is of Afrikaanse skrywers as n groep veel kan vermag, hoef slegs na die geskiedenis van die Afrikaanse Skrywersgilde te kyk. Sedert sy stigting in 1975 tot met die politieke omwenteling was dit die enigste enkele Afrikaanse kultuurorganisasie wat deurgaans n stem van protes laat hoor het, in die eerste plek teen sensuur, maar daarmee saam ook teen die baie uitwasse van apartheid. Talle koerantbladsye is jare lank aan hulle debatte en verset gewy. Selfs Engelse skrywers soos Athol Fugard, JM Coetzee en Richard Rive het lede geword, omdat hulle so sterk met die hele etos geïdentifiseer het. Die Gilde het egter ook talle dinge vir skrywers vermag, oor byvoorbeeld outeursreg, bloemlesingstantième, die voorskryftoneel, wisselwerking met uitgewers en wat meer. Groepe soos uitgewers en boekhandelaars het lede in die Gilde gehad. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Gilde se grootste stukrag die heeltyd verset was. Toe die organisasie se tyd met die koms van die demokrasie uitgedien was, was die Gilde die dryfkrag agter die stigting van die ASV. Nou enkele gedagtes oor moontlike strukture wat na skrywersbelange omsien. Hopelik wil niemand aan bestaande organisasies gaan torring nie, en slegs hulle kan interne aanpassings doen indien hulle so voel. Dit sal byvoorbeeld goed wees as die South African Writers Association (SAWA) duidelik uitspel hoe die verteenwoordiging van Afrikaanse skrywers in sy geledere gaan lyk. Dit behoort ook in Afrikaanse kringe as SASO bekend te wees. Dit sal eweneens goed wees as die ASV werklik nasionaal begin funksioneer en verteenwoordiging in hoofstreke kry. Daar is van die begin af voorsien dat dit n nasionale vereniging sou wees en nie slegs n Kaapse steunbasis sou hê nie. Verteenwoordiging mag in die ASV uiteraard niks met velkleur te doen hê nie en dit is besonder ongelukkig dat die ondersteuning van gevestigde, witterige skrywers grotendeels weggeval het. Almal van ons wat die noodsaak van n verteenwoordigende spreekbuis insien, kan egter dadelik op streeksvlak begin meewerk. Die Gilde het altyd met n ruwe verdeling van noord en suid reggekom. Om mense betrokke te kry, is baie eenvoudig. Reël n plaaslike seminaar, nie een wat dr Alan Boesak insluit nie, maar met die tema: Is dr Dan Roodt die groot nuwe leier wat die Afrikaanse letterkunde gaan red? Kleiner skrywersgroeperings, soos die van Bent en universiteitsverenigings, behoort steun en koördinering te kry. Bent is n suksesverhaal van n groep wat spesifiek ook na die belange van jong digters omsien, met bevorderingsaksies soos bekronings van derduisende rande. Die bestaande organisasies moet voortbestaan en gedy, hoe meer hoe beter. Daar is n plek en n rol vir SASO, die ASV en die klein skrywersgroepe, maar daar is ook n baie belangrike rol vir die ander gevestigde belangegroepe met hulle eie organisasies. Hulle sluit die volgende in: uitgewers, biblioteke, kopieskrywers, leserskringe, vertalers, Internetgroepe soos LitNet, die media, letterkundiges, kultuurorganisasies, wie nie meer nie. Die vraag is wie na samewerking tussen hierdie belangegroepe omsien wanneer die boek ter sprake is. Saam kan hulle immers n baie beduidende stem oor Afrikaanse boekebelange laat hoor. By die vorige Aardklopberaad was daar n sterk gevoel dat daar n verteenwoordigende en koördinerende forum nodig is om na die talle belange rondom boekproduksie en -verspreiding om te sien, dus nie slegs na skrywers nie. LitNet, en spesifiek Boekindaba, vervul n belangrike forumfunksie, maar dit het geen besluitnemende of uitvoerende funksies soos die wat tydens die beraad gelys is nie. Dit lyk of daar veral een gevestigde instansie is wat hierdie funksies met gemak kan vervul, nl die ATKV-skryfskool. Na die reël van twee berade het hulle getoon waartoe hulle in staat is. Daar is nie dramatiese aanpassings vir hierdie funksies nodig nie. Die naam kan byvoorbeeld verander word van skryfskool na skryfhuis, of n soort sytak rondom boekebelange kan gestig word. Die uiters belangrike rol van skrywersbegeleiding kan binne forumverband verder uitgebrei word. Die ATKV sal uiteraard waarskynlik finansiële en logisitieke steun gee, maar ander rolspelers soos uitgewers moet ook bydra. Een van die eerste projekte behoort die vestiging van n lewendige en kragtige webwerf te wees. Naas LitNet vir meningswisseling behoort die webwerf die tuiste vir reëlings, kennisgewings, bekendstellings en wat meer te wees. Net soos met die kunstefeeste is daar n groot behoefte aan die desentralisering na streke, en hiervoor bied die feeste n natuurlike tuiste. As die Afrikaanse letterkunde uit sy kreeftegang wil kom, moet daar ook doelbewus na nuwe markte, produksie- en verspreidingsmetodes gestreef word. n Mens hoef slegs na die rakke vir Afrikaanse boeke in boekwinkels te gaan om te besef dat dit basies n klein bedryf met n klein afset is. Diegene wat die Afrikaanse boek wil bevorder, moet die terrein soos n groentetuin benader, miskien soos een wat in die townships vir oorlewing aan die gang gekry word. Elke leser, en veral ook elke skrywer met talent, moet gesien word as n plantjie wat versigtig water moet kry om te groei. Die grootte en mag van die persoon wat die gieter hanteer, maak nie saak nie. Dit is die drup, drup, drup wat tel.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |