Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Al wat daar is, is oomblikke

Deborah Steinmair

Foto: Riana WiechersEk het eenkeer ‘n strokiesprent-kunswerk gesien en kan nie presies onthou waar nie. ‘n Meisie bevind haar in die middelpunt van ‘n groep vriendinne. Sy word op ‘n swaai gestoot of op ‘n kombers die lug in op geskiet. Die byskrif was iets soos: “She had the feeling that all the moments of her life had been leading up to this moment.” A, daardie gevoel. Hold that thought.

As ek kon, sou ek graag soos Meryl Streep in Out of Africa wou klink wanneer ek sê: Ons het ‘n plaas in Afrika. Of ten minste soos Laurika Rauch.

My pa se plaas op De Wildt is ‘n edelsteen in my gatsak, ‘n hersenskim in die voue van my harsings. Hier moet ek waak teen ‘n Toon van den Heever-toon wat soos ‘n knop in my keel wil nestel:

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as kind.

(“Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel.”)

Ek was my hele lewe al op reis na die voet van Tafelberg. Sodat ek hier tot by my oksels in ysige branders deur nat wintersdae kan waad en hunker na die sonnige bosveldbome van my familie se lap aarde, waarop daar onvermydelik ‘n grondeis is, want alles is vervlietend.

Oomblikke rol oor my vingers soos ‘n sak vol gladde albasters. My brein is ‘n byekorf opgebou uit lugtige selle vol soet aktiwiteit. Teen my brein se voetheuwels nestel my familie se hele gesellig-aanmekaargelapte homestead teen die Magaliesberg.

My dae kom en gaan ver van my pa, wat volgende jaar tagtig word en blink van lewenskrag. Hy werk nog heeldag en as hy net eers regop kan kom uit die stoel (die verg ‘n paar sekondes van gekonsentreerde wilskrag), is sy tred lig, selfs veerkragtig. Sy oë is liggroen soos nuwe grasspriete, ‘n raar kleur vir irisse.

Ver van my seningrige ma met haar tieroë, haar tuin, haar melodrama en haar welsprekendheid. Hierdie twee mense in wie se huis die voorsienigheid my afgelaai het, spéél hulle lewe lank. Vroeër was hulle skandalig, onbetaamlik, heerlik verknog aan mekaar. Elke middag het hulle hul vir twee ure lank aan mekaar vergryp agter ‘n geslote kamerdeur. My ma het volgens oorlewering net een keer in haar lewe nie ‘n orgasme bereik nie. Dit was toe hulle nog in die dorp gewoon het. Sy het uitgestorm en op die balkon gestaan en gil oor die buurt (sy het ‘n groot stem) totdat my pa haar na binne gesmeek het sodat hy weer kon probeer. Die dinamika van hulle verknogtheid is nou anders, meer amikaal, met groot bedagsaamheid.

Ek leef ver van die tweelingbroers saam met wie ek die eerste paar jaar van my lewe as Siamese drieling geleef het. Die tyd toe ek vir ons al drie gepraat het. Dit was ‘n groot verantwoordelikheid wat ek met piëteit aangepak het. Dit het my geleer formuleer. Gekonfronteer met enige kwelvraag, het my boeties vir mekaar gekyk, hulle skouers opgehaal en een woord voortgebring: “Vravirreborah.”

Ver van my sussie met die groot persoonlikheid, die kleinsus wat altyd baasgespeel het oor my en die lelikste in my na vore gebring het. Êrens moet ons almal leer baklei. Sy met ‘n wil sterk genoeg om ‘n groot perd te beteuel. Met my het die perde maar altyd weggehol; gelukkig kon ek soos ‘n neet klou.

Ek is ‘n sucker vir die bewoording van ‘n sekere soort emosie: toe ek jonk getroud was met ‘n baba op die heup, was ek vir ‘n tydlank aan ‘n Amerikaanse sepie verslaaf. Die grootste kick was die oomblik wanneer ‘n uurglas uit ‘n woestynlandskap verrys en ‘n emosiebelaaide stem swymel: “Like sands through the hourglass, so are the days of our lives.”

In die Kaap, aan die agterkant van Tafelberg, het ek onlangs by ‘n huis ingestap waar ‘n kamer te huur was. Die voordeur (loodglas met ‘n soort rooi-en-groen aalwynblompatroon) het oopgegaan op die landlady en haar verwoede Afrika-windhond met intense geel oë. “Hallo, bokkie,” het sy gesê. In die gang het ek verwag om enige oomblik in een van my tweelingbroers vas te loop, wiegend en blink. “Yes, DebOrah,” sou hy sê en my onder een seningrige arm vasknyp. In die agtertuin kon ek uit die hoek van my oog die ander broer sien teruglê in ‘n leunstoel, met die agtermiddagson op sy silwer borselkop en ‘n Black Label tussen sy vingers.

Toe ek in hierdie huis in Rosebank instap, het al die albasters, edelstene, heuningselle, hersenskimme en voetheuwels in my brein bymekaargekom. Die oomblik waartoe al die oomblikke van my lewe gelei het.

These are the days of our lives.



LitNet: 23 Augustus 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.