
Uit die boks
Ons, die paradysvoëls, kan trou!
Willie Knoetze
Willie raak skoon soppy ...
So ja, daar het jy dit nou: die hooggeregshof sê ons mag nou ook wettiglik trou. En trou soos in Trou – nie "civil unions" of een of ander tweedeklas-institusie nie – die hele maaltyd. Register, verwantskap en al. Ek is mal oor Suid-Afrika! Die feit dat die wet eers oor ‘n jaar volkome herskryf hoef te wees, is nie die ergste nie …
Inteendeel, dit gee baie lewensmaats nou genoeg tyd om voor te berei vir die groot stap! Trou is nie perde koop nie, jy weet.
Dis vir my nogal snaaks dat dit juis nou gebeur. Noudat ek omring is met troues. Nadine trou vanaand (ek sal moet vinnig skryf as ek nog wil titteweit) en Suster is goed op dreef om haar datums te finaliseer. Johan-hulle, Karin-hulle en twee van my nefies is ook sterk besig met hul uitrustings.
Eintlik is dit ‘n groot genade dat ek net twee hoef by te woon. (Soms werk homofobie in my guns.) My enkels sou nooit al die gerondhardloop kon hanteer nie! Vir ’n ontwerper is ‘n troue ‘n hengse klomp werk. Alles maak ‘n draai op jou lessenaar: van die eerste uitnodiging tot die dekor. En van jou as "token gay" is die estetiese verwagtinge net soveel meer!
Jissie, dink nou net hoe bedrywig dit volgende jaar gaan wees! Nou is ons nie net meer die kelners, blommerangskikkers, rokmakers en orreliste (en dominees?) nie – nou kan ons ook die egpaar wees! (Ek sal moet drafskoene kry.)
Maar dit is nie die grootste verandering op hande nie. Die belangrike dinge begin gebeur ná die seremoniemeester se babbelas bedaar het: die lewe daar buite.
Die wet erken nou ons verhoudings as legitiem. Ons samelewing is besig om te verander. Daar is geen rede om in die skadu te leef nie. Ons liefde word nou ernstig opgeneem.
En dis nie net belangrik vir dié van ons wat graag wil trou nie – dit verander die omgewing waarin elkeen van ons leef! Enkellopende paradysvoëls (my nuwe gunsteling-groepnaam vir ons LGBTIQ’s) leef nou in ‘n land waar dit makliker is om vrede te maak met jouself en jou mense. Nuwe generasies paradysvoëls kan nou grootword met meer en meer selfversekering. Om groot te word in ‘n plek waar ander mense wat soos jy aanmekaar gesit is, dieselfde hanteer word as jou maatjie se mamma en pappa ... wow! My hart wil sommer bokspring as ek dink aan die moontlikhede!
Om te dink dat elkeen van die kinders wat my skouers natgehuil het oor die jare, se drome nou op die horison staan en wag ... ek huil skoon van blydskap.
Ai, dat mens so soppy kan raak.
Maar wag, ek moet loop regmaak vir die troue. Hoe sal dit nou lyk as ek met rooi oë daar opdaag? En glo my, vanaand spring ek vir daai ruiker. Hopelik bring hierdie nuwe toekoms van ons ook iemand om die leë stoel aan my sy vol te sit.
In 2002 vang ek graad in Inligtingskunde
aan die US. Daarna vorder my driejarige obsessie met studentaktivisme (Lesbigay)
na 'n voltydse aanstelling by The Lesbian and Gay Equality Project in Jan'sburg.
Die direkte kontak met regse Religie het my bloed egter te veel laat kook
- toe trek ek see toe. Die Kaap was bietjie duur, nou druk ek besigheidskaartjies
in die Tuinroete. Hier gaan nie te veel aan nie, maar dis lekker.
|
 |
LitNet: 13 Desember 2005
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA
boontoe / to the top
|