|
|
Die werklosesDeborah Steinmair
Watter soort vrou sal altyd weer, kort voor lank, die mat onder haarself uitpluk net om die koue planke van die gangvloer onder haar voetsole te voel? Watter soort vrou verbrand haar brûe net omdat sy van vure hou? Hiérdie vrou. Daar is 'n Engelse uitdrukking wat my nog altyd gefassineer het: to hit the ground running. Soos in animasieflieks waar 'n karaktertjie se bene al in die lug begin pomp voordat hy grondvat. Soos 'n kat wie se lyf in die oomblik voordat hy grondvat, 180 grade omswaai sodat sy pootjies aarde toe wys. Vandat ek as klein kind eendag van 'n krans afgespring het omdat die struike ondertoe so sag soos watte gelyk het, het my pa altyd gesê dat ek soos die sprinkaan in Die kleine Johannes is. Wat eers spring en dan kyk waar hy land. Ek is weer werkloos en die verligting is groot. Maak dit: gelyke dele verligting en daardie sinkende gevoel op die krop van jou maag wanneer jy vou in blackjack. Om werkloos te wees, is om die ongesweetweerde armholte van die lewe te ervaar. Om vroegoggend straat af te stap in 'n nat wind terwyl jy wonder waar jy jou sambreel laat lê het. Om in 'n dolleë woonstel wakker te word want 'n pandjieswinkel het alles kom oplaai vir 'n appel en 'n ei: yskas, stoof, de lot. Die dag lê oop voor jou. Uit wanhoop begin jy skryf, want daar moet iets wees waarin jy goed is? Die laptop het jy nie laat gaan nie. Sal ek ooit weer werk in hierdie stad nadat ek onder 'n wolk by Mania24 uitgestorm het? Wil ek ooit weer werk? Soos my subversiewe rolmodel, die titelkarakter in die fliek Henry Fool eenkeer gesê het: "I can't work for a living. I've tried that." Om werkloos te wees, is om tyd aan die kraag beet te kry en effens terug te rem in haar dolle vaart. 'n Mens kan weer opgaan in oomblikke soos toe jy 'n kind was. 'n Mens kan minute lank staar na 'n mier sonder om wys te word. 'n Mens kan een hele gedagtegang, soos die Engelse so raak sê, 'n trein van gedagtes, mooi stadig laat voortstoom, onder die brug deur en tot in die stasie. Daar is niemand wat onverwags agter jou skerm staan en vra wanneer jou verslag klaar gaan wees nie. Kom ons volg die spoor van hierdie gedagtetreintjie. Wat is my probleem met formele betrekking? Die oneindige energie wat vermors word op onbenullighede. Die feit dat almal oor dieselfde kam geskeer word. Dat 'n indiwidu (soos, sê nou maar byvoorbeeld, uhmmm, EK) se unieke vaardighede nie na waarde geskat en benut word nie, maar dat die magte in beheer eerder daarop aandring om vierkantige pennetjies in driehoekige gate in te forseer. In die naam van spanwerk. Want ons moet almal ons kant bring, ons gewig trek … en menige ander anglisistiese motiveringsmantras. In 'n werk voel dit vir my altyd asof my werkgewers 'n resiesperd aangeskaf het en nou hierdie hooggeteelde, nerveuse merrie voor 'n melkwa inspan. Sien, ten spyte van verdoemende getuienis wat die teendeel bewys, bly ek blindelings glo dat ek belangrike insette in 'n maatskappy sou kon lewer. As ek nie heeldag in vergaderings hoef te sit nie. 'n Vaste betrekking is soos 'n slang wat sy eie stert sluk. 'n Bose kringloop. Jy bly verkneg sodat jy sommige van jou rekenings kan betaal sodat jy meer skuld mag maak sodat jy aanvaarbaar kan bly lyk en ruik en mobiel kan wees sodat jy jou werk kan behou. Behoeftes word geskep. Die verbruikerskultuur sluk jou in. Ek is in my kwaad gesterk toe ek verlede naweek op Vryburg (moertoe en terug) by 'n boekbekendstelling 'n hoogs eksentrieke Noord-Kaapse digter ontmoet het. Sy naam is Donnie Riekert en hy lyk soos Vader Krismis wat verslank het. Hy dra 'n vuilerige Mr Price-windbreaker en lê met soveel oorgawe weg aan vingerhappies dat sy ruie baard hier en daar groen is van pietersielie. Sy blou oë vonk van weerbarstige intelligensie. Die locals sal jou vertel dat hy nog nooit juis kon aanpas in gewone werke nie, los joppies doen en 'n wêreldkenner van klippe is, wat hy in Kaapstad gaan verkwansel, dat sy kop nou en dan uithaak. Gesels jy vir vyf minute met hom, ontdek jy die wye, belese gees en aweregse humorsin van 'n nonkonformis. Hy ken wêreldletterkunde en sy geselskap is 'n gedig. So, as jy in Langstraat by my verbystap waar ek prewelend my aardse besittings in 'n verroeste Pick 'n Pay-trollie voor my uitstoot, moet my nie jammer kry nie. Wees eerder jammer vir jouself. Want sien, ek is, in die woorde van Antjie Krog, 'n vry fokken vrou.
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |