|
Hoe werk Monster met jou?Janie SmitJanie Smit was met dié film in die binnekamer van iemand wat net liefde wou gee en terug ontvang. Met die inskuif verby die knieë let ek op dat elke liewe stoel gevul is. Onwillekeurig wonder ek of almal hier is om die blonde Charlize te bewonder, of om meer uit te vind oor die lewe van Aileen Wuornos. Sommer in die openingstoneel word dit duidelik dat die skoonheid van Benoni nie in die rol is om haar skoonheid ten toon te stel nie. Die storie beweeg teen n gevaarlike pas, en, ten spyte van die waarskuwings oor seks, geweld en taalgebruik, was dit die emosionele krag van die gebeure en die karakters wat my vasgenael gehou het. Geen maklike film om sommer net so te gaan kyk, omdat jy niks anders het om te doen nie. Die interaksie tussen die hoofkarakters is net rou emosie, en Christina Ricci as Selby in haar vooropgestelde onskuld is so n groot dryfveer vir die aksies wat geneem word deur Charlize (Aileen Wuornos), dat ek onwillekeurige op sommige plekke meegevoel gehad het met Aileen. Nie met hoe sy die saak benader het nie, maar wel met haar plan om n doelwit te bereik. Gedurende die film word dit al hoe duideliker dat dit elke keer om iemand anders se doelwit gaan, nooit om hare nie. Die skote waar intieme oomblikke tussen Aileen en Selby uitgebeeld word, is nie met sensasie belaai nie – niemand van ons se intieme oomblikke is werklik sensasioneel nie. Aileen het uiteindelik n rusplek gevind waar sy gedink het dit warm en veilig sou wees, maar die nuanses van waarom Selby éintlik aan haar vasgeklou het … dít was sensasioneel in die hoogste graad. Aileen besluit om werk te soek, en dis hier waar mens eintlik agterkom hoe sosiaal en emosioneel onvolwasse sy op haar ouderdom was. Ook noem sy dat sy op dertien reeds skool verlaat het en n kind laat aanneem het. Sy besef as n jong kind dat niemand na haar luister nie; sy vertel haar pa van die nagmerrie wat haar lewe in daardie stadium is, net om verder gestraf te word. Sy aanvaar konstant verantwoordelikheid vir ander se probleme en probeer om op haar manier drome vir ander te laat waar word in ruil vir die liefde wat sy nooit ontvang het nie. Sy is oortuig daarvan dat Selby lief is vir haar, en uiteindelik was dit natuurlik haar end. Selby, vermoed ek, het meer wetend as onwetend deel gehad aan die gebeure wat uiteindelik tot Aileen se doodstraf gelei het. Alhoewel Selby telkens net groter druk op die verhouding uitgeoefen het om te kry wat sy wou gehad het, sou sy gedurende die verhoor sonder emosie vinger wys en haar geheel onttrek aan die gebeure. Voordat ek die film gesien het, was daar natuurlik soveel geskryf en gepraat in die media dat ek voorbereid was op geweldig grafiese detail met betrekking tot die verkragting en die moorde. Weer eens was ek so weggevoer deur die emosies in die tonele dat ek later mooi moes gaan sit en dink of die geweld my werklik geraak het. In konteks, natuurlik, het Aileen geweldig koelbloedig opgetree, maar hoe die verandering eerste in haar kop plaasgevind het, word so duidelik uitgebeeld dat die kyker meegevoer word om amper die hoekoms en waaroms te wil verstaan. Deur die hele film is sy soekend, net op soek na erkenning vir iets, vir haar, dat sy daar is en bestaan. Haar beste vriend, wat maar geduldig wag vir die huur wat sy skuld, en drankies en kos aanbied, het haar nie eens in haar uur van nood te hulp gesnel nie. Sy het hom so onskuldig vertrou dat sy nie kon agterkom hoe skielik hy van baken na ligtoring verander het nie. Mens kan nie uitstap ná die vertoning en nie verstaan waarom Charlize die Oscar ontvang het nie. Dit was nie haar skoonheid nie, nie die filmsoene nie; dit was sy wat Aileen geword het twee ure lank. Die hele film is in n maand voltooi, en dit maak sin, want niemand kan daardie soort intensiteit vir langer onderhou nie. Iewers moet iets in jou, soos in Charlize, agterbly, en sal jy in jou alleen tye teruggevoer word na die binnekamer van iemand wat net liefde wou gee en net liefde terug wou ontvang. “No man is an island” – John Donne
LitNet: 16 Maart 2004 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |