|
|
Oor kunstenaars, politici en die Jesus-debatMagdaleen du ToitDit was so iets van n bergpiekervaring, die lesingsessie op die KKNK in April vanjaar, waar ek saam met Wilhelm Jordaan en Johann Rossouw moes praat oor spiritualiteit. Uit drie verskillende hoeke het ons gepraat: Jordaan as NG-lidmaat het homself getipeer as onverwoesbaar binnestaander (maar ook sinvol krities ek hoop die NG-sinodes gaan sy lesing as n studiestuk in behandeling neem); Rossouw, n voormalige NG-teologiestudent, het buitestaander geword ten opsigte van hierdie struktuur, maar met betrekking tot die Zen-Boeddhisme, waar hy binnekort as monnik bevestig word, is hy weereens onteenseglik binnestaander. En ek? Ek sien myself nie as binne- of buitestaander van enige struktuur nie. Ons drie het agterna met verwondering vir mekaar gesê dat ons eintlik, elk op ons eie manier, by dieselfde dinge uitgekom het. Ook die gehoor het die ooreenstemming raakgehoor en met waardering daarop gereageer, en in die volgende paar dae in Oudtshoorn het vreemdelinge steeds op straat en in eetplekke n gesprek kom aanknoop oor hul belewing van daardie oggend. Is dit moontlik om n gesprek te voer sonder dat die binnestaanders van die verskillende dissiplines mekaar by wyse van spreke aan die keel gryp? Ek glo tog so. Ons sal waarskynlik moet begin deur onsself te herinner dat enige gesprek oor Jesus ten diepste met die mens se spirituele werklikheid te doen het, en dat hierdie werklikheid nie met die vyf sintuie raakgevat of in tydruimtelike terme beskryf kan word nie. Nóg die wetenskaplike metodes van die teologie en die Bybelwetenskappe, nóg die dogma en tradisies van die georganiseerde godsdiens is by magte om finale uitsprake oor die wese van God of die Christus of die spirituele werklikheid te maak. Aan albei kante behoort daar besef te word: ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Miskien is dit nuttig om hier gebruik te maak van die metafore kunstenaar en politikus. In nog n KKNK-lesing gesels Max du Preez oor die vraag waar ons heil lê, by die kunstenaars of die politici. Die deel van die menslike lewe waar die hoogste vlakke van selfkennis bereik word, insluitende n volledige begrip van die essensiële eenwees van homo sapiens met alles om ons, is die kunste, sê hy en haal Schopenhauer aan wat verklaar dat dit die spesifieke funksie van die kunste is om unieke en diepsinnige insigte oor te dra wat ontoeganklik is deur konsepsuele kommunikasie. Die kunste het weens hul eiesoortige aard n voorsprong bo ander menslike aktiwiteite soos die politiek of die georganiseerde godsdiens, sê Du Preez, en verwys dan na die politiek as populisties en onsubtiel, dus nie daarop gerig om in voeling te kom met die unieke wêreld van die individu nie. Politiek is n omvattende term. Dit het nie net betrekking op die staatkunde nie, dit het te doen met die ordening en beheer van alle strukture en stelsels in die samelewing. Elkeen van hierdie strukture is in die eerste plek gerig op hul eie voortbestaan en die vestiging van hul eie mag en gesag, daarom word daar gewerk met duidelik gedefinieerde polariteite soos ons-hulle, binne-buite, waar-vals, wetenskaplik-onwetenskaplik, suiwer-ketters, goed-boos, solidêr-dislojaal. By sommige strukture word hierdie dualiteit baie gesofistikeerd en subtiel toegepas, by ander meer kru en blatant. Dit wat buite die gedefinieerde grense val of nie volgens die konvensies en tradisies funksioneer nie, word as n bedreiging gesien en moet aangeval en afgeweer word. In so n wêreld is versoening nie n vanselfsprekende opsie nie. Godsdienstige strukture funksioneer nog grootliks volgens hierdie model. Ook die wetenskap, onder andere die teologie en die Bybelwetenskappe, werk ewe sterk met die politiek van metodes, konvensies en kategorieë. In die Jesus-debat funksioneer al die verteenwoordigers van die onderskeie strukture kerk en akademie as politici. Hulle werk met n óf … óf-werklikheid: dis jou Jesus teen myne; om toe te gee en ook ruimte aan die teenstander se persepsies te gee, sou beteken dat ek my magsposisie kompromitteer. n Mens kan n voor die hand liggende voorbeeld gebruik om hierdie politieke posisie te illustreer: Om te stem is n basiese politieke daad. Daardeur maak n mens n keuse vír n bepaalde werklikheid en téén n ander werklikheid. Dit is n vanselfsprekende handeling op alle kerkvergaderings, konsilies en sinodesittings. Dogma en belydenisskrifte word tot stand gebring deur te stem. En die manne van die Jesus-seminaar doen dieselfde: hulle stem om te besluit watter gegewens uit n hele boel teenstrydighede vir hulle die aanvaarbaarste is. Die kunstenaar hoef hom egter nie binne die grense van een werklikheid te laat inperk nie. Hy is die reisiger, die nomade. Hy werk in n eiesoortige geestesruimte waar hy juis in staat is om grense oor te steek en teenstrydighede te versoen, om dieselfde werklikheid altyd nuut te bekyk en voortdurend met nuwe betekenisse vorendag te kom. Hy skep n én…én-wêreld, n huis met baie wonings. Waar die politikus chaos as n bedreiging ervaar en dit onder beheer wil kry deur vaste, onveranderlike orde te skep en grense te trek, sien die kunstenaar chaos as potensiaal waaruit voortdurend nuwe patrone van orde geskep kan word volgens die eise van die oomblik. Waar die politikus sy eie waarheid sien as ewig, besef die kunstenaar dat alle waarheid relatief en voorlopig is. Kuns is metafoor. Dit is waarom dit die kragtigste instrument is vir vernuwing, vir oorspronklikheid, vir nuwe en kritiese denke, vir n meer fundamentele begrip van alle soorte waarhede selfs die Uiteindelike Waarheid, as daar so iets is, aldus Max du Preez. Hoe kragtiger n ervaring is, hoe dieper n emosie is, hoe meer voel ons die noodsaak om n metafoor te gebruik om dit bevredigend uit te druk. Metafoor gaan veel dieper as letterlike spraak. Dit het belangrike implikasies vir die wêreld van die spiritualiteit. Hoe wil ons na geloof kyk: as politiek of as kuns? As die kerke en die teoloë daartoe kan kom om hul interpretasie van God/Jesus/godsdiens nie te sien as n (mags-) posisie wat verdedig moet word nie, maar as n kreatiewe proses, kan daar n sinvolle gesprek tot stand kom. Maar die gesprek sal moet verskuif uit die ruimtes waar dit tot dusver plaasgevind het. As ons werk met die uitgangspunt dat spiritualiteit iets van n totaal ander orde is, n kategorie buite dié van letterlike spraak, sal daar neutrale grond gekies moet word vir die gesprek. Ons sal afstand moet doen van die identiteit, gesag en mag wat die strukture aan ons gee: dominee, priester, wetenskaplike, teoloog, lidmaat van n gevestigde kerk, aanhanger van n eeue-oue tradisie. Ons moet besef ons kan net praat kragtens ons identiteit en gesag as mede-MENSE, wat elkeen uit sy hoek en op grond van sy individuele ervaring n waardevolle perspektief kan bied op die groot samehang van dinge, maar nooit die reg mag opeis om die laaste woord te spreek nie. Indien ons in hierdie gesprek afstand moet doen van die konvensies en kategorieë van die sintuiglike wêreld, wat bly dan oor? Intuïsie en verbeelding, die enigste sintuie waarmee n mens wel versigtig na die Transendente durf uitreik. Dit is die ruimte van kreatiwiteit, waar die gelowige as kunstenaar met sy gebruik van metafoor en simboliek voortdurend opnuut betekenis gee aan sy ervaring. Hy werk met n verskuiwende raam, wat meebring dat elke kunswerk slegs n voorlopige weergawe van die werklikheid is. Dit is die manier waarop die heilige geskrifte tot stand gekom het n skrywer wat ervaar en waargeneem het, intuïtief iets van God in die gebeure aangevoel het, en dit ooreenkomstig sy verwysingsraamwerk vertolk en neergeskryf het. God praat ook nie net met ons deur die heilige geskrifte nie, die ganse lewe is n heilige geskrif wat ons metafories kan vertolk en waaruit ons betekenisse kan aflees. God is in alles teenwoordig, hy is die Substansie wat die ganse werklikheid deurweef, en deur in voeling met my wêreld te bly raak ek ingestem op die goddelike hart, wil en wysheid. Om die toepaslikheid van die kunstenaar se werkwyse vir die spirituele konteks te verstaan, is dit miskien ook sinvol om te verduidelik wat die kunstenaar nié doen nie: hy trek nie grense tussen metafore en sê julle is in en julle is uit nie, en hy lê nie kriteria aan waarvolgens die geldigheid al dan nie van metafore getoets kan word nie. Hy werk spontaan, maar met n trefseker intuïsie. Hy hoef nie die metafore van n medekunstenaar te bevraagteken nie, want hy verstaan en eerbiedig die kreatiewe proses, en hy weet dat dieselfde betekenis deur baie metafore gedra kan word. Dit beteken dat ons as spirituele wesens na mekaar kan luister, dat ons wedersyds mekaar se sienings kan respekteer as geldige rame wat iets van die werklikheid van God en wêreld vasvang, terwyl ons terselfdertyd besef dat die prentjies in elkeen van daardie rame net n beperkte kyk op dié realiteit verteenwoordig. Ons het baie verskillende rame nodig wat uit baie verskillende hoeke n kyk op die werklikheid bied, voordat ons naastenby kan begin om iets van die eindelose wydsheid daarvan te ervaar. Niemand het enige grond om te sê, My Jesus, my geloof, my dissipline is meer waar, meer suiwer, meer wetenskaplik, meer geldig as joune nie. Ons is almal medekunstenaars. As spirituele wesens het ons almal deel aan die voortgaande skepping van ons eie werklikheid. Ons kies daagliks ons eie metafore, ons gee van oomblik tot oomblik betekenis aan elke ervaring. Dis hierdie komplekse samehang van ervarings en betekenisse wat uiteindelik kleur, tekstuur en dimensie gee aan ons ervaring van God, en wat terselfdertyd verseker dat die proses van inhoudgewing dinamies en beweeglik bly. Daar kan nie meer aan mense voorgeskryf word hoe hulle God moet ervaar nie; daar kan hoogstens sleutels aan hulle gegee word. Elke mens is die kunstenaar van sy eie bestaan, en die geestelike begeleier moet soos n goeie leermeester die ontluikende kunstenaar laat verstaan dat daar nie regte en verkeerde antwoorde is nie en dat alle metafore geldig is. Moenie oordeel nie is die sleutel tot onvoorwaardelike liefde; moenie bang wees nie is die sleutel tot vryheid. Ek glo daar sal n dag kom dat ons uit alle rigtings gaan bymekaarkom en ons kosbaarhede wat ons so angsvallig teen die bors druk, tussen ons gaan neersit: die mooi goed klippies, sade, n besonderse veer miskien wat ons êrens op ons omswerwinge opgetel het. As ons dit saam bekyk, sal ons dalk besef: dis ons almal sn en dit hou vir ons almal betekenis in n klip kan anker, vere maak n voëlvlug moontlik, sade kan groei en sê dit nie naastenby alles wat ons hoef te weet oor onsself, oor ons wêreld en oor God nie? |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |