Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Resensies deur Piet Pompies



Out of this World: The Alternative South African Spiritual Experience

deur Alexandra Levin

Viking
ISBN 0670047856

Bestel nou hierAlexandra Levin se pragboek bestaan uit ’n reeks insiggewende onderhoude met sogenaamde “alternatiewe” spirituele praktisyns en esoteriese genesers in Suid-Afrika, byna tien jaar na die historiese verkiesing van 1994.

Ses en twintig praktisyns, onder wie tradisionele genesers, ’n heldersiende, hipnotiseur, reiki-meester, kristalgeneser, klankgeneser, medium, numeroloog, kinesioloog, droomvertolker, aura-soma- en refleksologie-praktisyn en ’n astroloog — verteenwoordigend van die vrye gees van ons land — gesels oor hul werk en tradisies.

Onder die meer bekendes is die musikant en klankgeneser Chris Tokalon, die gedugte en beeldskone eerwaarde Donna Darkwolf Vos (aartspriesteres van die Acquarian Tabernacle Church), psigiese berader Lionel Berman, hipnoterapeut Evans V Brown, sangoma Mpumi Khumalo, astroloog Rod Suskin en die mistieke susters Jayshree en Mellissa Mallaya.

Elke hoofstuk word ryklik geïllustreer met ’n portret, foto’s en sketse. Elke onderhoud is propvol inligting oor die agtergrond, tradisie en metodiek van die betrokke praktisyn. Daar is ’n afdeling met kontakbesonderhede van al die praktisyns en die boek sluit af met ’n bronnelys van esoteriese webwerwe ingedeel volgens onderwerpe soos Therapies, Gems and Crystals, Reiki, Forecasting/Divination, Numerology, Metaphysics, Spiritualism/Channeling & Health.

Dié pragboek voorsien waardevolle insigte in die kleurvolle karakters wat tans bedrywig is op die vele uiteenlopende terreine van spirituele sorg en genesing in ons multikulturele samelewing. Dit is keurig uitgegee met aantreklike bladuitleg en voorsien boeiende leesstof.


Dancing under an African Moon: Paganism and Wicca in South Africa

deur Donna Darkwolf Vos

Zebra Press
ISBN 1-86872-653-3

Bestel nou hierEindelik! ’n boek oor Paganisme en Wicca uit plaaslike bodem wat al die praktisyns van hierdie antieke spirituele weg se frustrasies oplos. Behalwe vir ’n skamele oes uit Australië is daar bittermin boeke wat die feestye vanuit die perspektief van die Suidelike Halfrond beskryf. Aangesien hierdie natuurgebaseerde geloof so diep gewortel is in die seisoene, was dit tot nou toe moeilik vir die praktisyn in die Suidelike Halfrond om die gedenkdae in die suide met die seisoene van die Noordelike Halfrond te rekonsilieer.

Benewens waardevolle praktiese inligting, gee die boek ook ’n uiteensetting van die uiteenlopende rigtings binne die beweging (Druïdisme, Wicca, Paganisme, The Craft) en die ontstaan en ontwikkeling van relevante organisasies in Suid-Afrika. Daar is ook persoonlike wedervaringe deur ’n aantal praktisyns oor hoe en waarom hulle op hierdie rigting besluit het.

Vos ondersoek boonop die ooreenkomste en verskille tussen westerse paganisme en tradisionele Suid-Afrikaanse geloofstelsels soos beoefen deur inyangas en sangomas. Een van die grootste verskille is die offer van diere by laasgenoemde wat nie so gretig deur die paganiste-tradisie aanvaar word nie. Maar daar is meer ooreenkomste as verskille. Hierdie gedeelte sluit ’n interessante verwysing na die Sanusi Credo Mutwa in.

Die hoofstuk “Little Book Of Shadows” bestaan uit resepte, towerspreuke en rituele, en sluit kruie-rate vir siektes in, asook lieflike poëtiese chants om ’n verskeidenheid van doelwitte te bereik, intern sowel as ekstern. Die volgende hoofstuk, getitel “Poetry And Pathworkings” is ’n reeks begeleide meditasies wat skeppende visualisering insluit en funksioneer as bewustelike reise in die onderbewussyn in.

Hoofstuk 11, “The Spirit Of Afrikaans” behandel Jade Groen se pionier-boek Spinnelap in detail, as ’n welkome bydrae tot die genesing van die Afrikaanse vrou se siel. Hierdie hoofstuk bevat ook Afrikaanse gedeeltes, soos die liturgiese stuk “Die Stem Van Die Godin” en ’n uittreksel uit Groen se werk met die titel “Afrikaans Is Gemaak Vir Majiek”.

Die boek word ryklik geïllustreer deur kleurfoto’s van rituele en persoonlikhede, met inbegrip van ’n ontmoeting tussen die outeur en kolonel Kobus Jonker, die hoof van die polisie se okkulte-eenheid, en sluit af met ’n bibliografie.

Dancing Under An African Moon is ’n waardevolle bydrae tot Suid-Afrika se geestelike lektuur, ’n broodnodige handboek vir die praktisyn in Paganisme/Wicca en ’n insiggewende kykie na die organisatoriese ontwikkeling van hierdie beweging.


Ogdoadic Magick: Being a year of study with the Aurum Solis Community

deur Norman R Kraft

WEISER
ISBN 1578632080

Bestel hier
Ogdoadic Magick is ’n gids tot die okdoadiese tradisie in die Westerse okkultisme en ’n handleiding vir dié wat hierdie weg wil volg, een wat uit Keltiese, Gnostiese, Griekse en Alchemiese bronne put. Die Qabalah wat hier gebruik word, verskil fundamenteel van dié van die hoofstroom Westerse okkultisme soos byvoorbeeld deur die Golden Dawn gebruik.

Kraft ondersoek die teorie, praktyk en etiek van magick, bespreek Jung en Voegler se argetipes en behandel ook die werk van Joseph Campbell in redelike diepte. Hy bespreek die metodes waardeur die onderbewussyn beïnvloed kan word en voorsien praktiese inligting oor die opstel van ’n huisaltaar plus wenke oor studie, oefeninge en meditasie.

Daar is hoofstukke oor die vier elemente, die wet van ooreenkomste en die Qabalah, sowel as die maan- en seisoenale fases en die planetêre ure.

Agt rituele word in diepte bespreek, met inbegrip van die daaglikse eerbetoon aan die son as die simbool van die onsigbare lewensbron, die Calyx, die wekroep aan die beskermers, die stimulasie van die chakras en ’n rite vir die opspoor van verlore voorwerpe.

Die teks word verryk met tabelle en illustrasies, byvoorbeeld ’n tarot-hand, ’n magiese kamer, verskeie magiese posisies, die boom van die lewe, die agtpuntige ster en lyste van ooreenkomste tussen byvoorbeeld sielkundige eienskappe, plante, diere en minerale.

Bylaag A voorsien ’n kort opsomming van die okdoadiese tradisie met verwysing na die Knights Templar, die Platoniese Akademie, die Medici van Florence, die Societas Rotae Fulgentas, Orde Aurum Solis en figure uit die renaissance soos Marsilio Ficino en Angelo Poliziano.

Bylaag B voorsien verdere leesstof oor die sielkunde, Westerse okkultisme, simboliek, geskiedenis, filosofie, digkuns en naslaanwerke.

Die boek sluit af met ’n uitgebreide bibliografie en indeks.


DMT: The spirit Molecule: A Doctor’s Revolutionary Research into Near-death and Mystical Experiences

deur Rick Strassman

Inner Traditions International
ISBN 0892819278

Bestel hier
Hierdie fassinerende boek is ’n verslag van die outeur se kliniese navorsing met DMT, ’n psigedeliese middel wat uit plante verkry en ook deur die brein afgeskei word. Die vrywilligers in die studies het deur ’n verskeidenheid van óf positiewe mistieke ervaringe óf skrikwekkende hallusinasies gegaan.

Strassman vind ’n verband tussen DMT, die pineale klier en die esoteriese geloof dat die kroon- of sahasrara-chakra ’n fasiliteerder is in die betreding van verskillende dimensies van bewussyn.

Deel Een behandel die funksie van psigedeliese middele in die wetenskap en gemeenskap, beskryf die chemiese kwaliteite en molekulêre struktuur van DMT en bespreek die pineale klier en die rol daarvan in die psigedeliese ervaring.

Deel Twee bied ’n gedetailleerde oorsig oor die navorsing, vanaf die oorspronklike navorsingsvoorstel deur na die proses van toestemming en goedkeuring.

Deel Drie lig die proses toe waardeur vrywilligers verkry is, hoe die DMT bekom is en die eerste eksperimente.

Deel Vier beskryf die gevallestudies — wat die vrywilligers gesê en gedoen het tydens die trip. Sekere hiervan was positief en soortgelyk aan egte mistieke ervaringe wat met byvoorbeeld meditasie geassosieer word, terwyl ander spookagtig of uiters onaangenaam was. Vervolgens word die ervaringe weer in oënskou geneem en beoordeel, aan die hand van verskeie definisies.

Deel Ses is ’n uiters interessante bespreking van die psige en verskillende vlakke van bewussyn. Dit blyk dat verhoogde vlakke van natuurlike DMT ’n rol speel in spontane psigedeliese ervarings, so asof dié molekule toegang verleen tot onbekende terreine van die psige. Daar is ’n verskil tussen hierdie uitgebreide bewussyn en die normale droomtoestand. Die huidige metodes van die sielkunde verklaar nie die fenomeen of die spesifieke ervarings nie, veral nie wat betref die entiteite wat teengekom is nie. Dit lei dan weer tot spekulasies oor kosmologie, die moontlikheid van parallelle kosmosse, donker materie en ’n multivers met verwysing na David Deutsch se boek The Fabric Of Reality.

Strassman sluit sy briljante boek af met ’n insiggewende hoofstuk oor die praktiese gebruik van psigedeliese middele in terapie om kreatiwiteit te stimuleer of vir gebruik as enteogene in religie.


Hidden Connections: Integrating the Biological, Cognitive and Social Dimensions of Life into a Science of Sustainability

deur Fritjof Capra

Doubleday
ISBN 0385494718

Bestel hier
Die beroemde outeur van The Tao Of Physics voorsien hier ’n konseptuele raamwerk wat die fisiese, kognitiewe en sosiale dimensies integreer ten einde ’n eenvormige visie van bewussyn, bestaan en die gemeenskap te vorm en om ook ’n koherente en sistemiese benadering te verkry waarmee die wêreld se dringendste probleme aangespreek kan word.

In die eerste gedeelte skep hy ’n nuwe teoretiese raamwerk deur te kyk na die aard van lewe, van bewussyn en van sosiale realiteit. Hy behandel die fenomeen van netwerke in detail, as ’n belangrike sosiale werklikheid en bron van bemagtiging in die wêreld.

Die tweede gedeelte stel ondersoek in na die bestuur van menslike organisasie en na ekonomiese globalisering en voer ’n sistemiese analise van die etiese en wetenskaplike probleme van biotegnologie uit, met spesifieke verwysing na die menslike-genoom-projek en die mees dringende globale probleme van ons tyd.

Capra het sy huiswerk deeglik gedoen en lewer ’n skitterende analise van die verenigde stelsels wat die biologiese, kognitiewe en sosiale aspekte van ons bestaan onderlê, tesame met die sosiale implikasie van die transformasie waardeur ons tans gaan.

Hidden Connections is aangrypende leesstof. Die boek sluit af met verklarende notas, ’n bibliografie en indeks.

Ander interessante werke wat oor dieselfde onderwerp handel, is Small World deur Mark Buchanan en Universality deur Mark Ward.


The Mind Cave: Consciousness and the Origins of Art

by David Lewis-Williams

Thames and Hudson
ISBN 0500051178

Bestel nou hierLewis-Williams provides a fascinating explanation for the creation of images by our ancient forebears and the origin of art — the evolution of the human mind. He proposes that the people of the Upper Paleolithic used altered states of consciousness to shape their society and made use of imagery as a means of defining and establishing social relationships. Cro-Magnon man, possessing a more advanced neurological system and order of consciousness than the Neanderthals, experienced shamanic trances and vivid mental imagery. He reproduced these images on cave walls that served as a membrane between the everyday world and the realm of the spirit. Visions were considered instrumental in personal advancement and the development of society.

The author refers to the pioneering psychologist William James who, as far back as 1902, pointed out the different states of consciousness, and to Colin Martindale, who identified these states: the waking state, realistic fantasy, autistic fantasy, reverie, hypnagogic and the dream state. The sense of absolute unitary being as experienced in transcendence or ecstasy is generated by a spillover between neural circuits in the brain induced by meditation, rhythmic stimulus, fasting or hallucinogenic drugs. The essential elements of the religious experience are thus wired into the brain.

Two case studies are used in support of this theory: rock art of the South African San and the North American Amerindian. Chapter 8 is particularly stimulating, as it offers possible solutions to certain puzzles of cave art, like the strange mixture of representational and geometric imagery. The author believes that the trail of images from the entrance to the dark, almost inaccessible recesses represents a connecting link between the two elements of an above/below binary opposition. Physical entry into the caves reflected the entry into the mental vortex that leads to the visions of the deep trance state, in other words, the mental journey that leads from the conscious mind to the depths of the subconscious.

The Mind In The Cave provides much food for thought about early mankind and the evolution of consciousness. I would like to recommend William James’s The Varieties of Religious Experience and R M Bucke’s Cosmic Consciousness as background reading to Lewis-Williams’s innovative theories. This beautiful and thought-provoking book includes plenty of figures and 97 illustrations, of which 27 are full-colour plates.


Where God Lives: The Science of the Paranormal and How Our Brains Are Linked to the Universe

by Melvin Morse

HarperSanFrancisco;
ISBN 0061095044

Bestel nou hierThis book investigates the phenomenon of the Near Death Experience (NDE) through a series of case studies and pinpoints the right temporal lobe as the place where the individual interacts with a greater consciousness. Morse, a pediatrician, calls this part of the brain the “God spot” and claims that it is instrumental in facilitating mind-body healing while also being responsible for mystical visions, psychic powers and vivid spiritual experiences.

His study of NDEs reveals that we have the biological potential to interact with the universe at any time. It is therefore important to learn how to activate the right temporal lobe for this purpose.

The author’s investigations demonstrate that children who have experienced NDEs tend to be more balanced in their physical, mental and spiritual lives. They sense a purpose in living and have no fear of death. Trusting their intuition, they feel that they can again connect with the divine presence without the trauma involved.

These children develop certain habits in later life that Morse calls the ten secrets of happiness, ie physical exercise, paying attention to life patterns, valuing family and relationships, trusting intuition, serving others, financial planning, following a healthy diet, meditation/prayer, learning to love and spirituality.

Discussing the scientific theories of people like Dr Karl Pribram, Michael Talbot and others, Morse considers cases of reincarnation that defy easy explanation, as well as synchronicity and spiritual healing, and comes to the conclusion that consciousness ripples throughout reality like a pebble in a pond.

The author believes that early humans were too dominated by the right temporal lobe, so that individuality was not fully expressed. On the other hand, modern man is too left-brain-oriented, so that individuals become too isolated. NDEs remind us that we are interconnected spiritual beings as well as unique individuals.

He concludes with an appeal to the reader to learn to use more of the mind in order to transcend the five senses and reach for an expanded human consciousness, a type of sixth sense.

Plenty of helpful advice is given on how to become well and stay balanced and optimistic. The voluminous bibliography consists of separately listed books and articles under the following headings: Scientific and Medical References, References Concerning Death-Related Visions, The Scientific Study Of The Paranormal, Scientific Perspectives On Religion, Spirituality and Consciousness, Mind-Body Healing, Memory and Past-Life Memories, Religion and Spirituality, and Miscellaneous References.

This book covers much familiar terrain in consciousness research. Readers who appreciate Where God Lives will also find much of interest in old classics like Richard M Bucke’s Cosmic Consciousness and modern works like Coghill’s Dark Side Of The Brain, Drury’s Inner Visions and Sheldrake, McKenna and Abrahams’s Chaos, Creativity And Cosmic Consciousness.


The Universe Next Door: Twelve Mind-blowing Ideas from the Cutting Edge of Science

deur Marcus Chown

Headline
ISBN 0747235287

Bestel nou hierThe Universe Next Door is ’n teks oor die kosmologie met een voet in die wetenskap en die ander in die wetenskapfiksie. Kwessies soos die aard van tyd (kan dit agteruitvloei?), veelvuldige realiteite en die moontlikheid van die multivers of ’n oneindige aantal heelalle word ondersoek.

Deel Een, “The Nature Of Reality”, bestaan uit bespiegelinge oor die moontlikheid van dele van die heelal waar tyd agterstevoor mag verloop, oneindige realiteite, golf-funksies en materiegolwe, sowel as ’n vorm van materie of ’n entiteit met die titel “orto-positronium”.

Deel Twee, “The Nature Of The Universe”, handel oor onsigbare sterrestelsels, sterre en planete, spieëlmaterie, die wisselwerking tussen gewone en spieëlmaterie, swart gate en hul betekenis in die model van die heelal, die moontlikheid dat intelligente lewe ’n heelal kan skep en selfs … hoe om ’n heelal te bou! Relatiwiteit, kwantumfisika, en die idees van Hoyle en Chandrasekhar en vele ander kosmoloë word betrek by die spekulasies.

Deel Drie bespreek die moontlikheid dat lewe op aarde uit die ruimte hier geplant is, die komeet-konneksie, lewe as ’n kosmiese fenomeen en die sterk moontlikheid dat ons nog eendag artefakte uit die buitenste ruimte op die aarde of die maan mag vind.

Die boek sluit af met ’n woordelys, ’n leeslys onder “Fiksie en Nie-Fiksie” en ’n deeglike indeks. The Universe Next Door is stimulerende leesstof wat heel toeganklik is vir die gewone leser.


Before the Beginning: Our Universe and Others

deur Martin Rees

Free Press
ISBN 074323099X

Bestel nou hierHier is nog ’n boeiende boek oor die kosmologie wat oor onder meer pregalaktiese geskiedenis handel, sowel as swart gate, donker materie, die aard van tyd in ander moontlike heelalle, die ekologie van die kosmos, die omega- en lambda-punte, groot attraktors, pulsars, neutronsterre en die antropiese redenasie wat deur die outeur verdedig word.

Die boek verteenwoordig ’n drastiese verbreding van ons kosmiese perspektiewe — die heelal is veel meer kompleks en indrukwekkend as wat ons ooit kan konseptualiseer. Die outeur argumenteer ook dat die klaarblyklike “fine tuning” waarvan ons bestaan en die lewe op aarde afhanklik is, nie toevallig kan wees nie.

Wat ons die heelal noem, is heel moontlik net een gedeelte van ’n veel groter geheel, maar ons s’n is dalk ’n ongewone onderdeel wat daarop ingestel is om kompleksiteit en bewussyn te laat ontwikkel. Ons sigbare heelal kan dus moontlik ’n atoom in ’n oneindige opset wees, ’n kosmiese spikkel waar onbrugbare versperrings kommunikasie tussen die verskillende eilande verhinder.

Rees haal wetenskaplikes soos Hawking en Chandrasekhar regdeur die teks aan, en maak ’n sinvolle bydrae tot ons begrip van die kosmologie en kwantumwetenskap, terwyl hy ook interessante en unieke perspektiewe bydra tot die huidige stand van bewussyn- en bestaanstudies.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.