|
|
I do dysfunctionalDeborah Steinmair
Wat ís hierdie gek klein dingetjie genaamd liefde? As jy my vra, is verhoudings 'n suburban swembad vol chloor en urine waarin lui haaie draai. Maar dis Februarie en ek bevind my sowaar weer op die duikplank. Ek staan hier in my verbleikte rooi bikini met ingeduikte branderplank onder die arm en 'n swerm skoenlappers in my maag. Maak plek, ek gaan spring! Ai maats, 'n koddige eend soos ek wat my in die metaforiese arms van Leonard Cohen gewerp het so gou as wat my dop gekraak het, iemand vir wie Tom Waits 'n wiegeliedsanger is, kyk maar onvermydelik na The Addams family vir leiding - daardie swartgallige begrafnisondernemersgesinnetjie wat die volgende woorde geuiter het: Are you unhappy, Darling? Oh yes, perfectly … asook die onvergeetlike: Don't torment yourself, Darling, that's my job. Ek kyk na Glenda Jackson, 'n uitmuntende Britse aktrise met 'n swaar kakebeen en skreefoë, wat eenkeer laat val het: If I need to laugh, I think about my love life. If I need to cry, I also think about my love life. Jy weet dan, suster! My gunsteling sardoniese ghoeroe, Kurt Vonnegut, het by geleentheid gesê: Give me less romantic love and more common decency. Hy het ook graag sy suster van ses voet drie, 'n depressielyer wat selfmoord gepleeg het, soos volg aangehaal: Go take a flying fuck at a rolling doughnut. En Tom Waits beklaag sy lot sonder Strepsils: She sends me blue Valentines all the way from Philadelphia to mark the anniversary of someone that I used to be … She sends me those blue Valentines, like half-forgotten dreams, like a pebble in my shoe. I cut my bleedin' heart out every night, and I'm gonna die just a little bit more, on each St Valentine's day. Ag, ek het al soveel boeke gelees. Vind eers jouself, maan hulle. Ha, makliker gesê as gedaan. Op 40+ val ek skynbaar onder daardie groepie mense van wie Woody Allen gesê het dat hul kanse op 'n Saterdagaandafspraak 50 persent beter as ander mense s'n behoort te wees. Toe nie. As jy nie in 'n duifhokkie gaan hurk nie, as jou etiket onleesbaar is, verdwyn al jou seine in die eter. 'n Rakleeftyd is al wat jy het. Ek het 'n wonderlike boek gelees: Crocodile Soup. Daarin sê die selfversmaaiende lesbiese verteller dat as sy die slag eensaam raak, haal sy haar bril af, jel haar hare, trek 'n leerbaadjie aan, gaan na 'n klub en bring 'n vrou huis toe. Soos 'n baie aantreklike en bloedjong vriendin van my met onblusbare voortvarendheid sê: "Daar's 'n oulike nooi by wie ek vanaand gaan kuier." Soos 'n ouer, geskeide vriendin soms met smaak laat val: "Ek het 'n lekker pomp gehad gisteraand." Ek hunker na daardie eenvoud. Gryp iemand elke vier jaar of so my verbeelding aan, dan kan jy maar weet daardie persoon is getroud en getrou, op deathrow met geen besoekvoordele nie, op die punt om na Antartika verplaas te word of tot 'n selibate en stom orde toe te tree. Ek laat myself dink aan sommige gedoemde diere wat 'n mens in 'n National Geographic dokumentêr sien, wie se een paarmaat per leeftyd doodgeskiet word of in 'n propeller beland, wat net 'n venstertjie van een week per jaar het om te paar en dan deur kruiswinde van koers gegooi of stroomop deur 'n grizzly bear verslind word. Soms voel ek soos 'n rekenaar wat in 'n oorloggeteisterde landjie uit roofonderdele aanmekaargeslaan is, wat gebruikersonvriendelik en Windows-incompatible is. Soort soek soort, sê hulle. 'n Analfabeet het eenkeer teen 'n toiletmuur geskryf: "I like grils." Iemand (seker Kleinboer) het daaronder gaan skryf: "You mean girls, stupid." Waarop 'n derde party gaan skryf het: "What about us grils?" Inderdaad, wat van ons? I'm trying for human, maar daar's 'n paar dinge aangaande lewe op aarde wat ek steeds nie kleinkry nie. Een daarvan is geld en nog een is die speletjies wat mense speel, die raaiselagtige hofmaakrituele van homo sapiens. Stel jou voor: die musiek is reg, die wyn vloei, alles is in goue kerslig gebaai, die lug krakel van elektrisiteit (behalwe as dit miskien my moederskip is wat probeer kontak maak), dan staan die ander persoon op en sê: "Ek bel jou volgende week." Sit asseblief, Dr Eve, bly stil, Dr Phil. Dit gaan my nie hierdie jaar geluk nie. Die kruiswinde is nie gunstig nie. Trap plat die rooi angelier, eet die boks tjoklits in een sitting alleen op. Fudge love got to do with it? So. Hier staan ek weer op die duikplank bokant die malende haaie. Ek mik-mik met biddende hande, met paddavoete en bewende knieë. En ek het net een vragie: Wie het my vlerkies afgeblaas? Hier kom ek!
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |