|
|
Ag, fokiDeborah Steinmair
As daar een ding is waarmee ek sukkel, is dit fokus. Ek dink skielik (so werk my kop) aan Etienne van Heerden se groottante, Petronella van Heerden, die eerste vroulike arts in Suid-Afrika. Ek het in haar outobiografie gelees dat sy bitter spyt was dat sy haarself laat oorreed het om in haar proefskrif die woord foki in te span vir die meervoud van fokus. Dit ontbreek my aan foki. My baas het nou die dag vir my 'n vermanende e-pos gestuur met die subject line: "Werk en fokusareas". Ek het die e-pos heeldag op my desktop oopgehou om hierdie areas voor oog te hou. Later het ek te veel vensters oopgehad (fokus, dogter!) en die "Werk en fokusareas"-een geminimise. Aan die einde van die dag het ek 'n hele klomp klein blokkies onderaan my skerm gehad wat die eerste paar woorde van elke geminimaliseerde dokument vertoon. My baas se e-pos-blokkie het toe, weens gebrek aan ruimte, so gelees: Werk en fok… Hierdie is die soort van ding wat ek raaksien. Terwyl die wêreld vergaan. My oog fokus op die onbenullige dingetjie lángs die objek wat in die oë van die wêreld éintlik die fokus verdien. Soos daardie asprisserige kunsfoto's uit die sewentigs. In 'n grote, dowwe oerwoud is daar een grashalmpie met drie druppels dou wat perfek in fokus is. Daar is 'n sekere TV-advertensie - vir koffie, dink ek (ek verkneukel my byvoorbeeld altyd in advertensies en kan nie agterna onthou watter produk geadverteer is nie): in 'n helder, vinnig bewegende wêreld sluip daar 'n dowwe, uit-fokus mens rond - vergeet om daardie koppie ontbytkoffie te drink? So voel ek dikwels: die dowwe blinkertjie in die pak. Ek is 'n nagmerrie-werknemer. Ek verloor my in die twee persent van my dagtaak wat kreatief is en laat alles anders links lê. Ek maak nooit lysies nie. Een ding lei tot 'n ander. Fokusareas vervaag. Ek dink byvoorbeeld nou, in die middel van 'n rubriek oor fokus, aan die karakter tante Geertruida in Etienne van Heerden se boek Kikoejoe. Sy is gebaseer op bogenoemde Petronella van Heerden - 'n slim, berese, mensch van 'n ou let. In die boek sit sy en haar vriendin, die bibliotekaresse, juffrou Bruwer, in 'n rondawel en word deur die verteller, 'n nuuskierige seuntjie, afgeloer. Hulle gesels nog so, toe tante Geert in die rondawel rondkyk en saaklik, soort van terloops vra: "May I lick your pussy, Marge?" Waarop juffrou Bruwer bleek word, haar hande na haar voorkop laat fladder en stamel: "Oh God. Oh yes, Lord, yes!" Op skool het ek kortstondig aan 'n netbalspannetjie behoort. Ek het soms verveeld geraak en vergeet in watter rigting ons veronderstel was om te speel - vir wat wil hulle nou juis halftyd van rigting verander? Soms het ek so verveeld geraak dat ek vergeet het wat 'n mens veronderstel is om met 'n bal te doen. So het ek eenkeer in die middel van 'n wedstryd en die middel van 'n dagdroom my bewussyn herwin net betyds om 'n netbal op my kop sien afpeil. Blindelings het ek gekoes. Oeps, verkeerde reaksie. Ek wil myself nou nie na 'n Einstein laat klink nie - die waarheid lê nader aan intellektuele loodswaaier met 'n kop vol blare. 'n Spanspelertjie is ek nie. Ek hoor regtig 'n ander tromspeler as die res van die marsjerendes. Ek makeer die pas, soos in: dit ontbreek my. Ek moes as agterlopertjie in die trompoppiepeloton gedurig 'n vinnige two-step skuifeltjie inwerk om net weer op dieselfde voet as die res van die poppies te wees. In die SPREEKkoor het die onderwyser sy hand in die lug opgehou en gesê: "Iemand is van die noot af." Ek het toe maar stilgebly en net my lippe beweeg, waarop hy goedkeurend steun. Toe ek later weer probeer stemmetjie bysit, maak hy ons weer stil: "Iemand is vals …" Van toe af beweeg ek maar net my lippe in die spreekkore van die lewe. In die slagorkes op kleuterskool is my driehoekie gekonfiskeer. Nog verder terug: toe ek 'n baba was, was my ouers bekommerd dat ek verstandelik gestremd is, want al wat ek gedoen het, was om bewegingloos, oopmond te sit en staar na gekleurde voorwerpe. 'n Baie soet kind, onheilspellend soet. 'n Laaste nota oor fokus: Het julle geweet dat ALLES op aarde soos 'n 3D-plakkaat driedimensioneel, diep en verstommend raak as jy lank genoeg daarna staar, verkieslik met 'n oop mond en slap kakebeen?
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |