Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek is 'n stoepsitter

Deborah Steinmair

Ek sit op ‘n voorstoep in Rosebank. Daar is ‘n Rosebank in Johannesburg ook, maar hierdie moet Kaapstad wees, want in die hoek van my oog hurk Tafelberg. Dis vroeg-Desember, laat in die dag. Dis die een en twintigste eeu.

My vroom ouma het my in die twintigste eeu grootgemaak om te glo dat ek nooit gaan grootword nie. Die Here Jesus sou ons kom haal. Wegraap was die woord, soos ‘n dief in die nag.

Dit is een version van my kinderdae. Daar is ‘n hele paar. Ek het heilsame kinderkrans-, inryteater- en troeteldierkinderdae gehad, goue oggende vol cupcakes, Kool Aid en hundreds & thousands, koperkleurige agtermiddae vol klawer en paddavissies. Ek het ook manies-depressiewe kinderdae vol seks, koorsdrome en tokkelosse gehad. Het iemand ooit net een kindertyd?

Ek het voortgegaan soos ek begin het. Ek het op drie en veertig reeds ‘n hele paar volwasse lewens ingepas. Op ‘n middag soos hierdie, wanneer die wind nukkerig ruk aan die bome, skuif hologramme van ander middae op ander stoepe bo-oor hierdie een. Die collage is geensins chronologies nie.

Die stoep in Alberton, toegebou soos ‘n hok van glas, van waar ‘n mens oor die straat en die Hoëveld kon kyk, maar waar ‘n mens nie vry kon asemhaal en aan ‘n God kon glo nie. In daardie version van my volwasse lewe is ek getroud met ‘n man, ‘n skraal Oostenryker. Dit was voordat die geëlektrifiseerde muur opgerig is en ‘n mens niks meer kon sien nie.

Ander middae en ander stoepe. Milan Kundera het geskryf: Om te kan weet of ‘n mens die regte keuse gemaak het, sou jy ‘n hele paar lewens moes hê, in elkeen ‘n ander opsie kies en later besluit watter die gelukkigste was. Ons leef in ‘n weggooi-era. Niks is meer vir ewig nie. Alles is perde koop. Jy kan alternatiewelik opsie A, B en C uitoefen. Of miskien is dit net ek wat my lewe soos ‘n uitgekrapte monkey puzzle leef. Alles is hede.

Daar is die balkon van die huis teen die berg toe ek klein was. Ek en my ouma sit vir die Heer en die nag en wag. Ons kyk uit oor die voorstad, so ver soos die oog kan sien. My ouma gebruik woorde en uitdrukkings soos: ‘n hanetreetjie, menseheugenis en vertoef (“Hoe lank gaan die Here nog vertoef?”). Voor ons oë gaan al die liggies aan, stringe en stringe lucky packet-juwele. Ons tydverdryf is om kerktorings te tel. “Heidense gelowe spring soos paddastoele op in die laaste dae, my kind.” Die Mobil-teken maak my bly, soos ‘n baken vir die hart.

Die stoep in Brixton, waar ek in een fase saam met ‘n militante skryfster woon, is van bo tot onder toegetralie soos ‘n kou of ‘n sel. Daar sit ons laatmiddag rooigesig oor whiskeys en kyk na die ryk straatlewe, kopskud vir bedelaars. Dit was die tyd toe ek ophou wag het op die Heer.

Die stoep in Melkbosstrand is agter die huis, onderdak, en kyk uit oor ‘n swembad wat ons om die dood nie kan blou hou nie: ‘n groot massa groen water soos ‘n vingerwysing van suburbia. Ons is chaotiese sigeuners in ‘n respektabele buurt. Hierdie fase van my lewe begin ernstig lostorring en uitrafel, ons drink al vroegoggend whiskey. Die skrywer verwaarloos haar groentetuin en haar honde verskeur al die kussings in die huis.

Die stoep van die donker woonstel in Stellenbosch is net ‘n lappie plaveisel so groot soos ‘n posseël. ‘n Kuithoogte-muurtjie skei dit van ander chaotiese lewens vol oplbaasswembadjies, minibraaiers en stukkende tuinstoele. Dit kyk uit op twee meter-hoë diamantdraad met lemmetjiesdraad bo-op.

Daaraan haak ‘n maer straatkind se hempie eendag vas nadat sy iets uit ‘n woonstel gesteel het. Sy maak nie ‘n geluid toe die veiligheidswag haar daar kom afruk en ‘n oorveeg gee nie. ‘n Stukkie van haar T-shirt word weke daarna al bleker aan die lemmetjiesdraad. Dis die woonstel sonder daglig waar ek my jongste kind verloor het. Sy het besluit om op die familieplaas te gaan woon en skoolgaan, waar mense om ‘n tafel sit en eet op ‘n bepaalde uur, met gebed, servette en koeitjies en kalfies. Sy gaan Sondagskool toe en wag op die wederkoms.

Hierdie stoep, nou, is die kulminasie van baie stoepe en ook die oorspronklike, eerste stoep wie se bestaan in die hoek van my oog ek al lankal vaagweg vermoed. Hier woon ek nou saam met ‘n vrou wat in elke porie onkonvensioneel is. Wat op ‘n jabulisa in Delft in die middel van ‘n geselskap vroue, saamgebondel in die donker slaapkamer van ‘n drievertrek-huisie, wild en ululerend aan die dans gaan met haar handvol Xhosa-woorde, haar wit gewaad en oë soos ‘n sweisvlam. Wat haar gespierde kaal voete gaan skrop voordat sy kom inkruip met haar wit krale en haar besige kop. Wat bedelaars innooi en trakteer op filterkoffie en vla.

Die hede is die stoep van my lewe.




LitNet: 20 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.