
Uit die boks
Geen gay-bloed, asseblief!
Willie Knoetze
Willie Knoetze sê die Bloeddiens se besluit is onlogies. Geen seksueel
aktiewe persoon behoort bloed te skenk as hulle dan sekere peste nie kan waarneem
nie. Hoekom word die GLA nog steeds toegelaat om onverantwoordelik namens LGBTIQ-organisasies
te dreig?
Dis 2006 en hoog tyd vir ‘n nuwe Boks om uit te pak, en ‘n goeie
plek om te begin is seker by die beste en slegste van die afgelope feesseisoen.
(Of altans, dit was my plan ... maar kom, laat my nie die proses vooruitloop
nie.)
Heel waarskynlik die onaangenaamste ervaring het plaasgevind by MCQP se jaarlikse
maskerbal. Die “It’s a Circus”-partytjie was heel lekker,
behalwe vir die episode by Inner Ring. Ek en Christo het, ná ons heerlike
rit op die rondomtalie, giggelend en nuuskierig rondgeloop buite, toe die ingang
van Inner Circle my aandag trek. So mince ons tot by die span wat die ingang
beman om uit te vind wat hier aangaan. Die drie figure in die oranje oorpakke
was ‘n span van Kaapstad se Triangle Project. (Ek moes snuf in die neus
gekry het toe hulle vra of ons beskerming het.) En net hier raak die hele gedoente
toe suur. Toe ek vra wat die Inner Ring nou eintlik is (dansvloer, kroeg, chill-room
of so), antwoord die man: “It is the inner sphincter of your arse!”
Ek meen: regtig. Hoe simpel kan jy kry? Lyk dit of ek nie die begrip donkerkamer
verstaan nie? En, in elk geval, hoeveel sfinkters het sý agterwêreld
dat hy kan onderskeid tref tussen ‘n “inner” en (vermoedelik)
‘n “outer”?
So, ja, dit was die laagtepunt van my vakansie.
Die hoogtepunt was my suster se verloofring. :) My aanstaande swaer is nogal
‘n wenner ...
Die 7-uur-nuus maak skielik inbreuk op my gedagtegang.
“My fok!!”
My pa stik amper in sy tunaslaai soos hy skrik. “Wat is dit nou?”
“Juan Uys, Pa ... Juan Duval Uys.”
’Skuus. Ek’s nou heel van my wa af. Maar ‘n nuwe
onaangename ervaring is besig om voor my oë af te speel. Ek kan nie glo
wie ek op die TV sien nie. (Mens kan weer gaan kyk, sou jy wou, by http://www.sabcnews.co.za/south_africa/health/0,2172,119438,00.html.)
Die immer onbeskikbare skim met die gat-oor-kop-konsepte van gelyke samelewings.
Die geheimsinnge nar van “gaypolitiek”. Die einste man wat my bloed
al soveel keer laat kook het dat mense my aansien vir ‘n stoomtrein, sit
in ‘n deftige pak en praat met die nuuskamera. Hier kom groot dubbel-K-senter-A.
Ek voel dit aan my bas.
Nou soos ek al vantevore gesê het (verwys http://www.litnet.co.za/gay/moffie_reaksie2.asp),
glo ek nie Uys se kop is heeltemal reg nie. En na aanleiding van die nuus is
ek doodseker hy’s mal. Dat een man met ‘n verdraaide verbeelding
en ‘n faksmasjien so droog kan maak ...
Uys speel weer GLA-GLA (Gay en Lesbian Alliance) en het hierdie keer besluit
om die Bloedoortappingsdiens aan te vat. En (soos mens teen dié tyd verwag)
hy maak net meer moeilikheid as wat hy help. Jy sien, hy’t besluit dat
die Bloeddiens se vraag oor man-tot-man-seks (indien ‘n man binne die
laaste vyf jaar seksuele omgang gehad het, anaal of oraal, met of sonder beskerming,
mag hy nie bloed skenk nie – SABC-nuus, 12 Januarie 2006) diskriminerend
is. Nie juis ‘n intellektuele sprong nie, maar dis wat volg wat my omkrap:
Uys se antwoord op die kwessie was om te dreig dat gay mans (veral MIV-positief-mans)
in hulle hordes sal gaan bloed skenk en lieg op die vraelys (SABC-nuus, 13 Januarie
2006).
Die landwye betogings en hofsake waarmee hy ook gedreig het, het nog steeds
nie gebeur nie. Volgens die SABC kon die Bloeddiens teen 18 Januarie nog geen
veranderings in die getal bloedskenkers waarneem nie. Sekerlik sou die GLA se
650 skenkers (SABC-nuus, 16 Januarie 2006) statistiese implikasies gehad het?
Kyk, ek dink ook nie veel van die Bloeddiens se beleid oor wie bloed mag skenk
nie. Inteendeel, volgens my is hul geskiedenis deurkruis met simpel regulasies.
Die eerste belaglikheid was (en is blykbaar steeds) die rasseklassifikasie
van bloed. Wat is die verskil tussen Asiatiese O-negatiewe bloed en Xhosa-O-negatiewe
bloed? As jy dit in ongemerkte sakkies sit, skommel en deur die normale toetse
sit, sou die een minder bruikbaar wees as die ander?
Net so in die geval van gaybloed. Die Bloeddiens se verweer is dat hulle toetse
nie alle goggas kan vang nie, dus word gay mans wat in die afgelope vyf jaar
seksueel aktief was, as “hoë-risiko” geklassifiseer. Belaglik,
as jy my vra. Wat is die verskil of daai “ontoetsbare” gogga nou
deurglip in ‘n gay man se bloed of in dié van ‘n (volkome)
heteroseksuele skoolhoof met sewe kinders en ‘n ding aan die gang met
die landskapargitek van langsaan?
En wie de joos dink hulle is hulle om te verkondig (by implikasie) dat alle
seksueel aktiewe gay mans ‘n pes onder lede het!!?? Asof paradysvoëls
nie al klaar genoeg stereotipering moet ervaar nie.
Moet tog net nie vir my sê dis die aard van ons seksuele omgang nie.
Ja, ons almal weet die sagte wand van die anus is vreeslik kwesbaar vir seksueel
oordraagbare siektes – so ook die binnekant van mens se mond. Maar heteroseksuele
vrouens gee tog ook vir heteroseksuele mans blowjobs. En heteroseksuele mans
en vroue doen ook soms die anale seks-oefening. Hoekom fokus die vraelys slegs
op mans wat met mans seks het? As die Bloeddiens so bang is vir ontoetsbare
siektes, moet hulle vra dat geen seksueel aktiewe persone bloed skenk nie. Dis
tog logies.
Maar wag, terug na Juan “GLA” Uys toe. Gaan die pers nooit leer
nie? Maak nie saak hoe sensasioneel die storie is nie – toets jou feite
en maak seker jou bron is betroubaar. Dat selfs die SABC nou al geloofwaardigheid
aan die poep-in-‘n-windstorm gee, gaan my verstand te bowe. Al die erkende,
sosiaal en/of polities aktiewe LGBTIQ-organisasies, -publikasies en ander verteenwoordigers
wat ek van weet, het hulle al herhaaldelik gedistansieer van die GLA. Niemand
van hulle (ons) erken Juan Uys (David Baxter?) as enigsins verteenwoordigend
van enige LGBTIQ-groep nie. Hoeveel keer moet ons nog aan die nasionale (en
na dese internasionale) media probeer verduidelik dat die GLA ‘n bedrogspul
is?
Hoe ernstig gaan ek opgevat word as ek begin verkondig dat ek die voorsitter
van die Aksiegroep teen Britse Imperialisme is? Dat my organisasie met ‘n
ledetal van 150 000 kan spog, en dat ons Vrydagmiddag elke Britse ambassade,
ambassadeurswoning, bank en petrolstasie met beesmis gaan gooi as hulle nie
uit Suid-Afrika skoert nie? Al wat ek tog nodig het, is ‘n briefhoof met
‘n hand vol onbekende name in die voetstuk, ‘n faksmasjien en ‘n
kooptyd-selfoon. (Die kans is in elk geval groter dat ek 100 mense gaan kry
om saam te betoog teen Brittanje as wat ek 100 paradysvoëls gaan kry om
bloed te skenk.)
Maar ja, blykbaar het die pers besluit dat ‘n storie goed is as dit skandalig
klink – ongeag die geloofwaardigheid daarvan.
En kan ek nou maar vra wie ly aan die einde van die dag as gevolg van al die
strooi? Wie se beeld word skade berokken en wie se integriteit, opinies, drome
en werk word hierdeur afgetakel? Joune en myne. Jou gewone paradysvoël
op straat. Jy wat hier lees, jou vriende en jou familie. Enige vordering wat
jy in jou eie omgewing gemaak het in terme van aanvaarding en respek, word nou
weer bedreig.
“Hulle is mos almal so.”
Wat kan ons hieromtrent doen? Ek stel voor ons daag die pers uit om, bo alle
twyfel, bewyse te lewer dat die GLA werklik is wat dit voorgee om te wees –
en te bewys dat wat hulle gerapporteer het, bo alle twyfel die waarheid weerspieël.
Laat die SABC en die grootkoppe in die koerantbedryf vir ons bewys dat hulle
hul huiswerk gedoen het.
Ek daag persoonlik elke verslaggewer, subredakteur en redakteur deur wie se
aksies die GLA skielik legitieme status verkry het, uit om te bewys dat dit
nie hulle was wat van hierdie miershoop ‘n berg gemaak het nie. Om te
bewys dat Juan Uys en David Baxter twee verskillende persone is wat aan die
hoof staan van so ‘n groot organisasie as wat hul gerapporteer het die
GLA in der waarheid is.
En indien dit nie bewys kan word nie, vra ek (persoonlik, as verteenwoordigend
van myself) nou reeds vir die BCCSA en die Openbare Beskermer om in te gryp.
In 2002 vang ek graad in Inligtingskunde
aan die US. Daarna vorder my driejarige obsessie met studentaktivisme (Lesbigay)
na 'n voltydse aanstelling by The Lesbian and Gay Equality Project in Jan'sburg.
Die direkte kontak met regse Religie het my bloed egter te veel laat kook
- toe trek ek see toe. Die Kaap was bietjie duur, nou druk ek besigheidskaartjies
in die Tuinroete. Hier gaan nie te veel aan nie, maar dis lekker.
|
 |
LitNet: 24 Januarie 2006
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA
boontoe / to the top
|