Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die spieël het ‘n kraak

Deborah Steinmair

Ek weet nie eintlik hoe ek lyk nie. Die son was in die twaalfde huis, Vis, toe ek gebore is. Daar was nog ‘n paar planete in die twaalfde huis, ‘n huis wat met waansin en gevangenisstraf geassosieer word as ek reg onthou. Dis ‘n huis waarin al die spieëls gekraak is.

Ek is dus nie een van daardie vroue wat lipstiffie kan aanwend sonder om in ‘n spieël te kyk nie. Ek kry nie die buitelyne van my lippe gememoriseer nie. Ek moet mooi mik om ‘n draairoomys na my mond te bring. Ek loop soms in mure vas omdat ek nie kan onthou waar my lyf eindig nie. En ek het geen idee waar my kar begin en ophou nie. Parkering is hel, veral vandat my syspieëltjies in die slag gebly het. Vervlakste blindekol.

Het jy al ooit daaraan gedink dat jy die hoofrol speel in ‘n fliek wat jy nooit gaan sien nie? En miskien is dit beter so. Kyk maar hoe koes almal vir die kamera in ‘n tuisvideo. ‘n Afwerende handpalm kom telkens nader en bedek die hele lens soos ‘n sonsverduistering. Verontregte uitroepe klink op: “Nee vat weg daai ding, ek het nog nie my hare gekam nie …”

Sekere gelowe reken dat jou lewe in jou sterwensuur soos ‘n ongeredigeerde home movie voor jou oë afspeel. Ek kan my die afgryse voorstel, die selfverwyt, die vrae: Het ek REGTIG in die seventies hofskoene saam met ‘n sweetpak gedra?

En wanneer jy droom, sien jy jouself van buite? Of ervaar jy die fliek van binne jou eie kop, asof die kamera êrens agter jou oë gesetel is, soos in Being John Malkovich? Ek sien beslis alles vanuit my agterkop. Dis ‘n donker kamer met baie eggo’s. In drome herken ek myself aan ‘n terloopse detail, van bo gesien, soos die swart stewels wat ek al vir twee jaar onophoudelik dra.

In die verre newels van die verlede het mense soms per ongeluk hul weerkaatsing in die water gesien en teruggedeins voor hierdie monster met die wilde haredos. Dit was ten tye van die wieg van die mensdom. Dit voel vir my of ek nou nog wieg.

In hierdie millennium word ons om elke draai met beelde van onsself gekonfronteer. Iemand het vir my elfjarige dogter ‘n videokamera present gegee. Die kind het nogal ‘n aanleg. Ek sien nou die dag ‘n grinterige movie wat sy in die nag afgeneem het, met blou lig en gefluisterde kommentaar. Die kamera se oog beweeg rukkerig van muur tot muur in haar donker kamer: “Dit is my kamer, hier hang my medaljes, hier is ‘n skildery wat my oupa van my tannie gemaak het toe sy ‘n kind was …” Die kamera beweeg na haar groot bed, waarop ‘n donker homp bewegingloos lê. Sy zoom te vinnig in op die skeefgeslaapte donker hare, die bleek gesig in die kussing versmoor: “Dis nou my ma; sy het kom kuier van die Kaap af …”

My blonde vriendin Rita het ‘n baie goeie kop, maar projekteer haarself as ‘n histeriese, uitasem AbFab-persona. Dis eenvoudig die beeld wat sy bewustelik vir haarself gekies het. Of was dit nie so bewustelik nie? Haar suster en dié se kleuterseuntjie het uit Amerika kom kuier. Soos almal se susterskinders, is die kind briljant. Na twee weke sê Rita vir haar ma: “Waar sou die kind tog nou hierdie manier van praat opgetel het? Hy klink soos ‘n mal mens en tog is dit vaagweg bekend; hy laat my aan iemand dink …” Waarop haar ma antwoord: “Hy praat soos jy.”

In een van vele verkeersknope het ek ‘n teorie oor selfbeeld aanmekaargetimmer. Jy ken mos daardie plaaslike celebs wat hulle hare skelpienk kleur of soos ‘n kokketiel s’n stokstyf hemelwaarts jel – ek glo nie dat hulle te veel van hulself dink nie; eerder die teenoorgestelde. Hulle het ‘n vae sin van self. Hulle is nie mooi seker hoe hulle lyk nie en glo dat ander mense hulle ook nie op straat gaan herken nie. Dis soos om ‘n rooi angelier in jou lapel te dra op die lughawe van die lewe: HIER IS EK!

Sien jou op die lughawe. Ek is die een met die kiertsregop pers hare en krismisroos in die lapel. As ek net eers die kar geparkeer kan kry.



LitNet: 4 April 2006

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.