Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek kon nog nooit kool spel nie

Deborah Steinmair

Ek weet nie regtig wat om oor rock te sê nie, behalwe dat dit my roer. Ek laat myself dink aan die tantes in TS Eliot se gedig:

My cousin Nancy smoked
And danced all the modern dances
The aunts didn’t know what to think of it
But they knew that it was modern.

Ek kom nou net terug van die bekendstelling van Fokofpolisiekar se kort-CD Brand Suid-Afrika. My linkeroor is doof en my regteroor sing: “Dis hemel in die platteland.”

Toe ek baie jonk was, het live rockmusiek my borsbeen laat vibreer, dit onthou ek goed. Na veertig is dit eerder ‘n mens se lewer wat soos ‘n stemvurk vibreer. Ja, ek sal dit maar erken, ek het ‘n bietjie gevoel soos Patsy en Edina wat in een AbFab-episode al rukkend en rollend afsit na ‘n Marilyn Manson-konsert. Op Patsy se T-hemp staan: “Greater than Satan”. Dit herinner my aan die berugte twee woordjies wat een Polisiekar op ‘n aanhanger se beursie geskryf het en wat Christene landwyd na hul hooivurke laat gryp het. Ek het hoeka op die KKNK ‘n T-hemp gesien wat sê: “Fok Satan.”

Toe ek op pad uit die huis is, wil my voorbeeldige sestienjarige dogter (‘n meer glamoreuse Saffron van Edina) weet waarom ek van Fokofpolisiekar hou. Sy sê sy kan nie die woorde hoor nie en rock is nie eintlik haar ding nie. “Vernietig jouself!” gil ek die twee woorde FPK-liriek wat ek wél kan hoor, pateties opgewonde oor my skouer.

By die ingang kry ek aan die binnekant van my gewrig ‘n tjap wat sê: FOK. Wag tot ek dit môre-oggend vir my dogter wys.

In die elektries-gelaaide HQ Club skouer ek vir my ‘n pad oop tot aan die rand van die verhoog, waar ek die opslaansoom van Francois van Coke se stovepipes sou kon aanraak as ek wou. Ek weet nie of dit genesing sou bring nie.

Aan die soom van die verhoog buk en mik Toast Coetzer met sy Siener van Rensburg-baard en imposante kamera. Jeugdiges ruk soos geweervuurgeteisterde soldate in ou oorlogflieks. Francois en sy bandlede se sweet ontplof tot blinkertjies in die strobe ligths. Soms spoeg hulle gebottelde water oor die gehoor. Wel, dis beter as opgooi, as jy my vra.

Die blasfemiese seuns is vir my mooi. Op Francois van Coke se T-hemp staan: “MACBETH”. Francois lyk soos ‘n versteurde Viking. Die mooiste kind is die kitaarspeler Johnny de Ridder, wat soos ‘n ongevalle engel lyk.

Aag, weet jy, oor ‘n paar dekades is die Polisiekarre seker ook respektabel en speel filharmoniese orkeste (as ons nog so iets het) hulle deuntjies. Dalk word een van hulle tot ridder geslaan en ‘n ander trou met ‘n vrou met net een voet. Wie kan die woede volhou?

Persoonlik ly ek aan woede-armoede. Daarom gaan ek in ademlose bewondering op in die momentum van ander se woede, die energie van hul verset.

Antjie Krog het gesê sy skryf omdat sy woedend is. Op die KKNK het haar ernstige dogter gesê dat sy self nie juis issues het nie, dat sy glo dis passé om woedend te wees, dat dit behoort tot mense wat in die tagtigs al kon lees en skryf. Ek, wat in die séstigs al kon lees, skaar my steeds by Antjie se menopousale verontwaardiging.

Kyk hier, ek reken gode moet groot genoeg wees om na hulself om te sien. Verhewe bo die laat-adolessente verset van rockgodjies met kleivoete.

Ek reken politici wat nie weet hoe om hulle gehore te lees nie, kan by die Fokofs gaan leer. Die Karre is ‘n suiwer kanaal vir rou energie. Hulle vang elke druppel uit die gehoor op en kaats dit veelvuldig terug.

Die Polisiekarre is modern en stokoud tegelyk. Met die blinde, skoon oortuiging van jeug, ‘n sterk wind van agter soos gladiators, gesilhoeëtteer teen pienk en blou ligte, met lekker tight elektriese kitare en ‘n hiperaktiewe rookmasjien om hulle enkels, is hulle wêreldstandaard.

Ek hou van die Karre en op aan die verkeerde kant van veertig hou ek daarvan om nou en dan te sê “fokof”.

Ek gaan vir die volgende week nie weer my gewrig was nie.



LitNet: 16 Mei 2006

Besoek Deborah se webwerf: www.genugtig.com/webdeb/deborahsteinmair.htm

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.