|
Waar lę die geluk vir gay vroue - in die Kaap of Israel?Egon kuier uit Israel aan die Kaap - met vreugde, hartseer en verwarring. Sy het vrae oor vyandigheid en die "homofobiesheid" van ouer Kaapse vroue. Nuusbrief uit Israel (en die Kaap) 14Ek en Judy was kort voor haar vertrek terug na Israel by 'n glansfunksie in Kaapstad. In die tou om wyn te kry sien ek 'n ou kennis vlak voor my staan en groet haar. Sy kyk my 'n oomblik geskok aan en sę sonder om te dink: "Wat maak jy hier?" Wat maak ek hier by hierdie funksie? Wat maak ek hier in hierdie inkoopsentrum? Wat maak ek hier in Kaapstad? Wat maak ek hier in Suid-Afrika? Ek vra nie op watter vlak die vraag lę nie. Sy kry tog gereeld my omsendbrief, wat sy skynbaar nie lees nie, alhoewel haar partner minute later te kenne gee hulle lees dit wel. Ek antwoord maar die vraag op die oppervlakkigste met "Ons soek ook maar net iets om te drink!" "O," en sy draai weg om te konsentreer op haar soeke na wyn. Ek kyk na Judy en sy lig effens haar skouers. "Never mind. It's not important!" Maar die vraag agtervolg my, en soos ons ander ou bekendes groet, word dit soms op dieselfde toon gevra en soms uit opregte belangstelling en vriendelikheid. Ek wonder oor die rede agter sommige mense se vyandigheid; is dit omdat ek - wel uitgenooi - by 'n funksie is ter ere van 'n vriendin met wie my verhouding skeefgeloop het? Of is dit omdat ek die land verlaat het, my elders gevestig het en nou duidelik gelukkig is? Maar belangriker, ek bly myself afvra: Waarom is ek hier? Waarom woon ek sulke funksies by? Waarom het ek na Marita van der Vyver en Ampie Coetzee gaan luister by die Afrikaanse fees by die Hoërskool Jan van Riebeeck? As ek dan so gelukkig daar oorkant is, wat soek ek nou juis hier? Die ooglopende rede is dat my dogter matriek skryf en ek haar kom ondersteun en matriekafskeidrok help maak - die dinge kom doen wat 'n ma graag in so 'n belangrike stadium van haar kind se lewe wil doen. Maar is dit al? Ek sit by die Radison en drink 'n glasie wyn saam met 'n ander vriendin. Terwyl ons uitkyk oor Tafelbaai geklee in die veranderende kleure van die sakkende son, gesels ons oor presies hierdie dinge. Met verstomming onthou sy dat sy dieselfde soort reaksie al ervaar het en ons gesels oor hoe 'n mens hierdie besoeke aan jou voormalige vaderland hanteer. Waar pas jy in en wat kom soek jy nou eintlik hier? Marita van der Vyver het in haar lesing daarop gewys dat haar besoeke gewoonlik rondom die publikasie en promosie van 'n boek draai. Duidelik is dit nou nie by my die geval nie. En die kinders bied ook nie genoeg rede nie; hierdie keer miskien nog, maar oor 'n paar jaar as hulle dalk nie al drie hier is nie? Sou daar dan nog 'n rede wees om te kom besoek aflę? In vorige nuusbriewe uit Israel het ek die probleme van gay wees in daardie situasie uitgewys. Is daar tog by my 'n nuuskierigheid om te sien of dit vir my en Judy hier makliker sou wees? Sal ons as gay egpaar hier meer openlik met die gemeenskap kan omgaan as in Israel? As besoekers voel ons net so vry as wat ons in München of Hanover gevoel het. Maar is dit die belewenis van ons gay susters wat hier woon en werk? Ek vra niemand direk nie, hou hulle liewer dop op plekke soos eersgenoemde funksie, waar daar genoeg was om 'n lesbiese drukgroep te stig. Sommige koek saam soos bye om die heuningpot, maar dis 'n uitgesoekte groepie met intieme verbintenisse aan die eregas, waarby die meeste nie ingesluit word nie. Al is Kaapstad veronderstel om een van die gayhoofstede van die węreld te wees, lyk die meeste van hulle nie meer gemaklik met hul gaystatus in die openbaar as by ons in Israel nie. Inteendeel, daar is 'n bewussyn van die maatskappy se moontlike afkeuring wat ek oral onder my generasie bespeur. Ek dink terug aan gesprekke met verskillende vroue hier oor die jare heen en meen: nee, Kaapstad is nie soveel makliker om in te woon as miskien Tel Aviv nie. Maar meer nog, dis asof ek 'n sekere "homofobiesheid" onder van my tydgenote bespeur. Een vrou het dit só aan my gestel: "My partner en lover is 'n vrou, maar ek wil nie geëtiketteer word as lesbies nie!" Is dit dan nie presies wat lesbies is nie? Niks meer en niks minder nie? 'n Ander vrou gee my 'n stapel lesbiese literatuur met die woorde: "Ek wil niks lesbies in my huis hę nie; dit walg my." Maar sy is al in lesbiese verhoudings die afgelope 40 jaar lank! Hoe moet 'n mens dit verstaan? Nog 'n ander beweer by geleentheid: "Om 'n ligte affair met 'n vrou te hę, is problematies: hulle word so maklik deur die sagtheid en die liefdeswoordjies verlei!" Nou hoekom, dame, is jy net in verhoudings met vrouens? Dis duidelik dat ek onder hierdie vroue geen antwoord sal vind op die vraag: Wat maak ek hier? nie. En miskien soek ek op verkeerde plekke na die rede. Vanoggend toe ek wakker word, voel ek 'n oomblik lank erg verward. Ek is nie onmiddellik seker waar ek my bevind nie, en dan onthou ek en ek voel dankbaar dat die son skyn en ek die dag saam met my dogter by die maak van 'n eksotiese rooi rok kan deurbring. En ek weet wat ek hier maak. Ek kuier op Stellenbosch saam met drie wonderlike kinders wat bereid was om hul ma se ongewone keuse om hulle te los sodat sy haar droom in 'n ver land kan najaag en vervul, te aanvaar, en wat haar in die donker dae haar ingepraat het. Ek kuier hier saam met vriende wat my vergewe dat ek in die tyd voor ek hier weg is, soms ernstig aangejaag het in my verwarring om moeilike besluite te deurleef. Ek kuier saam met nuwe kennisse wat van dit alles niks weet nie, maar tog 'n deel van die storie wil geniet en sommer net meer wil weet oor 'n ander realiteit en węrelddeel. Ek kuier hier sodat ek my kan verlustig in die natuurskoon van ruwe berge wat eindig in die see en eikebome wat al dekades lank patrone gooi bo-oor die klam kolle om die wit mure in Dorpstraat. Ek kuier hier met vreugde en hartseer, en soms groot verwarring, totdat ek na my nuwe vaderland kan terugkeer om agter die blad van my geliefde te kan inkruip en te weet waar my tuiste nou is. Dankie, Collette, vir die vraag!
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |