|
|
Koeberg-koepletteDeborah SteinmairGisteraand sit ek by die kombuistafel en lees Die Burger by kerslig. Die hoofopskrif: Eskom "verswyg iets". Die Wes-Kaap gaan gebuk onder kragonderbrekings. Ek lees by flikkerende kerslig van die skroef wat los is by Koeberg. Ek lees van 'n sekere mnr Andrew Kinney, 'n ingenieur "belas met energie". Nou is dit na middernag en ék is belas met energie, vandat die ganglig ingeskop en 'n kakofonie van sirenes en alarms straataf aangegaan het. In algehele duisternis het ek te vroeg gaan slaap. Ek blameer Koeberg. My gunsteling albumtitel in Afrikaans is Insomniak se Droomalmanak. My insomniese voete vind die pad na die yskas. Terwyl ek roosterbrood maak, kry ek die blink idee (wat waarskynlik in die daglig na niks sal lyk nie) van 'n kookboek vir slaaploses. Die soort geregte wat 'n mens sal insluit, moet redelik geluidloos aanmekaargeslaan kan word, geen luide versappers en klitsers nie, geen getjop van 'n wiegmes op 'n plank wat slapende huismense sal ontstig, of erger nog, laat aantree vir ete nie. Ek reken jou gemiddelde insomniak se palaat is op soek na gerusstellend kinderlike smaakkombinasies soos warm stysel en suiwel. Gesmelte kaas bly bobaas. Ek begin dink aan titels vir die kookboek: Trooskos vir slaapwandelaars. Nanaghappies. Kul die kalorieë ná middernag. Die swart kombuis. (As daar iemand van NB of Random House is wat hierdie artikel lees, kontak my asseblief vir nog 'n magdom innoverende idees.) Aangevuur deur ontydige kalorie-inname, begin my brein wyer dink. Ek sien 'n baie aanskoulike TV-kookprogram: Die insomniese kok. Ek sien Jamie Oliver, wat in elk geval altyd verdienstelik vaak lyk, in 'n lang slaapjurk, die hare deurmekaar, oë nog dik van die slaap, besig om soos 'n Klaasvaak deur 'n dofverligte kombuis te sluip. Terwyl hy behendig en redelik geluidloos kruie vergruis, kan hy sleeptong fluister-mompel: "You can also sprinkle some of this on your pillow …" As agtergrondmusiek is daar die gedrup-drup van die kombuiskraan, die sidderende sug van die yskas en die hopelose gekef van die bure se hond. Ek sien 'n geselsprogram déúr slaaploses vír slaaploses. Soort van 'n Siele op wiele gekruis met 'n pajamapaartie. Oprah of Nataniël in ontwerperjamies sit-lê op 'n rusbank en klets tussen gape deur met gaste in brushed nylon japonne en hondjiepantoffels. Hulle drink warm sjokolade met malvalekkers ingesnipper. Die tempo is stadig en vaak, die onderwerpe verteerbaar en onkontroversieel. Die program is 'n hawe vir jong moeders tussen voedings, mense wat van skof af kom, rustelose reeksmoordenaars - en Eskomwerkers. Dit gee elkeen daardie gerusstellende, warm-om-die-hart gevoel dat hulle nie die enigste persoon in die straat is wat wakker is nie. Ons leef, danksy die internet, in 'n global village. Nou is dit vir niemand meer nodig om in die klein ure van die nag alleen te voel nie. Reg rondom die aardbol gons dit. Jy kan in die stuiptrekkings van die nag in kletskamers inloer. Jy kan gesels met jou buurman, met 'n sakeman wat op 'n ander kontinent, in 'n ander halfrond op pad werk toe is. Ek was baie lanklaas in so 'n kletskamer, want ek het, virtueel of te not, 'n fobie om 'n vol vertrek in die middel van 'n gesprek binne te stap en myself te moet voorstel. Maar ons is nie alleen nie. Woeps, laat ek net gou save. Een ding wat die kragonderbrekings ons leer, is om "Ctrl S" flink en gereeld te slaan. Anders is jou dromerige ontwerp, jou slim uiteengesette plan, jou briljante gedig, in 'n oogwenk gereduseer tot 'n vertikale blou streep wat deur 'n swart monitor ingesluk word. Dit gaan gepaard met 'n onrusbarende zoooeeeeei-geluid. Dis soos om wakker te word uit 'n droom waarin jy met armsvol edelgesteentes weggestrompel het en skielik is jou hande leeg. Die mooiste gedigte is diés wat onherroeplik verlore gegaan het toe die motherboard gecrash of die krag uitgeskop het. Save. Dis halfdrie en die krag is nog aan. Ek reken altyd 'n mens moet die engel-ekspres vang voor vieruur, so nie is dit neusie verby. Waarom, wonder ek, voel 'n mens so weerloos in die nag? Regresseer 'n mens emosioneel na jou kinderdae toe jy jouself wakker gehoes en met bonsende hart na die gekraak van die vloerplanke in die gang gelê en luister het? In die nanag hunker ek na troos en begogeling. Ek druk my wang teen my warm lawalamp (ek het sommer die eerste dag al die taai wit plakker afgetrek waarop hulle in rooi letters gemaan het dat die lamp nie aangeraak moet word terwyl dit aangeskakel is nie). Pers en rooipienk lawa swem stadig na bo in die lamp, wat die vorm van 'n vuurpyl het. Ek gaan probeer shutdown voor die onheilige uur van vier. Goeiemôre, Koeberg.
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |