|
|
Ons het opsiesDeborah Steinmair
Ons leef in die eeu van keuses. Ons is branderplankryers van die veelvuldige keuse. Met ‘n remote in die vuis voetstap ons vingers oor rubberknoppies. Ons multitask, sommige met meer finesse as ander. Toe my tienerdogter my met twee stywe wysvingers sien sms in plaas van met daardie eenheid wat ons met die sjimpansee deel, die beweeglike duim, bars sy uit van die lag. Presies só, verduidelik sy, loop die faktotum by haar skool altyd op ‘n stokou selfoon sms’e en tik. Ahooi, faktotum, ek en jy is teëstribbelend die een-en-twintigste eeu binngesleep. C u 2nite @ 7? Gr8 :) Die lug knetter van kommunikasiegolwe wat meeding om ‘n fraksie van ons konsentrasiespan. Soms is dit moeilik om te onthou watter funksie by watter elektroniese toebehoortjie tuishoort: die digitale kamera kan video’s met klank opneem, die rekenaar cd’s speel en dvd’s vertoon, die selfoon foto’s neem, video’s en klank opneem, somme maak en eposse stuur. Kan die laptop miskien roosterbrood maak? Beland ek soms in ‘n huishouding met ‘n satellietskottel, merk ek ‘n interessante verskynsel op. Die tydskrif met die program is gewoonlik soek en mense surf rigtingloos soos Gert Vlok Nel se hart wat soos ‘n los roeiboot al met die rivier af dryf. Ons saampel ‘n smorgasbord van bubblegum-vermaak: ‘n Hallmark-traan val hier, op ‘n ander kanaal word ‘n paar emmers bloed gestort, dáár gebeur ‘n knippie blootse seks, hier ‘n paar putjies gholf, ‘n blitsige dis word opgeklits en voor ons oë aan die brand gesteek, ‘n maanhaarleeu trek ‘n ongelukkige bok plat, oorlewers wedywer op ‘n eiland, blasfemiese rappers veeg PW Botha-wysvingers onder ons neus, nog ‘n Hallmark-traan biggel. Dis ‘n koorsdroom. Hierdie multikeuse-mallemeule het aanleiding gegee tot nog ‘n verskynsel: die gekondenseerde fliek, soos Reader’s Digest se condensed books. ‘n Mens val halfpad by ‘n fliek in wanneer ‘n flenter dialoog of ‘n akteur se gesig jou aandag trek. Selfs ‘n eenvoudige storie word op dié manier ‘n whodunnit, met dat ‘n mens probeer om die kloutjie by die oor te bring. Uiteindelik werk jy van die ontknoping af terug om te probeer vasstel wat in die eerste helfte gebeur het. Dan hopscotch jy weer na ‘n ander fliek, ook al kwartpad aan die gang. Daar is baie herhalings en op dié manier vang jy soms toevallig die begin van ‘n fliek waarvan jy verlede week die einde gesien het. Later word die storielyne in jou kop verweef, soos twee drome wat jy in dieselfde nag gedroom het en waarvan jy net fragmente kan onthou. Titels vervaag. As ‘n mens soos ‘n goeie begryper eers gewoond geraak het aan ‘n halwe woord, kan jy in bioskope ook maklik twee flieks vir die geld en in die tyd van een inpas. Ek en my dogtertjie kon gister nie besluit waarna om te gaan kyk nie. Ons kyk toe na die eerste helfte van een flouerige fliek en sluip die volgende teater in waar ons die tweede helfte van ‘n ander fliek sien. Waarom seil ons een vir een deur die afstandbeheerde keuses? Waarna is ons rustelose vingers op soek? Ek dink ons smag na daardie een volmaakte golf, die handvol oomblikke wanneer jy bo-op die wêreld staan, jou voete op die maanhaar van die brander geplant met die warm wind in jou hare en die huisies aan die kuslyn ‘n string skitterende juwele in die agtermiddagson. Ons Dramakunde-professor, ‘n aangrypende ou towenaar wat soos ‘n neef van graaf Dracula gelyk het met bleek gelaat, agteroorgekamde blinkswart haredos, gesperde neusvleuels en pieringoë, het altyd gepraat van “theatre magic”. Die begrip is later grotendeels gekaap deur die ligtevermaakindustrie. Maar ons kan dit steeds herken, daardie gelaaide oomblik wanneer tyd gaan stilstaan en alles wat aan jou knaag – jou oortrokke rekening, die Zuma-saak, Phumzile se stralerjakkery, die wisselkoers, die brande teen Tafelberg, jou ingeskeurde nael – eenvoudig vervaag. Jy is ‘n suiwer reseptor, jy ervaar met ‘n hoofletter E, jou nekhare staan orent en elke porie is oop. Aha, sug jy. So is dit. Aha. Ek het onlangs met die baanbreker-regisseur en rolprentmaker Jans Rautenbach gesels. Hy word nou sewentig en het in die sestigs, sewentigs en tagtigs van die vorige eeu grondverskuiwende flieks soos Katrina, Jannie Totsiens, Die Kandidaat, Broer Matie, en Pappalap gemaak. Hy is ‘n boeiende storieverteller. Ek sou niks minder verwag nie. Sy resep vir ‘n goeie fliek is bedrieglik eenvoudig: “Man, die bottom line is, vertel my ‘n storie. Ek kom in ‘n saal sit, ek betaal wat jy my vra. Ek kom dat jy my ‘n storie moet vertel. Nie vir my oordonder met klankeffekte en goeters wat vlieg nie. Die eerste keer is dit miskien indrukwekkend, maar daarna wil ek weet: Waar’s die storie wat jy my wil vertel?” Is dit wat ons geluidloos soebat met ons vingers op die remote? Vertel my ‘n storie, ag asseblieftog Ma ... Vertel my ‘n storie, toor my weg, maak my huidloos, laat my vergeet, ek wil Ervaaaaar. En as jy dit nie binne vyf sekondes regkry nie, is ek al weer op die volgende kanaal. Vermaak my of anders ... flikflooi ek vermakerig. Ek het opsies.
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |