Affaire: n reeks
Joan Hambidge
1 Love is in the air
Per afspraak
ek en jy
in n hotelkamer
ek hou jou dop in die spieël
jy verwyder eers jou trouring
dan die horlosie
bind jou vlashare vas
jy kyk tersluiks na jou lyf
jy weet nie ek koekeloer nie
sien elke merk, litteken op jou lyf
n entmerk
vir ons liefde geen antidoot
geen kuur
op afspraak
per kode (lui die telefoon 1 keer)
sodat hy nie moet weet
ons sien mekaar
in n driester-hotelkamer nommer 66
liefde op aanvraag
per bestelling
miskien miskien is ons lankal verby die vervaldatum
van ons (maak liefde net voor Nuwejaar)
jy trek die lakens terug
ek ruik Mentadent P op jou lippe
die hartstog tap my af
o bitter woorde lê tussen ons
oor hom
die Gideonsbybel waarsku:
die bragter van slegte tyding se oë word uitgesteek
verblind deur hartstog soen ons ek glip
in jou in alle paaie wys na genot
Waarmee is ons besig? vra jy.
Jou tong in my mond
n swaard in haar skede
stadig trefseker dodelik
en garde
ons sterf saam onder die wit lakens
bibberend van begeerte nogmaals weer
Sou hy weet? wonder ek.
Wanneer sien ons mekaar weer? wonder jy.
Jou selfoon lui.
Ek sien sy naam
flits soos n gewete.
2 Ontmoeting
Jy praat in n kil stem
ek weet hy luister
n vals gesprek, naam
n regte plek, alibi
tydsduur presies
hora est
jy laat jou motor in n parkeergarage
om tien voor twaalf tel ek jou op
net voor die kanonskoot
ons ry n ompad
my oë in die truspieëltjie op die uitkyk
vir sy Mercedes 300 E
ons ry na my plek
ons loop apart die trappe op
ek sluit die deur oop maak die vensters oop
die lakens blakenwit
jy trek dadelik uit ek skink vir ons n drankie
jou sarong val oop
Kom ons dans, versoek jy. Dont sleep in the subway, darling
kweel Pet Clark toe jou sarong afval
en ek jou nakont
sien.
3 Een nag
slaap jy oor
toe hy op n besigheidstrip gaan,
maar ons beide slaap onrustig
so asof
die hele nag
n derdemannetjie, n pretbederwer
tussen ons
waak.
4 Soms
Soms ontmoet ons mekaar
professioneel in die openbaar.
Die man met die sonbril in Colcacchios
waarskynlik n speurder. Ons het alibis:
ons bespreek n kontrak.
Daar lê soveel woorde tussen ons
wat jy op e-pos uitwis.
Ek behou alles. Versamel elke uiting
vir al die aande alleen
wanneer jy sy woorde aftel
om agter die kap van sy byl te kom:
vermoed Meneer dat Mevrou
besig is om te slaap by n ander Vrou?
Of dink Meneer steeds dat Mevrou
net van hom en sy status hou?
5 Ander kere
laat jy onverwags weet:
vanaand is onmoontlik. Of gaste
uit n ander stad lê besoek af oor Kersfees
en Nuwejaar. Dan wag ek soos n bedelaar
op n boodskap, n sein, n oproep.
Party kere raak jy bang. Hy sal nie skroom
om n speurder aan te stel … of n prokureur.
Of miskien is jy eerder houtgerus
besig om die plaat aan beide kante te speel.
En ek? Is ek toegerus
vir die ewige, aanhoudende, durende wag?
6 Iteratief-duratief
Jy bel vroegoggend
klokhelder jou stem.
Geluk met jou verjaarsdag.
Te bang om te vra of ek jou vandag sal sien
tussen familieverpligtinge en -vieringe deur.
Ek wag. Op die foon,
Voordeurklok …
Jou foon lui beset, twee keer klink jou stem
formeel op die antwoordmasjien.
Ek laat geen boodskap. Trek die blindings toe
vir n siësta. Dink hoe jy gister beloof
het jy sal wegvlug …
In n helder droom sit ek aan jou verjaarsdagtafel.
Jy laat na om my te voed. In die badkamer
stort water uit die muur. Jy draai die kraan toe.
Ek verlaat die besige huishouding sonder om jou
te groet. Jy hardloop agter my aan: roep woedend
na my.
Toe ek wakker skrik
is daar geen boodskap, sms of e-pos.
Ek vier die einde van ons verhouding
met jou verjaarsdagsjampanje.
En leer die wag af.
Alleen. Soos dit n geleentheidslover
betaam.
7 Die trane die rol oor jou bokkie
Uiteindelik praat ons.
Wat het jy vandag gedoen?
Gewag gemaak van jou.
Soos n wagter op die toring.
Wagtend, wagtend.
Geskryf … dag jy kon wegvlug? ...
Onmoontlik … maar dit was aaklig
om sonder jou die dag te vier.
Maar jy het beloof?
Nee, ek het nie.
Jy hét.
Verstaan skielik die droom
van water wat teen die muur afstort:
verbyster oor daar
soveel trane te stort is
oor iemand wat jou vooraf waarsku:
Ons mag hieroor nooit treur nie;
ons het lief op geleende tyd.
Maar soos gewoonlik het ek die fyndruk
van die kontrak verkeerd gelees.
8 Onthou, jy mag nooit oor ons skryf nie
Want jou man sal vermoed
en jy mag dalk ook verhoed
dat ek voyeur-voyeur speel
en woorde uit jou mond steel.
9 Love on the rocks
So keer ons weg van mekaar
twee geliefdes
twee minnaresse
twee ekse nou
eens n item
eens saam.
Toe breek ons verhouding
soos n skip oor n rots
nee, eintlik meer
opsienbarend
dramaties
onverwags
onherroepelik
soos n gesloopte gebou
wat insak op sy struktuur
toe hy jou e-posse lees
my nommer op jou sel ontdek
en verdomp - as toegif - n rekening
vir whisky-on-the-rocks in jou handsak
uitsnuffel
soos n bloedhond.
10 Sliding doors
Ons lewe apart van mekaar,
slaap apart,
kla by terapeute apart,
ly apart.
Tog voel ek jou steeds aan.
Is die deur nie gesluit nie.
Laasnag lui my voordeurklok,
maar ek antwoord nie die deur nie.
Deur hoeveel onthoue
moet ek gaan om te vergeet?
Ek hoor die windklokke
van ons verlies eentonig, eentonig lui.
n Spirituele raadgewer lui n Tibetaanse klok
oor my lyf se energie-velde:
sluit die chakras oop. Die twaalfuur-kanon
slaan dawerend en luid: ek tel n glasskoentjie op.
11 Om n sinkende skip agter te laat
n Skip
soos n verhouding
sink selde sonder waarskuwing.
Oor die Titanic
verneem ons hoe die ysberge
gevaarlik uittroon. En die kaptein
volhou alles is onder beheer.
Totdat water in die buik
insypel: alles onder druk plaas.
Om dekstoele op die Titanic rond te skuif.
So was dit met ons. Lank voor my vertrek,
om die sinkende skip blou te verf,
kon ons snags nie slaap nie. My drome
soos my gedigte stuur S.O.S.e.
Die laaste ure glo was daar paniek.
Rangordes uitgewerk oor wie eerste
moet vertrek. Party het verdrink,
ander verkluim in die yswater.
Nader my God by U. n Gedig
is soos n sinkende skip. Dit lê
soos die Titanic in die onbewuste.
Geberg tussen rommel, geroeste materiaal
en vele stiekem afsprake …
Veral die gedigte soos ysberge.
Ons verhouding kon nooit sink nie.
Daarom was daar te min reddingsbote
aan boord. Hierom staan ons beide
ontnugter, verontrus, onkant betrap
oor ons verhouding op haar nooiensvaart
spektakulêr en pynlik
op die rotse is. n Liefde verby voor dit
eintlik afgeloop is. So n liefde vergeet jy nooit.
Jy verklaar dit tot besienswaardigheid.
n Liefde op geleende tyd. Bedryf in gesteelde ure.
Onverpoosd soek jy na juwele onderwaters.
You never finish a poem;
you just abandon it. n Skip is n verhouding
sinkend
boontoe / to the top
|