|
|
Francina leer my valDeborah Steinmair
Elisabeth Eybers se jongste digbundel heet Valreep. Dit beteken 'n soort allerlaaste loopdop: die drankie wat iemand wat op 'n skip ter dood veroordeel is, vergun is voordat hy op 'n plank die see in moes loop. Voordat hy wegval. Ek het gister in Slootloop-winkelsentrum saam met 'n groot skare voor 'n reuseskerm gestaan en staar na tuisvideo's van allerlei onverwagse kennismakings met Moeder Aarde. Ploeterende kleuters wat omfoeter in modderplasse, jaagduiwels wat in die middel van 'n sprong vir hul motorfietse totsiens sê en wawiele slaan op pad grond toe. Dit bly ongeëwenaarde vermaak: om te sien hoedat iemand anders as jyself deur die noodlot gepootjie word, swig voor die fatale attraksie van swaartekrag, deur balans uitloorlê word. Ek het eenkeer gehoor dat sendelinge vir 'n sekere sogenaamd primitiewe stam 'n rolprent van die Passiespele vertoon het. Soos dit maar gaan, was dit in hierdie stam se aardse kultuur die hoogtepunt van humor om iemand anders te sien val. Die Weg van Smarte, waar Christus telkens gestruikel het met die kruis, het histeriese lagkrete ontketen. Toe ek nog naby aan die grond was, het 'n bediende wat ons Francina genoem het omdat ons haar regte naam nie kon uitspreek nie, my geleer hoe om te val. Sy het gedemonstreer teen die klipperige heuwel agter ons huis: só val 'n mens. Moenie probeer keer of terug hou nie. Laat die momentum homself uitwoed. Moenie handpalms uitstrek om jouself te stuit nie. Trek kop en arms in soos 'n skilpad en rol in die val in. Met grasie en oorgawe. Dit was een van die waardevolste lesse van my lewe. Ek wat 'n los-en-vas verhouding met swaartekrag en 'n glipperige greep op balans het. Sedertdien sien ek my gat met grasie. Ek rol totdat ek vanself tot stilstand kom, soms met die ongeërgd-flambojante heup- en skouerrol van 'n waagarties, asof met verruklike fanfare en trommegeroffel. Soms land ek op my voete en strek albei arms horisontaal langs my lyf uit soos 'n Olimpiese gimnas met een oog op die elektroniese telkaart, hopend op 'n 9,9. Een van my gunstelingflieks wat soos 'n klip gesink het by die loket, gaan oor 'n adrenalien-junkie wat sonder valskerm uit vliegtuie spring om (hopelik) sekuur en tydig op 'n brandende trampolien te land. Haar eksminnaar en -mentor, 'n sirkusarties van die sweefstok, sê bitter, met brandende oë en swaar Spaanse aksent: "I taught her to fly, but she chose to fall …" Soos baie mense op aarde droom ek van kleins af dat ek val en val en val. Tot dusver het ek nog altyd wakker geword in die breukdeel van 'n sekonde voordat ek tot 'n bloedkol op die sypaadjie gereduseer word. Op Engels val 'n mens aan die slaap, val 'n mens in die liefde in en weer daaruit, val 'n mens swanger, val 'n mens siek, val die nag. In Afrikaans was daar die sondeval en die val van Apartheid. Kleuterrympies is vol vallende karakters. As ek so na Jack & Jill luister, klink dit vir my asof Jack verkeerd geval het - weerstand gebied en so sy kop gebreek het - terwyl Jill slimmer geval het: haarself oorgegee het aan die val en bloot agterna getuimel het. En dan sal 'n mens ook altyd wonder of Hompie Kedompie dalk van die wal af gestoot is? Alice het by die haasgat afgebliksem, soos wat dit maar gaan as 'n mens hoog is. Gelukkig is mense nie heeltemal so fragiel soos Hompie Kedompie nie. 'n Mens lees altyd weer van iemand wat op wonderbaarlike wyse 'n val vanuit 'n duiselingwekkende hoogte oorleef. Ek het eenkeer gelees van 'n vrou wat besluit het om selfmoord te pleeg as gevolg van haar man se ontrouheid. Toe sy van 'n hoë gebou afspring, land sy, van alle mense op aarde, bo-op haar egbrekende eggenoot, val hom tot 'n pulp en oorleef. Onstrafbare manslag? Miskien wonder julle wat het van Francina, my valinstrukteur, geword. Sy het ook kort daarna haar gat gesien, nadat sy met 'n veltpuntpen agter op een van my ma se tydksrifte F O R K Y O U geskryf het. Sy het hierdie val ook met 'n traak-my-nie-agtige grasie genavigeer, met 'n skouerophaal soos 'n tongklik, met 'n loslit boudwip in die wegstap. Francina se val van grasie was telkens die model vir my wegstap uit versmorende kantore - een skouer hoog, ken in die lug, een voet voor die ander, hoogtrap met die suggestie van 'n gatswaai. Die sonsondergang in. Ek vestig my blik met waardigheid op die westerkim en vlak voor my voet wag die piesangskil. Enige donner is welkom om te lag. Laat hy val waar hy wil!
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |