|
Die waarde van boeke!Egon en Judy vier Boekmaand in Israel Nuusbrief uit Israel 21 She said, "We don't have a dance library." I said, "Israel isn't
even a country - it's a book club - and you don't have a dance library?" Junie is ons nasionale boekmaand in Israel. Patrick O'Connor, Ierse Katoliek uit New York, VSA, het 'n punt beet: tradisioneel is Jode fanatiese lesers, praters en natuurlik skrywers. Let maar op na van die Joodse Nobelpryswenners vir letterkunde, soos Boris Pasternak (1958), Saul Bellow (wat nou die dag oorlede is), Isaac Bashevis Singer, wat nogal in Jiddisj geskryf het, Suid-Afrika se Nadine Gordimer, en Imre Kertesz, die Hongaar wat eenmaal gesê het: "Wanneer ek begin dink aan 'n nuwe boek, dink ek altyd aan Auschwitz." Ek lees op die oomblik sy Kaddish for an Unborn Child - weird, maar wonderlik! Tydens Boekmaand is daar tafels in ons hoofstraat waar almal deur boeke staan en blaai - storieboeke, kookboeke, binnehuisversierboeke, kunsboeke, bergklimboeke … Maar die mooiste is die kinderboeke. Ek is nog nie heeltemal reg om ouma te word nie, maar, glo my, die versameling kinderboeke op ons rak groei. Hulle het dikwels 'n boodskap, maar dis die illustrasies wat eerste die oog trek. Dis eers as Judy vir my begin lees dat die dubbele wonder van hierdie boeke my tref. "Ja, kom ons vat maar dié een huis toe - dan lees ek dit vir jou op die bed!" sê Judy - miskien hoop sy om so my Hebreeus terselfdertyd te verbeter. Dit moes lankal as waarskuwing gedien het van waar ek sou eindig toe ek besef het dat as ek moet kies tussen 'n boek koop en kos koop, wen die boek elke keer! Gelukkig deel Judy my passie. Tydens 'n vyf-dae-kuier in Londen was ons in vyf museums, by drie musiekkonserte, een "show" (Vagina Monologues), en het ons ook minstens tien boekwinkels, indien nie meer nie, besoek. Ons studente was geskok om te hoor, maar miskien nie verbaas nie, dat ons nie eers in één klerewinkel was nie - nie eers 'n skoenwinkel (wat my ander passie in my hetero-dae was) nie! Maar ons het twaalf nuwe boeke huis toe gebring. Terloops, daar is geen belasting op boeke in Engeland nie! 'n Pel met wie ek al baie sakke sout opgeëet het en amper soveel bottels rooi wyn gedeel het, het uit Stellenbosch kom kuier. Toe hy uit die lughawe stap, dra hy swaar - en nie net al aan die een kant nie - want hy bring 'n nuwe uitgawe van HAT (noodsaaklik vir hierdie nuusbriewe aan Gay@LitNet), Leipoldt se Food & Wine (die beetresep op bladsy 124 moet geproe word!), Edwin Cameron, Insig, Femina en vele ander; plus natuurlik twee bottels sjerrie, want dit kan mens glad nie hier koop nie en daarsonder raak my skattebol mistroostig! En hy bring my verjaarsdagspresent van my dogter: 'n boek. Maar nie sommer 'n boek vinnig gekoop by Protea Boekhuis, 'n "Marlise-waarvan-sal-my-ma-hou?" soort boek nie. Nee, hierdie boek het sy - en 'n anderhalf dosyn vrinne - vir my geskryf. Dis vol foto's en versies, Bybeltekste en resepte, goeie wense en herinnering uit dae toe ons saam my verjaarsdag kon vier. Ek sit op die dubbelbed langs Judy en ek huil. Huil en lag soos ek dit lees, want wat 'n mooier geskenk kan mens ooit kry as dat jou kinners en vrinne en hul vrinne saamwerk om vir jou 'n skatkis woorde te skep? Op die voorblad is 'n portret van my ma, mooi soos 'n Vogue-model. Binne is 'n foto van 'n dogtertjie op pad na die Roosbal - mooier as enige Vogue-model. En ek dink: ja, ek is ryk, skatryk aan herinneringe, ryk aan vriende, ryk aan kinders wat verstaan dat om 'n boek vir hulle ma te maak is kosbaarder as enige geskenk wat geld kan koop. Want 'n boek het mens altyd by jou, kan jy altyd weer geniet. Dit bly en bly en bly en gee later weer genot. Goddank vir boeke: van die Grootboek wat lig op ons lewenspad is tot die kleinste, die een wat ons kinders vir ons maak wanneer hulle skaars kan skryf, en die duisende wat ons wêreld vergroot, verryk, wat ons troos as ons te alleen voel om selfs 'n pel te bel, wat ons vertel ons is nie so anders of dof of moeilik as wat mense ons soms vertel dat ons is nie. Boeke - saam met lekker eet en drink - is seker die wonderlikste gawe wat mens ooit kan geniet.
En Israel is vol daarvan. In Jerusalem en Tel Aviv en Haifa sukkel ek om myself uit die verskeidenheid boekwinkels, veral dié met tweedehandse boeke, te kry. Daar is vir my iets magies aan 'n boek wat iemand anders al gelees en geniet het - of miskien nie geniet het nie en juis daarom kry die boek nou 'n tweede kans om plesier te verskaf. As klein dogtertjie het my oupa Gert my geleer om by elke basaar en mark die boektafel met dié soort boeke deur te snuffel en te verken. Dié gewoonte het ek nog nooit ontgroei nie. Ek vat my pel uit Suid-Afrika na 'n paar boekwinkels hier naby en glimlag as hy sommige boeke besnuif - so kan mens gou agterkom of die vorige eienaar dalk 'n roker of wierookbrander was. Dalk het hulle baie skerpgekruide kos so saam met die lees geniet. In 'n ou Pessach Hagada - die liturgiese gids vir die avondsmaal aan die begin van die pasga - vind ek matza-krummels en wonder wie almal daardie aand om die etenstafel gesit het.
In Haifa ken hulle al die twee Engelse onnies wat ook boeke geskik vir hul studente soek, en in Jerusalem groet hulle my soos 'n ou bekende. Ons nuutste ontdekking is Schatzstraat. Lyk van die staat af na niks, klein en tot oorlopens toe vol, maar dis gewoon in 'n stad met van die duurste huur ter wêreld. Maar as jy die moed het om deur die klein deurtjie in die regter, agterkanste hoek te stap - versigtig vir die smal, steil trappe - maak kamer na kamer voor jou oop terwyl jy dieper en dieper soos 'n myner onder die stad in sak. Daar's 'n eerste uitgawe van Michener se The Source, geskrifte deur rabbi's uit elke eeu, en dan sommer ook elke uitgawe van Harry Potter in Engels en Hebreeus; ek het nie gekyk nie - heel waarskynlik is die Spaanses ook daar.
En as die ou Birmaanse teak-kas jou geval, kan jy dié ook sommer koop. In die verskillende gemakstoele wat rondstaan, lê-sit en lees verskeie klante, en uit een, van onder 'n baie groot boek, hoor ek 'n sagte snorkie! Ek neem plaas agter 'n groot lessenaar met my stapel. "Waar gaan ons hulle almal sit?" vra Judy benoud. "Ek weet nog nie, maar as jy die helfte van joune terugsit, sit ek die helfte van myne terug," bied ek aan. Ons loop uit met net 14 boeke - sy ses, ek agt, maar haar ses is groter en dikker en sal meer plek vat as my agt! En die tuisgemaakte boek uit Suid-Afrika lê in elk geval langs my in die bed, onder die kussing om haar te beskerm teen die muskiete en motte wat om die lig saamdrom! Want van sit en staan, bly lê en lees die lekkerste!
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |