|
Die ongedanste dans: Twee laaste briewe van Johan van RooyenJohann de LangeEk het die eerste keer van Johan van Rooyen kennis geneem toe ek 'n Engelse gedig van hom in Standpunte te lese gekry het. 'n Uitstekende gedig. En die digter was duidelik ook van die geneentheid. Ek het 'n gemeenskaplike vriend gevra om my aan Johan voor te stel, maar dié wou nie. Pleit & skimp het nie gehelp nie. Uiteindelik het ons mekaar wel ontmoet. Ek kan nie meer presies onthou hoe & waar nie. Dit kon by 'n boekbekendstelling gewees het, of hy kon dalk ingestap het by Exclusive Books in Sunnypark waar ek destyds gewerk het. Ewenwel, ons het onmiddellik gekliek. Johan was gulhartig, warm, 'n vrye gees. Hy het 'n unieke manier van praat gehad, sy eie maniërismes, gunstelingwoorde soos "toes". En hy was luidrugtig. Sy rookomfloerste stem & lag was uitbundig. Oor sy gedigte het hy min gepraat, behalwe om te sê dat hulle moeilik kom, & dat hy nie weet waar die meeste van hulle is nie. Iewers in bokse of lêers. Ek het hom aangepor om op soek te gaan, want ek was honger vir nog meer, & ek het gedink hulle behoort gebundel te word. Elke dan & wan het hy my een in die hand gestop wat ek sorgvuldig in 'n lêer gehou het totdat daar genoeg sou wees vir 'n bundel. Maar dit het nooit gebeur nie. Iewers in die chaos van my studeerkamer lê daardie lêer nog steeds & wag. Johan was 'n rustelose gees. Hy het gou verveeld geraak die oomblik as hy iets bemeester het. Hy was nie een wat op sy louere kon rus nie. Altyd nuwe uitdagings, altyd aan die beweeg. Hy was stigter-redakteur van De Kat, later ook redakteur van Tuinhuis en Lantern (later Vuka). Hy was een van die mees begaafde mense wat ek ooit ontmoet het, iemand van wie jy kon leer. Van musiek, skilderkuns, boeke. Hy had 'n feillose oog vir gehalte, & 'n versamelpassie wat van die huis in Pretoria wat hy met lover Riek gedeel het, die wonderlikste eklektiese plek denkbaar gemaak het. Wat ek na baie jare steeds onthou, is 'n verslaande antieke spieël met 'n somberswaar houtraam & twee reusagtige Vlaamse kaste. Johan was pret om mee saam te wees. Ek onthou 'n kort vakansie by sy houthuis op Boknes - toentertyd nog deur sy pa gebou met die dik kratplanke waarin trekkers destyds op die spoorweë vervoer is. Onderweg soontoe het ons 'n aand by die Podlashucs in hulle pragtig gerestoureerde huis in Port Elizabeth oornag. Etienne Leroux het sy roman Sewe dae by die Silbersteins, wat in 1964 met die Hertzogprys bekroon is, aan die Podlashucs opgedra. Dit was egter die kuslandskap & die voortdurende stryd met die elemente wat vir my as binnelander fassinerend was. Kusdorp Alexander Podlashuc (van Russiese afkoms as ek reg onthou - hy het vir my & Johan ou sepia foto's gewys van familielede in hulle fleur & ons het behoorlik gekwyl by die skoonheid van sommige, & gerou omdat hulle deur tyd & noodlot vir ewig buite ons bereik geplaas is) was in daardie stadium 'n baie gewilde illustreerder vir De Kat. Hy was 'n aangename man & maklik om mee te gesels. Heeltemal anders as sy vrou, Marianna, uit eie reg 'n talentvolle, hoewel 'n meer troebel kunstenaar. Sy, kort & met 'n Breughelagtige voorkoms, is in Nederland gebore, het in 1952 na Suid-Afrika geëmigreer & is in 1957 met Alexander Podlaschuc getroud. Tydens ons besoek was sy beneuk & ons het uit die staanspoor nie gekliek nie. Elke poging van my om 'n "maklike" gas te wees, so het dit vir my voorgekom, was 'n persoonlike affront. Ek & Johan het ons in die sitkamer tuisgemaak saam met Alexander toe haar kort gestalte stuurs in die deurkosyn verskyn. Sy wou weet of ek wil koffie hê. My antwoord - net as sy vir hulle ook gaan maak - was nie wat sy wou hoor nie. Die ketel is aan, so wil jy nou koffie hê of nie? Nurks. Die aand besluit ek om Port Elizabeth se naglewe te gaan verken & vra of sy vir my 'n sleutel het sodat ek hulle nie wakker maak as ek inkom nie. Nee, sy sal wag. Dit mag dalk laat wees? Maak nie saak nie, klop my dan maar op. Ek het my op die plek vererg & gesorg dat ek haar die oggend vieruur opklop, in haar lang wit nagkabaai soos iets uit Chaucer. Johan was filosofies daaroor. "Die goeie vrou het dit nie maklik nie," het hy die volgende oggend opgemerk. Die week saam met Johan in sy vakansiehuis was heerlik. Ons het baie eenvoudig geleef. Vuur gemaak om te kook, ver moes ry om te gaan shop, ons verkneukel aan die kostelike eenvoud van sulke kafeetjies, nagte om gesels. In "Strandhuis" figureer Johan ten slotte as "'n nukkerige Teiresias". Strandhuis Ek het lang ente met die stormagtige strand langs geloop & relikwieë teruggebring: skulpe, die versaakte harnas van 'n krap, 'n klip wat lyk soos die torso van 'n seun kompleet met fallus. En gedigte geskryf. "Strandwandeling" was my "antwoord" op Wilma Stockenström se "By L'Agulhas 'n wandeling": Strandwandeling Die wilde see by Boknes het vir my iets gehad van die Afrika waaroor Wilma dit het "wat nog so vriendelik niks prysgee". Die vakansie was 'n wonderlike ding wat Johan vir my gedoen het, juis op 'n tyd toe ek aan lager wal was. Die nuus van sy dood het my onkant gevang. Ons het in 'n baie lang tyd nie kontak gehad nie & ek het nie besef hoe hy agteruit gegaan het nie. Ek was weldeeglik bewus van 'n selfdestruktiewe streep in sy persoonlikheid, & dat sy lewe op 'n manier 'n selfmoord in stadige aksie was, 'n gestadige dood, maar dit was nie ongewoon by só 'n kreatiewe mens nie. Ek is nietemin oorval deur 'n gevoel van verlies, & het terug gedink aan reëls van Thom Gunn: X Ons laaste keer saam was 'n ete by die Vineyard-hotel waar hy tuisgegaan het tydens 'n besoek aan die Kaap. Ek het (met huiwering) die uitnodiging aanvaar: ek was sélf maar baie broos in daardie stadium & nie seker of ek oor die innerlike reserwes beskik het vir 'n aand alleen saam met Johan nie. Ná 'n paar bottels wyn was daar nie huis te hou met hom nie, & in sulke omstandighede het hy dikwels onvergeeflike (alhoewel soms uiters vermaaklike) sosiale flaters begaan, soos die keer toe hy 'n burgemeestersvrou heel eie op haar boud geklap het. Ek het sélf 'n keer of wat sulke walpurgisnagte meegemaak, wanneer Johan begin praat het oor jeugletsels, sy ouers, begin wroeg het oor wat hy gesien het as 'n verknoeide lewe. En uiteindelik die onbeheerste trane. Die aanslag van soveel rou emosie was vir my te veel. Maar die aand by die Vineyard-hotel het goed verloop. Ons het lekker gekuier & ek is relatief vroeg daar weg. Toe op 'n dag vroeg in 1999 kry ek via Philip de Vos 'n pakkie van Johan: 'n getekende eksemplaar van DF Malherbe se Agterland, & 'n brief. Die brief was ongewoon. Ek kan nie dink dat ek, in al die jare wat ons mekaar geken het, ooit van hom 'n brief gekry het nie. Of een vir hom geskryf het nie. Ons het mekaar altyd gebel, of van aangesig tot aangesig te siene gekry. En die emosionele intensiteit, die onverwagse uitreiking, het my ontstel: Liewe De Lange Ek het nie geweet wat om daarvan te maak nie. Aan die een kant was dit vintage Johan - ek kon hom hóór praat terwyl ek dit lees; hy skryf altoos soos hy praat - maar aan die ander kant was dit vreemd: hy het nooit in al die jare wat ons mekaar geken het, laat blyk dat hy hom oor die koers van my skryfwerk bekommer het nie. En oor watter boek het hy dit gehad? Tog seker nie Nagsweet nie. Hy het self laat blyk dat hy van die geil gedigte gehou het, & het selfs toegelaat dat ek twee waterverwe wat Walter Battiss vir (& van) hom persoonlik gemaak het, op die omslag gebruik. Kon dit Vreemder as fiksie wees? Ek weet dat hy ontsteld was oor die koers wat Koos Prinsloo met sy fiksie ingeslaan het & die wyse waarop hy dinge wat in vertroue vir hom vertel is, gebruik het in sy stories. Ek het gemengde gevoelens gehad oor die brief: dit was baie ontroerend, maar (het ek gevoel) ook ietwat patroniserend. Of nie? Ek het getob oor hoe om daarop te reageer. Een nag laat, toe die slaap uitbly, het ek 'n brief begin: "Liewe Johan, dis laatnag, die slaap bly uit, & jou brief is ongemaklike kooigoed …" En daar het ek vasgesteek. Ek het 'n ietsie onder die tong gesit & uiteindelik ingesluimer. Met die verloop van tyd het dit al hoe moeiliker geword om op sy brief te reageer. Uiteindelik het ek so lank getalm dat dit nie meer sin gehad het nie. En toe daag die volgende brief op. Steeds:
Soebatsfontein De Lange! Die tweede brief was nóg meer ontstellend. Die opgewekte toon & lawwighede het iets donkerders verdoesel. Hy het uitgereik na my; hy wou iets van my hê, iets vir my sê. Ek het nie geweet hoe om daarop te reageer nie. Die onbeantwoorde brief het ook swaar tussen ons gelê. En die Malherbe waarvoor ek hom nie bedank het nie. Weer het ek pen op papier gesit. Verskillende aanslae probeer. Maar een aanhef na die ander het in die asblik beland. 'n Keer daarna het ek hom in Seepunt sien uitkom by 'n kafee, maar ek het die straat nie oorgesteek nie. Uit skuldgevoel, maar ook uit selfbehoud. Ek het stil bly staan & hy het my nie gesien nie. Hy het baie oud gelyk, & gebroke. Bleek, & met die yl hare. Van die mens wat hom 'n leeftyd lank omring het met mooi dinge & vriende, was daar net 'n afskynsel. Ek het nie die straat oorgesteek nie, want ek wou my beeld van hom behou, hom nie toelaat om dit te ontluister nie. Geleentheid om met hom te praat, in lewende lywe, het nie weer gekom nie. Met die nuus van sy dood het ek die verweerde rooi Malherbe uitgehaal. Toe ek dit oopmaak, val sy twee briewe uit & ek lees hulle weer, asof vir die eerste keer. En meteens verstaan ek wat hy wou, dat hy lig wou reis, dat hy uiteindelik ook oor homself gerou het. Oor wat kon wees. En toe kon ek huil oor hom. Oor ek hom nie gerusgestel het nie. Met 'n ietsie op skrif. Verkieslik op papier. Vir 'n ou vriend, alleen op Soebatsfontein.
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |