Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moedertaal, vingertaal

Deborah Steinmair

Ek het my ouma se handjies. Bruin en vierkantig. "Dit lyk asof jy met jou hande werk," sê iemand nou die dag.

Ja, ek werk met my hande. Ek praat met my hande. My vingerpunte is glad van toetsborde. My stem is skor van onbruik. Op kantoor stuur ek e-posse en msn's aan kollegas wat minder as twee meter van my af sit. Na ure sms ek.

Kommunikasie. Dis nie op die punt van my tong nie, dis op die punte van my vingers. In die nag ruk my vingers soos die pote van 'n hond wat droom dat hy hase jaag. In die REM-fase tik my vingers rusteloos aan die dialoog vir die droom. Sound bites.

Ek is gek oor die vervlietendheid van elektroniese kommunikasie. Dis efemeries. Dis soos 'n gedig. Al wat jy het, is 'n klein venstertjie na die hart van die leser. Konsentrasiespanne is klein, daar is baie distraksies. Daarom moet elke woord gewig dra, 'n gat deur die werklikheid se persepsie van homself skiet. Laktasie of iemand se maandstonde twee weke te vroeg aanbring. Nekhare en ongesuurde brode laat rys.

My baas is Engelssprekend en praat in raaisels. Hy is 'n korporatiewe wonderkind, syfers is sy kos. Hy is adrenalien-aangedrewe, 'n motiveringsjunkie. 'n Sweetie met die deursettingsvermoë van 'n pitbull. In vergaderings word my oogballe glaserig, sweet ek trane van komatose verveling. As ek 'n bepaalde sinsnede al vantevore gehoor het, kan ek dit nooit weer hoor nie - 'n suising ontstaan in my ore en waai my kop dolleeg. Bemarkingsmantras soos "bottom line", "profit margin", "cherry picking", "ball park figure", "we need to get our ducks in a row", "we're cooking with gas" waai dwarsdeur my leë kop. Ek skryf met my linkerhand in 'n exam pad: "Nkosi sikelele i-Afrika".

Daar is 'n sekere verkouepil wat ek nie durf drink nie. Dit ontketen by my 'n baie spesifieke hallusinasie, altyd presies dieselfde een. Sluk ek teen slaaptyd een van hierdie pille, SIEN ek elke woord wat in my kop opkom. Sê nou maar ek dink skielik: "Wens ek kon nou slaap." Dan, opeens, sien ek die woord WENS, uit klip gekap, driedimensioneel, tollend, deur die ruimte skietend, nader en verder van my oog, groeiend van piepklein tot grotesk, eindeloos. Ek is seker die persoon wat daardie 3-D text screensavers ontwerp het, was op dieselfde medikasie. Dit is grusaam. Niks kan spook soos woorde nie.

In die heelal is daar hier en daar 'n sin wat regtig uit klip gekap is en herhaling kan akkommodeer. Vandat ek besluit het om nooit weer op dieet te gaan nie, dink ek telkens met geswolle hart aan Scarlett O'Hara se onvergeetlike sin: "As God is my witness, I shall never be hungry again." Kragtige woorde.

Daar is sekere skrywers wat die vermoë het om sinne te skep wat deel van die landskap in ons kop word, en hulle is nie noodwendig Hertzog- of Nobelpryswenners nie. Dalene Matthee was een van hulle. Daar is baie van Fiela Komoetie se uitlatings wat my hart laat bal soos 'n vuis en trane van identifiserende verontregting laat opwel. "God vergeef ons baie dinge, maar hy vergeef ons nie die onreg wat ons 'n kind aandoen nie."

J van Melle was ook een van hulle: "Ek is nog hy."

Daar is 'n hele paar in Afrikaans … "Ons is nie almal so nie." "My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan." "Die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vi' ons, daai's maar al."

As ek een of twee sulke sinne kan skryf en op die publieke onderbewussyn kan loslaat, kan ek maar doodgaan.

Woorde soos daardie het gemaak dat ek in my middeljare uiteindelik op Afrikaans verlief geraak het. Na jare se heul met vreemder tongvalle, met die eksotiese, die vlugtige, die eteriese, hunker my hart nou na rooigrond, bokkems en biltong. Wie sal ek bedank? LitNet, natuurlik. En Kaapstad.

Afrikaanse idiome is onbeskroomd. Een wat my van kleins af beïndruk, is: "om na iemand se pype te dans". As grootmens besef ek uiteindelik dat die "pype" wat ter sprake is, sekerlik orrelpype, fluite of 'n doedelsak is, soos in "the pipes, the pipes are calling". Maar in my kop bly steek die prentjie, soos toe ek 'n kind was, van agter iemand se broekspype aandans. 'n Smerige tango. So lekker opruiend en ongetemd.

Die toetsbord in my kop is nou in Afrikaans, met dotjies en kappies. Teen die muur in my kop hang 'n tapisserie met die heel mooiste woorde in enige taal ooit. Dit was Ingrid Jonker s'n: "Ek is die hond wat op die strande draf en dom-allenig teen die aandwind blaf. Ek is die seevoël wat verhongerd dwaal en dooie nagte opdis as 'n maal". En: "Die God wat jou geskep het uit die wind sodat my smart in jou volmaaktheid vind."


LitNet: 13 April 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.