Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Pandora se boks

Deborah Steinmair

Déjà-vu. Ooit die gevoel gehad dat jy hierdie gevoel al vantevore gehad het? Reinet (Voorvaders kan vlieg, sê Delores) Nagtegaal het my nou die dag verduidelik hoe dit werk. In my kop het ek laaie. Wanneer ek 'n beeld sien, moet die liasseersekretaresse in my kop deur die verwysingslaai blaai om sin van daardie beeld te maak. Partykeer maak sy per ongeluk die herinneringslaai in plaas van die verwysingslaai oop. Dan blaai die liasseersekretaresse deur die verkeerde laai en vertel my dat ek die beeld al voorheen gesien het.

O, dit maak sin. Ál my laaie lek. Daar is 'n groot probleem met spasie. Die verstrooide, oorwerkte sekretaresse raak gedurig aan die slaap, dan lê die laaie oop en flardes papier waai by verkeerde vakkies in. Hulle veroorsaak 'n baie gebuigde werklikheidspersepsie, daardie deurmekaar laaie in my kop.

In die regte lewe is my laaie ook chaoties. Soms weier hulle om oop te gaan, want 'n korrupte stiffie, 'n gekrapte CD of 'n geroeste stainless steel skêrtjie haak vas en jêm die hele meganisme. In so 'n geval weet ek van beter as om blindelings my hand in te steek. 'n Hand is broos en kan in so 'n laai 'n giftige pik opdoen deur byvoorbeeld die spuitnaald van die kat se operasie verlede jaar. Wanneer die laai uiteindelik oopspring, gaan sit ek winduit op die mat met 'n skoot vol papiere, memento's en rommel. Vir so 'n eksplorasie moet 'n mens liewer plat sit.

Pynlik is die notatjie van die negejarige kind wat nou nie meer by my woon nie. Dit sê die volgende:


Vandag was dit aaklig.
My hele vamielie haat my. en die min vriende wat ek het haat my ook.
Ek het geen plek om heen te gaan.

Alles is 'n fokkop, sê die inhoud van die laai. Ek veeg 'n lastige traan weg met die vuisvol opgefrommelde parkeerkaartjies wie se hofdatums gekom en gegaan het. Die kitsbankuitdrukke wat sê: "This transaction is not authorised. Please contact your nearest branch for details." Verlede jaar se belastingvorm wat nooit ingestuur is nie. Waarom hou ek al hierdie goed?

Wat vir 'n snaakse woord is laai in elk geval? In Engels gebruik hulle dieselfde woord, drawers, vir laaie en broekies. In Afrikaans gebruik ons dieselfde woord vir 'n ou geneigdheid, vir die pak van patrone in 'n loop of meubels in 'n vragmotor. Die woord is gelaai.

Die laai van herinnerings in my kop. In daai laai moet 'n mens liefs ook nie 'n brose handjie steek nie. Ek probeer dit gedurig toeskop, maar dit loop oor en lek so chronies dat alles wat ek sien, effens getint word deur die deurmekaar inhoud van hierdie laai. Soos kleintyd toe ons na die suburb gekyk het deur daardie gekleurde, halfdeurskynende snippertjies lekkergoedsellofaan. Ek onthou Jacques Brel is in Engels vertaal:

You don't forget the past,
you don't forget, forget a thing,
you live with it, that's all.

En Piet Botha sing so roerend:

Ek kry 'n foto van jou in my tas
Jy het altyd gelag as jy sê ek is 'n dromer
en toe ek aan jou dink
toe word dit somer.

Ek stel my voor die laai van herinnerings lyk soos daardie mure wat hulle altyd in 'n reeksmoordenaar se den aantref, vol foto's, sketse, geskrifte, haarlokke, broekies en ander objekte wat dui op 'n ongesonde, allesverterende obsessie. Vele obsessies, in my geval. Sjuut, help my stoot, dan druk ons die ding liewer toe.

Oeps.

Lyk my die proses is onomkeerbaar! Soos die oopmaak van Pandora se boks. As daardie goggas eers die daglig op hul donkergrys vlerkies gevoel het, gaan jy hulle nóóit weer terugstop in die boks nie.

So, ek maak maar die beste van 'n slegte saak, want so is ek bedraad. My oumagrootjie is immers kaalvoet oor die berge. Ek troetel maar die goggas en Rorschach-vlermuise op my palm en beskou hulle teen die lig. As hul vlerkies die sonlig vang, kaats daar akwamaryn en violet uit die grys. Nee, weg met die verestoffer en die osoonvriendelike kannetjie Doom!

"Fratsgolf"-werksopdrag: Lees Wilma Stockentström se Monsterverse.



LitNet: 09 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.