|
Die antwoord na n duisend vergane verhoudings?Kobus ErasmusAs kind het ek twee groot vrese gehad oor grootword. Die een was die straf van verpligte weermag wat my meedoënloos ingewag het. Ek het geweet as ek die dag my skoolboeke wegpak, sou ek onwillig n wêreld van selfs harder dissiplines en inperkings betree. My ander groot vrees was die wete dat ek eendag voor die kansel sou staan en aan die dominee en in God se aangesig sou sweer dat ek een of ander vrou vir ewig en altyd sal liefhê. Ek het reeds een keer vir die dominee gelieg toe ek plegtig by my aanneming beaam het dat ek bekeer is. Dit was makliker as om te erken dat ek nie verstaan wat dit beteken nie en weer eens n verduideliking oor die Drie-eenheid sou moes aanhoor. Maar die groot leuen oor die liefde wat my afgewag het, het die eerste onwaarheid na n skadelose wit leuentjie laat lyk. Ek het geweet dat ek nooit sulke gevoelens teenoor n vrou kon hê nie, maar die valse ritueel was duidelik so onvermydelik soos die twee jaar weermag. My pa en ma, my broers, susters en almal wat ek ken sou die dag daar wees as ek myself voor die kansel verloën. Tydens die onthaal sou ek met oortuiging n toespraak lewer en terwyl ek voor vriende en familie my oneindige liefde aan my stomme wederhelf uitspel, sou my vriende my uitjou met Hy lyk vir my so baie na tant Koek se hoederhaan. Die mees kommerwekkende deel van die hele affêre was dat die gemeenskap altyd daar sou wees om toe te sien dat ek hierdie valse belofte uitleef! Groot was my verligting toe ek eendag, ná die wroegende aanvaarding van my gayheid, besef dat ek vele vlieë met een klap doodgeslaan het. Nooit sal ek voor n dominee of n magistraat, die gemeenskap of enige familielid hoef te staan om seremonieel gevoelens te beloof wat nie bestaan nie. Sedertdien het ek selde aan die huwelik gedink. Ek was oortuig dis n sinlose instelling wat my gelukkig nie meer raak nie. n Mens kan nie iemand anders se liefde in n kontrak vasteken nie, het ek geglo. As jy iemand liefhet, sal jy natuurlik by die persoon bly, ongeag of dit op papier staan of nie. Om trou af te dwing in n kontrak beteken amper dat jy erken daar is twyfel. Dis tog iets wat van jou hart moet kom en nie deur wette vasgelê kan word nie. Soms het ek gewonder of straight mense trou net omdat dit van hulle verwag word en of hulle wérklik glo in die trou wat hulle beloof. Opreg of vals, dit is duidelik dat mense hulself nie ligtelik in die eg verbind nie. Ja, skeisake is aan die orde van die dag, maar gaan beslis nie ongesiens verby nie. Min mense tree in die huwelik met die gedagte: Ag, as dit nie werk nie, dan skei ons maar weer. In die afgelope tien jaar het ek n paar ernstige gay-verhoudings en baie ligte flirtasies gehad. Ek het nooit n ernstige verhouding begin sonder die hoop dat dit deur dik en dun sal staan nie. Ten spyte van alle goeie bedoelings, het al my verhoudings geëindig, lig of swaar, maar sonder seremonie. Die familie was nie daar om geskok te vra wat dan verkeerd gegaan het nie. Hoe sou ek ná die afloop die erns van my stille liefde aan hulle oordra? En my gay vriende? Hulle was nie geskok of selfs verbaas nie, net jammer vir my. Hulle gaan immers self deur die een tydelike verhouding op die ander. Die meeste gays leer op die harde manier dat n verhouding selde op eie stoom vir n leeftyd staan. Wanneer die bande van liefde dun raak, is daar geen strukture of stemme van aanmoediging om ons deur te dra nie. Ons leef met die verlies van elke vergane verhouding en soek hoopvol na die volgende. Ons weet n duisend vlugtige verhoudings kan nooit n leeftyd van trou vervang nie, maar trap keer op keer in die strik van nuwe liefde. Ja, miskien is die huwelik tóg die antwoord, ook vir ons. Ek beloof trou aan jou. Ek sal by jou staan deur die goeie tye en ook die slegte, as jy dieselfde vir my sal doen. Laat my ook die belofte van liefde maak teenoor die persoon van my keuse. Ek wil ook die geleentheid hê om myself in die eg te verbind, ten aanskoue van vriende, familie en diegene wat koggelend my erns wil tart. En dan neem ék ook die gemeenskap as my getuie en gewete in hierdie belofte. Wanneer my hart versuim, sal julle my help om hierdie trou te behou. Intussen beplan ek solank die okkasie … Soms lê ek op loer vir die persoon van my keuse. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |