Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liter A Tor: Aanskou popsnert as hoge poësie

As ’n letterkundige met jare lange ondervinding kan ek eintlik nie glo dat ek ingestem het om selfs te oorweeg of ek aan hierdie “debat” wil deelneem nie. Debat met opponente wat taal nie beter kan gebruik as om sinloos oor liefdeslekkertes te croon nie? Wat eindeloos kekkel oor Steve Hofnar se gevaarlike sensitiwiteit oor stronttrappers en die Void se skadelose onsensitiwiteit oor skaamhare? En wat nou en dan vir diepte (van ’n nieseksuele aard) oor godsdiens en uitverkorenheid, van alle dinge, probeer saampraat?

Wie is nou eintlik my gespreksgenote?

Ek het dadelik gevoel ek het niks te sê aan of oor hierdie fabriseerders van dwelmillusies, verbeeldingpret, verbeeldinglose zombiewysies en geklike geraas nie. Maar ek hou van sports en het na jare se akademiese frustrasie, waar ek van die popverskynsels probeer sin maak het, besluit om my laer honde-instink te volg. If you can’t beat them, piss on them. Dus, eers enkele voorlopige reaksies voordat ek aan die einde uitspraak oor my voortgesette deelname lewer.

Verskoon die skuilnaam, maar ek weet maar te goed dat my professionele reputasie ernstig moer toe is as ek in die openbaar ’n standpunt teen die patetiese, populêre prulproduksies inneem. Die redes sal onder blyk, maar veral my onakademiese taalgebruik moet binne die popkonteks verdiskonteer word. Anders luister niemand nie.

Die gespreksfasiliteerder noem alle populêre fenomene nogal naïef soos ’n tiener kollektief “pop”. Die Bybel is verreweg die gewildste boek in Afrikaans — maak dit hom pop? Die beeld in my kop van die “interaksie” met pop is soos wanneer ’n perverse kreatuur hom aan ’n opblaaspop vergryp. Momentele genot, veilige seks, nooit ondankbaarheid of hoofpyne aan die ontvangkant nie. Maar ’n te harde en diep prik waarborg ’n poef en ’n plat parra.

Voort dus in die gees van pop, maar steeds oppervlakkig omdat dit veilig is. My naam is Liter A Tor. Reageer gerus op my sienings, of gebrek daaraan. Noem my Liter as jy hou van ’n tier in jou tenk, of Tor as jy nie van gom of die dondergod of my onverbiddelike logika hou nie.

Heelwat meer as ’n dekade gelede het teoretici soos Culler, Hall en Bennett, om natuurlik nie van Derrida en Eco te praat nie, al op verskillende maniere aangetoon dat “die populêre” in al sy vorme ’n groot bedreiging vir die akademie inhou. Letterkundiges, sosioloë, geskiedkundiges en wie nie meer nie, is gedwing om pop in ’n akademiese sin ernstig op te neem en te bestudeer. “Populêre studies” het oorsee soos akademiese paddastoele opgeskiet, omdat dit by studente so, wel, populêr was.

Daarmee is op sigself seker nie fout nie — akademiese navorsing behoort alle soorte verskynsels objektief te bestudeer. Goed sowel as, soos in hierdie geval, vrot. Daar is immers al ’n tesis geskryf oor die agterbeenaksie van ’n bepaalde spesie sprinkaan, ek lieg nie. Die ding kan ten minste skop. Watse skop het pop, behalwe oortromverwoesting?

Skadeloos, dus? Die probleem is dat pop ’n verskuilde agenda soos ’n Trojaanse perd in die akademiese vesting ingedra het. Dit was ’n hele ideologiese houding van massasmaak wat die norm word. Tel koppe, Pappa. Hoe meer dit verkoop, hoe beter is dit en hoe meer is die aanspraak dat dit (be)studeer moet word. Maklik om dit digterlik te verwoord: Dis die blondes, dis die blues, dis die koppe, dis al. (Hoe kon hulle vasstel hoeveel dooies daar in die World Trade Center was? Hulle het koppe getel.)

Die breinlose massa in shopping centres bepaal wat hoort en nie hoort nie, wat “goeie smaak” en akademies belangrik is. Pop is cool, en as jy uit is, is jy oud, koud of benoud. Middelmatigheid, en eintlik gemiddeld doodgewoon dinge wat onder en laer as ’n slang gevind word, word tot ikonstatus verhef.

Kom ons noem die heilige popding by die naam, slangslop.

Slangslop lyk skadeloos. As groepies sosiaal afgewekenes eenkant geraas wil maak en hulle fan club raak histeries, geen probleem nie. Hulle pla hoogstens die kerklike bure met hulle banale sanik-CD’s oor Bokke, boude, tiete en terte.

Die Trojaanse perd het egter behoorlik begin kop uitsteek toe die dowwe liedjie-uitrygers nie meer met hulle gewildheidstatus tevrede was nie en na die vlak van hogere kunste begin aspireer het. Die verstommende is dat naïewe uitgewers en musiekkramers saamspeel en, Mammon ter wille, die slangslop op skrif en in klank “verewig” op ’n manier wat suggereer dat dit nuwe komas uit bamboesstokke is. Eerder as walms uit daggazolle.

Slangslop het sy meriete. Dit is goed vir Kose. Daar word in hierdie rubriek inleidend na Dylan se status verwys, maar onder Afrikaans se groot, gekanoniseerde digters tel nou al drie Kose, insluitende Kombuis en Doep (liriek oor slangkop-Koos: “Sy sê vir my, Koos,/ kom gee my ’n roos/ en asseblief, Koos,/ kom vat aan my buis”). Dan is daar nog slangslop-Koos onder die bed, wat sy laatnagdeuntjie sing wanneer jy hom besprinkel (“Hoe warm is my lieeefde vir jou, diereldiejieeeoemp”).

Slangslop is goed vir Afrikaans. Afrikaanses juig oor die verryking van hulle kultuur met musiek en liriek, sange en sugte, liewe luisterliedjies oor geliefdes en gelukkiges. By kunstefeeste dui Huisgenoot die norm vir groot Afrikanerkuns in ’n groot tent aan.

Maar die Volk is tans ook in vertwyfeling. Is daar Afrikaans na Koos die Eerste, Koos die Grote? Kan ons oorleef, selfs na Bles, Worsie, Tolla, Gé, party Briels, Orrel? Is daar nog Grotes oor? Leipoldt se Oom Gert het al gevra, wil jy die storie van ons sterftes hoor? Ja, ja! Iemand, iemand, gaan vir ons nog die groot heldeliriek skryf, dit weet ons gelukkig. “Stil, susters, daar gaan ’n suster verby, daar was maar een soos sy . . . Wie is sy? Waar was sy? Was sy?”

Slangslop is goed vir nagelatenes. Mens hoef nie ’n profeet te wees om te weet dat gewetenlose produsente nou binne maande tientalle klanke uit kerkorrelpype van tientalle lengtes gaan produseer nie. Na hy sy hart vir Hillbrow en sy hallala vir Afrika gegee het, is Kerkorrel ’n groot digter. Vir ons popgode is daar ’n blitsige manier om onsterflikheid te bereik. Sterf. Verkieslik voortydig.

Slangslop is goed vir die digkuns. Aanskou die luisterliedjie as poësie.

Maar iets skort. Daar is nog nooit ’n sin geskryf oor die alternatief vir dit wat jy nou eintlik anders met ’n luisterliedjie doen as luister nie. Wie skryf luisterpoësie en hoe kry hulle dit sonder skrif reg, as dit net luister is wat tel? Ek het ’n probleemformulering vir ’n tesis wat een van my studente moet aanpak: Het die alternatiewe Voëlvrybeweging na die luisterliedjie geluister, dit laat luister, dit ontluister, aan die luister toegevoeg, of ’n vrye voël in die sawwe liedjies ingekry?

Ek sidder om te dink wat binne die afsienbare toekoms op die rakke van die Ingelse Exclusive (sic) Books gaan verskyn, naas Kose, Orrels, Kombuise, singende Breytenboksies en Vrye Voëls. Ek sien al die ritse digbundels van die Begrafnisgangers, Beeskraal, Renosterhoring, Ekstra Dik, AmaBoerbokke, Sestien van die Bestes, Merinomis, Mamelodi Moord en Roof, Paddagang, die Feministiese Voëlvangers …

Moet ek in alle erns hier aan ’n debat oor die situasie met Afrikaanse pop deelneem? Waaroor? Om daaroor te stry dat hulle die Volk verslaaf, laat beswymel, gelobotomiseer en letterlik verdoof het? Dankie vir die uitnodiging, Meneer die Fasiliteerder, maar na my verduideliking het ek slegs een antwoord, wat onafrikaans deur die onsterflike Afrikaner-ikon Leon Scheisster in sy ewige woorde in sy onsterflike fliek verwoord is — en dit selfs voordat hy nog dood is: “You must be joking.”

Skryf dit op my grafsteen.

Hou LitNet dop vir Koos Kombuis en Anton Goosen se reaksies

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.