![]() |
![]() |
![]() ![]() |
![]() |
|
![]() |
![]()
Die woord is in die nootDeborah SteinmairFoto's deur Riana Wiechers
Ek was op die Woordfees in Stellenbosch, maar nie by die Roodt-gedoentes nie. Soos dit 'n branderplankryer van die toevallige betaam, het ek al wat debat en bespreking is, omseil. My woordfees was meestal musiek. Ek glo dat musiek altyd aan die voorpunt van vernuwing waad en links en regs bosgaas wegkap met 'n stomp sekel.
Dinge wat ek gehoor het, mense, en nie bevoeg is om te verwoord nie! Ek is vir die eerste keer deur die ore gestik deur Randy Rambo en die Naaimasjiene. Teunis Engelbrecht is so outentiek, so koel, so intens. Hy het onder andere met opruiende begeleiding 'n tagtigs-Dan Roodt-gedig oor 'n dreigende groepwoeps voorgelees. Daar was Buckfever Underground. As Toast Coetzer 'n sekte begin, is ek 'n dissipel. Sy aflewering is foutloos, vol gravitas, Zen, Castro en subversiewe outoriteit. Sy woorde is bedwelmend. Sy band skop.
Ek wil jou teen my vaspleister Die paartie in die park was hoog. Daar was sulke hoë, windverwaaide oomblikke teen sononder op die gras: Loit Sols, befaamde praatpoet en muso, se Noord-Afrikaanse klanke het soos 'n speserykaravaan oor die vlakte getrek: dit was soos om Ali Farka Toure van Mali in Afrikaans te hoor. Dit was aangrypend, briljant, internasionaal fenomenaal. 'n Moskee teen skemer. Op eie bodem! Ek kon my boude nie op die gras hou toe Diana Ferrus teen sononder op die verhoog verskyn nie! In my oë is sy so groot soos Maya Angelou, soos Toni Morrison, Mercedes Soza, Cezaria Evora. Sy is geflank deur haar band, tromme, 'n saks, 'n horing. Sy dans en chant haar towerwoorde, sy sing plek-plek. The bones of our ancestors (oor oa Saartjie Baartman) - die bene roep, die bene roep. Mama, check my hoendervleis!
As dit by Piet Botha kom, laat woorde my in die steek. Toe ek weer sien, dans ek aan die rand van die verhoog. Die man is 'n legende, 'n fenomeen, 'n oorlewer, 'n vernuwer, 'n pelgrim. Sy klank skep 'n lugstroom waarin ek kan opstyg. Die stilte in sy stem dryf my tot religie. Kabous Verwoerd stamp aan my, wys na Bra Piet en fluister skor: "Jesus".
Dis maar 'n vinnige deurloop. Daar was die Belgiese Gorki wat ernstig gat skop. Ons eie Klopjag wat rock soos 'n katel. Dit was Afrikaans sonder grense, Afrikaans wat piepie op die geroeste boeie van die verlede. Die woord laat hom nie kaap vir persoonlike agendas nie. Die woord het feesgevier. Viva!
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |