|
|
Siener in die suburbsDeborah Steinmair
Met apologie aan PG du Plessis. Dit is loshande die mooiste titel van enige boek of drama ooit. Ek is 'n siener. Ek sien my gat (met apologie aan Jeanne Goosen). Ek sien ook baie meer, van kleins af. Ek sien die negatiewe ruimtes tussen voorwerpe en woorde. Iemand het eenkeer vir my gesê daar's 'n uitdrukking in Nederlands: De fokus ernaas. My broer is met die helm gebore, maar ek sien ook die toekoms, die verlede en die onsigbare gedeelte van die hede. Daar's 'n song van Bob Dylan: "Your sister reads the future, like your mother and yourself." Die sluitermomente wat my brein vasgevang het voor die ouderdom van drie jaar tint die prentjies wat ek vandag sien soos gekleurde sellofaan. Ek sien my ouers op die stoep, grys en gemoedelik met kruisbande en gesondheidskoene. Ek onthou my ouers se wilde paarties in die hippie-era, die sestigerjare van die vorige eeu. Hulle was kunstenaars. Hulle was beeldskoon, dit sien ek op 'n kleurfoto in my besit. Nie eens die standaard swart horingraambril, die short back and sides of die streng bokbaardjie van die era kon my pa se skoonheid verdoesel nie. My ma het lang swart hare en Jackie Onassis-oë gehad: groot en wyd gespasieer, aangrypend sielvol. Die sixties. Ons woon in 'n pophuis teen 'n berg. Die hele onderste gedeelte van die huis is my pa se skilder- en beeldhoustudio. Dit double as sitkamer. Die plafon is laag en grofgepleister. Daar is 'n wenteltrap na die res van die huis. Dit is hier waar die gunstelingdramas van my kleintyd hul afspeel, die taferele wat my later 'n smaak vir die teater gee. My ouers se partytjies. In die sestigs moes kinders vroeg naar bed. Ek is 'n gebore insomniak wat bang is vir die donker, vir skaduwees, vir gedagtes, vir geluide, vir drome. Ek gaan mooi soet bed toe, maar wanneer die partytjiemusiek die trap op wentel, gaan sit ek in my nagklere aan die bopunt van die trap en loer deur die relings. Ek sit roerloos en hoop ek is onsigbaar. 'n Vlieg teen die muur. Aan die begin van die aand, wanneer almal nugter is, word ek herhaaldelik teruggestuur bed toe. Later, na heelparty kanne Paarl Perlé en Lieberstein, gee almal boedel oor, veral omdat ek my nie opdring, nie tussen die partytjiegangers se bene deurbeweeg, vingerhappies eet of op aandag aandring nie. Ek sit roerloos. En inneem. Metdat die aand sy draad verloor, skuif ek al laer met die trap af. Kliek. Kliek hoe my ouers en hul vriende, meestal kunstenaars, kuns- en drama-onderwysers en -dosente, verdienstelik uitrafel. Selfs die woedende, vloekende, vuilbekskilder oom Oswald wat destruktief en abusive raak, akkommodeer my ouers en hul vriende met liefde, heel ontspanne. Kliek. Een van hul vriendinne, 'n edelgestrengde onderwyseres wat in die regte lewe gereserveerd, koel en in beheer is, se bolla kom los sodat sy haar soos 'n wafferse Isadora Duncan oor 'n sofa drapeer met 'n slap sigaret tussen die vingerpunte, lae stem en fladderende wimpers. Op sulke aande drapeer sy haar graag oor my pa. Hy hanteer dit mooi, met 'n outydse, gefokusde galantheid. Sy gefokusde galantheid laat al die vroue in die vertrek om hom graviteer. Al die mans lê by my ma aan. Sy hou hulle met groot kindness effens, maar nie heeltemal nie, op 'n afstand. Dit herinner my aan die woorde van Leonard Cohen oor die sixties en seventies: "A great kindness prevailed in those doomed decades." Ek dink ook aan Paul Simon se woorde: "All will be received in Graceland." Almal word ontvang, tot die vet streepkat wat met toe oë lek aan die lewerpatee op die sny Franse brood in iemand se vuis. Êrens deur die aand neem my ma soos Joan Baez en Jill Kirkland die kitaar op en val weg met hartroerende folk songs. "Katrina's theme", "Blowing in the wind", "Seasons in the Sun", "Puff the magic dragon". Oom Francis sing saam in 'n fyngetrynde tenoorstem. My ma en pa is een van daardie paartjies wat so versot is op mekaar dat hulle kan bekostig om gaaf te wees met die res van die wêreld. Een vriendin se stokperdjie is Spaanse danse. Êrens deur die aand kom sy uit die badkamer te voorskyn in 'n dieprooi rok met val op val tot op die vloer, soos daardie poppies wat op die ekstra toiletrol staangemaak was. Dan strek sy haar hande soos onrustige vlinders bokant haar kop uit, laat haar kastanjette klap en beweeg met 'n psigotiese hartstog oor die vloer. Soos 'n vlam oor die vloer (dankie, Amanda Strydom). Dit is groots, ek hou asem op. Ware, onverdunde teater. Dit alles het ek gesien voordat ek vier was. Dis waarom ek skryf. Ek sit nog steeds graag op die boonste trappie en kyk. Ek sal julle nog alles vertel wat ek sien; hoor my lied.
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |