|
Nuwe bure!Egon se nuusbrief uit Israel 30Dis ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe begin – hierdie nuwe woonstel van ons. Dis stiller en groter. Ons het selfs ‘n kantoor met twee lessenaars en die rekenaar waar ek sit en skryf terwyl ek die kom en gaan in die straat kan dophou. Op die boekrak langs my is al ons woordeboeke byderhand – Engels-Afrikaans, Engels-Hebreeus, Hebreeus- Duits, Engels-Spaans (Judy s’n), Etimologies en selfs die nuwe HAT. Oudstudent Meir het die boekrak gebou. Toe Judy hom bel om sy hulp te vra, wil hy weet: “Is jy nog saam met Egon?” “Maar natuurlik,” antwoord sy hom vinnig. In die groot oop-plan sit-eetkamer-kombuis kry Ouma se vertoonkas van circa 1930 met sy loodglasvenstertjies skielik komplimente van studente wat al twee jaar langs dié vertoonkas in die ou woonstel gesit en Engels studeer het. Ons versameling Afrika-diere en -houtvoëls maak die herkoms van minstens een van ons duidelik vir enigeen wat deur die deur kom. Die huisbaas bring vir my ekstra sleutels en vra of die mense in my Ruben Mapangane-skildery familie is. Mens hang mos nie vreemdelinge teen jou muur nie. “Natuurlik, hoe dan anders?” verseker ek hom sonder ‘n sweempie van ‘n glimlag. Per slot van rekening, ek het so pas in die Jerusalem Post gelees dat die Herkomssentrum wat Mbeki in Johannesburg gestig het, sal kan bewys dat ons almal oorspronklik uit Afrika kom! En in stilte moet ek bely dat as ek verlang, gesels ek met hulle, want dan vermoed ek hulle verlang ook en ons luister na Ladysmith Black Mambazo of Coenie de Villiers of Koos Kombuis se “Almal wil ‘n huisie langs die see hê!” En soms drink ons ‘n klein glasie Soetkaroo Muskadel wat my vriendin Colleen uit Stellenbosch gestuur het, om ons harte warmer te laat klop. In die maande voor ons uit ons ou woonstel getrek het, het ons onbeskryflike probleme met die bure gehad – soveel so dat dit in die hof beland het. Nou vra iedereen wat ons ken: “Hoe is julle nuwe bure?” Die antwoord verdien ‘n hele nuusbrief! Op die dag dat ons hier ingetrek het, moes ek die bure in nommer 1 gaan vra om asseblief hul motor te skuif om die aflaai van ons meubels te vergemaklik. Die vrou en haar seun is baie vriendelik. Ek kan nie help om op te let watter mooi goue ketting sy dra nie. Hy trek dadelik die motor weg. “Hulle woonstel is nogal ghrênd,” vertel ek Judy, “en sy’t die mooiste juwele aan!” Later word ons gewaarsku: “Pasop vir haar man. Hy’s van die Groezeni-mafia en werk boonop vir die Ontvanger!” Sjoe, dis ‘n kombinasie. Die Groezeni is die Jode uit Georgia, en toe hulle oorspronklik hier aangekom het, was hulle bekend daarvoor dat hulle hul perde in die trapportaal gehuisves het. In ons dorp behoort die meeste van die juwelierswinkels aan Groezeni. “Verbeel jou,” sê een student, “’n Groezeni-mafialid werk in die belastingkantoor! Seker sodat die juweliers minimum belasting hoef te betaal. Pasop wat julle voor hom sê of doen!!” Met die indra van vol bokse en uitdra van leës ontmoet ons ‘n jong man wat in nommer 2 woon. Hy’s baie vriendelik en ons dink: “Dis gaaf!” Later kom sy ma kennis maak en so tussen die gesels deur ontdek ons hy’t net vir die naweek kom kuier. Haar naam is Giselle en sy is reeds sestien jaar geskei. Sy praat vlot Frans, Engels en Hebreeus, want haar familie kom oorspronklik uit Algerië in die tyd toe dit nog ‘n Franse kolonie was en almal Franse paspoorte kon kry. Sy het jare lank op ‘n kibboets hier in die streek gewoon, maar is daar weg ná haar egskeiding. Voor ons koms is twee van die inwoners oorlede. 'n Meisie in die woonstel bo ons is deur ‘n busbom gedood, en die volwasse seun van die gesin in die "penthouse" het onlangs in ‘n fietsry-ongeluk omgekom. Hy was ‘n kampioenfietsryer en die ongeluk het baie persaandag geniet. Die vrou in die mini-penthouse is ‘n oudstudent van Judy. “Ek sê jou mos, hier is almal aan almal verbind!” merk Judy op. “O,” vra die vrou – haar naam is Esther – “gaan julle twee die woonstel deel? Interessant!” en sy bekyk my tydsaam op en af. Ek is geweeg en vermoedelik te lig bevind. “Hoekom is haar Hebreeus so sleg?” wil sy verder weet. “Ag, nouja,” troos ek myself later, “ek hou van ons Franse buurvrou!” En, asof sy my oordeel reg wil bewys, kom klop sy gister weer aan ons deur – duidelik is sy sommer net lus vir kuier. Sy sit rustig aan tafel terwyl ons voortgaan met bokse uitpak en ek tussendeur ook probeer kos maak. Sy kyk na die foto's van my kinders en vertel dat sy destyds haar man vir haar "lover" verlaat het en dat dit nogal aan die begin vir haar kinders moeilik was. Ek snap nie dadelik nie. Sy vra my uit oor hoe ek en Judy mekaar ontmoet het, of dit maklik vir my was om burgerskap te kry. ensovoorts. Ek verduidelik aan haar die proses wat ek moes deurgaan voor ek om burgerskap kon aansoek doen. “Jan is Engels,” vertel sy. “Sy stel al baie jare belang in die Judaïsme. Dis wat haar na die kibboetse gebring het. Sy het saam met my in die kombuis gewerk en daar tussen die uie en die knoffel het ons verlief geraak!” Die lig gaan op; die klokke lui. “Ag, Egon, word tog wakker!” berispe ek myself. Toe begin ons nou regtig lekker gesels. “Die dag toe julle ingetrek het, het my seun dadelik kom sê: 'Ma, die nuwe bure is jou soort mense!' en was ek bly toe ek sien hy’s reg! Daar’s nie baie van ons in die dorp nie.” “Dis vir seker waar, alhoewel onder van die jong mense dink ek tog daar is ‘n paar couples. Maar mens bly maar versigtig!” “Terloops, watse gedierte sit onder daai tafel? Ek dog julle mag nie diere hier aanhou nie,” vra Giselle effe bekommerd. Ons lag – sy’s nie eerste een wat skrik nie. “Dis Hippy, ons houtseekoei uit Zimbabwe wat nog nie ‘n goeie blyplek gekry het nie. Nou kruip sy weg tot al die gepak en geskuif verby is,” verduidelik ek aan haar. Ons ontdek dat ons meer as net ons seksualiteit gemeen het: sy is ‘n opgeleide kok en gou praat ek en sy kos, resepte, speserye. “Ek het nie ‘n motor nie. Kan ek saamry as jy weer Faisal toe gaan?” “Vir seker.” U sal onthou dat ek u al voorheen aan Faisal bekendgestel het (in nuusbrief 10). Vandag toe ons moeg en honger van ons "belly dancing"-klas by die huis aankom, wag Giselle vir ons. “Dis net ‘n proetjie van die sop waarvan ek jou gisteraand vertel het,” en sy oorhandig ‘n pot groentesop. Die geur van die vinkel kielie my honger terwyl ek dit verhit. Later, terwyl ons heerlik smul daaraan, sê Judy: “Weet jy, ek onthou nog toe sy van haar man weg is. Die hele dorp het gegons met die storie: ‘n vrou van kibboets A verlaat haar man vir ‘n ander vrou! Verbeel jou so 'n ding! Destyds het ek maar stilgebly.”
Verbeel my so ding? Maklik!
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |