|
|
No exitDeborah SteinmairDis ongeveer 18 km tussen my woonhuis en werkhok. Gistermiddag het die rit amper een en 'n half uur geduur. So 'n taai verkeersknoop laat 'n mens die basis van jou bestaan bevraagteken. No exit, ek sê. En ek sit en ek sit. Dan begin ek wonder oor die woord verkeer. Wat vir 'n woord is dit? Dit dui nie 'n ding aan nie, maar 'n staat. Verkeer is ontasbaar, behalwe miskien geslagsverkeer. Verkeer is maar een lettertjie weg van verkeerd. Turend tob ek agter die stuur oor woorde soos luier. Dit klink en lyk presies soos die vergelykende trap van lui. Om te luier maak 'n mens moeg. Luier is die voorspel tot kak, soos in die geval van babadoeke wat ook luiers genoem word. Ek beginne wonder oor die woord baan. Onwillekeurig dink ek aan die rede waarom ek in hierdie onbeweeglike baan vasgevang is: my sogenaamde loopbaan. Op die snelweg is dit bitter moeilik om van baan te verander. Dit ontlok onvergenoegdheid en woede by ander motoriste. Presies so is dit om van loopbaan te verander. Jy moet jou neus by 'n gaping insteek en jouself blitsig inwurm. Niemand gaan vir jou 'n kans gee nie en jy moet altyd oor jou skouer kyk om jou blinde kol te tjek. My gedagtes dwaal na die dagboeke van Dorothy Wordsworth, suster van die digter, waarin ek onlangs gelees het. Haar dae was redelik monotoon en heeltemal ontdaan van verkeer. Sy en haar broer en hul vriend Coleridge het meestal in die woud gaan stap, ertjies uitgedop en voor die vuur gaan sit en skryf oor die vorm van wolke en klein veranderinkies in die weer. Dan weer dorp toe gestap om eiers en ham te gaan koop en poskantoor toe te gaan. Die staptog duur anderhalf uur en halfpad word hulle deur reën onder 'n krans vasgekeer. Hoe boheems, wild en anargisties klink hulle bestaan nie hier tussen die uitlaatgasse nie. Later begin die koolstofmonoksied my brein aantas en filosofiese en literêre gedagtes maak plek vir die refrein van 'n popliedjie wat ek in Ackermans gehoor het. Ek besit nie 'n motorradio nie. As ek een gehad het, was hy al gesteel, want iemand het onlangs my passasiersruit gebreek net om seker te maak. So sonder kontak met die buitewêreld is ek dus aangewese op die refreine in my eie kop. Ek het 'n paar gunsteling verkeersknooprefreine, soos Leonard Cohen se: "I'm wanted at the traffic jam, they're saving me a seat", en Valiant Swart se "sportskarre snuffel in die slow lane …" En binne 'n radius van 200 km voor en na Beaufort-Wes sing ek kompulsief aan "Beautiful in Beaufort-Wes" van Gert Vlok Nel. Ongelukkig kan ek nie al die woorde onthou nie en sing meestal in 'n endless loop: "… want jy was beautiful in Beaufort-Wes en ek was so verskriklik verskriklik lief vir jou". Ek is nie baie nootvas nie en sing kom nie vir my maklik nie. My pogings gaan gepaard met die bultende nekare, gesperde neusvleuels en maroen gelaat van 'n derderangse operasanger. Ek spaar vir 'n karradio. So bewegingloos in die verkeer vasgevang merk 'n mens heelparty dinge op. My verveelde oë volg die gefnuikte vlug van 'n paar meeue wat soos stoflappe deur die wind rondgegooi word. Net soos ek, slaag hulle nie daarin om by die huis uit te kom nie. Ek stel my mevrou Meeu voor, vlerke in die sye soos Flo Capp: "En waar was jy tot hierdie uur?" En die moeë meneer Meeu wat met sy laaste asem probeer verduidelik dat hy gekom het so gou hy kon, maar die wind was nie gunstig nie. Mentaal begin ek "bond" met vyf weerbarstige bruin latte in die geroeste motor voor my. Ek deel hulle musiek teen wil en dank. Dis suiwer beat. Hulle is in houdings van uiterste verveling oor die sitplekke gedrapeer - ja, die bestuurder ook. Hier en daar hang 'n been en arm by die venster uit. Hulle stuur 'n slap zol in die rondte. Hulle befluit en teister 'n tienermoeder wat met 'n stootkarretjie verbygestap kom. Een klim lui uit die kar, steek die straat oor, slenter by 'n kafee in en kom later met twee groot pakke goudgeel, goedkoop kaaskrulle (me tartrazine, you jane?) te voorskyn. Dis vyf minute later en hy tref die kar skaars twee meter verder aan. Die dag kwyn en verlep aan die tak. En ek sit. Die situasie word vererger deur ongepoetste motoriste wat links verbysteek en 'n derde baan links van die geel streep skep. Hierdie seerowerbaan beweeg redelik flink, maar 'n mens weet by voorbaat dat die hele spul vorentoe gaan bottelnek en ons almal nog meer gaan vertraag. Ek ontdek 'n stokou koekie, nog in plastiek toegedraai, in die paneelkissie. Cathy's Cookies. Die etiket dui aan dat dit 'n gesondheidsbeskuitjie sonder suiker of meel is. Dit bestaan hoofsaaklik uit muwwe dadels en hawermout. Hongerig skeur ek die omhulsel met my oogtand af en vat 'n groot hap. Op daardie oomblik begin die slang motors beweeg. Ek stik, die kar vrek en te midde van ergerlike toeters en met 'n boesem vol krummels probeer ek my gat in rat kry. Uiteindelik tref ons die oorsaak van die opeenhoping aan. 'n Deeltjie van die regterbaan is afgekordon en langs die stewels van polisiemanne lê 'n eksvoetganger roerloos onder 'n laken. Die toneel is onwerklik, Mad Max-agtig. Daarna vloei die verkeer weer fluks. Daar is 'n liedjie van Dory Previn: "Going home is such a ride, going home is such a long, lonely ride ..."
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |