|
|
n Jaar van skoenlappers
Maar partykeer is staan darem lekker. Middel laasjaar nooi vriende ons uit vir ete. Onder die gaste is een jong en talentvolle paartjie: die man amper gekwalifiseerd as aktuaris, sy vrou in haar laaste mediese diensjaar. Hulle het nog nie besluit watter rigting hulle wil inslaan as altwee klaar is nie, antwoord die man op n vraag, maar dit lê tussen Engeland en Amerika. Onmiddellik n tasbare kloof tussen hulle wat gaan, en dié wat bly. Instinktief probeer die man die afstand oorbrug met begrip: hy is immers aktuaris, verduidelik hy; dis vir hom so natuurlik soos asemhaal om tendense te ekstrapoleer en as hy die toename in misdaad vat … Nee dankie, bokkie, hier wil hy nie kinders grootmaak nie. n Vreemde ding gebeur. n Paar jaar gelede sou woorde soos dié my angsvlakke terstond die ruimte in gelanseer het. Ek sou dae, weke getob het oor die wysheid al dan nie van my besluite oor my eie kinders en Suid-Afrika. Nou voel ek niks. Nie n enkele senuwee tintel eens nie. Ek is nie meer bang nie, besef ek verstom. n Bietjie selfingenomenheid, besluit ek, sal gepas wees. Enkele maande daarna val die tweelingtorings van New York. Saam met n gehoor van miljoene mense oor die wêreld versprei, kyk ek ongelowig oor en oor na n toneel wat ek tevore nog net in rolprente gesien het, altyd gevolg deur n lang lys name van akteurs, waaghalse en produksiemense. Buitekant die teater, het jy geweet, sou die mense op die doek voortgaan om vir die derde keer te trou, of nog n kind aan te neem, of sakkerige klere koop om op lughawens mee te verskyn. Maar nie hierdie keer nie. In die week van 11 September 2001 sien ek nóg n beeld op n skerm, dié een egter privaat, besigtig deur slegs n handjievol mense. Sonder die hulp van CNN om vir my in besonderhede te verduidelik wat daar aangaan asook wie die slegte ouens is en hoe die goeie ouens hulle gaan regsien is ek nie heeltemal seker waarna ek kyk nie. Wat ek wel weet, is dat hierdie beeld nie dramaties beter lyk as die eerste wat ek vier jaar gelede gesien het nie. Toe het dit die beendigtheid verklap van n skelet wat perfek sou gepas het by n vrou van tagtig, n pluimpie sou gewees het vir n dame van neëntig.
In die week van 11 September voel alles onwerklik, soos voorgee. Ek gee voor ek is n gesonde vrou in die fleur van my lewe wat my planne om eendag die Himalajas te gaan uitklim, slegs heroorweeg omdat soveel ander avonture wink. Dis maklik om my dit te verbeel: ek lyk immers gesond, ek voel gesond. As dit net nie vir daardie yl blou-en-rooi beeld op die rekenaarskerm was nie … Ek gee ook voor dat ek in n veilige en voorspelbare wêreld leef, saam met al die ander mense om my. Ek neem kinders skool toe, gaan koop kos, werk en slaap asof ek doelgerig besig is om voor te berei vir daardie wonderlike avonture wat ek vir eendag beplan het, en waarby al my geliefdes natuurlik ook ingereken is. Maar ek kan nie vergeet van die smeulende puinhope waar twee indrukwekkende geboue vroeër die hemel ingetoring het nie; nou verwronge staal, stof en stukke mens. Toe raak ek moeg van voorgee. Onder die sigbare lê onsekerheid daarvan kan ons nie wegkom nie maar onder die onsekerheid moet daar tog ook iets lê: iets dieper, groter, iets wat dieselfde sal bly al verander ons uiterlike wêreld ook hoe ingrypend. Ek dink aan al die mense wat hul gees lewend gehou het terwyl hul land, hul huis, hul liggame vernietig is. Ja, daar is iets wat kan bly, besef ek: die vermoë om te lag, lief te hê, skoonheid raak te sien en moontlikhede te bedink wat nie voorheen daar was nie. Dalk is dit wat vrede is, en vreugde. En alle mense kry gelyke kans om dit te skep, al verskil omstandighede ook. Niemand kan n boks vrede gaan koop en in n kas bêre saam met waspoeier en blikkieskos vir n dag van nood nie. Geeneen kan n stewige deposito van vreugde in sy bankrekening maak vir n donker uur nie. Elke dag begin ons almal van voor. In oomblikke van genade ontvang ons dié dinge wat regtig saak maak, soos n skoenlapper wat onverwags, vlugtig op jou hand kom sit voor hy wegfladder. n Dag n lewe is uiteindelik maar n lug vol skoenlappers. Nooit n gebou van n honderd verdiepings nie. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |