|
|
Ons leef in rewindDeborah Steinmair
Ek het iets gesien. Ek sal jou vertel. In 'n winkelsentrum, twee deftig geklede mense. Al twee bejaard, klein, maer, deurskynend, krom. Besig om in enkelgelid aan te skuifel. Die vrou voor, die man agter, met sy reguit arm op haar skouer, skuifel hulle soos een organisme, voetjie vir voetjie, wiegend soos 'n bidsprinkaan. Elke tree verg tien sekondes en tonnelvisie-konsentrasie. Dit was elegant en aanskoulik soos 'n dans. Ek het nog iets gesien. In 'n veldjie tussen huise: twee pare versaakte swart hoëhaksandale wat swikkend soos in gesprek teenoor mekaar op die gras staan. Ek hou hierdie goed in my agterkop. Hulle sê 'n mens kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Ek glo dat vriende, soos familie, eenvoudig met 'n mens gebéúr. Soos Cohen sing: I am not the one who loves My ma het eenkeer gesê: "Jy is nie 'n kind wat vriende maak nie. Jy maak familie." So het ek langs die langpad 'n hegte familie opgebou. Ek het 'n aangeknoopte familielid met die naam van Jeanne Goosen. Sy het nie siwwe in haar kop wat woorde filter voordat hulle by haar mond of pen uitkom nie. Die Engelse pers het haar onlangs as vreesloos bestempel. Haar vriende noem haar 'n anargis. Op hierdie webwerf het sy een volmaanaand met haar swart Dobermann op AWB-mense se voorstoep gedans op die maat van troostelose sigeunerwalse. Sy glo in die Son en vryheid van spraak. Sy hou van Georges Bataille, Winnie Mandela en die Markies de Sade. Sy beskou Dan Roodt as 'n trendy, humorlose lefty. O ja, sal sy jou verseker: die regering van die dag is áltyd regs. Sy self is links van alles. Sy sê sy rook rooibostee en naai net ganse. Sy is moerig. Soos die digter wat ek onlangs hier aangehaal het, hou sy "duivels veel van stront". Daar is 'n Duitse woord vir haar: Unikat. Dit beteken iets waarvan net een vervaardig is, die teenoorgestelde van Duplikat. In haar huis vol boeke hang verbleikte diereskelette langs trosse bokkems en gerwe kruie uit haar tuin. 'n Fyn lagie sigaret-as en hondehare bedek alles. Sy sal op 'n windverwaaide oggend met te veel son minstens vyf dinge sê wat jou nekhare kielie en jou kop die ruimte in lanseer. Sy bied min weerstand teen swaartekrag. Sy lê meestal op die naat van haar rug en lees. En dink. Tussen die reëls versamel sy blink goed soos 'n kraai. In haar kop word alles nóg blinker. Sy sal jou vertel dat die wêreld ronder geword het sedert die tsoenamie en 'n paar tellings vinniger draai. En dat tyd terugbeweeg in plaas van vorentoe. Ja, dit het ek lankal vermoed. Wie het nou weer gesê dat die toekoms seker is, maar die verlede onvoorspelbaar? Soos 'n wandelaar wat in 'n woud verdwaal, keer my lewe soms op sy eie spoor terug. So daag ek op in oomblikke waarvan ek 'n vae herinnering het. Herken ek sekere mense en plekke uit 'n verlede wat nog geleef moet word. Ek het eendag meer as twintig jaar gelede 'n vervalle studentehuis in 'n diepgroen akkerlaning binnegestap. Daar was 'n kamer te huur. Drie girls het reeds in die huis gewoon: twee blonde Barbies wie se name ek nou skaars kan onthou, en Elthea Schlesinger. Elthea is vandag nog die suster van my hart. Sy het vaagweg Midde-Oosters gelyk (haar oupa was 'n Boerejood). Sy het 'n ingewikkelde turban gedra. Sy het nuuskierige oë, 'n prominente neus, 'n mond wat van oomblik tot oomblik van vorm verander, 'n fok-jou-stappie, 'n stem soos rou fluweel. Haar kamer was 'n sigeunerkamp. Ek het haar herken uit die verlede. Ons het nog nooit opgehou lag nie. Wanneer sy baie oud is, gaan sy soos Leonard Cohen lyk. Ek kan nie wag nie. Onlangs het ek in die Sidewalk Café 'n ou vriendin vir die eerste keer raakgeloop. Anne Shields van Birmingham, Alabama, het in die Kaap grootgeword en is meer as 20 jaar gelede VSA toe nadat sy met 'n Amerikaner getroud is. Sy is 'n LitNet-leser wat nou en dan vir my 'n e-pos stuur. Sy het vir haar ma kom kuier en wou my ontmoet omdat sy gevoel het ons sal iets vir mekaar te sê hê. Kort nadat ek haar die eerste keer gesien het, het ek begin lag. Vir niks. Van vreugde en herkenning. Sy het 'n aura van glamour, gesofistikeerdheid, ironie en moedswilligheid. Sy is in die uitgewersbedryf. Dis so goed om jou weer te sien, wou ek onvanpas sê. Vriendskap is 'n liefdesverhouding sonder die seks wat in elk geval altyd alles bedinges. So spoor 'n mens sonder soekhoekies verlore familie op. En loop agteruit die toekoms in op 'n aardbol wat onder jou voetsole al ronder word. Do not choose a coward's explanation("Alexandra leaving" - L Cohen)
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |