|
Die poësie van Deon Knobel
Heart of darkness New York 1981
In twilight darkness of smoke-filled Mineshaft
Aan sy moeder By Chris 19/20 Februarie 1991 jou vermaerde oumanslyf
VIR ROY - I.L.Y. Jou vermaerde oumanslyf het ons rustig in jou bed laat lê
AGTERGROND VAN DIE GEDIGTE Deon Knobel, die jongste broer van Wilhelm Knobel, tree in Mei 2004 af as professor en hoof van die afdeling regsgeneeskunde aan die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe van die Universiteit van Kaapstad. Sy daaglikse hantering van die dood - nie alleen die uitvoer van regsgeneeskundige lykskouings nie, maar ook die interaksie met die bedroefde naasbestaandes en geliefdes - het hom intens betrokke gemaak by alle aspekte van droefheid en droefheidsberading. Die ervarings van skielike afsterwe in sy eie familie, insluitend die onverwagse dood van Wilhelm, het van hierdie onderwerp méér as teorie gemaak Danie Botha: In die jare tagtig van die vorige eeu besoek Deon en sy lewensmaat Roy die seksoorde in New York. Dit is een van die opwindendste ervarings in hulle lewens, maar terselfdertyd voel hulle aan dat daar met so 'n leefwyse op 'n wêreldwye gesondheidsramp afgestuur word. In "Heart of darkness" beskryf hy die toestande voor die identifisering van die VIGS-virus. Wanneer die siekte toeslaan, is Knobel op die voorpunt met die bestryding en stuit hy nie teen lykskouings op VIGS-slagoffers nie. Deon Knobel: Die gedig "By Chris" verwys nie alleen na die praktiese uitvoering van die lykskouing, waartydens groot sorg geneem moes word om besering van homself en sy assistente te vermy nie, maar verwys ook na die aandag wat op baie sensitiewe wyse gegee was aan die oorledene se moeder en haar behoefte om haar seun se liggaam te kon sien en tyd by hom deur te bring. Aanvanklik het die ondernemers, uit blote onkunde, geweier dat die liggaam en kis in die kapel geplaas mag word. Ná Deon se kortstondige en blitsige telefoniese inligtingsessie is nie alleen toegelaat dat die kis in die kapel gestoot word nie, maar ook dat die deksel oopgelaat was vir enige vriende en familie om hulle laaste eer aan hom te bewys deur besigtiging in die kis. Deon se betrokkenheid by VIGS-verwante lykskouings het ook 'n historiese agtergrond en was naamlik die gevolg van die weiering deur die sogenaamde akademiese patoloë om lykskouings uit te voer op persone wat aan VIGS gesterf het. Deon het geen besware gehad om hierdie taak te aanvaar nie, en het ook gevoel dat hy nie van sjirurge en ander geneeshere kon verwag om pasiënte met VIGS te behandel, en selfs op hulle te opereer, as hy self nie bereid sou wees om die lykskouings uit te voer nie. Hy het tot die middel negentigs 40 sulke ondersoeke uitgevoer en die bevindings op internasionale kongresse oor VIGS sowel as algemene patologie-kongresse voorgedra. Selfs vandag word slegs gedeeltelike lykskouings uitgevoer in sekere akademiese departemente, met die groot tekortkominge wat daarmee gepaardgaan. Met sy uittrede word vir die eerste maal erkenning gegee deur sy kollegas vir Deon se rol in die stryd teen die oortreding van menseregte in die behandeling van pasiënte met HIV/VIGS (Deon verkies HIV bo MIV - DB). Hy eis die etiese benadering wat betref toestemming vir HIV-toetsing, geen weiering van behandeling of ingrepe nie, en streng behoud van vertroulikheid van pasiënte-inligting. Groot teenstand word van talle kollegas ervaar, en daar word aanvanklik, en vir 'n lang tyd, geweier om aan die versoek te voldoen om 'n toegewyde HIV-kliniek by Groote Schuur Hospitaal in te stel om, soos Deon dit gestel het, "geneeshere die geleentheid te gee om vertroud te raak met die wyd uiteenlopende aspekte van HIV, en om te verseker dat pasiënte optimale behandeling ontvang". Daar word selfs by 'n spesiale vergadering van die destydse dekaan gesê dat dit nie nodig was om histeries te raak oor VIGS nie. "We have always had crusaders in our midst. Far too many people got onto the bandwagon of AIDS." Nadat Deon, toevallig via 'n NG-predikantsvriend, kennis gemaak het met Chris van dié gedig en dié se vriend Tino, is GASA 6010 se algemene gayverwante beradingsdiens, onder leiding van John Pegge, genader om ook betrokke te raak by HIV/VIGS-aangeleenthede. John Pegge het onmiddellik ingespring en uiteindelik is een van die eerste en beslis een van dié beste VIGS-beradingsprogramme in Suid-Afrika op die been gebring. Die samewerking van Deon met John Pegge en sy kollegas het plaasgevind nog voor die ontdekking van die virus in 1984. En in 1983 is seker een van die eerste inligtingsessies tot op daardie tydstip deur John Pegge en Deon Knobel aan die gaygemeenskap gelewer, en wel by die gayklub op die hoek van Waal- en Buitengrachtstraat, Kaapstad. Die gemeenskap is gewaarsku dat die siekte geslagsoordraagbaar is en dat dit feitlik 100 persent seker is dat dit deur 'n virus oorgedra word, alhoewel dit tot in daardie stadium nog nie bewys was nie. Lank voor die ontdekking van die virus is aanbeveel dat kondome te alle tye gebruik moes word, en as ekstra voorsorg kon Nonoxynil-9 as bykomende smeermiddel gebruik word, aangesien 'n substans wat 'n sperm kan dood, sekerlik ook die virus sou dood. In 1985 is die eerste inligtingsboekie vir die gaygemeenskap ook opgestel deur Deon en John as twee van die vernaamste medewerkers. En vir die heruitgawe die volgende jaar is befondsing verkry van die Rupert Stigting en sir Richard and lady Luyt. Deon het ook aanvanklik opgetree as gas-lektor vir die opleidingsprogramme aangebied deur ATTIC. Hy gee ook dosyne lesings by skole waar leerders, onderwysers en ouers almal saam die lesings kon bywoon. Hy woon ses internasionale VIGS-konferensies by en neem óf deel as spreker óf stal 'n plakkaat-voordrag uit. Verskeie artikels word in gesondheidstydskrifte sowel as gemeenskapskoerante geplaas, terwyl daar dikwels heftige briefwisselinge plaasvind in dieselfde media, meestal om Deon se argumente en standpunte aan te val. Tans is hy byna voltyds besig met die versorging en herevaluasie van die letterkundige nalatenskap van Wilhelm Knobel, ter voorbereiding van huldigingsgeleenthede en projekte ter viering van sy sewentigste verjaardag op 26 Oktober 2005. Danie Botha: In "By Chris" dui Deon tipografies aan dat hy aanhaal uit Wilhelm se "Op slag gedood". In "Vir Roy" bring hy hulde aan sy ontslape metgesel van 39 jaar.
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |