Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Op Zanemvula se woelige tong

Deborah Steinmair

Dis 2006. My Cinzano-glasieversameling is voltallig. Selfoonnetwerke se beurse is gestuif met die dat sms’e soos vuurwerke kruis en dwars oor die naghemel gevlieg het. Ek het ‘n lang Kers-sms vol goeie wense van Marion en Brian ontvang. Ek het geen idee wie hulle is nie, maar het nogtans afgeskeep gevoel toe daar geen Nuwejaarswens van hulle inkom nie.

Ek hou my voornemens vir myself, maar die thwasa in my orbit het ‘n koppie rooibostee gedrink en is oorval deur ‘n visioen vir ons land in 2006. Haar naam is Zanemvula, wat beteken: kom, reën, maak oop, hemele. Ek stel haar aan die woord:

Seksuele rewolusie in Suid-Afrika
Die belangrikste ding wat Suid-Afrika dié jaar gaan tref, is ‘n seksuele rewolusie. Dit sal so intens wees soos die rewolusie voor die vrylating van mnr Nelson Mandela. Die verhoor van mnr Jacob Zuma gaan die kollig gooi op die manier waarop mans na vroue kyk, en vroue na hulleself.
In die eerste fase van die verhoor sal groter geweld en verkragting op vroue plaasvind, veral in KZN. As ’t ware om vroue ‘n les te leer. En om die klaagster – en “haar soort” – op hul plek te sit. Dit is die bloedige prys van die sosiale rewolusie wat later in die jaar nuwe insigte en houdings sal bring. Want later in die jaar begin mense die issues verstaan. Vroueregte is menseregte. Vroueregte is menseregte. Vroueregte is menseregte. Soos ‘n mantra trom dit van hut na hut, shack na shack, waterput na waterput, van heuwel na heuwel, van bees, na skaap tot bok.

Dan begin ‘n gevoel van selfrespek vir alle mense blom. Mans inkluis.

Want sodra vroue gerespekteer word deur mans, respekteer mans hulself ook, en skep só ‘n positiewe lewe vir hulself. En wanneer vroue hulself respekteer, laat hulle nie toe dat mans hulle nié respekteer nie. ‘n Positiewe siklus dus, as opposed to ‘n bose kringloop.

Ons trek ook internasionale aandag met hierdie nuwe soort drommedariserige rewolusie van die gedagtes.


Tribalism herleef (openlik!)
Bruin mense gaan weer bruin mense word. Nie wit of swart soos in die verlede nie. Hulle besef dat hulle, nes die dertien ander tribes in die land, na baie jare tot ‘n unieke tribe gegroei het met ‘n eie taal, kultuurgoedere, humor, bydraes en … politieke mag! Hulle begin om hul kultuurgoedere uit te stal. Om die Kaap, hul tuiste, met hand en tand terug te vat. Hulle benadruk dat húlle die toekoms van Afrikaans is, asook die verlede van Afrikaans, nie die Paarlse taalmonument nie. Ook dat die Kaap nie Hollands is nie, maar Gamat.


Spiritualiteit
Die tradisionele kerk ondergaan ‘n stadige, maar eienaardige transformasie. Soos mense meer studeer, besef hulle die kerk is eintlik ‘n baie ou Pagan-instelling. Simbole van “Christus se bloed drink en sy liggaam eet” kry wyer betekenis terug in die geskiedenis in. Baie jong mense wat graag aan ‘n groot, gerespekteerde en internasionale Pagan-godsdiens wil behoort, gryp dit aan. Hulle stroom die kerk binne met hul eie idees en bring onverwagse transformasies.

Ongelukkig sal die gevestigde Pagan-groepe (wat jare al wroeg om erkenning) se neuse baie uit joint wees hieroor. Hulle sal voel die kerk rokkel hul mense af met cheap trieks en glamour.

Die Moslems lewer groot, internasionale bydraes tot debatte oor menswees. Interne verskille oor interpretasies dryf dit. Hulle probeer hulself verstaanbaar maak aan die wêreld sonder om 20 verse uit die Koran aan te haal. Dit ontsluit groot, groot spirituele energie. Dié energie waarop hulle vir die afgelope 585 jaar stoom onder burkas en takiyas. Energie wat jy dadelik kan sien as jy diep in hul oë kyk. Reën. Vrugbare donderbuie. Lente.


Menseverhoudings
Baie pyn. Maar niks om oor bekommerd te wees nie. Dis ‘n skoonmaakproses van ou baggage. Mense wat bereid is om in die spieël te kyk en hul eie issues te face, sal na ‘n jaar (in 2007) ongekende geluk beleef. Die res gaan maar suip, bibber en beef.


Roots
Dit begin baie, baie stadig, maar mense begin besef boekgeleerdheid is beperk. Mense het vroeër geweet hoe om huise eiehandig te bou, hul eie medisyne te vervaardig, en hul eie kos te plant. Dit was voordat munisipale wette vir hulle begin dink het en hul breins gesteel het. En hul hande lam gemaak het. En ‘n houding geskep het van: “Die regering moet dit vir my doen.” En voor Woolworths aan die meer welaf mense ‘n soort van nuwe, tiranniese kos-Puritanisme en estetiek ten duurste begin verkoop het.

Vroue, wat geboorte gee aan kinders en weet die lewe gaan aan met en ondanks bloed, kak en snot, verjaag dié bose gees tydens 13 menstruele siklusse. Hulle liberate veral mans wat deur die rolstoel-gees geteister word. 2007 kan vir ons baie ouer en wyser verras.


Woede-brandstigtings
Die Kaap (en ander landsdele) gaan gebuk onder toenemende brandstigting. Baie mense voel verstote en onwelkom in die Kaap, hul eie huis. Dan steek hulle dit dan aan die brand.

Vuur is ‘n ou uitlaatklep en skoonmaakmiddel vir verkragte emosies. (En dit werk soos ‘n bom!) Dis nie noodwendig ‘n kleurpolitieke ding nie. Dis meer ‘n soort van elitistiese politiek – ‘n aaklige sosiale snobisme en materialisme – wat hoogty vier in die Kaap. In die naam van “vooruitgang” word mense van hul grond af en uit hul huise uit gedonder. Dis asof doktor Verwoerd se gees weer opgestaan het en hier ronddwaal. Ek weet op dié stadium nie wie sy gees gaan verjaag nie. Ek is te swak vir hierdie groot werk.


Wit mense
Wit mense wat nog na ou Europese gemak en slawediens verlang, gaan almal Melkbosstrand toe trek. Dit gaan floreer en gedy as ‘n soort van hip Orania. Dit sal so hip raak dat swart mense dit ook later infiltreer, maar eers oor twee dekades.


Unconditional love
‘n Klein, stadige omwenteling gebeur: mense begin hul diere beter te verstaan, want hulle besef dis hul trouste vriende. Dit is die wesens op die planeet wat jou die beste kan wys wat unconditional love is. En ja, hier sit die diere al eeue onder onse neuse terwyl ons vet ghoeroes uit ander lande se voete en beursies soen en wag op extraterrestrials (om ons te red).


Amerika
Amerika gaan eenvoudig al konserwatiewer raak. George Bush gaan nie aan ‘n pretzel verstik nie, ondanks sy eerste pretzel-selfmoordpoging vyf jaar gelede, asook druk van alle kante. Hy gaan weliswaar net eendag ophou praat op televisie, mid-sentence, en dit sal wees omdat iemand sy kragprop per ongeluk afgeskakel het.


Afrika-moraliteit
In die lig van bostaande sal die sogenaamde onverstaanbare Afrika-moraliteit meer verstaanbaar, en dus meer aanvaarbaar, word vir baie mense op die planeet.




LitNet: 17 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.