|
|
Ek hunker na wangedragDeborah SteinmairEk het ‘n penchant vir argaïese woorde. Ek stof hulle af en stop hulle in my sak vir alledaagse gebruik. Ek is verlief op ‘n outydse, tydlose woord. Die woord is hunkering. Ek hou van die werkwoord ook: hunker, maar spesifiek van die selfstandige naamwoord, hunkering, omdat dit ‘n ingeboude eggo het. Hunker klink alreeds na ‘n trap van vergelyking: al hunker. Hunker klink na hink, mank gaan aan, na Atilla die Hun, na die manier waarop ons Afrikaans-onderwyser op laerskool ’n uitgespreek het: hun hunkering. Hunkering bly draal op die tong soos begeerte, dis rond en eindeloos soos ‘n ring. Hunkering hou digters aan ’t dig. WB Yeats het sy lewe lank ‘n onbeantwoorde hartstog gekoester vir die heroïese skoonheid Maude Gonne. Laat in sy lewe het hy geskryf dat as sy hom terug bemin het, die volgende waarskynlik sou gebeur het: I might have thrown poor words away Dankie, Maude. Jou onverskilligheid het die intense Ier met die gespookte oë en wilde hare geïnspireer om die volgende op die wêreld los te laat: And pluck till time and times are done En: When you are old and grey and full of sleep, Hunkerend hink ek deur my dae. Hunker is tegelyk knaender en draagliker as verlange. Verlange kom en gaan, hunkering is ‘n chroniese, onderliggende toestand. Ek hunker na my kind wat op nege jaar besluit het om by haar grootouers op die plaas te gaan woon, my weerbarstige, goue kind. Deur elke oomblik van my dag, met elke ontoereikende asemteug, hunker ek na haar. Daar was onlangs ‘n foto in die koerant van ‘n wilde-eend wat met ‘n pyl deurboor is, maar aangaan met haar lewe asof niks skort nie. Sy vlieg nog, swem nog, eet nog. Hunkering dryf ons na lokaleverdowingsmiddels, soos alkohol, wat soos naeltjies op die tandvleis vir onmiddellike, vervlietende verligting sorg. Die Engelse woord is ook mooi: yearning. Dit klink altyd vir my so langdurig, so jaar in en jaar uit. Daar is nog ‘n woord, maar dit klink soos ‘n Japannese geldeenheid: yen. Daar is ‘n fyn lyn tussen hunkering en behoefte. Behoefte, met hoef en al, is ‘n lelike ding. Dis soort van dierlik, gesplete hoewe wat kleitrap om die watergat, desperaat, dwingend. Wanneer ‘n mens met daardie pyl deurboor is, kan jy nie meer so lekker vlieg, loop en eet nie. Eerder hunkerend as behoeftig. Hunkering laat my dink aan NP van Wyk Louw en aan die beste moment van Eybers. Die liefdesverhaalbedryf is gebou op hunkering. Sepies het spesiale bygeluide vir hunkering: ‘n stadige viool, knaend soos ‘n saag, soms ‘n handjievol saksofoonnote in ‘n mineursleutel. Ek hunker na my gesiglose vonkposminnaar, ‘n karakter wat net in die kuberruim bestaan, ‘n verkeerdeveer saksofoonspeler met ‘n sout-en-peper-baard wat soos ‘n Herzogpryswenner met woorde kan goël. Ek hunker na ‘n getroude huisvrou met ‘n bos krulhare soos ‘n heuningkorf, ‘n mond soos ‘n ryp vy en oë waarin vier verskillende kleure woon, soos stokou sonlig en skadu in ‘n bergpoel. Vir al wat jy weet, hunker ek na jou en probeer maar om my pose te hou. My hunkering is eklekties en wyd soos die Heer se genade. Die hemel help my. Rodriguez, daardie troebel Latyns-Amerikaanse troebadoer wat met sy vertoning in Suid-Afrika so dronk was dat sy band van die verhoog af gestap en hom alleen gelos het, het gesing: The sweetest kiss I ever knew Voltrekking, volbringing is die spyker in die doodskis van hunkering. As Romeo en Juliet saam oud geword het, sou sy vet en verslons geraak en hom geleer haat het omdat hy nooit die toiletsitplek afslaan nie, sou hy die kat in die donker bly knyp het met ‘n reeks sappige veertienjariges? As my kind nog by my gewoon het, sou sy met die witwarm woede wat haar geboortereg is, my weer daagliks oor die kole haal vir my gebrek aan fokus, die feit dat ek nie regop by ‘n tafel kan sit en eet sonder ‘n boek onder die elmboog nie, dat ek nie ‘n huis met ‘n tuin kan bekostig nie, dat ek nie ‘n ryk man kan vang om al ons probleme op te los nie? Ja, daar is iets te sê vir hunkering. Met ‘n pyl deur die lyf hink ons moedig voort.
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |