Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moenie met my sukkel nie, ek't ge-eclipse

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

My ma lees nie Fratsgolwe nie. My ma het jin-oë. Hulle kyk dwarsdeur dimensies. Groot, geelbruin oë wat kan vries soos 'n stilskoot in die bioskoop net voordat die credits begin rol.

My ma het jin-oë, maar sy is 'n Christin. Sy wil nie onder die volmaan dans en kruie-muti tussen haar lang borste dra nie. Sy is in 'n ander idioom gebore. Al ritueel waarin sy wil deel, is die kelkie en die brood. Sy is bang vir die brandstapel.

Ek en my ma wil nie meer stemme hoor nie. Die visioene maak ons moeg. Ons wil liewer TV kyk. Noot vir Noot en Who wants to be a millionaire?

Gisternag het ek gedroom ek is op 'n eina-lysie hoog bo 'n afgrond vasgekeer. Die lysie was so smal dat ek net op een boud kon sit, vooroorgeboë oor die afgrond. My kop het al swaarder geword. Ek kon nie roer nie en was besig om my balans te verloor.

Verlede Maandag was die maan vol en gedeeltelik verduister. Die maan was in die teken van Aries, die strydlustige ram wat met die oorlogsgod Mars geassosieer word. Oor ons agterplaas in Rosebank kon 'n mens haar onheilspellend sien glimlag deur die wolke.

My ma (digby sewentig) en tante (vyf en tagtig) was op besoek uit Gauteng. In die huishouding waar ek nou woon, het ons groepie vroue om die kombuistafel gesit en gesels. Ons het whiskey, brandewyn en rooiwyn gedrink.

Kombuise, en veral kombuistafels, is gelaai met die vibrasies van stokou emosie en bagasie. Dit is dikwels hier waar motoriese momente en katarsiese waterskeidings afspeel. Waar die patologie van families manifesteer en dekades oue swere oopgesteek word, waarna niks ooit weer dieselfde is nie.

Soms, op 'n volmaannag wanneer die hemelliggame in 'n sekere formasie oor die suburb groepeer, spat die vonke.

My ma praat baie, omdat daar dinge is wat sy nie wil hoor nie en dinge wat sy nie mag sê nie. Sy het op dié aand aangehou praat oor 'n sekere gesin, haar oorle' suster en dié se kinders. Toe sy by die oudste seun kom, ook nie meer vandag se kind nie en hoogs suksesvol, val die huiseienaar, my vriendin die thwassa, haar in die rede. In die gesellige volmaannag pluk sy Pandora se boks wyd oop: "Weet jy dat hy jou dogter gemolesteer het toe hy 'n student en sy vier jaar oud was?"

Daar was 'n oomblik van stilte waarin niemand die onnoembare registreer nie en almal mik-mik om aan te gaan met hul lewens. Dit was soos daardie oomblik wanneer 'n DVD vashaak en alle beweging verstil. Die volgende oomblik raak almal weer geanimeerd en vervat die gesprek.

Maar my vriendin die thwassa ken dieremedisyne, die beginsels van die kosmos en die bestuur van energie. Sy ruk wonde oop ter wille van genesing. Sy herhaal haar vraag.

En my ma disintegreer in haar stoel. "My kind. Ek het nooit geweet nie. Hoekom het jy niks gesê nie? Ek voel soos 'n mislukking. Ek het gefaal. Was ek darem in ander opsigte 'n goeie ma? Ek het gedink 'n mens sou weet. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. My hart is gebreek."

Sy tas na strooihalms in 'n verwarde monoloog: "Op 'n manier het jy tog daaroor gekom. Jy was darem ook al gelukkig gewees. Daar was tye toe jy lovers gehad het ..."

Ek besluit in die koors van die oomblik om die hele mandjie patats oor die kombuistafel uit te gooi. "Ek het nou ook lovers. Eintlik ... hou ek net meer van vroue as van mans; dis niemand se skuld nie, ek is maar so gebore."

My ma gryp na nog 'n strooihalm: "Vir companionship?"

"Nee, vir alles."

"Jy voel veiliger by vroue."

"Nee, dis maar hoe ek is."

Dit was 'n lang nag. My tante het in die donker sitkamer gehuil en my ma het heelnag op en neer oor die plankvloere getrap. My hart het gelê en bloei vir haar, en vir die vierjarige kind wat in slapelose nagte gelê en bid het om dood te gaan.

In die kneukels van die nag het ek vir my geliefde gemompel: "Nou moet niemand ooit weer kak soek met my nie. Ek het ge-eclipse."

"Sterkte," sê my ma 'n paar dae later oor die foon vir my. "Ons sal deur hierdie ding kom. Jy moet sterk wees. Ek bid vir jou."

Ja, Elisabeth Eybers, ek moes deur baie pyn om mens te word.

Ja, Antjie Krog, dit vat baie lank om 'n vry fokken vrou te word.

Die nagmerrie waarin ek op die lysie vasgekeer is en vooroor begin afduiwel, het só geëindig: Opeens besef ek: dis 'n droom dié; as ek wakker word, is dit oor. En toe maak ek myself wakker.



LitNet: 01 November 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.