|
Uit in die kuberruim: Enkele waardetoevoegings en uitdagings ten opsigte van Gay@LitNet binne Suid-Afrikaanse konteks1Neil CochraneOp 'n internasionale konferensie oor seksuele aktualiteite het Neil Cochrane van die Universiteit van Pretoria se Departement Afrikaans in November 2005 'n lesing oor Gay@LitNet gelewer in Wenen. Hy het dit vir ons verwerk. Extract This article investigates the nature, role and contribution of Gay@LitNet as an electronic alternative for the publication of gay literature in South Africa. Attention will be given to the manner in which Gay@LitNet acts as a public forum for nurturing gay identity within the current socio-political context of South Africa. A brief summary of the current socio-political situation of South African gays will be given in order to place the discussion in the necessary context. Secondly, an evaluative description of the dynamics of Gay@LitNet will be given, whereafter a few value-adding properties and challenges concerning Gay@LitNet will be discussed.
1. Inleiding Hierdie tendens duur tydens die negentigerjare voort met die verskyning van gaybloemlesings soos Wisselstroom: homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns (1990) saamgestel deur Hennie Aucamp, The Invisible Ghetto: lesbian and gay writing from South Africa (1993) saamgestel deur Matthew Krouse en Kim Berman, en Soort soek soort: ’n versameling alternatiewe ervarings (1997) saamgestel deur Johann de Lange, terwyl Slagplaas (1992) deur Koos Prinsloo en Die Soft Rock Klub (1995) deur Danie Botha belangrike toevoegings is tot die vestiging van openlike gayseksualiteit binne die Afrikaanse kortverhaalkuns. Met die publikasie van Afrikaanse gaybloemlesings word aangesluit by internasionale bloemlesings soos The Faber Book of Gay Short Fiction (1991), The Penguin Book of Lesbian Short Stories (1993), The Penguin Book of Gay Short Stories (1994), The Penguin Book of International Gay Writing (1995) en The New Penguin Book of Gay Short Stories (2003). Die ontwikkeling van ’n gay-idioom binne die Afrikaanse literêre sisteem word in stand gehou met tekste soos Swart koring (1996), Swart sluier (1998), Die Judaskus (1998) en Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het (2001) van Joan Hambidge, en Vreemder as fiksie (1996) van Johann de Lange. Laasgenoemde tekste van Hambidge en De Lange lewer ’n belangrike bydrae tot die uitbreiding van ‘n postmoderne idioom binne die konteks van gayliteratuur en genderkwessies en sluit hulle grootliks in dié verband aan by die vroeë tekste van Koos Prinsloo. Hambidge lewer ’n vernuwende bydrae deur dominante patriargale sisteme binne die populêre letterkunde (insluitende die liefdesroman, hygroman en speurroman) deur middel van parodie te ondermyn in tekste soos Swart koring en Swart sluier (Cochrane 2004). In 1999 verskyn Bly te kenne Braam van Clive Smith, wat vir die eerste keer in Afrikaans ’n swart perspektief bied op die gay-ervaring (sien Crous 2005:134-149). Die vestiging van Homeros as onderafdeling van Tafelberg-Uitgewers in 1999 lewer ’n belangrike bydrae tot die uitbreiding van Afrikaanse gayliteratuur binne ’n populêre konteks. Met die publikasie van gayliteratuur met ’n sterk populêre inslag (wat liefdesromans, erotiese literatuur en rillerromans insluit) bied Homeros ’n korrektief op die bestaande kanon waarin heteroseksuele waardes reeds ’n geruime tyd domineer. Publikasies wat in dié verband genoem kan word, is: ‘n Man se man (1999) van Brandt Vermeer, Blomme vir Leon (2000) van Victor Malherbe, En toe kom die reën (2001) van Robert Young, Nagvoëls (2001) van François Loots, en Om liefde te score (2002) van Pierre Uys. In 2001 publiseer Homeros Party van ons: die Homeros leesboek, wat kortverhale, poësie en artikels insluit. Naas populêre werke publiseer Homeros belangwekkende literêre werke van gevestigde outeurs, soos Tweede natuur (2001) van Johann de Lange en Hittegolf: wulpse sonnette met ‘n nawoord (2002) van Hennie Aucamp. Homeros bied aan debutant gay skrywers die geleentheid om te publiseer en dra by tot die ontwikkeling en vestiging van ’n nuwe generasie gay skrywers in Afrikaans. François Loots se debuutroman, Nagvoëls, verskyn by Homeros, waarna sy tweede roman, Lente in Beijing (2003), by Tafelberg verskyn. Die belangrikheid van Loots se werk word gereflekteer in Kannemeyer se opname daarvan in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (2005), waarin hy beide romans positief beoordeel en die volgende uitspraak oor Lente in Beijing lewer: “Dit is veral die osmotiese oorgange tussen hede en verlede wat die roman besonder laat slaag” (2005:623). In 2002 loop Homeros tot niet, met die gevolg dat Gay@LitNet in November 2002 as ‘n aanvullende platform tot die reeds gevestigde e-joernaal LitNet gevestig word.
2. Vertrekpunte Eerstens sal ’n kort oorsig gegee word van die huidige sosiopolitiese posisie van Suid-Afrikaanse gays, met inbegrip van sosiopolitiese ontwikkelings die afgelope dekade. Tweedens sal ’n beskrywende evaluasie van Gay@LitNet gegee word, waarna enkele waardetoevoegings en uitdagings bespreek sal word. Ek sal waar toepaslik verwys na insigte wat verwerf is na ’n e-pos-onderhoud (November 2005) wat met Danie Botha (hoofredakteur van Gay@LitNet) gevoer is3. Die relevansie van hierdie artikel word onderstreep deur die volgende uitspraak van De Wet (2003:316): Die stand van Afrikaans in ’n wêreld van interaktiwiteit en e-kommunikasie lyk nie goed nie. En dit terwyl webwerwe en die internet juis internasionaal gesien word as ’n ondersteuning van veeltaligheid en ’n uitkoms vir ekonomiese gekneldheid. Die vraag is: wat kan/wil rolspelers in die Afrikaanse letterkunde, soos literatore, navorsers, skrywers, uitgewers, boekhandelaars en, ja, ook lesers daaromtrent doen?Die artikel wys daarop dat daar wel oor die afgelope tyd vordering gemaak is met die ontginning en vergestalting van Suid-Afrikaanse literatuur en identiteite binne ’n spesifieke e-omgewing.
3. Kontekstuele oorsig Die politieke transformasie van 1994 het ’n positiewe invloed op die beskerming van minderheidsregte in Suid-Afrika gehad. Die nuwe Grondwet wat op 8 Mei 1996 aangeneem is, maak voorsiening vir die beskerming van verskeie minderheidsregte. Artikel (9) 3 van die Grondwet verbied diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie. Die relevante artikel lui soos volg: The state may not unfairly discriminate directly or indirectly against anyone on one or more grounds, including race, gender, sex, pregnancy, marital status, ethnic or social origin, colour, sexual orientation, age, disability, religion, conscience, belief, culture, language and birth.Hiervolgens word Suid-Afrika die eerste land ter wêreld wat ’n eksplisiete verwysing na “seksuele oriëntasie” in sy Grondwet insluit. Sogenaamde “horisontale” diskriminasie deur gewone landsburgers word verbied deur Artikel 9 (4), wat die volgende stipuleer: No person may unfairly discriminate directly or indirectly against anyone on one or more grounds in terms of subsection 3.Hierdie stipulasies is in skerp kontras met die situasie voor 1996, toe Suid-Afrikaanse gays geen wetlike beskerming geniet het nie en vervolg kon word vir sodomie, onnatuurlike misdrywe en ander statutêre misdrywe wat in die Wet op Onsedelikheid (Wet 23 van 1957) ingesluit is. Vir meer volledige beskrywings aangaande die historiese ontwikkeling van gayregte in Suid-Afrika kan Male Homosexuality in South Africa: Identity formation, culture and crisis (1992) deur Isaacs & McKendrick en Defiant Desire (1998) deur Gevisser & Cameron geraadpleeg word. Ná 1996 verklaar die Konstitusionele Hof alle verwysings na sodomie in die gemene reg, tesame met ander diskriminerende statute, as ongrondwetlik. Die afgelope dekade vind belangrike ontwikkelings plaas om die regte van gays uit te brei, soos byvoorbeeld aanneemregte, regverdige behandeling in die werkplek en antidiskriminasie-regulasies met betrekking tot immigrasie en kunsmatige bevrugting. Die jongste ontwikkeling is ’n uitspraak in November 2005 deur die Konstitusionele Hof wat die Parlement verplig om binne twaalf maande bestaande wette sodanig te wysig dat dit voorsiening vir gayhuwelike maak. Indien die Parlement nie binne twaalf maande gehoor hieraan gee nie, sal die Wet op Huwelike van 1961 outomaties herskryf word om die woorde of gade in te sluit. Daarmee sal Suid-Afrika die eerste Afrikaland en die vyfde land ter wêreld (naas Nederland, België, Spanje en die Verenigde Koninkryk) word waar gayhuwelike dieselfde wetlike status as konvensionele heteroseksuele huwelike sal geniet. Binne die huidige demokratiese konteks bly die vraag egter: Watter invloed het die Grondwet op die daaglikse lewens van duisende gays in Suid-Afrika? Diskriminasie (in direkte weerwil van die Grondwet) is steeds merkbaar op ‘n daaglikse basis in die huidige Suid-Afrika. Met betrekking tot diskriminerende gedrag teenoor gays sal ek ’n paar resente voorbeelde noem. In 2003 maak die bekende Afrikaanse gospelsanger Danie Botha diskriminerende opmerkings in ’n kerkdiens, waartydens hy onder andere beweer dat gays hulle oë in die hel sal oopmaak. In September 2005 word ’n sestienjarige skoolseun, Theo Bosman, op die gronde van ’n groot hoërskool in Pretoria verbaal en fisiek aangerand deur medeskoliere as gevolg van sy vermeende homoseksualiteit. In September 2005 word ’n musiekonderwyser, Johan Strydom, verbonde aan die Morelettapark-gemeente van die NG Kerk, onmiddellik van sy pligte onthef toe sy homoseksualiteit aan die lig kom. Dieselfde gebeur met ds Laurie Gaum, ‘n NG-predikant, nadat sy voormalige minnaar sy persoonlike lewenstyl aan ’n Afrikaanse poniekoerant openbaar. Hierdie openbaarmaking lei tot tragiese gevolge vir al die betrokkenes. Ds Gaum se voormalige minnaar pleeg kort ná sy bekentenis selfmoord en in September 2005 word ds Gaum van sy pligte as predikant in die St Stephen’s-gemeente in Kaapstad onthef. Op grond van hierdie resente voorbeelde is dit duidelik dat Suid-Afrikaanse gays steeds diskriminasie ervaar ten spyte van ‘n Grondwet wat dergelike optrede streng verbied. Daarom kan die Grondwet nie as ’n absolute meganisme beskou word om gays teen diskriminasie in hul daaglikse lewens te beskerm nie, maar benodig Suid-Afrikaanse gays alternatiewe platforms om hul ervarings, frustrasies en kwessies te verwoord binne ’n omgewing waar vryheid van uitdrukking en opinie gerespekteer word. Gay skrywers soek toenemend ’n toetsruimte om hul literêre en populêre tekste te publiseer wat vry is van dominante heteroseksuele waardes. 4. Die aard, rol en bydrae van Gay@LitNet binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks 4.1. Gay@LitNet: ‘n beskrywing Gay@LitNet begin in November 2002 amptelik funksioneer as een van die platforms op die gevestigde literêre e-joernaal LitNet nadat Homeros (‘n onderafdeling van Tafelberg-Uitgewers) sy publikasieprogram weens finansiële oorwegings moes staak. Die hoofredakteur en ’n voormalige uitgewer, Danie Botha, beskou die rol van Gay@LitNet as volg: Ek glo dat almal – al die verskillende soorte gays en ook straights – moet kan saampraat oor en vanuit die gay perspektief sodat geslagtelike harmonie bevorder kan word. Dit is ’n Sisiphus-taak: daar sal maar altyd diskriminasie wees, maar as ons dan hier ’n skuiling en forum kan bied? (Botha, 2005)Die eerste tekste wat op Gay@LitNet gepubliseer word, is drie Afrikaanse kortverhale deur Neil Cochrane, Janie Smit en Robert Young onderskeidelik. Gay@LitNet is tot die begin van 2006 behartig deur Danie Botha (hoofredakteur), Rafiek Mammon (redakteur: Engelse bydraes) en Janie Smit (redakteur: lesbiese letterkunde). Tans behartig Botha al die redaksionele werk. Sedert November 2002 beleef Gay@LitNet bestendige groei wat ’n aanbod van verskeie inhoudtipes tot gevolg het. Gay@LitNet lewer ’n bydrae tot die skaars aanbod van e-joernale binne die internasionale arena wat fokus op die ontginning van gayliteratuur (veral binne ‘n literêre konteks) soos byvoorbeeld Blithe House Quarterly: A Site for Gay Fiction en Lodestar Quarterly. Die bydrae van Gay@LitNet is belangwekkend aangesien die meeste e-joernale wat op gayliteratuur fokus, werke in Engels publiseer. Die feit dat Gay@LitNet werke in Afrikaans (’n minderheidstaal binne internasionale konteks) publiseer, is op sigself ’n kulturele prestasie. In Suid-Afrika is daar bykans geen papiergedrewe gayjoernale (spesifiek binne Afrikaanse en Engelse literêre diskoerse) nie, wat die kulturele waarde van Gay@LitNet meer beduidend maak. Voorbeelde van dergelike internasionale joernale is Harrington Gay Men`s Fiction Quarterly en International Gay and Lesbian Review (gehuisves by die Universiteit van Suid-Kalifornië). Gay@LitNet verskil egter in verskeie opsigte van hierdie publikasies en ’n magdom gaywebwerwe, -e-tydskrifte en -internetportale binne die globale arena. In die eerste plek funksioneer Gay@LitNet nie in totale eksklusiwiteit nie, maar vorm dit deel van die hoofstroom. Gay@LitNet staan in jukstaposisie tot ’n kaleidoskoop van heersende kulturele perspektiewe op die Suid-Afrikaanse letterkunde. Tweedens is die hoofdoel van Gay@LitNet nie slegs informatief van aard nie, maar spreek dit in die eerste plek die literêre en kulturele behoeftes en tweedens die sosiale en psigologiese behoeftes van Suid-Afrikaanse gays aan. In dié opsig verskil Gay@LitNet van ander gayforums soos G-Max, Q-online en Planet Out, wat grootliks informatief van aard is en geensins voorsiening maak vir die publikasie van gayliteratuur nie. Gay@LitNet staan nie in kompetisie met hierdie webwerwe nie, maar vervul grootliks ’n aanvullende funksie. 4.2. Waardetoevoegings 4.2.1. Gevarieerde teikengehore, makliker toegang en verskeie inhoudstipes Die globale en interaktiewe aard van die internet maak dit vir Suid-Afrikaanse gay skrywers moontlik om hul individuele werk aan meer gevarieerde gehore bekend te stel, aangesien beperkings ten opsigte van tyd en ruimte opgehef word, soos Gross (2003:260) aantoon: New media create opportunities for the formation of new communities, and the Internet is no exception. In contrast to most other modern media the Internet offers opportunities for individual engagement both as senders and receivers, permitting the coalescing of interest-based networks spanning vast distances.Die internet is een van die mees demokratiese mediums wat die gewone man, wat nie oor reproduksiemag en kapitaal beskik nie, kan gebruik om sy/haar skryfwerk en perspektiewe met lesersgehore te deel. Die feit dat die internet nie gebonde is aan geografiese grense nie, is veral toepaslik op ’n groot en uitgestrekte land soos Suid-Afrika, waar lesers nie geredelike toegang tot boekwinkels, klubs en ander sosiale inisiatiewe het nie. Deur middel van Gay@LitNet verkry gay skrywers en lesers in afgeleë en plattelandse gebiede toegang tot literêre en kulturele inisiatiewe. Gross (2003:260) wys op die waarde van hierdie eienskap: The potential for friendship and group formation provided by the Internet is particularly valuable for members of self-identified minorities who are scattered and often besieged in their home surroundings. A brief tour of the Web will reveal countless sites devoted to specialized interests that draw like-minded participants across national and international boundaries. Notable among the interests served by this (so far) uniquely egalitarian and open medium of communication are those represented by sexual minorities.Gay@LitNet bied toegang tot die Suid-Afrikaanse gaysubkultuur aan ’n groot aantal Suid-Afrikaanse gays wat in ander lande soos die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland woonagtig is. Terselfdertyd maak die internet dit moontlik vir Suid-Afrikaanse lesers om toegang tot gay-ervarings in ander lande te verkry. ’n Voorbeeld hiervan is twee nuusbriewe (uit Israel en Taiwan onderskeidelik) wat op Gay@LitNet gepubliseer word. Hierdie nuusbriewe word behartig deur Suid-Afrikaanse gays wat in hierdie lande woonagtig is. Die feit dat Gay@LitNet binne die groter opset van LitNet funksioneer, maak per implikasie die teikengehoor van Gay@LitNet meer gevarieerd, veral betreffende daardie heteroseksuele lesers wat nuuskierig is oor gay-ervarings. ‘n Dinamiese netwerk van hiperskakels stimuleer interaksie tussen uiteenlopende kulturele uitinge en ondersteun die keuses wat eindgebruikers maak. Die tipes inhoud wat op Gay@LitNet aangebied word, is uiteenlopend van aard om beter in die literêre, kulturele en sosiale en psigologiese behoeftes van gay lesers te voorsien. Kortverhale, poësie, dramatekste, boekbesprekings en resensies voorsien in die literêre behoeftes van lesers. Alle tekste ondergaan ’n keuringsproses wat dikwels herskrywing behels. In dié opsig vervul Gay@LitNet ’n aktiewe rol in skrywersopleiding. Botha (2005) wys op bykomende voordele van elektroniese publikasie: Iets word gouer gepubliseer, bereik die publiek vinniger; skrywers gebruik dit as “proefkombuis” voor die werk teen geweldige onkoste in gedrukte vorm verskyn; dit skakel baie van die elemente uit waarmee boekuitgewers moet rekening hou weens markgerigtheid en finansies; ons kan inhouds- en gehaltegewys meer kanse waag. Resensies in die openbaar kan ons nie benadeel nie, maar bevoordeel ons terselfdertyd ook nie.Die getal kortverhale het sedert November 2002 van 3 tot 77 gegroei en die aantal kortverhaalskrywers van 3 tot 52. Die onderstaande tabelle gee ’n aanduiding van die literêre uitsette op Gay@LitNet vanaf November 2002. Tabel 1: Aantal kortverhaalskrywers en kortverhale op Gay@LitNet (soos op 2006/01/09)
Tabel 2: Aantal digters op Gay@LitNet (soos op 2006/01/09)
Die verhale en gedigte wat op Gay@LitNet gepubliseer word, is literêr en populêr van aard. Die werk van gevestigde outeurs soos Hennie Aucamp en Joan Hambidge sowel as van debutante word gepubliseer waarin ’n verskeidenheid van ervarings verwoord word: liefdesteleurstellings, seksualiteit, verlies, fantasie, begeerte en familieverhoudings. Die artikels van Hennie Aucamp oor verskeie aspekte van homoërotiese kunstenaarskap, visuele kuns, teater en skrywerskap is van hoogstaande gehalte en lewer ’n belangrike kulturele bydrae. Werke van populêr-wetenskaplike aard lewer ’n beduidende bydrae om gay lesers bewus te maak van beduidende tendense in hul sosiale geskiedenis. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die reeks artikels van Abel Pienaar getiteld “Aantekeninge by John Boswell se Christianity, Social Tolerance and Homosexuality”. Gay@LitNet spreek die onmiddellike sosiale behoeftes van gay lesers aan. Op die meningsblad kan lesers hul opinies lug oor ’n verskeidenheid relevante kwessies. Die rubriek “Uit die boks” van Willie Knoetze behandel gaykwessies op ’n kritiese wyse. Deur middel van die “Dit is mý storie dié”-inisiatief word gay lesers uitgenooi om grepe uit hul lewensverhale met ander te deel. Gross (2003: 266) wys op hierdie belangrike psigososiale funksie van die internet: Moving beyond the highly developed and fully furnished gay subcultures found in most western and westernized countries, emerging gay communities in many parts of the world have found the Internet a venue for solidarity and support.4.2.2. Die helende krag van vertelling Gedurende 2005 word Suid-Afrikaanse gays uitgenooi om grepe uit hul lewensverhale aan Gay@LitNet voor te lê vir moontlike publikasie. Hierdie verhale word onder die skakel “Kortverhale” gepubliseer met ’n duidelike etiket wat verklaar “Dit is mý storie dié”. Hierdeur word gay lesers bemagtig om op ’n selfgeldende wyse hul individuele stories met ’n wyer lesersgehoor (wat heteroseksuele lesers insluit) te deel. Die oorhoofse doel met hierdie inisiatief word soos volg deur Botha (2005) gestel: Die bedoeling is dat mense van alle ouderdomme, geslag en kultuurgroepe daaraan deelneem sodat die verlede en die hede se toestande opgeteken kan word as geskiedskrywing sodat die Suid-Afrikaanse gays se aandeel nie verswyg, verberg en vergeet sal word nie.Alhoewel hierdie verhale nie literêr van aard is nie, bied hierdie inisiatief aan gays die moontlikheid om heteroseksuele lesers ‘n blik te gee op die uiteenlopende leefwêrelde van gays en om ’n kollektiewe en historiese geheue van afgelope ervarings in stand te hou. Die moontlikheid bestaan egter om in ’n latere stadium hierdie onverwerkte “voorstudies” in ’n literêre vorm te giet, maar dit kan ook vir literêre skrywers as katalisator dien om hul outobiografiese ervarings tot literêre stof te verwerk. Hierdie stories sluit aan by ’n hernieude belangstelling in outobiografiese vertellings en egotekste, veral na die sukses van Dis ek, Anna (2004) deur Elbie Lötter. Die “coming out”- en “coming of age”-tematiek is kenmerkend van sommige stories. Plummer (1995:85) dui die waarde van hierdie tematiek soos volg aan: Ultimately, the coming out story is a tale concerned with establishing a sense of who one really is – an identity which ideally exists not just for oneself alone, but which is also at home in the wider world. In coming out to him or herself, to the gay community and to the wider environment, the lesbian and gay can develop a consistent, integrated sense of self.Gay@LitNet vervul ‘n belangrike psigologiese funksie deurdat dit Suid-Afrikaanse gays bemagtig om hul pyn en frustrasie te verbaliseer. Die anonimiteit van die internet laat gays wat viktimisasie vrees, toe om hul stories te vertel binne ’n veilige ruimte. Gay@LitNet skep vir baie jonger gays die geleentheid om hul stories te vertel en op ’n interaktiewe wyse deel te hê aan die gaysubkultuur. Die volgende uittreksel uit ’n brief van ‘n 20-jarige dien as voorbeeld: In die eerste plek wil ek rêrig net dankie sê vir die uitstekende webblad vir gays. Ek is 20 jaar oud en in my tweede jaar op universiteit. Ek is gay, maar is nog so bietjie in die kas! Wanneer dinge te veel te raak en ek dink ek gaan ontplof, gaan ek net na Gay@LitNet toe en lees ’n paar artikels of menings van ander gay mans, want om so in die kas te lewe kan soms nogal baie, baie frustrerend raak en dan is dit troostend om te weet dat daar wel ’n gaywêreld daarbuite is en ek nie alleen is nie.Die bydrae wat Gay@LitNet maak tot die skep van ’n samehorigheidsgevoel onder jonger gays is van onskatbare waarde as die gebrek aan platforms vir jonger gays in berekening gebring word. Gross (2003:262) bied die volgende perspektief op hierdie tendens: Yet despite the dramatic increase in the public visibility of gay people in nearly all domains of our public culture, most young lesbian, gay, bisexual and transgendered people still find themselves isolated and vulnerable. Their experiences and concerns are not reflected in the formal curricula of schools or in our society’s informal curriculum, the mass media. For these teenagers the internet is a godsend.4.2.3 Stimulering van gespreksvoering tussen uiteenlopende groepe Dit is interessant op daarop te let dat heteroseksuele lesers ’n lewendige belangstelling in die debatvoering op Gay@LitNet toon, soos Botha (2005) aantoon: Wanneer ’n polemiek geplant word of ontstaan, is dit opmerklik hoe baie sg nie-gays met oorgawe deelneem; omdat Gay@LitNet se stukke so goed in die LitNet-nuusbriewe en -inhoudsopgawe aangekondig word, word sekere lesers gelok wat nie outomaties op Gay@LitNet sou inklik nie.Die interaktiewe aard van Gay@LitNet stimuleer response van heteroseksuele lesers wat hul perspektiewe (en dikwels bekentenisse) met lesers wil deel. ‘n Goeie voorbeeld is die volgende respons van ’n heteroseksuele vrou (gepubliseer op 7 November 2005): Ek is nie gay nie en sou onder “normale” omstandighede nie hierdie webbladsy besoek het nie, maar my ding met gay mense het met Laurie Gaum en die NGK begin ‘n paar maande gelede. Ek is ’n doodgewone “straight” ma en vrou en is lief vir my kerk. Die tragiese gebeure rondom Laurie en die kerk se teleurstellende reaksie het by my gespook.Later vertel sy van ’n insident wat haar met ander oë na gay mense laat kyk het: Twee dae later sien ek hoe twee gay mans mekaar hartstogtelik soen op Madrid-lughawe as afskeidsgroet, en deernis wel in my op. Skielik besef ek dit gaan nie (noodwendig) om seks nie – dit is liefde. In ‘n helder oomblik besef ek toe dat twee mans mekaar werklik lief kan hê.Dit is uit hierdie voorbeeld duidelik dat die internet oor die vermoë beskik om lesers met uiteenlopende perspektiewe saam te snoer. Hierdeur word ’n teelaarde vir wedersydse begrip geskep. Vorige debatte op Gay@LitNet lei tot intense gespreksvoering wat die demokratiese konsep van vryheid van opinie ondersteun. Ek sal ’n paar voorbeelde ter ondersteuning noem. In 2004 word lesers gevra om op die volgende stelling te reageer: “Sê nou gays mag trou?” Die reaksies wissel van dié wat dink dat dit ’n sonde is tot dié wat van mening is dat dit ’n positiewe stap is in die rigting van gayregte. Die volgende koppe gee ’n aanduiding van die veelvoudigheid van die perspektiewe op hierdie kwessie: “Gayhuwelike is onbybels”; “Ja, dit is sonde!”; "Daar’s plek in die hemel vir straights”; “Die antwoord na ’n duisend vergane verhoudings?”; en “Ek dink dit is wonderlik”. Reaksies word van beide gay en heteroseksuele lesers verkry, maar alle opinies word onder dieselfde subskakel gehuisves. ‘n Positiewe aspek rakende hierdie spesifieke debat is die gebalanseerde wyse waarop die redakteurs poog om konflikterende opinies te akkommodeer deur ‘n boekprys toe te ken aan “die opwindendste, indringendste e-pos ten gunste van gayhuwelike”, maar ook vir “die beste afkeuring van die moontlike nuwe soort huwelike”. Gay@LitNet skram nie weg van kontroversiële kwessies nie. In 2005 word lesers genooi om op die volgende onderwerp te reageer: “Getroude vrou gun haar man seks met ’n man”, gebaseer op die onthulling van James McGreevy, goewerneur van die Amerikaanse staat New Jersey, nadat hy beken het dat hy ’n liefdesverhouding met ‘n man het terwyl sy vrou daarvan bewus is. Hierdie onderwerp lei tot hewige reaksies op Gay@LitNet. Een leser reageer soos volg: Ek weet nie hoe jy eers kan belangstel in so ’n onderwerp en dat normale mense hul opinie moet gee met betrekking tot die teks nie! Dit kan net nie normaal wees nie – teen die natuur, met ander woorde, hoogs abnormale bedrywighede van die bose. Alles is siek op jou site. Die reines van hart sal seëvier!Volgens hierdie reaksie slaag Gay@LitNet daarin om fundamentalistiese antigay-sentimente binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap bloot te lê deur nie antigay-sentimente te verbloem nie. Interessant genoeg skep hierdie spesifieke debat ’n platform vir heteroseksuele vrouens wat soortgelyke ervarings gehad het. Daardeur gee Gay@LitNet stem aan die heteroseksuele vrou om haar frustrasies, woede, ervarings en perspektiewe te verbaliseer wat myns insiens moeiliker sou wees binne ander kontekste. Die volgende respons van ’n heteroseksuele vrou dien as voorbeeld: Ek dink dis erger vir ’n vrou as haar man haar moet los vir ’n ander man as vir ‘n ander vrou. Dit doen iets aan jou menswees, dit vat iets weg en jou hele lewe verander.Binne die konteks van dieselfde debat spreek gay en heteroseksuele Suid-Afrikaners hul misnoeë uit met behoudende sienswyses. Die volgende lesersreaksies dien as voorbeelde. Een deelnemer, ’n heteroseksuele vrou, het die volgende te sê in reaksie op ’n ander deelnemer se ultrakonserwatiewe standpunte: Kom by, vrou, en dink vir jouself; hou op om God en geloof en die kerk en jou eie verwronge sienings aan jou dogters en jou familie en vriende en mense te verkondig!Dieselfde deelnemer wens ook ’n ander deelnemer geluk met haar aanval op antigay-sentimente as sy skryf: Dankie! Ek dink dat al ons Afrikaanssprekende Calvinistiese wit mense in hierdie land ’n moerse sielkundige probleem het. Jy’s op die regte pad.Dit is belangrik om daarop te let dat die menings op Gay@LitNet grootliks sentreer rondom religieuse kwessies. In ’n groot mate is dit te verstane, aangesien die kwessie van gay-Christenskap die afgelope paar jaar konstant in die spervuur was. Voorbeelde hiervan is die Danie Botha-debakel (2003), die ontslag van ds Laurie Gaum (2005), die 2004-Sinodesitting van die NG Kerk, waar hewig oor homoseksualiteit gedebatteer is, die amptelike verskoning van die NG Kerk aan alle homoseksueles (2004), en die meningsverskille onder NG Kerk-leiers oor sinodebesluite aangaande homoseksualiteit (2005). Gay@LitNet bied hiermee ook vir die gay Christen ’n platform om sy/haar perspektiewe met ander te deel, veral in die lig van die feit dat religieuse onverdraagsaamheid tans ’n knelpunt is vir menige gay Christene, soos duidelik uit die volgende blyk (gepubliseer op 6 Mei 2005): Ek probeer self om ’n Christen te wees, maar soos die Christene vandag is, dink ek nie hulle ken DIE HERE se liefde nie, of hulle kan nie LIEFDE spel nie. Ek is gay, maar sal nooit uitkom nie. Ek bly liewer in die kas voor ek veroordeel word. Ek wonder of hulle ’n briefie van GOD gekry het dat Hy ons veroordeel. GOD veroordeel nie; dis die mens wat veroordeel.4.3 Uitdagings 4.3.1 Die probleem van etikettering Alhoewel Gay@LitNet binne die breë struktuur en opset van LitNet gesetel is, funksioneer dit steeds onder ‘n afsonderlike etiket, soos al die ander onderskeie platforms soos byvoorbeeld erotiese literatuur, isiZulu-literatuur en Nederlandse literatuur. Hierdie situasie is op verskeie maniere problematies. Dit is inderdaad moeilik om effektief alle perspektiewe op gay-identiteit te akkommodeer, omdat die gaysubkultuur uit ’n uiteenlopende groep mense bestaan met uiteenlopende lewenswyses, perspektiewe en waardestelsels. Botha (2005) laat hom soos volg hieroor uit: Ja, dit is weer die ou-ou kwessie: sommige gays is ghetto-/groepsgerig en gaan op in die gemeenskaplikheid met ander gays; hulle identifiseer met ander; hulle saak word gestel. Iemand het onlangs die Huisvergadering-aanbod van "Menings van ons lesers" verwelkom as iets wat dit waarlik “ons blad” maak. Die herhaalde lofbetuigings verseker ons dat ons iets reg doen. Ander wil weer nie so “uitgesonder” word nie; “ons is nie almal so nie”. Daarom probeer ek om alle persoonlikheidstipes en ingesteldhede te akkommodeer.Aucamp (2005) laat hom soos volg oor die ghetto-idee uit in reaksie op die Suid-Afrikaanse gaybloemlesing The Invisible Ghetto (1993): Dit is jammer dat ’n titel soos The Invisible Ghetto die gedagte aan ‘n ghetto bestendig, want volgens reaksies van jong eietydse gays, onder andere op Gay@LitNet, het die ghetto-idee onaanvaarbaar geword. Die gays van ’n nuwe geslag wil juis sigbaar wees, en nie sosiopolities, of hoe dan ook, gemarginaliseer word nie.Weideman (2000) sluit hierby aan as hy beweer: Die grootsheid van ’n kunswerk hang nie af van ‘n etiket nie. Dat mense hulle die benaming "gay-skrywers" of "vroue-skrywers" laat welgeval, is seker hul reg, maar wesenlik het ras, geloof en seksuele oriëntasie nie primêr met die geskrewe produk te doen nie, tensy dit tot tema gemaak word.Dit is egter so dat skrywers uit minderheidsgroepe dikwels vanuit gemarginaliseerde posisies skryf om sekere heteroseksistiese waardesisteme te ondermyn. Skryfwerk en identiteitsvorming het vir hierdie skrywers ’n direkte verband met mekaar. Vir hierdie skrywers is hul seksuele oriëntasie deel van bepaalde sensitiwiteite wat hul skryfwerk kenmerk. Die problematiek lê egter daarin dat spesifieke etikette die verwagtingshorisonne van lesers so kan beperk dat hulle waardering verloor vir gedeelde menslike sensitiwiteite wat wel in gayletterkunde teenwoordig is. Temas soos verlies en begeerte het in dié sin weinig verband met seksuele oriëntasie. ‘n Verdere probleem wat voortspruit uit afsonderlike etikettering het te make met dekking in die breë media. Botha (2005) argumenteer dat LitNet die afgelope jare dikwels goeie mediadekking verkry het, maar dat Gay@LitNet slegs twee keer die afgelope drie jaar dekking na buite gekry het, ten spyte van die feit dat gayverwante kwessies die afgelope tyd konstant in die nuus was. Dit veroorsaak dat werke met goeie literêre meriete nie geredelik aan die hoofstroom bemark word nie. Die hoogs informatiewe artikels van Hennie Aucamp is uit ’n kulturele oogpunt belangrik, maar dit word nie genoegsaam aan die hoofstroom bekendgestel nie. Etikettering laat allerlei moeilike vrae ontstaan: Waar hoort ‘n teks deur ’n “straight” skrywer met ‘n gay-inslag? Hoekom moet daar ’n onderskeid getref word tussen heteroseksuele en homoseksuele erotika? Sal laasgenoemde nie dalk heteroseksuele lesers van erotiese literatuur op LitNet vervreem nie? Die feit dat daar geen onderskeid tussen literêre en populêre werke gemaak word nie, kan problematies wees vir die skrywer wat werk lewer met goeie literêre meriete. Dergelike outeurs kan verskeurd voel tussen verdeelde lojaliteite, maar dit kan ook daartoe lei dat hulle werk as minderwaardig deur kritici beoordeel word, aangesien dit in jukstaposisie staan met eksplisiete prikkelliteratuur wat geen literêre kwaliteite vertoon nie. Botha (2005) beweer dat hy ’n ikoonstelsel wou invoer sodat lesers hulle onmiddellik met spesifieke tekste kan identifiseer, maar het daarteen besluit, omdat tekste dikwels nie kategoriseerbaar is nie en dit as neerbuigend teenoor die leser beskou kan word. Botha (2005) se uitgangspunt is om soveel moontlik tekste te publiseer, sodat daar iets vir almal is. ‘n Ander moontlikheid is om prikkelliteratuur juis in te span om lesers na literêre tekste te lok.
4.3.2 Gebrek aan diverse stemme The Cape moffies were indeed an important part of the culture of the colored community, with its hub in District Six in Cape Town. They also had a significant public presence in the annual Coon Carnival, organized from within the colored community of Cape Town and one of the major cultural events of the city. The carnival was led by a moffie, and one of its features was the playful mocking of conditions of gender and sexuality.Deur nie literêre werke te publiseer van gays uit ander kulturele groepe nie word ’n beduidende deel van gaybewussyn in Suid-Afrika verswyg. Hierdie is egter ’n voortslepende tendens wat gayletterkunde in Afrikaans sedert sy bloeitydperk gedurende die tagtigerjare van die vorige eeu kenmerk. Dit herinner sterk aan die Amerikaanse tendens, waar gay-ervarings van Afro-Amerikaners ook grootliks verswyg is en eers laat in die 20ste eeu geboekstaaf is met die publikasie van bloemlesings soos Brother to brother: new writings by black gay men (1991), Black like us: a century of lesbian, gay and bisexual African American fiction (2002), en Shade: an anthology of fiction by gay men of African descent (2002). Die belangrikheid van gaytematiek in postkoloniale diskoerse word verder bevestig deur bloemlesings soos Ladlad: an anthology of Philippine gay writing (1994) en Yaraana: gay writing from India (1999). Hierdie situasie is verder problematies aangesien dit wanpersepsies versterk dat homoseksualiteit ’n blanke en suiwer koloniale gegewe is wat nie tuis hoort in nieblanke gemeenskappe nie. Berman (1993) dui die problematiek hiervan soos volg aan: Apartheid, and the privileges of whites in South Africa, have given disproportionate exposure to the presence of the white gay and lesbian community. This has contributed to the belief held by many black South Africans that homosexuality is an un-African, white, Western phenomenon. At the same time, the scarcity of documentation is not evidence that same-sex relationships do not exist in traditional African cultures.Verder lei ’n gebrek aan swart gay skrywers daartoe dat daar geen korrektief gestel word op die persepsie dat swart gay-ervarings alleenlik gedefinieer kan word in terme van dominante blanke perspektiewe nie. Sulke persepsies is ontdaan van historiese waarheid, soos Palmberg (1999:269) aantoon: It is worth noting that there were many black gay and lesbian spaces, particularly in the townships, long before a gay and lesbian movement in South Africa emerged. These are only beginning to be documented. A fairly common notion among whites in South Africa and abroad is that gay and lesbian activity in the black townships was an imitation of and inspiration from whites. This has been rejected as condescending and paternalist by many black homosexuals.Soos reeds vermeld, is dit verblydend dat Gay@LitNet grootliks tekste in Afrikaans publiseer, maar dit is terselfdertyd beperkend. Daardeur word ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse gaygemeenskap uitgesluit. Meer tekste in Engels of in een van die ander nege amptelike Afrikatale is nodig ten einde Gay@LitNet verteenwoordigend van Suid-Afrikaanse gay-ervarings te maak. Laasgenoemde sal verder daartoe bydra om die persepsie te weerlê dat gay-ervarings alleenlik ’n blanke gegewe is. Linguistiese struikelblokke kan deur middel van vertaling opgehef word. So ‘n inisiatief sal Suid-Afrikaanse gays ’n kreatiewe perspektief op mekaar se leefwêrelde bied. Dit is belangrik om die afwesigheid van ander groepe binne historiese konteks te sien. Gedurende die Apartheidsjare het gays weens komplekse sosiale kragte nie as ’n verenigde front teen ’n homofobiese regering opgetree nie, soos Palmberg (1999: 268) aantoon: We cannot understand gay and lesbian movements as organisms but only as varieties of individual and collective experiences in the complex and changing contexts of social forces.Volgens Crous (2005:135) is daar in die geval van swart gay skrywers sprake van dubbele diskriminasie, omdat hulle anders is in terme van ras én seksuele oriëntasie. Dit het ’n direkte invloed op die manier waarop hulle hulself in terme van die dominante literêre sisteem posisioneer en op hul identiteitsvorming (waarvan literêre werke en vertellings ’n uitvloeisel is). Hierdie komplekse situasie het noodwendig aanleiding gegee tot ’n verdeeldheid tussen blanke en nieblanke gay skrywers. Gay@LitNet kan ’n belangrike rol speel om gays uit verskillende historiese agtergronde te versoen mits Gay@LitNet sy bestaande appèl uitbrei. Skryfwerk wat lesbiese ervaring verwoord, word tans oorheers deur manlike skryfwerk. Meer kortverhale en gedigte moet gepubliseer word om die multidimensionele aard van lesbiese ervarings te verwoord. Die werk van heteroseksuele outeurs wat skryf oor gay-ervarings verdien meer blootstelling op Gay@LitNet, veral as daar in gedagte gehou word dat ’n aantal heteroseksuele outeurs reeds opgeneem is in gaybloemlesings soos Wisselstroom (1990) en Soort soek soort (1997). Die ervarings van transseksuele en biseksuele perspektiewe is tans grootliks afwesig op Gay@LitNet, alhoewel sodanige perspektiewe wel bestaan, soos blyk uit die volgende reaksie van ’n transseksuele man op Gay@LitNet: Ek twyfel of ek gay is, want ek begeer nie ‘n man se lyf nie; dalk sou ek eerder ’n lesbian wees as ek wel ’n meisie kon wees. Ek is baie gelukkig met ‘n oulike vrou getroud en ons het al groot kinders. Nou is dit by my ’n uitgemaakte saak: ek hou nie van mans nie, en soek baie selde hul geselskap op.5. Slotsom Sedert November 2002 lewer Gay@LitNet ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse gayletterkunde, maar spreek ook die sosiale en psigologiese behoeftes van gay lesers aan. Gay@LitNet lei tot stimulerende debatvoering waarbinne uiteenlopende perspektiewe ondervang word en bied aan gay skrywers en lesers die geleentheid om hul outentieke ervarings met ’n groter lesersgehoor te deel. Tog staan Gay@LitNet tans voor ’n aantal uitdagings wat veral te make het met die ontginning van diverse stemme binne ’n multikulturele gemeenskap.
Aantekeninge 2. Die term gay word kollektief gebruik om te verwys na die uiteenlopende persone, identiteite en perspektiewe wat die Suid-Afrikaanse gaygemeenskap kenmerk. Dit verwys nie slegs na manlike perspektiewe nie, maar ondervang ook lesbiese, biseksuele en transseksuele perspektiewe. 3. Dank aan Danie Botha (hoofredakteur van Gay@LitNet) vir sy sinvolle kommentaar tydens die voorbereiding van hierdie artikel en vir sy deelname aan ’n epos-onderhoud wat op 8 November 2005 met hom gevoer is.
Bibliografie Aucamp, H. 2002. Hittegolf: wulpse sonnette met ‘n nawoord. Kaapstad: Homeros. Aucamp, H. 2005. Soveel hoofde, soveel keuses: Gaybloemlesings van ’n kwarteeu en langer. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/gay/aucamp_bloemlesings.asp Blithe House Quarterly: A Site for Gay Fiction. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.blithe.com. Bygewerk op 22 Augustus 2004. Botha, D. 1995. Die Soft Rock Klub. Kaapstad: Tafelberg. Botha, D. 2001. Party van ons: die Homeros leesboek. Kaapstad: Homeros. Botha, D. 2005. Epos-onderhoud met referent op 8 November 2005. Carbado, DW, DW McBride & D Weise (reds). 2002. Black like us: a century of lesbian, gay and bisexual African American fiction. San Francisco: Cleis. Cochrane, N. 2004. Swart koring van Joan Hambidge as parodie en pastiche op populêre kultuur. Tydskrif vir Letterkunde. 41(2), 127-142. Crous, M. 2005. Die Ander oor Andersheid: Swart skrywers en die soeke na gayidentiteit-perspektiewe op K Sello Duiker se The Quiet Violence of Dreams en Clive Smith se Bly te kenne, Braam. Stilet. XVII:1, 134-149. De Lange, J. 1996. Vreemder as fiksie: en ander konterfeitsels. Kaapstad: Human & Rousseau. De Lange, J. 1997. Soort soek soort: ‘n versameling alternatiewe ervarings. Kaapstad: Human & Rousseau. De Lange, J. 2000. Tweede natuur. Kaapstad: Homeros. De Wet, K. 2003. e-Afrikaans: digitale publikasies en publikasieforums in Afrikaans. Stilet XV:1, pp. 302-319. Garcia, NC & D Remoto (reds). 1994. Ladlad: an anthology of Philippine gay Writing. Pasig: Anvil. Gay@LitNet. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/gay/default.asp. Gevisser, M & E Cameron (reds). 1994. Defiant desire. Johannesburg: Ravan. Gross, L. 2003. The Gay Global Village in Cyberspace. In: Couldry, N & J Curran (reds). Contesting media power: alternative media in a networked world. Lanham: Rowman & Littlefield Publishers, 259-272. Hambidge, J. 1996. Swart koring. Kaapstad: Human & Rousseau. Hambidge, J. 1998. Die Judaskus. Johannesburg: Perskor. Hambidge, J. 1998. Swart sluier. Kaapstad: Tafelberg. Hambidge, J. 2001. Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Goodwood: ContentLot.com. Harrington Gay Men’s Fiction Quarterly. Binghamton, New York: Harrington Pleasure Press. Hemphill, E. 1991. Brother to brother: new writings by black gay men. Boston: Alyson. Isaacs, G & B McKendrick (reds). 1992. Male homosexuality in South Africa: Identity formation, culture and crisis. Cape Town: Oxford University Press. Kannemeyer, JC. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2005. Kaapstad: Human & Rousseau. Krouse, M & K Berman (reds). 1993. The Invisible Ghetto: lesbian and gay writing from South Africa. Fordsburg: COSAW Publishing. Leavitt, D & M Mitchell (reds). 1994. The Penguin Book of Gay Short Stories. Londen: Penguin. Leavitt, D & M Mitchell (reds). 2003. The New Penguin Book of Gay Short Stories. Londen: Penguin. Lodestar Quarterly. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.lodestarquarterly.com. Bygewerk op 5 April 2005. Loots, F. 2001. Nagvoëls. Kaapstad: Homeros. Loots, F. 2003. Lente in Beijing. Kaapstad: Tafelberg. Malherbe, V. 2000. Blomme vir Leon. Kaapstad: Homeros. Merchant, H (red). 1999. Yaraana: gay writing from India. New Delhi: Penguin Books. Mitchell, M (red). 1995. The Penguin Book of International Gay Writing. New York: Viking. Morrow, B & CH Rowell. 1996. Shade: an anthology of fiction by gay men of African descent. New York: Avon Books. Palmberg, M. 1999. Emerging Visibility of Gays and Lesbians in Southern Africa: Contrasting Contexts. In: Adam, BD, J Duyvendak & A Krouwel (reds). The Global Emergence of Gay and Lesbian Politics: National imprints of a worldwide movement. Philadelphia: Temple University Press, 266-292. Pienaar, A. 2003. Die John Boswell-reeks: Aantekeninge by John Boswell se Christianity, Social Tolerance, and Homosexuality. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/gay/boswell.asp. Prinsloo, K. 1992. Slagplaas. Kaapstad: Human & Rousseau. Reynolds, M (red). 1993. The Penguin Book of Lesbian Short Stories. Londen: Penguin. Smith, C. 1999. Bly te kenne, Braam. Kaapstad: Kwela. South African Constitution. [Intyds.] Beskikbaar: http://www.polity.org.za/html/govdocs/constitution.
Uys, P. 2002. Om liefde te score. Kaapstad: Homeros.
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |