
Nuwe boeke van 
Die storie van die Bybel ... en die storie daaragter
Die
Boek van alle tye
Deur Trevor Dennis
Vertaal deur George Weideman
ISBN: 0 7963 0250 2
544 bladsye
Sagteband
R149.95
Klik om hierdie boek te wen!
Hierdie publikasie is nog 'n uitmuntende werk in aansluiting by die jongste tendens om die verhaal van die Bybel in roman-formaat aan te bied. Hierdie titel is besonders in dié opsig dat dit die volle inhoud van die Bybel (klein profete, psalms, ensovoorts) bevatlik aanbied. Die primêre teikenmark is kinders wat te oud is vir Kinderbybels, maw senior laerskool en vroeë hoërskool. Dis egter só geskryf dat enigiemand wat die inhoud van die Bybel in 'n voëlvlug wil lees, dit sal geniet.
Die Boek van alle tye verskil opmerklik van ander soortgelyke oorvertellings in dié opsig dat elke hoofstuk 'n inleidende gedeelte bevat om die materiaal wat volg, in konteks te plaas. Daarby is die inhoud veel omvattender as enigiets anders op die mark. Die boek gee insig in die ontstaan van die Bybel as boek, in die breër raamwerk van die destydse wêreldgebeure, asook in God se pad met die mensdom.
Die boek is vertaal deur 'n baasverteller met jare se studie en ondervinding in die kerklike bediening. Die taal is lewendig en die aanbieding entoesiasties en verantwoordelik. Die bekroonde George Weideman het die Afrikaanse vertaling behartig.
Klik hier en neem deel
aan ons Die Boek van alle tye-kompetisie!
*
Maak en doen met die Bybel: Vindingryke handwerkprojekte wat Bybelverhale laat leef
Maak
en doen met die Bybel
Deur Gillian Chapman
(Ook in Engels beskikbaar as: The make and do Bible: Imaginative craft ideas
that bring the stories of the Bible to life)
ISBN: 0 7963 0393 2
109 bladsye
Hardeband
R89.95
Hierdie boek is nie net 'n handwerkboek nie, en ook nie net 'n Bybelstorieboek nie - dit is albei.
Maak en doen met die Bybel bied nagenoeg 50 handwerkprojekte na aanleiding van spesifieke Bybelverahle uit die Ou en Nuwe Testament. Die projekte wissel van heel eenvoudig tot meer ingewikkeld. Deurgaans word klem gelê op die goedkoop materiaal en benodighede en word sover moontlik probeer om afvalmateriaal en huishoudelike items te gebruik. Kinders word bekendgestel aan die Bybelverhaal en ervaar dan die opwinding om iets wonderliks uit byna "niks" te maak.
Neem byvoorbeeld die verhaal van Jesus en die vermeerdering van die brood en vissies. Die verhaal word kortliks vertel en geïllustreer. Dan volg 'n stap-vir-stap-projek om 'n van 'n plastiekbord 'n vis op mosaïek in ses eenvoudige stappe te maak. Op hierdie manier herinner die mosaïekvis die kind hoe Jesus die skare kos gegee het.
Maak en doen met die Bybel is 'n skatkis vol Bybelhandwerk. Die artikels kan as rekwisiete vir toneelopvoerings, geskenke of versierings vir die klaskamer gebruik word. Ouers, kategete en onderwysers sal die boek uiters nuttig kan gebruik. Die boek kan vir 'n wye ouderdomsgroep gebruik word deur die mate van volwasse hulp en die moeilikheidsgraad aan te pas.
*
Opstanding
Opstanding
Deur Julian Müller
ISBN: 0 7963 0409 2
109 bladsye
Sagteband
R69.95
Het Jesus na sy kruisdood weer lewend geword? Nee, dit is figuurlike taal van die Bybel, sal sommige sê. Inderdaad, Jesus se historiese opstanding uit die dood is die kern van die Christelike geloof, sal die meerderheid sê. Hierdie gesigspunte plaas die leser reg in die middel van die huidige debat oor Jesus en sy opstanding uit die dood.
Julian Müller probeer om in nuwe woorde oor die geloof in die opgestane Christus te praat. Hy wil veral nie "geleerd" glo nie, want, soos vir die eerste Christene, behoort die opstanding 'n misterie te bly. Die allerheiligste geloof in die opstanding is nie iets wat met fyn argumente in geloofsformules vasgevang kan word nie. Geloof in die opstanding is om te glo dat God 'n nuwe begin gemaak het. Die opstanding is nie bedoel as slagspreuk in die hand van gelowiges nie. Die opstanding wil mense met God se nuwe begin konfronteer: het dit in jóú lewe al begin?
Hierdie boek sal Christene beslis help om beter te verstaan wat hulle bedoel wanneer hulle bely dat Jesus uit die dood opgestaan het. Die boek is nie die opeenstapeling van bewyse vir die opstanding nie, maar 'n rigtingwyser wat uiteindelik hoop op 'n ontmoeting met die opgestane Here self.
LitNet: 11 Mei 2006
terug / boontoe
|