|
Rolf is doodEgon se nuusbrief uit Israel
Nee, julle ken nie vir Rolf nie. Hy is ook nie gay nie. En nou maak dit nie meer saak nie. Rolf is dood. Sommer net dood. Sonder rede, sonder waarskuwing – dood. Hy’t gaan slaap en nie weer wakker geword nie. Só het sy sussie hom gevind – in ‘n rustige, ewige slaap. En die slim mense in hul moderne, professionele patologielaboratoriums weet ná ‘n week nie veel meer nie: sy hart het gaan staan. Net dit: Rolf is dood. Nou vra ‘n mens jou af: Hoe kan ‘n gesonde, fikse, intelligente, sjarmante jong man van 27 jaar gaan slaap en nie weer wakker word nie? Wat kan die rede wees? Wat is die doel? Is daar ‘n doel? Hoekom hy, wat alom as lief en goed beskryf word? Hoekom so jonk? Dis die vrae waarmee my kinders my bombardeer oor die telefoon, al weet hulle dat ek geen antwoorde het nie.
Toe ons onlangs almal saam in Berlyn gekuier het, het my twee seuns by Rolf in sy studentewoonstel op die vloer geslaap. Dit was Rolf wat, toe hy hoor dat my dogter wil gaan salsa dans, uitgevind het waar en wanneer en ons almal opgekommandeer het sodat Sussie ‘n onvergeetlike aand van pret kan hê. My dogter skryf aan sy suster Ulrike: “Die Donderdagaand het ons gaan salsa dans en ek onthou hoe jou broer ‘n paar indrukwekkende danspassies uitgevoer het. Ek onthou dat hy so gretig was om nuwes te leer dat ek skoon duiselig was en dat my voete die volgende oggend nog gepyn het! Hy was so warm en vol pret.” Op haar beurt skryf Ulrike aan my: “Hy was nie net my broer nie, hy was my beste vriend!” My oudste seun is stukkend. Rolf was een was sy beste vriende, al het hulle so ver van mekaar gewoon. In Junie-Julie 2001 het hulle mekaar in Suidoos-Asië ontmoet en saam deur Indonesië gereis en "kamodo dragons" gaan kyk. Hulle het beplan om Desember vanjaar saam met Judy in die Rooi See te gaan duik. So baie planne, soveel drome lê in skerwe. Goddank het hierdie kind van my ‘n spesiale meisie wat dié soort seer ken: sy moes verlede jaar ‘n liewe, goeie vriend net so skielik help begrawe. Sy skryf aan my: “Ek kan ook sien dit alles het ons weer laat besef daar is te min tyd om nie te sê hoe mens voel nie.”
Rolf is dood. Hoekom? Daar is geen universele antwoord op hierdie soort vraag nie, maar ek glo ons kan sin gee aan sy dood juis hierdeur: dat ons herinnerings sal bou wat die toets van die dood kan weerstaan; dat ons vergifnis vrylik sal gee aan dié wat ons kwaad aangedoen het; dat ons liefde, omgee, erbarming sal toon by elke moontlike geleentheid. Johann Rossouw het in sy vyfde nuusbrief uit Taiwan geskryf: “ … gesprekke gaan aan oor hulle werk, hoe belangrik hulle werk is … Hulle praat oor dié een en daai een. Dié een beskinder daardie een … Hier maak dit nie saak … wie ook al met dié een of daai een se ‘boyfriend’ seks het nie. Wat maak dit saak?” Goeters, werk, status maak nie van ons iemand spesiaals nie – dis dinge wat vinnig deur mot en roes vernietig word. Die dinge wat bly staan, wat tel, is: integriteit, die vermoë en bereidwilligheid om liefde en omgee te wys, eerlikheid – die dinge wat oor Rolf geskryf kan word. En dit is ook van hom vertel vóór sy dood. Dit was een rede dat die seuns die uitnodiging na Berlyn so gretiglik aanvaar het: "Ma, jy moet hierdie vriend van my leer ken – hy’s spesiaal!” het my oudste my ingelig. Dit het ek reeds vermoed, want tydens my oppakkery vir my trek na Israel teen Desember 2001 is ‘n boks met al my seun se goed van die bakkie af gesteel en het hy al sy aandenkinge aan sy reise verloor. Stilletjies het ek sy epos-adreslys gebruik en sy vriende om hulp gevra: Rolf was die enigste wat dadelik gereageer het en foto's deurgestuur het. Van die ander het ek nooit ‘n woord gehoor nie – ek neem aan hulle was besig met werk, studeer en toekoms bou! Só het ek Rolf oor die internet leer ken en nou is hy dood. En, ja, hy was dit alles en nog groot pret daarby.
“Ek het net goeie herinneringe aan hom,” sê my dogter deur haar trane heen ná ek haar van sy dood oor die telefoon vertel het. En ek vra myself af: Sal enigeen dit van my kan sê? En van jou? Rolf is dood, maar hy lewe voort in ons gedagtes en in die uitdaging wat sy lewe bied aan ons om te herbesin oor die bydrae wat ons lewer in die wêreld waarin ons leef – hier in Israel, daar in Suid-Afrika, waar ook al. Maak dit ‘n positiewe verskil?
Naskrif: Alle foto's is geneem deur my oudste seun, Ben, tydens ons besoek aan Berlyn in Julie 2005 – sien Nuusbrief 24.
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |