Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Waar is jy wanneer ek jou nodig het, Emsie?

Deborah Steinmair

In my dae was een van die voorgeskrewe boeke vir English 101 Kingsley Amis se immergroen Lucky Jim. Saam met die per ongeluk-anargistiese jong lektor Jim het ek naels gekou oor sy sosiale flaters. Soos die keer toe hy by sy departementshoof aan huis oornag het. Tydens die dodelik vervelige aandete het hy te veel gedrink, die nag half besope met ‘n sigaret tussen die vingers aan die slaap geraak, en sodoende ‘n paar gate in die gasvrou se lakens gebrand.

Eerder as om sy fout te erken en om verskoning te vra, het die vindingryke ongeluksvoël met ‘n naelskêrtjie, as ek reg onthou, diamantvormige patrone in die lakens geknip, al om die sigaretgaatjies, die bed opgemaak en vertrek.

Natuurlik het hy nie daarmee weggekom nie. Die professor se hooghartige vrou het hom later by ‘n geleentheid tromp-op geloop en geëis om te weet wat op aarde hy met haar lakens aangevang het. Die onbeholpe Jim het gemompel dat sy toonnaels te lank was en die lakens geskeur het.

Soms wil dit my voorkom ek is ook maar ‘n per ongelukkige anargis. Dit klink beter op Engels: accidental anarchist – amper soos The Accidental Tourist. Ek het onlangs vir ‘n week in ‘n luukse gastehuis vertoef, gratis op uitnodiging van die hospitas, dierbare, hartlike, oop mense. Daar het ek ‘n klein ongevalletjie in die badkamer gehad.

Aag, dis ‘n lang storie. Die statige ou badkamer/toilet se ventilasie is nie van die beste nie, as ek kritiek mag uitspreek ná so ‘n lieflike verblyf. Boonop is die badkamer en suite, uit die aard van die saak. My gewoonte is om kerse en wierook in die badkamer te brand, veel beter as hierdie aaklige osoononvriendelike lugverfrissers wat eenvoudig met enige affronterende reuk saamsmelt om ‘n veel onheiliger verbinding te vorm: chemies, dralend en deurdringend. Ek is nie ‘n roker nie en die enigste tonteldoos wat ek by my gehad het, was ‘n hi-tech sigaretaansteker wat ek by die launch van ene Wolf se IT-program gescore het. Soos my en Wolf se verhouding, wou die aansteker maar nooit mooi vlam vat nie. Twee dae in my besoek in gaf dit toe ook finaal die gees. Of liewer, al wat dit voortbring, is ‘n piepklein blou vlammetjie, vir ‘n halfsekonde lank.

Ten einde kers en wierook aan die brand te kry, het Lucky Jim Steinmair ‘n plan bewimpel: ‘n groot bol toiletpapier teen die aansteker se bek gehou om die poeperige, kortstondige vlammetjie te benut. Die bol toiletpapier waarmee ek die kers wou aansteek, het wel vlam gevat en binne oomblikke gegroei tot ‘n woedende inferno wat ek met brandende vingers in die (leë) bad moes gooi. Teen die tyd dat ek die spulletjie met water kon blus, was daar onder die as ‘n groterige roesbruin kol in die bad se emalje gebrand.

Dis seker net hier waar ‘n gehoorsame landsburger skuld sou gaan beken, om verskoning sou vra en aanbied om te betaal om die bad te laat oordoen. Maar helaas, liewe leser, nes Lucky Jim het ek eenvoudig nie die moed gehad nie. Die sak patats waarmee ek sou moes uitkom, was net te omslagtig, te volksvreemd en, ja, te ongeloofwaardig. Voor my geestesoog kon ek die verbluftheid en stadig groeiende agterdog op my ouerige hospitas se gesigte sien terwyl hul breine visioene opdoem van daggarook of selfs meer onwettige substansies wat in teelepels oor die badrand gesmelt word. Nee, ek kon nie skoonkom nie.

Wat het ek toe gemaak? In retrospek lyk my plan nie veel slimmer as Lucky Jim se toonnaelskertjie nie. Dit het ‘n buisie wit akrielverf behels. Windsor & Newton Titanium White. Ja, ek is onder andere ‘n amateurskilder. Akrielverf word binne minute kliphard. Ek moes ‘n redelik dik blob aanwend om die roeskol te bedek. Teen die volgende oggend het die rooibruin vlek weer deurgeskemer. Wat nou gemaak? Ja, jy’s heeltemal reg. Nog ‘n laag. So het dit elke dag gegaan en met my vertrek was die roesbruin kol amper, maar nie heeltemal nie, verslaan.

Hierdie ingewikkelde en uitgerekte kamoefleerproses het behels dat ek die laaste paar dae nie kon bad nie. Die badkamer was ook nie met ‘n stort toegerus nie, so die per ongelukkige anargis moes maar droogskoonmaak, holrug oor die wasbak geboë.

Op pad huis toe, na ‘n emosiebelaaide afskeid, het die volle impak van my wandaad my getref. Die implikasies het my bloots gery. Hoe deeglik sou die akrielverf met die bademalje verbind? Wanneer die huishulp die bad deeglik skrop, sou my kamoeflasiepoging dalk afskil soos dooie vel en die volle brandmerk ontbloot?

Soos ‘n psigopatiese reeksmoordenaar loop ek met ‘n knaende kwelling, nie soseer oor my daad nie, maar oor die moontlikheid dat ek aan die pen sal ry. Ek lê nog steeds snags wakker en wonder of ek ‘n epos moet skryf. Wat sou Emsie Schoeman doen? vra ek my af.

Is ek na alles, na jare van slyp en poleer, steeds te rof en ongepoets vir beskaafde geselskap? Dit laat my dink aan my ma se wilde broers wat altyd, wanneer hulle vraatsig weggelê het aan tafel, mekaar met monde vol kos gespot het: “Jy sal nooit in ‘n hotel kan bly nie.”

Soos Lady Macbeth begin ek kompulsief mompel: “Out, damned spot.” Ons sal maar moet sien of ek weer genooi gaan word.




LitNet: 12 Julie 2006

Besoek Deborah se webwerf: www.genugtig.com/webdeb/deborahsteinmair.htm

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.